Skoenlappers en motte... wat is die verskil?

 

Fyn soos ’n vlinder
…bot soos ’n mot!

Skoenlapper


  Mooi vlinder, sieraad van my tuin,

      net soos ’n blom wat swewe,

  jy wat in stilte uitbasuin

      die skoonheid van die lewe!


Foto: Masterclips

Mot


  Ag, mot, jou sot, jy’s darem bot

      —stompsinnig sou ek reken—

  deur tiekiedraaiend om ’n vlam

      jou doodsvonnis te teken...


Grafika: MSKARG

M

OTTE en skoenlappers... bronne verskil oor hoeveel verskillende soorte op die aarde rondfladder, maar dit is waarskynlik ver oor die 100 000. Daar is die skadelikes en die adellikes, die opsigtelikes en die skugteres, die woelige migreerders wat ’n ongelooflike paar duisend kilometers kan aflê en die stemmige tuisblyers wat nooit ver van hul geboorteplek wegdartel nie. 

 

Baie van hulle is meesters van vorm en kleur, illusie en kamoeflering. Om hulle teen roofvyande te beskerm kan talle in ’n oogwink as ’t ware verdwyn—omdat hulle net so gespikkel soos hul omgewing is en dus feitlik onsigbaar raak.

 

Sekere skoenlappers kan egter wel ook hul fleurige vlerke gebruik om juis te adverteer dat hulle ’n waglike reuk of bitter smaak het. Vyande kan selfs om die bos gelei word met vals kenmerke soos kastige oë op die vlerke, wat op die oog af nie veel verskil van die regte oë van, sê nou maar, ’n uil nie. Natuurlik kan daardie vals "kykers" egter nie werklik kyk nie. Praat van ’n letterlike oëverblindery...

 

Vals oë op die vlerke van ’n skoenlapperREGS: Vals oë op die vlerke van ’n skoenlapper.

 

Foto: U.S. National Park Service

 

Maar wat, indien enigsins, is dan die verskil tussen skoenlappers (ook vlinders genoem) en motte? Hoewel ’n mens nie vaste reëls kan neerlê nie, is daar wel sekere basiese verskille.

 

Ons weet byvoorbeeld skoenlappers is bedags bedrywig, en motte meestal snags. Dit alleen gee aanleiding tot nog veel meer verskille tussen hierdie twee soorte vlieënde insekte. Aangesien motte snags vlieg, het hulle harige voelers omdat hulle die blomme eerder "ruik" as "sien". Skoenlappers, daarenteen, het voelers wat in ’n knoppie eindig.

 

’n Mot se voelers is harig

BO: ’n Mot se voelers is harig.

Detail van ’n foto met vergunning van Free Nature Pictures
     

By skoenlappers eindig elke voeler in ’n knoppie

BO: By skoenlappers eindig elke voeler in ’n knoppie.

Detail van ’n foto van ’n kooltjiewit-skoenlapper met vergunning van www.freedigitalphotos.net 

  

Nagvlieënde motte het oë wat in die donker blink, terwyl skoenlappers en dagvlieënde motte se oë dit nie kan doen nie.

 

Skoenlappers sowel as motte is koudbloedig. Dit beteken hulle moet ’n hittebron van buite gebruik om hul bloed warm te kry voordat hulle ordentlik kan rondbeweeg. Daarom sal ’n mot sy vlerke vibreer todat sy spiere warm is voordat hy kan vlieg. ’n Skoenlapper sal in die son sit om warm te word, ’n Mens sou kon bespiegel dat dit ook die rede is waarom motte dik, wollerige liggame het, en skoenlappers nie.

 

Dat motte meestal nagvlieërs is, is ook nie heeltemal waar nie, want die meeste vlieg teen skemeraand of dagbreek omdat hulle soveel vyande (soos vlermuise) in die middel van die nag het.

 

Die meeste motte se vlerke lyk maar dof, in teenstelling met die skoenlapper s’n wat ’n hele reënboog van kleure het. Die motte is nie verniet so onopvallend nie. Hulle moet immers goed gekamoefleer wees wanneer hulle bedags teen boomstamme of tussen blare sit en vir die voels wegkruip.

 

Tog is sekere motte ryk aan kleure, terwyl sekere skoenlappers weer bra vaal diertjies is.

   

Flambojante mot

BO: Hierdie flambojante mot (’n  maanmot genoem) kan baie maklik vir ’n skoenlapper aangesien word.

Foto met vergunning van Free Nature Pictures, wat dié skakel na hul webwerf versoek

Minder opsigtelike skoenlapper

BO: Die kleure van hierdie skoenlapper is weer bra eenselwig en nie juis iets om oor opgewonde te raak nie.

Foto: Mike Quinn / U.S. Fish & Wildlife Service

   

Motte se agtervlerke is wel dikwels helderkleurig. Dit is om roofvyande af te skrik wanneer die mot senuweeagtig raak en sy vlerke rondflap.

 

Dis vir ’n mot veel gemakliker om met uitgespreide vlerke, soos dié van ’n vliegtuig, te rus. Party soorte kan selfs hul agtervlerke opfrommel en langs hul liggaam afvou. Só lyk hulle soos ’n grashalm of ’n takkie.

 

Skoenlappers is eerder geneig om met gevoude vlerke te rus, soos ’n skip met die seile in die wind. Al is die bokant van die vlerke kleurryk, is die onderkant dikwels dof of vaal, met die gevolg dat ’n mens ’n rustende skoenlapper nie so maklik sal raaksien nie.

 

Daar is egter wel motsoorte wat hul vlerke soos ’n skoenlapper s’n vou.

 

Skoenlappers het nie ’n frenulum soos motte nie. Dit is ’n toestel wat die voor- en agtervlerke met mekaar verbind wanneer die insek vlieg. Motte kan in die reël veel vinniger as skoenlappers vlieg, die bymot byvoorbeeld tot 55 km/h. Sy vlerke is natuurlik ideaal geskik hiervoor en het ’n heel ander vorm as die groot waaiers van die skoenlappers.

 

’n Skoenlapper is nie haastig nie en sal rustig van blom tot blom dartel terwyl hy vreet. ’n Mot sal in ’n reguit lyn vlieg na waar hy wil wees en ’n entjie van die blom af soos ’n helikopter in die lug bly hang. Dan sal hy sy lang tong na die blom uitsteek om by die nektar uit te kom. Motte se tonge is net so lank, indien nie langer nie, as hul eie liggame.

 

’n Mot hang ’n entjie van ’n blom af in die lug en suig die nektar met sy lang tong

BO: ’n Sogenaamde kolibrievalkmot hang ’n entjie van ’n blom af in die lug en suig die nektar met sy lang tong.

 

Foto deur Andy Dunlop, met vergunning van www.freedigitalphotos.net, wat dié skakel na hul webwerf vereis.

 

Skoenlappers maak hulle heel gemaklik tuis op ’n blom en vreet rustig op die rand daarvan.

 

Daar is meer as sewe keer soveel motte as skoenlappers, dus is die orde Lepidoptera, waartoe hulle behoort, eintlik ’n mot-orde. [Die woord Lepidoptera is afgelei van twee Griekse woorde, lepis (’n skub) en pteron (’n vlerk). Die naam "skubvlerke" is aan hulle gegee omdat hul vlerke en liggame met uiters klein skubbe bedek is.]

 

Miskien weet motte meer van hofmakery as skoenlappers. Hoe ook al, hul vryasies verskil amper hemelsbreed. Skoenlappers maak goed van die daglig gebruik, die mannetjies en wyfies herken mekaar aan die patrone en vorms van hul vlerke, asook aan die manier waarop hulle vlieg.

 

Motte gebruik weer eerder hul reuksintuie, en dis waar hul harige voelers sommer baie nuttig is. Gedurende die broeityd gee die wyfie ’n reuk af wat die mannetjies na haar toe lok. Hierdie reuke kan met dié van ’n lemoen, sjokolade of sigaarbokshout vergelyk word, ’n Mannetjie kan met sy harige voelers ’n wyfie uitsnuffel wat tot 2 km ver van hom af weg is, selfs in gebiede waar die lug erg besoedel is!

 

Die wyfies gebruik hul reuksintuig om die regte plant te kies waarop hulle hul eiers wil lê. Skoenlapperwyfies het tas-sintuie op hul pote en "proe" die blare van die plante voordat hulle hul eiers lê. Dit is nogal ’n belangrike takie, want die ruspers kan net van sekere soorte plante lewe, anders vrek hulle van die honger.

 

Die kokon van ’n soort mot en die papie en rusper van ’n soort skoenlapperNadat die ruspes mooi grootgeword het en gereed is om papies te word, is daar nog ’n onderskeid te bespeur tussen motte en skoenlappers. Motte se ruspers is eerder geneig om hulle met die papievorming in die grond in te grawe, terwyl party van hulle hulle in ’n kokon van fyn sydrade toespin. Die meeste larwes van skoenlappers maak hulle weer met sydrade vas aan ’n tak of boomstam waar die papie bly hang totdat hy as ’n vlinder ontluik.

 

Die bekende sywurm is ’n mot-rusper. Hy is al soveel eeue lank vir sy sy uitgebuit dat die mot sy vermoë om te vlieg verloor het. Nog ’n motsoort wat in sy larwestadium deur die mens benut word, is die mopaniewurm, wat gedroog of gebraai geëet word.

 

Skoenlappers, daarenteen, het nie werklik ’n "gebruikswaarde" nie. Maar wie sal ontken dat ’n veld of tuin sonder vlinders maar mistroostig kan lyk? Sekere skoenlappers, soos die Morpho hecuba cisseis, is trouens so mooi dat hulle as juwele eindig.

Hoekom vlindervlerke so mooi is

AS ’n mens na skoonlappers kyk waar hulle hulle so uitbundig in die nektar van blomme verlustig, lyk hulle mos self ook soos vlieënde blomme. Trouens, daar is min dinge in die skepping wat dié skouspel van patrone en kleure kan ewenaar.

 

VlindersREGS: Fleurige vlinders.

 

Foto: U.S. Geological Survey

 

Skoenlappers behoort tot die insekte-orde Lepidoptera, wat "skubvlerke" beteken. Dié naam is aan hulle gegee omdat hul vlerke en liggame met uiters klein skubbe bedek is.

 

Die gekleurde vlerke, met hul oneindige patrone, is nie net die mooiste nie, maar ook die interessantste dele van die skoenlapper se liggaam.

 

Hierdie vier delikate strukture word met ’n stelsel van dun ribbes of are versterk. Hulle is met omtrent ’n miljoen uiters klein kleurskubbe beklee, wat mekaar oordek soos teëls op ’n dak.

 

Die skubbe, wat elkeen uit twintig baie dun plaatjies of lamellae bestaan, breek die lig soos glasprismas. Hieruit ontstaan die struktuur-kleure op die vlerke van die skubvlerkiges. Dan kom daar ook nog pigment-kleure by. Dit is kleurstowwe wat in die skub self aangetref word en wat die skoenlapper maak uit die kos waarvan hy leef.

 

Die pragtige ontwerpe op skoenlappervlerke word dus geskep deur die eweredige verspreiding van die pigment-kleure of deur straalbreking deur die lamellae.

.

.

LINKS BO: ’n Skoenlappervlerk soos vergroot deur ’n skandeer-elektronmikroskoop en ’n verdere vergroting van ’n deel van die beeld (REGS BO).

Foto: William Sharp; van Arizona-staatsuniversiteit se Ask a Biologist-webwerf met spesiale vergunning

.

Maak jou eie bewegende skoenlapper

JY HET NODIG: ’n magneet, ’n groot stuk stywe karton, ’n skuifpeld, kleeflint, ’n vel papier, kryt of verf, ’n skêr.

Kartonskoenlapper1. Teken ’n groterige skoenlapper op die papier en kleur dit in.

2. Knip die skoenlapper uit.

3. Plak die skuifspeld met kleeflint onderaan die vlinder vas.

4. Laat die stuk karton skuins staan teenaan ’n paar boeke.

5. Hou die skoenlapper aan die een kant van die stuk karton vas en hou die magneet reg daaragter aan die karton se ander kant.

6. Sodra jy die magneet beweeg,  beweeg die skoenlapper ook wonderbaarlik oor die karton.

 

Hoe werk dit?

Die kragveld om die magneet is sterk genoeg om dwarsdeur die karton te werk. Dit trek die metaal van die skuifspeld aan, sodat jy die skoenlapper oor die karton kan trek.

  BONUS 
Die kaleidoskopiese skoenlappers—ekstra artikel met nog meer inligting

 

Fleurige vlinder... fyn veteraan

 

Hulle is kleurryk en intens en vol vibrerende lewe. Met hul papierdun vlerkies en brose liggaampies fladder hulle die wêreld vol van blom tot blom. Die fyne vlinders is as ’t ware simbole van verganklikheid. En tog het hulle selfs die dinosourusse van die verre verlede oorleef...

 

JAKKEREND en vry vlieg die vlinders van blom tot blom, teug hulle die soet nektar en sorg hulle onbewus dat stuifmeel versprei word. Ou wysgere van die Ooste het oor hul vryheid gepeins. Eeue lank het Chinese keisers en Japanse kunstenaars hul broosheid en prag geloof.

 

Skoenlapper"Fyn soos ’n vlinder, sag soos satyn." Só sing party van ons mos vandag nog die ou liedjie, terwyl ons steeds die skoenlappers in ons tuine bewonder.

 

Natuurlik is die wêreld se vlinders magies mooi, maar dis tog darem nie al wat ’n mens oor hulle kan sê nie. Hulle is eintlik hoogs interessante insekte met verskillende hebbelikhede. Geweet dat party van hulle kannibale en ander parasiete is? Of dat sekeres dodelike gifstowwe in hul lyfies dra? Wee die arme dom voël of akkedis wat dit sou waag om hulle vreet.

 

Vlinders is vol verrassings.

 

Waar vlinders woon

 

   BROOS maar feitlik regdeur die wêreld bedrywig—dit is slegs op die ysmassas by die pole waar ’n mens nie vlinders sal vind nie. Trouens, in Suid-Afrika alleen is daar ’n geraamde 10 000 tot 12 000 vlinder- en motsoorte. Selfs in die harde wêrelde van woestyne, op die hoë berge en die toendra gedy die skoenlappers, hoewel daar natuurlik minder soorte is.

 

Baie vlinders van die Alpe en die koue streke van die aarde se vlerke is weerskante donker. Sulke donker kleure absorbeer die son se hitte beter en die insekte word dus gouer verwarm. Baie het ook ’n digte haarbedekking of lang skubbe op die lyf, wat isolasie verskaf. Party trotseer die hoë winde deur laag te vlieg; ander pyl weer blitsig van die een beskutte plek na die volgende.

 

Woestynvlinders moet op hul beurt die ryk kosvoorraad en water, wat net vir ’n kort rukkie in die reëntyd daar is, benut om te oorleef. As dit reën, broei die ruspers uit die eiers wat nog heeltyd dormant gelê het. Die ruspers vreet hulle knuppeldik aan die plante en verander in papies.

 

Teen uitdroging beskerm deur ’n byna ondeurdringbare buitenste kutikel, wag die papies totdat nog reën val. Dan verskyn die volwassenes om die tydelike kosvoorraad te benut.

 

Volwasse woestynvlinders is dikwels klein en bra kleurloos ten einde met hul sanderige en son-versengde omgewing saam te smelt. Baie vlieg net teen skemeroggend en -aand rond wanneer dit koeler is. Hulle paar, lê hul eiers en vrek. Die kringloop duur voort.

 

Kunstige” eiers

 

   VLINDEREIERS lyk alte kunstig en verdien ’n plek in enige geskrif oor vlinders. Dié keurige voorwerpies kom in ’n verskeidenheid van patrone en vorms voor wat van soort tot soort verskil. Dit kan byvoorbeeld kegelvormig, koepelvormig of rond wees, of soos ’n speldekussing lyk.

 

Vlindereiers op ’n dennenaald

 

Skoenlapper-eiersREGS: Eiers van die kooltjiewit-skoenlapper.

 

Detail van foto met vegunning van www.freedigitalphotos.net, wat dié skakel na hul webwerf vereis.

 

Die eiers is meestal aanvanklik wit of geel, maar verander van kleur namate die larwes binne-in ontwikkel. Die vlinders lê hulle óf enkel óf in groepe óf in stapeltjies wat soms verskeie lae dik kan wees. Hulle word aan die oppervlak van ’n plant vasgegom deur ’n uitskeiding wat die eiers omhul en beskerm. ’n Paar soorte skoenlappers laat val hul eiers sommerso terwyl hulle vlieg.

 

Nektar en jiggie-kos

 

   SKOENLAPPERS se stapelkos is nektar, en hul slanke tonge is volmaak gevorm om diep in blomme in te druk. Talle vlinders vreet egter ook ander kosse soos die sap wat uit beskadigde bome of ander plante sypel, die sappe van gistende woudvrugte en die heuningdou van insekte soos plantluise. Maar baie skoenlappers se smaak is ook, nou ja, bra jiggie...

 

Dis niks vreemds om skoenlappers te sien waar hulle vog uit die nat grond teug nie, veral waar diere geürineer het. Daar word gemeen dat hulle sodoende waardevolle soute bekom. Om dieselfde rede drink vlinders die "trane" uit die oë van party diere.

 

Daar is ook baie vlinders wat voedingstowwe uit die verrottende ingewande van vee kry. En die mis van verskeie diere soos ape, luiperds en olifante is vir party vlindersoorte soos manna.

 

Slaap, vlinder, slaap sag

 

   AS die skemer daal, soek vlinders beskutte plekke soos die onderkant van ’n groot blaar of ’n tak om die nag daar te verwyl. Hulle oornag meestal op hul eentjie. Tog is daar party soorte wat so saam-saam rus. Só ’n groepvorming verleen immers ’n sekere mate van beskerming.

 

Vlinders wat deur die gifstowwe in hul liggame beskerm word, word selfs beter beskut deur die saamslapery deurdat ’n sterker waarskuwende reuk afgegee word wat potensiële roofvyande afskrik.

 

Of nadat ’n vyand een lid van die groep aangeval het wat nie alte lekker smaak nie, sal hy alte goed weet om die res te vermy.

 

Omdat die skoenlappers nag ná nag in dieselfde gebied slaap, leer hul aanvallers ook om hulle met rus te laat. Sou hulle elders gaan oornag, kan hulle die prooi word van aanvallers wat nog nie só gekondisioneer is nie.

 

Die groot trek

 

   DIE mooie sondagsrokkie of "painted lady" is ’n algemene gesig in Suid-Afrikaanse tuine, maar min mense besef dat hierdie geharde skoenlappers onder die wêreldkampioene van die migrerende ongewerweldes getel moet word.

 

Hoewel min omtrent hul bewegings bekend is, weet navorsers dat die Europese "painted lady" elke lente die Engelse Kanaal van Europa af na Brittanje oorsteek. Europa is op sy beurt die gasheer-vasteland van die Noord-Afrikaanse spesie. In die herfs keer die vlinders terug.

 

Die skynbaar brose melkbos-skoenlappers is eweneens indrukwekkende migreerders. In die herfs trek hulle van Kanada na Florida of Suid-Kalifornië in die VSA oor ’n stuk of 3000 km. Daar word gemeen dat hulle tot 117 uur lank aanmekaar kan vlieg. Onderweg kom hulle in groot groepe saam om te slaap, byvoorbeeld op bome en die dakke van grotte.

 

Hoewel die wisseling van die seisoene die meeste migrasies aan die gang sit, kan oorbevolking ook ’n rede wees. Dis onseker presies hoe skoenlappers hul rigting vind. Dit lyk of hulle die son as ’n kompas gebruik, maar hierdie teorie moet nog bewys word. Oor die grootste deel van hul reis word hulle deur die wind voortgestu.

 

Dis onmoontlik om te bereken hoeveel insekte aan enige migrasie deelneem. Maar met hulp van die rekenaar is al geraam dat ’n verstommende 3000 miljoen trekvlinders binne 36 uur van daglig oor ’n gebied van 65 km in Kalifornië gevlieg het.

. 

Vlieënde vis

BO: En hierdie knewel dan? Is dit ’n yslike mot? ’n Verskriklike vlinder? Nee, dis darem nie een van die twee nie, maar ’n sogenaamde vlieënde vis. Vlieënde visse jaag in die water voor hul jagtende vyande uit—net om skielik uit die water te spring en heel vernuftig met hul “vlerke” in veiligheid te sweef.

Foto: Shannon Rankin, NMFS, SWFSC / NOAA (gewysig)

Gevleuelde taal

   Die woord skoenlapper kry ons uit die Nederlands, wat dit gebruik vir vlinders met bruin, rooi of swart gevlekte vlerke wat aan lappe op ’n skoen of kleed laat dink; in Afrikaans hoef die skoenlapper geen opvallende kleure te hê nie.

Vir ons is die woorde skoenlapper en vlinder dus sinonieme. Sinonieme is verskillende woorde wat dieselfde betekenis het.

 

Maar as ons van ’n meisie as ’n vlinder praat, word die woord in sy oordragtelike betekenis gebruik. Ons bedoel sy is ’n koket wat verskeie jong manne tegelyk aan ’n lyntjie hou. Dit sou tog ietwat koddig klink om haar in hierdie verband ook ’n skoenlapper te noem!

 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad