|
Lees ook op
die Mieliestronk-werf:
•
Mummies van
oral—oor die mummies van verskillende węrelddele
•
Egipte—die verrysing van
die godkonings
•
Die daaglikse lewe in Ou
Egipte
• Langs die Nyl van die farao’s
UMORISTIES.
Spannend. Skrikwekkend. Hoeveel rolprente oor antieke Egiptiese mummies wat
in ons tyd weer lewend word, het nie oor die jare heen uit Hollywood
se fliekfabriek gekom nie. Vir ons is die bekendstes ongetwyfeld The Mummy
en The Mummy Returns, albei met Suid-Afrika se eie Arnold Vosloo in die
titelrol.
Die mens, ewig op soek na
opwinding, het nou maar eenmaal ’n behoefte aan grilprente wat hom
byna tot ’n paniese histerie kan skok. Net om agterna lekker te lag
omdat hy so lekker geskrik het.
Maar vir die ou Egiptenare
langs die Nyl, die bekendste mummifiseerders in die geskiedenis van
die mens, was hul praktyk om die lyke van hul dooies te bewaar
allesbehalwe lagwekkend. Trouens, dit was met die grootste gewyde
erns en sorgsaamheid dat hulle die stoflike oorskotte van hul
oorledenes gebalsem, in stroke linne toegedraai en in styl in grafkelders
ter ruste gelę het.
Vir eendag—het hulle
geglo—wanneer siel en liggaam weer bymekaar sou kon uitkom om weer een
te word in die hiernamaals.
Dit was naamlik hul geloof dat die liggaam ná
die dood bewaar moes word sodat die siel dit sou herken
wanneer dié dit in die toekoms sou kom soek om daarmee herenig te word.
Die ou Egiptenare het in der waarheid geglo dat elke mens verskeie geestelike vorms het,
waarvan die belangrikste die Ka en die Ba was. Die Ka was die
essensiële energie van die lewe, wat soos elke lewende ding kos en
drank moes hę. Dié het die Egiptenare verskaf deur offerande of
afbeeldings van kos wat hulle in die grafkelder geplaas het.
’n Mens se karakter en vermoë om rond te beweeg, is sy Ba genoem.
Die Ba was iets soos ons begrip van ’n gees of ’n siel, en is
gewoonlik as ’n voël voorgestel. Om vir ewig te lewe, moes die mens
se Ba en Ka in die grafhelder met die mummie herenig word. Sodra dit
gebeur het, sou die mummie ’n onsterflike (of Akh) word.

BO: ’n Mummie wat in die
Vatikaan (die Rooms-Katolieke stad-staatjie binne-in die Italiaanse
hoofstad Rome) bewaar word.
Detail van ’n
foto deur
©
Joshua Sherurcij,
wat vrye gebruik vergun,
insluitend kommersieel, op voorwaarde dat hy behoorlik erken word
REGS:
Anubis was die ou Egiptiese god wat met mummifisering en
begrafnisrituele verbind is. Op hierdie muurskildering in ’n
grafkelder versorg Anubis ’n mummie.
Die kuns van mummifisering in ou
Egipte
DIE ou Egiptenare het
aanvanklik hul dooies sommerso in klein putte in die woestynsand
begrawe. (Egipte is ’n woestynland, met die Nylrivier wat soos ’n
lewensaar daardeur sny.)
Die warm en kurkdroë sand het die lyke vinnig
laat ontwater en hulle in natuurlike “mummies” verander wat baie
lewensgetrou gelyk het.
Mettertyd het die ou Egiptenare hul dooies in doodkiste begin
begrawe om te keer dat die woestyn se wilde diere die liggame van
die hul gestorwe geliefdes opvreet. Hulle het egter besef dat die
lyke in die doodkiste verword en ontbind het omdat die oorskot nie
meer aan die warm, droë woestynsand blootgestel was nie.
Oor baie eeue heen het die Egiptenare van ouds
toe ’n metode ontwikkel om lyke só te bewaar dat hulle steeds
lewensgetrou sou bly lyk. Hierdie metode het tot ’n hoogs verfynde
kuns ontwikkel. Die proses het behels dat die dooie liggame gebalsem
en in stroke linne toegedraai word, en dit staan vandag bekend as
mummifisering.
Die kennis dat ’n
lyk met warm sand gedroog kon word om te keer dat dit verrot, het
tot ’n drogingsmetode met natron gelei. Natron is ’n
natuurlike sout. Daar is besef dat dit ’n lyk buigbaarder maak en lewendiger laat lyk
as wanneer dit met warm sand gedroog word.
Natron absorbeer nie net water nie, maar los ook liggaamsvette op en
is boonop ’n ligte ontsmettingsmiddel wat vernietigende bakterieë
doodmaak.
Balseming het tradisioneel sewentig dae geduur, waarvan veertig dae
bestee is aan die droging van die lyk. Maar eers moes al die
lewensbelangrike organe, wat die vinnigste ontbind, verwyder word.
Net die hart is agtergelaat, wat die mummie nodig sou hę ten tyde
van die oordeel in die hiernamaals.
Die lyk is hierna met palmwyn en speserye gewas en met natron bedek.
Later is gesmelte (vloeibare) boomgom oor lyke gegiet om dit behoue
te laat bly. Om te keer dat die vel kraak, is dit met ’n mengsel van
sederolie, was, natron en gom ingevryf. Dan is die lyk met stopsels
linne, sand en selfs saagsels opgestop om dit vorm te gee. Hierna is
honderde meters linne gebruik om dit versigtig toe te draai,
onderwyl die linne voortdurend met vloeibare gom bestryk is wat die
windsels aanmekaar laat kleef het.
Sowat vyftien dae is vir die toedraai opsygesit, en deur die hele
proses was daar baie rituele en gebede.

BO: ’n
Voorstelling van die proses van mummifisering. Die
gestorwene se oorskot word gebalsem en in stroke linne
toegedraai.
Krediet: Biblepicturegallery.com (free
pic)
Dodemaskers is ook gebruik, nie net om die gesig van die mummie te
beskerm nie, maar dit kon ook as ’n plaasvervangende kop dien as die
mummie se regte kop verlore sou gaan of beskadig sou raak. Sou die
dooie se siel dan na die grafkelder terugkeer, kon hy die mummie aan
sy masker uitken.
Een van die beroemdste kunswerke ter węreld is die treffende
goudmasker wat op die seun-farao Toetankamen se mummie gevind is.
Dit is moontlik dat al die dodemaskers van die farao’s van soliede
goud was, dikwels verder met edelstene versier. Die gebruik van goud
het verband gehou met die geloof dat die songod, met wie die mummie
gehoop het om verenig te word, se vlees van suiwer goud was.
LINKS:
Die beroemde dodemasker van die jong farao
Toetankamen (1341 v.C. – 1323
v.C.), wat slegs nege jaar oud was toe hy farao geword het en sowat
tien jaar lank geregeer het. Besluite in sy regeertyd is na alle
waarskynlikheid deur raadgewers namens hom geneem. Die ontdekking in
1922 van Toetankamen se ongeskonde grafkelder het węreldwye
belangstelling gewek en die belangstelling in Ou Egipte opnuut laat
opvlam. Navorsers stry steeds oor presies hoe die seun-farao dood
is, maar in 2005 het ’n span Egiptiese geleerdes tot die slotsom
gekom dat hy oorlede is weens gangreen nadat hy sy been gebreek het.
Foto:
©
Jon Bodsworth,
wat vrye gebruik vergun,
insluitend kommersieel, op voorwaarde dat hy behoorlik erken word
Minder belangrike mummies het karton-agtige maskers opgehad, gemaak
van ’n soort papierdeeg van linne of afval-papirus wat met pleister
of gom aanmekaar gelym is. Die nat karton is gevorm om die mummie te
pas. Sodra dit verhard het, kon dit verguld (met bladgoud bedek) of
met ryk kleure geverf word.
Nadat ’n ou Egiptenaar se lyk gebalsem en in linne toegedraai was,
is dit in ’n mummie-kis geplaas, wat nie net die mummie teen wilde
diere en grafrowers beskerm het nie, maar ook beskou is as ’n
surrogaat-liggaam en ’n huis vir die oorledene se siel. Mummie-kiste
lyk nie treurig of neerdrukkend nie en is met helder, vreugdevolle
kleure versier. Dis omdat die Egiptenare vas geglo het dat die
oorledene na ’n beter węreld verhuis het.
REGS:
’n Doodkis van ’n amptenaar uit die Egiptiese Middel-Koninkryk (by
benadering tussen 2040 v.C. en 1640 v.C.)
Ná die kisting is die dooie in ’n grafkelder neergesit—miskien
saam met sy of haar pantoffels, grimering, ’n brood, ’n pragtige
stoel, gunsteling-oorringe. Die mummie moes goed voorberei word om
die lewe in die hiernamaals te geniet. Party mummies het die
gereedskap van die werk wat hulle gedoen het, of die simbole van hul
rang, saam graf toe geneem. Toetankamen is saam met sy
kinderspeelgoed gevind.
Só was dit juis die ou Egiptenare se ywer om hul afgestorwenes se
stoflike oorskot en besittings te bewaar, wat die węreld gehelp het
om die lewenswyse in die Egipte van destyds te herontdek—en met
behulp van die moderne wetenskap se x-strale en dinge kan daardie
tydelose liggame ons nog selfs verstommender dinge omtrent die lewe
en dood in die antieke land vertel.
Hoe anders sou ons byvoorbeeld geweet het dat ’n farao soos Ramses
II erg moet gely het weens absesse in sy kakebeen en artritis in die
heupe in sy later jare? Die moderne mens het inderdaad in ’n sekere
sin die grieselige mummies van ouds weer “lewend” gemaak.
REGS:
Die kop van die mummie van die farao Ramses II, met die
linnedoeke verwyder, in 1889 afgeneem deur die Duitse
Egiptoloog Emil Brugsch. Ramses II (of Ramesses II) was die
seun van Seti I, waarvan die mummie bo-aan hierdie artikel
afgebeeld is. (Op ’n stuitiger noot: Seti I was die pappie
van hierdie mummie!)
|