|
Teks uit Huisgenoot se
Ons Wonderlike Wêreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com
IE
laaste musieknote sterf weg en die groot
applous bars los. ’n Harde gedruis van klappende hande, mense op hul
voete, krete van Encore! Encore! Soos al die ander is jy in jou hart
en verstand aangegryp, en jy staan self op om nog meer te vra.
Dis wat musiek aan ons doen. Dit roer ons! Die mense van die antieke
tyd het geglo alles word beïnvloed deur musiek. Tot die bewegings
van die sterre, het hulle gereken, word deur hemelse musiek beheers.
Regdeur die verloop van die beskawing het musiek die mens vermaak en
was dit partykeer selfs die spil van sy kultuur.
In hierdie artikel word vertel van sommige van die beroemde mense
wat tot die betowerende wêreld van klassieke musiek bygedra het.
Mozart: ’n komponis op vyf
LINKS:
Wolfgang Amadeus Mozart.
VIR die inwoners van
Salzburg in die middel van die agttiende eeu was musiek ’n deel van
hul siel. Die Oostenrykse adel het die beste musici in diens geneem
om te komponeer en op te tree, en vir hulle les te gee.
Tog is musici as knegte beskou en sleg betaal. Dis hierdie soort
gemeenskap waarin Wolfgang Amadeus Mozart op 27
Januarie 1756 gebore is. Van alle wonderkinders was hy een van die
jongste en miskien die talentvolste. Sowel hy as sy begaafde suster,
Nannerl, is as Wunderkinder beskou.
Mozart se pa, Leopold, self ’n musikus van aansien, het sy seuntjie
se talent aangewakker deur vir hom les te gee. Toe hy vier jaar oud
was, kon Mozart reeds die klavesimbel bespeel, en op vyf was hy
besig om sy eie werkies te komponeer.
In 1762 het Leopold hom Wenen toe gebring om vir die Oostenrykse
keiserin te speel—en in die volgende tien jaar het Mozart Europa
deurkruis om op te tree en met ander musici kennis te maak. In 1769
het die aartsbiskop van Salzburg hom voltyds in diens geneem. Sy
toekoms as musikus het rooskleurig gelyk.
Van die vroeë 1780’s af het Mozart se lotgevalle egter verander. Die
gemeenskap het belangstelling in hom verloor, want hy was nie meer
’n kind nie. Hy het sy brood probeer verdien deur te komponeer en in
die openbaar op te tree, maar wanhopig gespartel om kop bo water te
hou. Toe hy op die ouderdom van 36 jaar weens nierinfeksie sterf,
was sy gesin brandarm.
Mozart het van die geesverheffendste pragmusiek nagelaat wat ooit
gekomponeer is. Sy 22 operas sluit die verruklike Huwelik van
Figaro, Don Giovanni en die Towerfluit in.
Hy het meer as veertig simfonieë geskryf en baie gewyde
musiekstukke, waarvan die Requiem (Dodemis)—wat hy nooit voltooi het
nie—die bekendste is. Hy was ook verantwoordelik vir serenades soos
Eine Kleine Nachtmusiek, concerto's vir solo-instrumente,
kamermusiek en verskeie sonates.
Beethoven: triomf van die dowe
REGS:
Ludwig van Beethoven soos hy 1820 deur Joseph Karl Stieler geskilder
is.
SWAARKRY het hom
geleidelik van ’n selfversekerde, waardige man in ’n bittere sinikus
verander. Desondanks was Ludwig van Beethoven se komposisies
met soveel krag gevul dat musiek daarna nooit weer heeltemal
dieselfde sou wees nie.
Hy is op 16 Desember 1770 in Bonn, Duitsland, gebore en deur sy pa
geleer om klavier en viool te speel. Sy ma is dood toe hy jonk was,
waarna sy pa stuurs en koel teenoor die seun geraak het.
In 1787 het Mozart van hom gesê: “Hy sal die wêreld iets gee wat
werd is om na te luister.” In 1792 het Haydn een van sy werke
bewonder en by hom aangedring om Wenen te besoek. Hy het dit later
in daardie jaar gedoen en met baie toonaangewende edellui kennis
gemaak en sosiaal verkeer. Anders as die meeste ander komponiste,
wat deur hul beskermhere as ondergeskiktes beskou is, is hy as ’n
gelyke behandel.
Laat in die 1790’s het Beethoven al hoe hardhorender geword, wat hom
prikkelbaar en agterdogtig gemaak het. In die laaste paar jaar van
sy lewe was hy heeltemal doof. Nogtans het hy steeds meesterwerke
bly lewer.
Sy beroemdste werke sluit in die derde (Eroica), vyfde, sesde
(Pastorale) en negende (Koor-) simfonieë; ’n opera, Fidelio; sy
Maanlig-sonate; en die intens roerende kerkmusiekwerk Missa
Solemnis.
Hy is in 1827 oorlede.
Händel: die groot beer
REGS:
Georg Friedrich Händel, geskilder in 1733.
KONING GEORGE II van
Engeland was so verruk deur die Halleluja-koor dat hy op sy voete
gekom en bly staan het totdat dit verby was. Die geleentheid was ’n
opvoering van Die Messias—’n glorieryke oratorium deur die komponis
Georg Friederich Händel.
Händel is op 23 Februarie 1685 in Halle, Duitsland, gebore. Hy het
op die ouderdom van sewe jaar muskiekonderrig ontvang en op twaalf
assistent-orrelis by die plaaslike katedraal geword. In sy laat
tienderjare het hy musiek begin komponeer, veral Italiaanse opera,
en in 1712 na Engeland verhuis om opera te skryf.
Opera was toe stadig besig om gewild te raak in Engeland, en baie
jare lank was Händel besonder suksesvol. Hy het in hierdie tyd sy
kragtige Largo gekomponeer.
Toe raak die Engelse skielik moeg van opera, en sy inkomstebron
droog op. In die vroeë 1740’s het hy hom tot oratoria gewend wat op
Bybelse gebeurtenissse gegrond is. Die Messias, sy eerste, is ’n
versameling van aanhalings uit die Bybel wat die profesie uitbeeld
van die koms van die Messias, Sy geboorte, lewe, dood en opstanding.
Händel, wat die bynaam “die groot beer” gekry het vanweë sy grootte
en krag, het ook meer as 150 populêre instrumentale komposisies
gelewer, waaronder die Watermusiek vir ’n koninklike bootgeselskap
op die Teems, Londen, en die Koninklike Vuurwerkmusiek, ter viering
van ’n vredesverdrag. In die vroeë 1750's het hy blind geword en
opgehou komponeer. Hy het egter steeds opgetree en sy dienste as
dirigent aangebied tot sy dood in 1759.
Richard Wagner: meester van Bayreuth
LINKS:
Richard Wagner, soos hy omstreeks 1862 deur Caesar Willich geskilder
is.
DIE hele Wagner-gesin
het ’n hoë agting vir die teater, musiek, sang, digkuns en
letterkunde gehad, en dit is dus geen verrassing dat Richard,
wat op 22 Mei 1813 in Leipzig, Duitsland, gebore is, hom vroeg-vroeg
in toneelspel onderskei het nie. Met sy middelbare onderwys agter
die rug, het hy hom egter tot musiek gewend.
Hy het daarna gestreef om ’n nuwe soort opera te skep wat musiek met
gedigte, filosofie en godsdiens gekombineer het. Sy eerste
belangrike werke is onder meer lewendige operas soos Die Vlieënde
Hollander, oor ’n seekaptein wat in ’n skimskip rondvaar, en
Tannhäuser en die Lohengrin, waarin hy uit die antieke Nordiese
mites en legendes put.
In 1849 was hy deel van ’n politieke rebellie en moes hy
noodgedwonge na Switserland uitwyk. In sy eerste jare daar het hy sy
politieke, maatskaplike, godsdienstige en artistieke idees in
verskeie boeke en artikels uiteengesit.
In sy latere jare het sy musiektalent “ontplof” met sy onsterflike
Ring-siklus van vier operas—seker sy magtigste poging.
Wagner het ook getrag om die teater van ’n gewone plek van vermaak
te verander in die ware kern van die gemeenskapskultuur. Gefinansier
deur koning Ludwig II van Beiere, het hy sy eie teater by Bayreuth
gebou vir die opvoering van die Ring van die Nibelunge. ’n Somerfees
ter ere van hom word elke jaar daar gevier.
Wagner het twee keer getrou, eers met Minna Planer, ’n aktrise, toe
weer met sy minnares Cosima Liszt, dogter van die beroemde komponis
Franz Liszt. Hy is in 1883 oorlede.
Haydn: vader van die simfonie
LINKS:
Franz Joseph Haydn, ’n portret deur Thomas Hardy (1792).
FRANZ JOSEPH HAYDN
is in 1732 in Rohrau, Oostenryk, gebore. ’n Gesinsvriend het
agtergekom watter soet stem die seuntjie het en gehelp dat hy in die
skool van die Weense keiserlike hof opgeneem is.
Haydn is uit die koor geskop toe sy stem ’n paar jaar later
verander, en jare daarna het hy nog gesukkel om werk te kry. Oplaas,
in 1761, is hy in bevel geplaas van alle musiek in die hof van prins
Esterhazy, ’n amp wat hy dertig jaar lank beklee het. Van toe af het
hy talle voortreflike werke gelewer.
Hy het meer as tagtig strykkwartetwerke gekomponeer, waaronder
populêre werke soos Die Voël, Sonop en Keiser. Hy het verskeie
operas geskryf, en sy twee oratoria, Die Skepping en Die Seisoene
is van sy grootste prestasies. Sy stuk of honderd simfonieë het hom
die bynaam Vader van die Simfonie besorg, vanweë die manier waarop
hy hierdie musiekvorm van sy voorheen kort, eenvoudige gedaante tot
’n grootse komposisie uitgebrei het, dikwels met verskeie bewegings.
Haydn was ’n hegte vriend van Mozart, wat erken het dat hy baie van
sy instrumentale musiek kon leer. Hy is in 1809 oorlede.
Vivaldi: “wewer” van Venesië
LINKS:
Antonio Vivaldi.
TOE Antonio Vivaldi
op 4 Maart 1678 in Venesië gebore is, was dit ’n lewendige
wêreld van glimmerende kanale, imposante geboue, smal straatjies
waar die wasgoed gehang het, vensterbanke wat met blompotte
opgevrolik is en versierde gondels met hul glimlaggende gondeliers.
Dit was ook ’n wêreld van musiek en sang. Waar jy ook al gegaan het,
kon jy die werkers hoor sing, wasvroue wat harmoniseer, kinders wat
neurie, lustig singende gondeliers, orkeste wat speel...
Hierdie delikate vermenging van prag en praal en lighartigheid sou
uiteindelik verweef raak in Vivaldi se komposisies en hom een van
die vrugbaarste skrywers van barokmusiek maak.
Vivaldi se pa, Giovanni, ’n bedrewe violis, het sy talentvolle seun
in musiek onderrig, en voordat Antonio dertien was, kon hy al in sy
pa se plek by die Dogepaleis speel.
In 1703 is hy tot priester gewy, maar hy het sy lewe aan musiek
toegewy. Vivaldi het baie kantates, oratoria, solo- en trio-sonates,
sowat vyftig operas en baie kerkmusiek gelewer. Hy het ook honderde
concerto's, meestal vir die viool, geskryf. Die gewildste is Die
Vier Seisoene.
Toe Vivaldi in 1741 dood is, het sy musiek saam met hom gesterf en
twee eeue lank in onbekendheid begrawe gebly totdat ’n fees wat in
1939 in Siëna, Italië, gehou is, oplaas ’n waardering vir sy
prestasies laat herlewe het.
Bach: genie van barok
LINKS:
Johann Sebastian Bach,
soos die Duitse skilder Elias Gottlob Haussmann hom in 1748
uitgebeeld het.
DIE naam Bach is
sinoniem met barok, want Johann Sebastian Bach is
ongetwyfeld die voorste komponis in daardie musiekstyl.
Hy is op 21 Maart 1685 in Eisenach, Duitsland, gebore en deur sy
broer geleer om die klavichord en klavesimbel te bespeel. Hy het
musiek bestudeer totdat hy agttien jaar oud was, waarna hy eers as
violis en toe as orrelis gepraktiseer het.
Hy is in 1707 met sy niggie Maria Barbara getroud en van hul sewe
kinders het vier uitnemende komponiste geword. Hoewel hy ’n
liefdevolle pa was, was hy ’n opvlieënde mens wat dikwels met sy
werkgewers gebots en dan bedank het.
In 1721 is hy met Anna Wilcken, ’n beroepsangeres, getroud wat hom
dertien kinders geskenk het. Van 1740 af het sy sig ál swakker begin
word en in sy laaste jare was hy feitlik blind. Hy is in 1750
oorlede.
Ofskoon Bach as orrelis bewonder is, was sy komposisies te
gekompliseerd vir sy tyd en nie raakgesien vir wat dit was nie.
Erkenning van sy ware genialiteit as komponis het eers sowat
tagtig jaar ná sy dood gekom.
Bach het nie ’n enkele opera geskryf nie, maar hom toegelê op orrel-
en koormusiek, hoewel hy ook talle werke vir uiteenlopende
instrumentale kombinasies geskryf het. Van sy grootste meesterwerke
is die Johannes- en die Matteus-passie. Laasgenoemde is ’n besonder
groots opgesette werk vir soliste, twee kore en ’n aparte
eenstemmige sopraankoor, asook twee orkeste, waarin die
lydensgeskiedenis volgens die Evangelie van Matteus getoonset is.
Bach word vandag allerweë as een van die grootste komponiste van
alle tye beskou.
Tsjaikofski: tragiese balletskrywer
REGS:
Peter Ilitsj Tsjaikofski.
DIE meeste jong,
ontluikende ballerinas weet van die klassieke Swanemeer, Skone
Slaapster en Die Neutekraker. ’n Mens kan skaars glo dat iemand wat
sulke blywend pragtige, sprokiesagtige werke kon neerskryf, homself
op die hoogtepunt van sy loopbaan met gif om die lewe sou bring.
Tog was Peter Ilitsj Tsjaikofski ’n pynlik skaam alleenloper
wat die publisiteit gehaat het wat sy musiek gebring het. Hy was
dikwels swartgallig en het onder herhaalde senu-aanvalle gely.
Hy is op 7 Mei 1840 in Wotkinsk, Rusland, gebore en het op vyfjarige
leeftyd klavier leer speel. Hy het van sy vroeë tienderjare af
gekomponeer. Hy het later aan die St. Petersburgse Konservatorium in
die musiek studeer en was toe dosent aan die Moskouse Musiek-
konservatorium.
In 1876 het ’n ryk weduwee genaamd madame Von Meck, wat sy musiek
bewonder het, aan hom begin skryf en vir hom geld gestuur, wat hom
in staat gestel het om die konservatorium te verlaat en op
komposisie te konsentreer. Hulle het, soos sy dit verkies het,
mekaar egter nooit ontmoet nie.
Tsjaikofski het na Duitsland, Frankryk, Engeland en Amerika begin
reis. Hy het baie beroemd geword, maar verskriklik huis toe verlang.
Hy het in 1893 selfmoord gepleeg.
Benewens sy ballette is ander werke wat in die Weste gewild geraak
het onder meer die opera Eugene Onegin, die simfoniese gedig
Romeo en Juliet en sy simfonieë, veral die Pathetique.
Die afvuur van die kanonne in die finale van Tsjaikofski se
1812-overture bring Napoleon se aftog van Moskou af tot ’n
skouspelagtige einde.
Brahms... in die spore van Beethoven
REGS:
Johannes Brahms.
JOHANNES BRAHMS is in 1833 as lid van ’n arm gesin in Hamburg, Duitsland,
gebore. Sy pa, wat sy geld verdien het deur basviool te speel, het
hom die grondbeginsels van musiek geleer. Toe hy nege jaar oud was,
was hy ’n talentvolle pianis, en kort voor lank het hy al sy eie
komposisietjies begin maak.
In sy twintigerjare, nog maar ’n onbekende in musiekkringe, het hy
vriende gemaak met sekere van die destydse gevierde musici, onder
wie Robert Schumann en sy vrou, Clara, ’n briljante pianis. Robert
is kort daarna oorlede en Clara en Brahms het groot vriende geword.
Sy het hom oor allerhande musiekaangeleenthede geadviseer, wat
etlike jare later, van omstreeks 1880 af, vrugte afgewerp het toe sy
toegesien het hoe hy as die merkwaardigste komponis van simfonieë,
concerto's en kamermusiek sedert Beethoven geloof is.
Onder sy gewildste werke is die Concerto vir Viool en Orkes, en die
Hongaarse Danse. Sy pragtige Wiegelied is ’n bekende slaaplied.
Brahms was ’n interessante mens. Hy het slonserig aangetrek, sy hare
was lank en deurmekaar, en sy snor en baard bra verwilderd. Hy was
kortaf. Tog was hy een van die toonaangewende inwoners van Wenen.
Hy is in 1897 oorlede.
Chopin: maestro van die klavier
LINKS:
Detail van, sover bekend, die enigste bestaande foto van Frédéric
Chopin. Dit is omstreeks 1849 geneem.
HOEWEL
Frédéric Chopin uitstekende kamermusiek, verskeie werke vir
klavier en orkes en ’n handvol liedere geskryf het, is dit eintlik
met sy werke vir soloklavier dat hy hom werklik onderskei het.
Hy is omstreeks 1810 in Zelazowa-Wola, Pole, gebore en was ’n
verstommende wonderkind wat sy gehore al op agtjarige leeftyd met sy
briljantheid vermaak het. Sy musiek is reeds gepubliseer toe hy
veertien was.
Van 1826 af het hy aan die Warschause Konservatorium studeer en in
1831 in Parys gaan woon. Die Russe het Pole binnegeval en Warschau
oorgeneem terwyl Chopin uitstedig was en besig om konserte te lewer,
wat hom gedwing het om ’n uitgewekene in Parys te word. Hy het die
grootste deel van sy lewe daar gebly.
Sy musiek was vol gevoel en emosie, en hy kon sy toehoorders laat
huil én hulle gelukkig maak. Hy het baie lewendige Poolse danse,
genaamd masurkas en polonyse, geskep. Van sy baie solowerke is die
fantasia waarskynlik sy beste.
Chopin was ’n tragiese figuur. Hy was die grootste deel van sy lewe
sieklik, en was dikwels swak en moeg. Hy is aan tuberkulose oorlede
toe hy maar net 39 jaar oud was.
Die Strausse: weidsheid van die wals

Pa
en seun: LINKS BO is Johann Strauss I, die “Vader van die Wals”, en
REGS BO is Johann Stauss II, die “Walskoning”.
DIE naam Strauss, of
daar nou na Johann sr. of jr. verwys word, laat ’n mens dadelik dink
aan parmantige walse wat die Oostenrykse volksmusiek vergestalt.
Strauss sr. (1804-1849), ’n bekwame violis en leier van ’n
orkes wat lewendige, vermaaklike musiek regoor Europa gespeel het,
het sowat 250 werke gelewer, waarvan ongeveer 150 walse was. Hy het
bekend geword as die Vader van die Wals.
Verskeie van sy kinders het ook beroemd geraak vanweë hul
walskomposisies, nie die minste nie Johann Strauss jr. (1825-1899)
. Die jong Strauss het sy eie orkes gestig toe hy negentien
was, en dit was spoedig besig om sy pa s’n na die kroon te steek.
Bygenaamd die Walskoning, het Strauss jr. vir sowat 400 walse
gesorg, asook verskeie polkas en kadriele. In 1863 het hy
musiekdirekteur van die hofballe in Wenen geword en in hierdie
periode van agt jaar sy beroemde walse oor die Blou Donou en
Verhale
van die Weense Woude gekomponeer.
Later het hy die beroemde operettes Die Fledermaus en Der
Zigeunerbaron geskryf. |