|
BO: ’n Beseerde mynwerker word deur reddingswerkers op ’n draagbaar gedra. Illustrasie in 1939 gedoen deur Fletcher Martin / National Museum of American Art / U.S. National Archives and Records Administration |
|
Gesondheids- en ander gevare van mynbou
Die duur prys van rykdom
REGS: Goudklonte met ’n “ambulans”-simbool daarnaas versinnebeeld die gevare wat maar altyd aanwesig is waar die mens swoeg om kosbare gesteentes uit die aarde te haal.
Samegestelde foto van goudklonte: Aram Dulyan (“Aramgutang”), wat dit tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain”). Rooi Kruis-simbool aangebring op oorspronklike.
Ons myne is ekonomies baie waardevol vir
ons land. Die vraag kan wel gestel word of Suid-Afrika nog so
betreklik welvarend sou gewees het as ons nie ons goud, diamante en
ander minerale gehad het om te ontgin nie. Maar ons dink nie altyd
aan wat die welvaart ons aan menselyding en ook menselewens gekos
het nie. Want mynbou kan ook allerhande gevare inhou, selfs vir mense
wat net naby aan sekere myne woon...
I N die kalksteengroef op Robbeneiland kap die veroordeelde vryheidsvegter dag ná dag aan die verblindende klip.
Die kalkstof en irriterende wit blikkering brand in sy oë in. Sy oë is naderhand so beskadig dat hy sy vermoë verloor om te huil.
Jare later sou Nelson Mandela, as die president van Suid-Afrika, blykbaar steeds só ly aan die uitwerking wat die wit kalkklip op sy visie gehad het dat flitsende kameraligte hom sou verblind.
Dit herinner ’n mens ietwat aan die ontberings van gevangenes destyds in die tsaristiese Rusland en later die gewese Sowjetunie nadat hulle na sout- en ander myne in Siberië verban is.
Foto: U.S. Geological Survey (foto gewysig)
Maar dit is nie net willose gevangenes wat die spit afbyt waar mense die gesteentes bogronds breek of ondergronds vol gange boor om verskillende delfstowwe te ontgin nie. Ook vrye mense stel hulle dikwels aan gevare in en om myne bloot.
Sulke werkers laat willens en wetens toe dat hul gesondheid by die myne onder-myn word, om dit so te stel, in ruil vir die nuttige klomp geld wat hulle met hul arbeid verdien.
Dat mynbou dus ’n negatiewe impak kan hê op die lewens van die mense wat in die myne werk of daar naby woon, kan nie weggeredeneer word nie. Gelukkig vereis wetgewing vandag dat daar verantwoordelike mynbase moet wees wat gedurig teen allerlei gevare in hul bedryf moet waak. Kortom, dit is noodsaaklik dat hulle al die nodige beskermingsmaatreëls sal tref wat in hul bepaalde omstandighede moontlik is.
EEN vraagstuk eie aan ons land is die baie afvalmateriaal op ons mynhope en in die slikdamme by myne wat dikwels deur woongebiede omring word. Myngrond is barre, steriele, dooie grond—niks groei daarop nie, tensy die grond behandel word sodat plante tog daarop gevestig kan word. Om naby sulke mynhope en slikdamme te woon, kan boonop miskien in die aakligste nagmerries ontaard.
Só veroorsaak onbehandelde myngrond—en hier is lugbesoedeling ter sprake—byvoorbeeld ’n geweldige stofprobleem. Wind-erosie het reeds tot groot stofstorms gelei en daar is al bereken dat tot 500.000 ton silika-sand in ’n jaar in die atmosfeer ingewaai is. As sulke stof boonop uraan bevat en die omgewing radioaktief maak, kan die gevolge vir die mense in die omgewing skrikwekkend wees.
Ook die ysingwekkende gevaar van slikdamme wat kan breek, kan nie genoeg beklemtoon word nie—as ’n mens kyk wat in die jare negentig by ’n Vrystaatse goudmyn gebeur het. Die myn-slikdam by Merriespruit, Virginia, het op 22 Februarie 1994 meegegee. ’n Tien meter hoë golf van modder het op die nabygeleë woongebied afgerol en talle huise met die pappery oorstroom. Sewentien mense is gedood.
Nog ’n baie vermeldingswaardige gevaar wat deur sekere
mynboubedrywighede geskep word, is die vorming van sinkgate. Daarvan
het Suid-Afrikaners eerstehandse kennis in Gauteng, waar van die
ondergrondste dolomomietformasies verkrummel deurdat die water
daaruit onttrek is as gevolg van die mynbou.
Die besoedeling van die ondergrondse watertafel en van strome en riviere as gevolg van mynbou, is nog iets wat tans groot kommer in Gauteng en Mpumalanga wek, soos ook in die program 50/50 op kanaal 2 van die SABC se televisiediens gesien is. Visse vrek in riviere waar die mense wat aan oewers woon hul drinkwater vandaan kry. Onbruikbare boorgatwater dryf selfs mense van hul grond af.
Maar hoewel sulke besoedelings, ongelukke en rampe wat deur mynboubedrywighede veroorsaak word vir dramatiese berigte in die koerante en op TV sorg, kan dit in talle huishoudings deur ’n ander soort private myntragedie oorskadu word. Dit is waar gevaarlike delfstowwe of ander siekmakende stowwe van die myne tot die aaklige dood van mynwerkers en dalk ook van lede van hul gesinne lei.
ASBES, byvoorbeeld, was vroeër ’n groot probleem, maar Suid-Afrika het dit uitgefaseer tot die punt waar die gebruik en prosessering daarvan in Maart vanjaar (2008 ten volle verbied is. Ontginning in Suid-Afrikaanse asbesmyne is reeds in die middel van die 1980’s gestaak. Dié mineraal (ook garingklip genoem) het eenmaal drie persent van die waarde van ons land se minerale uitgemaak. Daar is egter vasgestel dat die vesels in die garingklip dodelik gevaarlik is, nie net vir die asbesmynwerkers nie, maar vir almal in die omgewing van die myne.
Siektes soos asbestose en longkanker kan mense laat sterf selfs jare nadat hulle met asbesstof in aanraking was, omdat van die stof in die longe bly vassit.
Asbestose word beskryf as pneumokoniose—’n vorm van longontsteking—weens die inaseming van asbesvesels of stof. Die vesels van die mineraal kan die menslike longe só irriteer dat normale longweefsel deur littekenweefsel vervang word.
Iemand wat aan asbestose ly, is tot kortasemigheid geneig. Hy hoes, voel tam, verloor massa en eet swak. Boonop is sulke lyers vatbaar vir tuberkulose, asook mesotelioom oftewel kanker van die longvlies. Asbestose kan steeds nie met welslae behandel word nie, hoewel die kanker en tuberkulose soms genees kan word.
Ironies genoeg is asbes is eenmaal die “magiese mineraal” genoem. Dit is omdat dit vuur so goed weerstaan en nie brandbaar is nie . Dis op die koop toe ’n baie sterk stof en die enigste mineraal wat tot doek gespin kan word. Daar is al vasgestel dat die breekweerstand van sekere enkele asbesvesels tot tien keer hoër as dié van nylon is. Toe almal nog gaande was oor asbes, is dit in letterlik duisende produkte gebruik, van roosters, droërs en brandvrye bordpapier tot verwarmers, strykplanke en remvoerings.
Ook fabrieke, kantoorgeboue, skole en huise is met asbes-panele gebou. Skrynwerkers en ander arbeiders het argeloos gesaag aan die asbes en die stofdampe ingeasem sonder om te besef dat hulle in die proses hul eie doodvonnis gevel het.
Die eerste sterfgeval wat duidelik aan asbestose toegeskryf kon word, is reeds in die 1920’s in die mediese literatuur aangeteken. In die 1930’s is asbes in wetenskaplike artikels met kanker verbind, en die eerste eise vir skadevergoeding is teen die vervaardigers van asbesprodukte ingestel.
Die gewese asbesmyne in Suidelike Afrika (in Swaziland, Zimbabwe en Suid-Afrika) het al drie die kommersiële variëteite van die mineraal geproduseer, te wete chrisotiel (serpentynasbes), krosidoliet (blou-asbes) en amosiet.
Die vernaamstes van hierdie myne is deur Britse firmas besit en bestuur, wat hulle in die Verenigde Koninkryk aan wetgewing in verband met gesondheid en veiligheid in die werkplek moes onderwerp. Maar later is beweer dat hulle nie hul kennis oor die gevare van asbes by hul Suider-Afrikaanse myne toegepas het nie. Die gevolg sou wees dat mans, vroue en selfs kinders van die jare sestig af tot in die jare tagtig hier in toestande gewerk het wat in Brittanje ondenkbaar sou gewees het.
Uiteindelik het dit op geweldige eise deur duisende gewese mynwerkers en hul gesinne uitgeloop en is uitbetalings van honderde miljoene rande in die nuwe millennium ná skikkings gedoen. Kommer is ook uitgespreek oor rondwaaiende asbesstof, wat na bewering steeds dorpe naby aan die toegemaakte myne sou besoedel het. Daar is selfs geraam dat mense in die jaar 2030 nog altyd aan asbesverwante siektes sal ly.
Die asbes-fiasko het vanselfsprekend nie net ons eie wêrelddeel getref nie. Daar word geraam dat meer as twintig miljoen niksvermoedende werkers wêreldwyd aan gevaarlik hoë vlakke van asbesstof blootgestel is en daar word verwag dat miljoene in die jare vorentoe nog aan die nadelige gevolge van die blootstelling sal ly. Asbes kan sowel in oop myne vlak by die oppervlak as ondergronds ontgin word.
WAT ondergrondse mynwerkers aanbetref, gaan hul soort ambag met baie ander bedryfsiektes gepaard soos hitte-uitputting, senustres en verskillende ander longkwale, maar die ergste is steeds die kwaal wat chroniese obstruktiewe pulmonale siekte (afgekort COPS) genoem word.
Dié siekte het veral vroeër in die volksmond as “myntering” bekend gestaan. Dit word veroorsaak deur die inaseming van silkonbevattende stofdeeltjies, hoofsaaklik ondergronds in ons goudmyne. Komplikasies tree baiemaal in omdat die lyer reeds aan tuberkulose ly.
Gelukkig is daar deesdae baie minder gevalle van “myntering” en is dit dikwels ook nie meer so ernstig nie. Dit is onder meer danksy die bekamping van stof as gevolg van verbeterde delftegnieke, soos die nathou van grond.
Navorsing deur die Epidemiologiese Navorsingsinstituut van die Mediese Buro vir Bedryfsiektes in Johannesburg het boonop getoon dat silikose by sekere ondergrondse goudmynwerkers te wyte is aan ’n kombinasie van silkonbevattende stof en sigaretrook. Die eenvoudige waarheid is dat lyers grootliks kan voorkom dat hulle chroniese siek bly en vroeg sterf deur op te hou rook.
UITEINDELIK is ondergrondse mynwerkers inderdaad ook gedurig blootgestel aan die gevaar dat ’n deel van die myn se “dak” of bogrond op hulle kan ineenstort en hulle lewend kan begrawe of van die buitewêreld kan afsny. Die geredde Chileense mynwerkers van wie hierbo vertel word, kan baie dankie sê dat mense vandag die tegnologie kon gebruik om hulle van ’n gewisse dood te red. Dit was beslis nie altyd die geval nie.
Op 21 Januarie 1960 is Suid-Afrikaners byvoorbeeld baie diep geraak toe ons land se grootste mynramp in die Vrystaat plaasgevind het. Altesaam 435 mynwerkers is toegeval toe ’n deel van die Coalbrook-steenkoolmyn ingestort het, en die tegnologie het toe nog nie plaaslik bestaan om enige van hulle te red nie.
Geen masjien was naamlik in die land beskikbaar wat groot genoeg was om gate te boor ten einde vasgevalle mynwerkers te kon bereik nie. Ná die Coalbrook-ramp het die Kamer van Mynwese egter besluit om ’n geskikte boor aan te koop sodat vasgekeerdes in Suid-Afrikaanse steenkoolmyne voortaan gered sou kon word.
Maar om dit te kon vermag, moes meer as vierhonderd mense diep onder in die koolswart aarde met hul lewe betaal...
|
|||||||||