•
Zoeloe •
Xhosa •
Swazi •
Ndebele
|
|
IE Nguni-volkere van Suidelike
Afrika word in drie groot subgroepe ingedeel, te wete die Noordelike
Nguni, die Suidelike Nguni en die Ndebele. Die Zoeloes en Swazi’s tel
onder die Noordelike Nguni. Die Xhosas is die grootste stamgemeenskap van
die Suidelike Nguni, maar die naburige Temboes en Mpondo is ook bekende
Suidelike Nguni-gemeenskappe en word dikwels as subgroepe van die Xhosa
beskryf. Elk van hierdie groepe is ’n heterogene groepering van kleiner
(eweneens verskillende) etniese groepe. Vier van Suid-Afrika se amptelike tale
is Nguni-tale, naamlik isiZulu, isiXhosa, siSwati en isiNdebele, wat veral
deur die Zoeloes, Xhosas, Swazi’s en Ndebeles respektiewelik gepraat
word. Elk van hierdie tale het streekvariante en -verskille, wat dikwels
onderling verstaan word. Die
Nguni is, uitgesonderd die Khoisan, die oudste bewoners van die
Suid-Afrikaanse landskap. Die jongste argeologiese navorsing dui daarop
dat hul voorvaders boere was wat van verder noord op die vasteland
van Afrika gekom het. Reeds van sowat die eerste eeu van die Christelike
jaartelling, of dan ten minste slegs enkele eeue nC, het hulle
hulle in klein gemeenskappe langs die ooskus van Suid-Afrika
gevestig. Hulle
het later opwaarts versprei in die riviervalleie van die streek en nog
later tot in die hoër liggende graslande. Hulle het sorghum en
millet (voëlsaad) gekweek en beeste, bokke en langstert-skape geteel.
Spesialiste onder hulle het yster gesmelt, gesmee en daarmee handel
gedryf. Die een of ander tyd ná 1500 het hulle mielies begin kweek, ’n
Suid-Amerikaanse gewas wat moontlik deur Europese seevaders na Afrika
gebring is. Daar
is taal- en genetiese getuienis dat die Nguni noue verbintenisse gehad het
met die destyds bestaande bewoners van die streek—jagter-versamelaars
wat taamlik seker Khoisan-tale gepraat het. Voor die negentiende eeu was verspreide
huishouings, pleks van statte, die oorheersende vestigingspatroon van die
Nguni. Die tipiese huishouding is op die manlike linie gegrond, maar het
ook ander familielede ingesluit wat op verskillende maniere aan mekaar
verwant was. Daar kon ook ander mense wees wat hulle by die huishouding
aangesluit het—dikwels as kontrakarbeiders wat met beeste beloon is.
Beeste was die spil waarom die meeste Nguni-ekonomieë gedraai het, wat
gewissel het van ’n feitlik algehele afhanklikheid van veeboerdery tot
gemengde veeboedery en landbou, wat baiemaal deur jagtery aangevul is. Op politieke gebied het die Nguni hulle
dikwels in klein kapteinskappe geskaar, wat partykeer slegs uit ’n paar
honderd mense bestaan het. Hulle was dan die onderdane van ’n kaptein,
wat vanweë sy afkoms, prestasies of ’n kombinasie van faktore tot leier
gekies is. Tot die agttiende eeu of later, só glo
die geskiedkundiges, was hierdie kapteinskappe nie onder ’n koning of
monarg verenig nie. Elke kapteinskap sou in die reël ’n groep verwante
familiestamme langs die manlike linie insluit, of ander nabye verwante en
andere wat verkies het om hulle by ’n besondere kaptein te voeg. ’n
Kaptein kon steun en belasting van sy volgelinge eis, sy gunstelinge
beloon, politieke alliansies vorm en oorlog verklaar teen sy vyande. Op
hul beurt het sy volgelinge gewoonlik die reg gehad om hulle by ’n ander
kapteinskap aan te sluit as hulle wou. Groter kapteinskappe het soms ’n
beperkte beheer oor kleineres uitgeoefen, maar sulke oorkoepelende
leierskappe het gewoonlik nie langer as ’n geslag of twee bestaan nie. |
|
Die Zoeloes
VOLGENS
die sensus van 2001 het byna een uit elke vier (23,8
persent) van Suid-Afrika se 44 819 778
inwoners IsiZulu as huistaal gepraat. Teen die agttiende eeu was die
gemeenskap wat die magtige Zoeloe-volk sou word, egter nog slegs ’n
aantal Nguni-sprekende kapteinskappe noord van die Tugelarivier. Die huishouding het uit ’n uitgebreide
poligame familie (’n familie met verskillende vroue) bestaan, asook uit
andere wat hulle vanweë maatskaplike verpligtinge by die huishouding
gevoeg het. Hierdie maatskaplike eenheid was grootliks selfonderhoudend,
met afsonderlike verantwoordelikhede wat aan mans en vroue opgedra is. Die
mans was in die reël verantwoordelik vir die beskerming van die
huishouding, die versorging van die beeste, die vervaardiging en
instandhouding van wapens en landbougereedskap en die bou van hutte. Die
vroue het huishoudelike pligte gehad en gewasse, meestal graan, op
landerye naby die huishouding aangeplant. Kapteins het al hoe meer belasting van
hul onderdane geëis, met die gevolg dat hulle baie ryk geword het, groot
leërs op die been kon bring en, soos dikwels gebeur het, naburige
kapteinskappe onderwerp het. Militêre verowerings het tot onderskeidings
in status by mans gelei wat ál belangriker geword het. In die vroeë negentiende eeu het die
groot en magtige Mthethwa-kapteinskap, onder leiding van Dingiswayo, die
grootste deel van die streek noord van die Tugelarivier beheers. Shaka,
’n Zoeloe-vegter wat in 1810 erkenning verwerf het deur vernuftig die
leier van die strydlustige Buthelezi-kapteinskap te onderwerp, het
Dingiswayo se militêre nederlaag in die stryd teen naburige Ndwandwe-leërs
aangegryp om in 1817 die Zoeloe-ryk te begin bou. As koning het Shaka, wat van 1817 tot
1828 regeer het, die ou tradisies versaak deur nuwe gevegstrategieë in te
voer, die beheer oor sy militêre regimente te konsolideer en meedoênloos
sy potensiële opponente te elimineer. Shaka se oorlogsregimente (impi's
) het uiteindelik die magtige Ndwandwe onderwerp en die leërs van Shaka
se teenstanders afgemaai of uit die gebied verjaag. Die oorlogsbrand het
duisende Afrikane noord- en weswaarts laat vlug en die ontwrigting het
nuwe konflikte regdeur die streek laat opvlam.
Die Zoeloe-ryk het ná Shaka se dood in
1828 verswak en gefragmenteerd geraak, veral ná militêre nederlae teen
die Boere aan die einde van die 1830’s en die Britte in 1879.
Zoeloeland, die gebied noord van die Tugelarivier, is in 1887 in die
Britse kolonie Natal geïnkorporeer. Die laaste Zoeloe-opstand, ’n protes
teen hoofbelasting wat in 1906 deur hoofman Bambatha gelei is, is meedoênloos
onderdruk. Die Zoeloe-bevolking het regdeur die grootste gedeelte van die
twintigste eeu geframenteerd gebly, hoewel lojaliteit aan die koningshuis
nog in sekere dele sterk gebly het. Leiers van Zoeloe-kultuurorganisasies
en Zoeloe-politici kon daarin slaag om ’n sin vir etniese identiteit te
bewaar by wyse van die simboliese erkenning van die Zoeloe-geskiedenis en
deur middel van politiek op ’n plaaslike vlak. Zoeloe-mans en -vroue het regdeur die
twintigste eeu ’n wesenlike deel van die stedelike arbeidsmag in
Suid-Afrika uitgemaak, veral in die goudmyne aan Witwatersrand.
Zoeloe-arbeiders het ook party van die eerste swart vakbonde in die land
gestig, soos die Natalse plaaswerkers se Zululand Planters' Union, wat
vroeg in die eeu tot stand gekom het. Die KwaZulu-tuisland is in die jare
sestig onder die apartheidsregering van destyds uit verskeie los lappe
grond in Natal gekerf. In 1976 is Mangosuthu (Gatsha) Buthelezi, ’n lid
van die Zoeloe-vorstehuis, as hoofminister van KwaZulu aangestel en die Suid-Afrikaanse regering het KwaZulu ’n jaar later tot selfregerende
gebied verklaar. Buthelezi het goeie verhoudinge met die Nasionale
Party-regering gehandhaaf en daarmee sy vorige noue bande met die African
National Congress (ANC) verbreek. In die jare tagtig het Buthelezi egter
herhaaldelik die aanbod van die regering verwerp om sy tuisland
onafhanklik te laat word. Hy het verkies om die gebied se selfregerende
status te behou en die sowat vier miljoen mense in KwaZulu Suid-Afrikaanse
burgers te laat bly. Zoeloe-solidariteit is bevorder deur Buthelezi se
intellektueel kragtige en dominante persoonlikheid en deur sy leierskap
van die Zoeloe-kultuurorganisasie Inkatha, wat in die jare negentig die
Inkatha-Vryheidsparty (IVP) geword het. Die Zoeloes se verdeeldheid—ANC-ondersteuners
en Inkatha-ondersteuners, wat mekaar al dikwels bloedig en met
lewensverlies te lyf gegaan het—het ook in die jare ná apartheid vir
spannende politieke intriges gesorg in KwaZulu-Natal, soos die herenigde
provinsie nou genoem word. Boonop het Buthelezi, wat die ministerspos
binnelandse sake onder oud-president Nelson Mandela beklee het, dit
uiteindelik onder oud-pres. Thabo Mbeki verloor. Buthelezi se familielid, Goodwill
Zwelithini, is die Zoeloe-koning. Dit lyk of die Zoeloe-vorstehuis se
bestaan nie in die nuwe Suid-Afrika bedreig word nie, maar hoe lank die
opkomende geslagte van Zoeloes
nog die nodigheid sal aanvoel om ’n "streek-koning" binne ’n
groter staat te huldig, is natuurlik weer ’n ander vraag.
BO: ’n Zoeloe-gesin voor twee tradisionele hutte naby Eshowe, 1913. Foto: New York State Archives |
|
Die Xhosas
XHOSA-SPREKERS
(meestal die mense van die amaXhosa) het volgens die sensus in 2001 altesaam
17,6 persent van die Suid-Afrikaanse bevolking van 44.819.778
gevorm. Die Pondo (Mpondo), Temboe en ander
klein etniese groepe is oor verskeie eeue in wisselende mate in die
Xhosa-gemeenskap opgeneem. Elk van hulle is ook ’n heterogene groepering
van nog kleiner groepe. Saam vorm hulle
die suidelike Nguni-stamme wat tradisioneel die gebied tussen
KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap bewoon het. As afstammelinge van ’n vroeë faksie
van die Nguni-volk en synde die mees suidelike groep van die swart
migrasies uit Midde-Afrika na die gebiede in Suidelike Afriks, het die
Xhosa-kultuur (trouens, die hele Nguni-kultuur) ook by die Khoisan-kultuur
gaan leen. Hierdie volkere het immers in ’n simbiotiese verhouding naas
mekaar bestaan en hulle het selfs ondertrou. Die Xhosa-taal, wat ook as
Xhosa of isiXhosa bekend staan, het juis ’n aantal kenmerkende
klapklanke wat dit van Khoisan-tale oorgeneem het. Die meeste Xhosas
praat Engels en dikwels ook verskeie ander tale, maar hulle is baie trots
op hul isiXhosa, ’n Nguni-taal wat naby verwant is aan Zoeloe. Die
Xhosa was oorspronklik bekend as die Aba-nguni, genoem na 'n eertyse
heerser, Mnguni, van wie feitlik niks bekend is nie. 'n Latere opvolger
van Mnguni het as Xhosa bekend gestaan en dis van hom dat die stam sy meer
algemeen bekende naam gekry het.
Foto: National Virtual Translation Center / US Gov Die tradisionele Xhosa-kultuur is op ryk
en omvattende volksoorleweringe en die religie van voorvader-aanbidding
gegrond. Die
jong mans word met puberteit besny. As pastorale nomade was die
ekonomie en sosiale struktuur van die Xhosas van hul beeste afhanklik. Hul
soektog na grond vir weiding het hulle onvermydelik in aanraking gebring
met die Boere en Engelse, wat tot nege Kaapse Grensoorloë (1778-1878)
gelei het. Sedert die ontstaan van die
Witwatersrand het die Xhosas ’n aansienlike persentasie van die
arbeidskrag van die goudmyne aan die Rand en elders verskaf. Die skepping
van die "Xhosa-tuislande", Transkei en Ciskei, in die
apartheidsjare het ook ’n groot verhuising van Xhosas na dorpe en stede
tot gevolg gehad. Al sulke migrasies het die kulture erfenis van die
Xhosa-volk in die hande van ’n mindere oorblyfsel gelaat. Die regering het
in die apartheidsjare gereken dat daar ’n verdeling bestaan
tussen die Gcaleka-Xhosa en die Ngqika-Xhosa (’n subgroep van Rharhabe)
en gevolglik die twee Xhosa-tuislande in die lewe geroep. Transkei, in
Oos-Kaapland, is aan die Gcaleka-Xhosa toegesê en Ciskei, net wes van
Transkei, aan die Ngqika-Xhosa. Transkei het in 1976 onafhanklik geword en
Ciskei in 1981—maar hierdie state is nooit deur die buitewêreld erken
nie. In die nuwe Suid-Afrika is hulle met die Oos-Kaap herenig. Die Xhosas se grootste oomblik van
glorie was stellig toe die mede-Xhosa Nelson Mandela in die jare negentig
van die twintigste eeu as die eerste president van ’n nie-rassige
Suid-Afrika ingehuldig is. |
|
Die
Swazi’s
KORT
voor die jongste eeuwisseling was daar sowat 1,6 miljoen Swazi’s in
Suidelike Afrika—byna 900.000 in
Swaziland en die res in Suid-Afrika, veral in die gebied van die gewese
tuisland KaNgwane.
Tot
die laat agttiende eeu het die Swazi-gemeenskap uit ’n groep heg
verwante Nguni-kapteinskappe bestaan. ’n Magtige kaptein, Ngwane I, het
in daardie tyd etlike naburige kapteinskappe van Nguni- en
Sotho-sprekendes onderwerp om sy eie leër te versterk teen die
Mthethwa-magte onder Dingiswayo. Die grootste teenstander van die
Mthethwa, die Ndwandwe, het later die Mthethwa onderwerp en Dingiswayo
gedood. Ngwane I, onder druk van die Ndwandwe, het hom toe onttrek tot in
die bergagtige gebied wat later Swaziland sou word.
Ngwane I kon tydens die heerskappy van
Shaka voorkom dat sy wêreld by die Zoeloe-ryk ingelyf word en die
Swazi’s het oor die algemeen vreedsame betrekkinge met Shaka se
opvolgers gehandhaaf. Sekere
Swazi-stamme is egter gedwing om noordwaarts uit te wyk namate die streek
al hoe meer onbestendig geraak het en hulle het hulle, saam met uitgeweke
Zoeloe-stamme, so ver noord as die huidige Malawi en Zambië gaan vestig. In die twintigste eeu het die
Swazi-koninkryk sy outonomie, maar nie totale onafhanklikheid nie, behou—as
die Britse protektoraat Swaziland in 1903 en as ’n Hoë-Kommissariaat-gebied
in 1907. In 1968 het Swaziland ’n onafhanklike land onder koning Sobhuza
II geword. Swaziland het sedert die 1960’s druk op Pretoria uitgeoefen
om die deur Swazi’s bewoonde gebiede van Suid-Afrika aan hom terug te
gee. In 1982 het Pretoria ingestem, maar die besluit is deur die
Suid-Afrikaanse Hooggeregshof herroep. Die tuisland KaNgwane is in die jare
sestig uit grond aangrensend aan Swaziland gekerf en in 1984 tot ’n
"selfregerende" gebied verklaar. Die gebied het toe sowat 400.000
inwoners gehad. KaNgwane se hoofminister, Enos Mabuza,
het ’n landbou- en nywerheidsekonomie in die klein, gesegmenteerde
tuisland probeer opbou en die eerste tuislandleier geword wat volle
vakbondregte aan werkers onder sy jurisdiksie toegestaan het. Mabuza het
ook die stryd teen KaNgwane se inlywing by Swaziland gelei. In die laat
jare tagtig het hy met Pretoria oorhoop gelê deurdat hy sy sterk steun
aan die toe nog verbode ANC toegesê het.
|
|
Die Ndebeles
DIE
naam Ndebele, of amaNdebele, verwys primêr na sowat 800.000
Suid-Afrikaners (voor die jongste eeuwisseling) wie se voorouers langer as
’n eeu lank sekere gebiede in die huidige Limpopo-provinsie bewoon het.
Die Ndebele-taal, isiNdebele, word onder die Nguni-tale ingedeel. hoewel
Sotho-invloede in sekere streke sterk genoeg is sodat
isiNdebele soms ook as ’n variant van seSotho geklassifiseer
word. Die meeste Ndebeles se voorouers kom uit
die teenswoordige KwaZulu-Natal. Party het hulle al voor die vroeë
negentiende eeu in die gewese Noord-Transvaal gevestig. Ander, wat
onderdane van Mzilikazi was, het noordwaarts uit Natal gevlug ná sy
nederlaag teen Shaka in 1817. Baie Ndebeles het formidable krygsmanne
geword, wat dikwels kleiner kapteinskappe onderwerp en in die
Ndebele-gemeenskap ingelyf het, en die Ndebeles het herhaaldelik met
Voortrekkers in die omgewing van Pretoria gebots. Pres. Paul Kruger van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek het
in die laat negentiende eeu baie van hul leiers laat arresteer of
teregstel.
Kopiereg © SOUTH AFRICAN TOURISM / SUID-AFRIKAANSE TOERISME Onder apartheid is baie Ndebeles wat in
Noord-Transvaal gewoon het, ingedeel by die oorwegend seSotho-sprekende
tuisland Lebowa, wat bestaan het uit verskeie stukke grond wat oor
Noord-Transvaal versprei was. Ander, wat meer tradisionele elemente van
hul taal en kultuur behou het, is toegewys aan KwaNdebele. KwaNdebele is
geskep uit grond wat geskenk was aan die seun van Nyabela, ’n bekende
Ndebele-stryder in die tyd van pres. Kruger. Die tuisland is gevolglik
deur Ndebele-tradisionaliste verheerlik, wat in die jare tagtig op
onafhanklikheid vir KwaNdebele aangedring het. KwaNdebele is in 1981 tot
"selfregerende" gebied verklaar.
Min van sy sowat 300.000 inwoners
kon egter werk in die tuisland vind en die meeste het dus in die
nywerheidsgebied van die teenswoordige Gauteng gewerk. In die jare tagtig
het minstens 500.000 Ndebeles in
stedelike sentra regdeur Suid-Afrika en in ander tuislande as KwaNdebele
gewoon. In die jare tagtig en vroeë jare negentig het baie Nedelebes ’n vorstehuis, die Mahlangu-familie, erken, en die hoofstad van KwaNdebele is KwaMahlangu genoem. Die koninklike familie was egter verdeeld oor ekonomiese kwessies en die vraag of die tuisland "onafhanklik" moes word. Hierdie twiste is tot niet gemaak deur die ontbinding van die tuislande in 1994. Teen daardie tyd het, benewens die geraamde 800.000 Ndebeles in Suid-Afrika, byna 1,7 miljoen Ndebeles in Zimbabwe gewoon, waar hulle sowat ’n sesde van die bevolking uitgemaak het en bekend staan as die Matabeles. Ongeveer 300.000 het in Botswana gewoon. |
|