— die ‘Dame met die Lamp’
Sy
het geveg vir die soldaat se reg om as ’n mens beskou te word—en
gewen. Sy het onvermoeid en onverpoos vir die verpleegster gestry—en
haar beroep gerespekteerd en gewaardeerd gemaak. Vir haarself het Florence
Nightingale onsterflike roem verwerf. Maar dit is allermins wat hierdie
besondere “Dame met die Lamp” ooit wou gehad het... Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com |
|
|
• Klik hier om terug te keer na die vorige aflewering oor Florence Nightingale |
|
|
D
IE
geselskap aan boord van die Vectis is nog ietwat van stryk oor die
slepende seesiekte wat hulle moes verduur. Maar vanoggend, 4 November
1854, staar hulle verwonderd na die glimmende koepels en toringspitse van
Konstantinopel. Wat
’n oorweldigende gesig. Des te meer omdat die meeste nog nooit voorheen ’n
voet uit Engeland gesit het nie. Dit
reën ligweg. Na die weste toe wieg grommende kamele heen en weer op die
kuspaaie. Na die ooste toe, ’n entjie van die stad, doem ’n groot,
vierkantige gebou op, grys en baie somber. Dis die Barakhospitaal van
Scutari. Met
’n dosyn of wat gondel-agtige bootjies wat by die Vectis versamel, word
die passasiers land toe gebring. "O,
juffrou Nightingale," sê een skielik terwyl die kus nader kom,
"ons moet die arme soldate help sodra ons daar aankom." Juffrou
Nightingale lyk moeg. "Die sterkstes onder julle sal by die waskuipe
benodig word," is al wat sy antwoord. OnwelkomDIE
seereis van Engeland na Konstantinopel (vandag Istanbul in Turkye) was nie
maklik nie. Die skip was smerig en deurtrek van kakkerlakke, en dit het so
gewieg dat Florence omtrent die hele tyd seesiek was. Die verpleegsters en
nonne het ook onder mekaar begin stry. Met
hul aankoms by Scutari het niks verbeter nie. Met ’n modderige voetpad
langs word hulle verby ’n paar honende soldate na ’n offisier gebring
wat hulle meedeel dat hulle nie welkom is nie. Florence
bly kalm en dring op slaapplek vir die verpleegsters aan. Hulle word in
vier klein, klam en smerige kamertjies ingedruk wat met rotte besmet is,
met ’n spens en kombuis langsaan. In een
van die kamertjies lê ’n lyk. Daar is geen kerse, beddens of
beddegoed nie. Die aandete is ’n koppie tee sonder melk. Die
volgende dag gaan dit eens so erg. Die dokters laat dit duidelik blyk dat
die verpleegsters nie in die sale nodig is nie, en hulle moet feitlik die
hele dag in hul kamers bly. Met
’n vlugtige kykie in die sale word die verskriklikste toestande
ontbloot. Gewonde soldate, saamgepak soos sardiens, slaap in klere en
onder komberse wat styf van die bloed is en van die luise krioel. Byna
almal het diarree, en al die riole is verstop. Daar is geen medisyne wat
verligting kan bring nie. Beseerde ledemate word sonder verdowing afgesit,
water word gerantsoeneer en die kos is ongesond en onvoldoende. Die
offisiere verwerp botweg Florence se aanbiedings om hulle van voorrade te
voorsien of die verpleegsters se dienste te aanvaar. Nee, hulle het niks
van vroumense nodig nie, dankie. Dis ’n beginselsaak. Florence
is streng en sy verbied haar personeel om die kermende,
bloeiende soldate te help. Vreemd soos dit dalk klink, is dit omdat
hierdie wyse vrou besef dat sy net die owerheid se vertroue kan wen deur
binne die reëls op te tree. Gou
kom sy agter dat die ware knoop nie by die dokters lê nie—hulle doen
werklik hul bes in die omstandighede—maar by die offisiere. Verswelg
deur amptelike rompslomp en formaliteite, lei hul onvermoë om die
inisiatief te neem en hul gesonde verstand te gebruik tot die dood van
tallose manskappe. ’n
Paar
dae ná Florence se aankoms kom gewonde soldate van die Slag by Balaklawa
by die hospitaal aan. Teen
dié tyd het sy al party van die dokters se guns gewen, en een van hulle
vra haar om warm pylwortel, ’n voedsame styselkos, op te dis. Sy doen
dit en nog versoeke volg spoedig. Die leër se mediese afdeling het geen
beswaar teen die idee dat vroue kos berei nie. Nog
’n paar dae verloop en sy vra toestemming om die vloere te skrop.
Nogmaals neem niemand aanstoot dat vroue op hul knieë werk nie, en die
versoek word toegestaan. Toe
Florence vra dat haar vroue die skoonmaak van die manne se klere moet
oorneem—in die plaaslike washuis word die klere selfs nog meer met
goggas besmet—gaan een van die dokters selfs ’n stap verder en reël
dat warmwatertenks op die perseel geïnstalleer word. Hoewel
hulle steeds weier dat Florence mediese dienste verskaf, is sy geleidelik
besig om dinge skoner en ordeliker te kry. Toe,
op 14 November, tref ’n rampspoedige orkaan die Krim. Tente en voorrade
word weggewaai, en swaar sneeu val daardie nag. Teen die einde van daardie
maand is daar sowat 8000 soldate by Scutari, wat aan vriesbrand,
blootstelling, cholera, disenterie en verhongering ly. ’n
Paniekbevange
dokter beveel almal—Florence se verpleegsters inkluis—om die manne te
help voed en klee en hul wonde te verbind. Die mediese base het eenvoudig
geen tyd om bedreig te voel deur Florence nie. Hulle besef gou dat as
hulle enigiets nodig het, sy altyd kan help. Een
van die eerste dinge wat Florence doen, is om skropborsels, seep, skerms
vir privaatheid gedurende operasies, operasietafels, bedpanne, breekgoed,
klere en baie ander dinge te laat kom. Sy
oorreed die plaaslike inwoners om verstopte riole en toilette skoon te
maak. En sy kry die hulp van die soldate se vroue om klere en beddegoed te
was en te herstel. Sy
vermoed dat die water besmet is—iets waaraan geeneen van die dokters
gedink het nie—en kry ’n paar werkers om die waterpype te ondersoek.
In een van hulle lê ’n dooie perd. Dit word verwyder en die grootste
bron van besmetting is weg. Florence
werk dag en nag. Sy skryf verslae aan die departement van oorlog en briewe
aan die gesinne van die gewonde manskappe, maak lyste van benodigdhede en
doen voorstelle aan die leër se mediese afdeling. En tussenin is sy
verpleegster.
Die Dame met die Lamp
SY
is sowel ’n sagsinnige as ’n bedrewe verpleegster. Sy behandel Altyd
is sy opgewek, lag sy en maak sy grappies met die manne, wat haar geweldig
respekteer en nooit in haar teenwoordigheid vloek of drink nie. Snags loop
sy deur die sale, gekleed in ’n swart rok met ’n tjalie en wit kappie,
haar klein Turkse lampie brandend om elke man te besoek. Die soldate gee
haar die bynaam "the Lady with the Lamp". Toe
’n deel van die kaserne afbrand, en die Britse ambassadeur in
Konstantinopel hom doof hou vir haar pleidooi om geld, gebruik sy haar eie
geld om dit te herbou. Dit krap die amptenare om.
In
minder as twee maande is die sale min of meer georganiseer soos sy dit wil
hê. Kortom, Florence oefen meer mag uit as wat enige Engelse vrou behalwe
’n koningin nog ooit gedoen het. Op die slagveldFLORENCE
se sukses by Scutari beteken allermins die einde van haar werk. Toe dinge
glad verloop in die hospitaal, wend sy haar tot die herstellendes en sorg
vir ’n leeskamer, ’n koffiehuis, ’n teatergroep, sportgeriewe en
skole met onderwysers. Sy
reël ook dat die soldate hul verdienstes huis toe stuur pleks van dit op
bier vermors. Twee
nuwe militêre hospitale is in die Krim self gevestig, en in April 1855
gaan Florence hulle inspekteer. Hulle is net so sleg as wat Scutari was.
Maar die hoof- mediese beampte, dr. John Hall, gelas haar om sy hospitale
te verlaat en weier om deur ’n vrou "gehiet en gebied te
word". Kort
hierna word Florence siek van koors. Sy word na ’n hospitaal buite
Balaklawa gebring waar sy drie weke lank op die randjie van die graf
huiwer. Dis net danksy die toewyding van ene Mrs Roberts, een van die
beste verpleegsters, dat sy bly lewe. Sy
keer terug na Scutari, maar die dokters is opnuut teen haar. Haar
verpleegsters twis en kla so baie dat dinge eindelik vir haar te veel
word. Terug
op die skiereiland, vind sy dat allerhande leuens en lelike stories
omtrent haar versprei word. Desondanks maak sy die hospitale skoon, verlig
die lyding van pasiënte geweldig en red baie lewens. Op
30 Maart 1856 word die oorlog met die Verdrag van Parys beëindig.
Geleidelik sluit die hospitale, en die herstellende soldate en die
verpleegsters gaan een vir een huis toe.
Tuiskoms
DIT
gons in Brittanje. Die oorlog is verby en die Dame met die Lamp moet huis
toe kom. Pamflette
waarin haar werk beskryf word, word oral versprei. Musici skryf liedere en
digters skryf gedigte. Porselein-ornamente word van haar gemaak, en Madame
Tussaud maak ’n wasbeeld. Die
Britse regering bied ’n oorlogskip aan om haar huis toe te bring.
Orkeste wedywer met mekaar om die fanfare by haar aankoms te speel.
Blommeboë word gemaak om die kaai te versier. Koningin
Victoria stuur vir haar ’n borsspeld wat deur prins Albert ontwerp is
met die woorde "geseënd is die barmhartiges" daarop. Florence
se ma, Fanny, en suster, Parthe, baai in hul nuutgevonde glorie. "Ons
is eende wat ’n swaan uitgebroei het," erken hulle teenoor ’n
joernalis. Maar
vir die nou maer en tenger Florence is daar niks om oor vrolik te wees
nie. Emosioneel gewond deur alles wat sy moes deurmaak, ontvang sy die
nuus oor die helde-ontvangs
met
afgryse. "O,
my arme manskappe," skryf sy. "Ek is ’n slegte moeder om huis
toe te kom en julle in jul grafte in die Krim agter te laat." Sy
was slegs bewus van dit wat sy NIE bereik het nie. Haar
tante Mai Smith is in dié tyd saam met haar by Scutari, en die twee
bestyg heimlik ’n skippie, die Danube, en vaar weg onder die skuilname
"Mrs and Miss Smith". In
Engeland klim sy op ’n trein na Derbyshire. Sonder dat enigiemand haar
herken, loop sy in die pad af na Lea Hurst en stap by die voordeur in.
Die “Nightingale-verpleegsters”
VERSOEKE
om haar handtekening, uitnodigings na etes, huweliksaansoeke—dit alles
en baie meer stroom na die Nightingale-huishouding. Maar die nederige
Florence wil beslis niks daarmee te doen hê nie. Die
enigste uitnodiging wat sy wel aanvaar, is om die koningin by Balmoral te
besoek. Haar doel is nie om oor haar eie prestasies te praat nie, maar om
die toekoms van verpleging te bespreek. Tydens
haar besoek ontvang Florence ’n dankoffer wat deur soldate van die
Krimoorlog byeengebring is. Nadat sy die Here gevra het om haar te wys hoe
sy die geld die beste kan benut, stig sy ’n opleidingsentrum vir
verpleegsters by die St. Thomas’s Hospital in Londen. Soos
te verwagte, is daar eers teenkanting. Maar die verpleegsters lyk alte
mooi en netjies in hul voorskote en wit kappies, en is sowel intelligent
as doeltreffend. Kort
voor lank is die "Nightingale-verpleegsters" oral in
aanvraag
in Engeland. En binne ’n paar jaar word haar verpleegsters regoor die wêreld
heen gestuur om ander verpleegsters op te lei. Sy
begin ook met die konsep van die distriksverpleegster, wat na die huise
gaan van mense wat nie siek genoeg is om in die hospitaal te wees nie.
Hiervoor gebruik sy geld wat die koningin haar gegee het om die Jubilee
Institute for Nurses te stig. In
haar later jare woon Florence alleen met net haar katte as geselskap.
Steeds werk sy dag en nag, lees sy hospitaalverslae, gee sy raad oor die
bou en bestuur van hospitale, en skryf sy boeke en briewe, na mense regoor
die wêreld. Die merkwaardige ou dame hervat selfs haar studie van Grieks. Haar
gesondheid gaan geleidelik agteruit en teen 1901 is sy blind. In
1907 vereer Eduard VII haar
met die Order of Merit, die eerste vrou wat só vereer word. In 1910
ontvang sy die vryheid van die stad Londen. Florence
Nightingale sterf op 13 Augustus 1910, op die rype ouderdom van negentig. Geseënd,
voorwaar, is die barmhartiges.
|
|
|
• Klik hier om terug te keer na die vorige aflewering oor Florence Nightingale |
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |