’n Laslappie van Mieliestronk

NEANDERDALLERS:
die raaiselwesens van lank gelede

’n Kunstenaar se voorstelling van Neanderdallers

BO: ’n Kunstenaar se voorstelling van Neanderdallers in hul koue węreld van destyds... wesens wat nie veel van ons mense sou verskil het nie, volgens hierdie uitbeelding. Maar wie was hulle werklik?

Illustrasie met vergunning van NASA / JPL-Caltech

HULLE was daar. Daaroor kan daar geen twyfel wees nie. In ’n sekere tyd in die bestaan van die menslike skepsels op aarde—die jongste Ystyd om presies te wees—was daar wesens wat baie soos ons mense voorgekom het, maar wat tog nie van ons mense was nie.

Ons het nie van hulle afgestam nie. Hoewel eentyd so gedink is, was hulle nie ons “oermenslike” voorouers nie. Ons deel eenvoudig nie dieselfde patroon in ons erffaktore nie, ons het nie presies dieselfde DNS as wat hulle gehad het nie.

Maar hulle was wel jagter-versamelaars wat op die Europese en Sentraal-Asiatiese velde en hoogtes rondgedool het en daardie węrelddele boonop etlike duisende jare lank met ons eie rustieke voorsate in die Noordelike Halfrond gedeel het.

Die twee groepe, die mense (Homo sapiens) en die ander (Homo neanderthalensis), was dus ’n hele ruk lank tydgenote.

Tog is daar weinig indien enige tekens dat die ander wesens en die menslike Eurasiërs ooit met mekaar ondertrou het. Al kon hulle, volgens een navorser, geneties 99,5 persent tot byna 99,9 persent identies gewees het, moet daar in die breukdeel van ’n persent genoeg verskille gewees het om ’n onoorbrugbare kloof tussen die twee groepe te gevorm het.

Dr. FuhlrottDie raaiselwesens van lank, lank gelede word Neanderdallers genoem, na Neanderdal, ’n vallei in Duitsland. Fossiele wat in 1856 in die Neanderdal gevind is, is die eerste keer as gefossileerde reste van ’n “Neanderdalmens” uitgesonder deur ’n sekere prof. dr. Johann Karl Fuhlrott (1803-1877). Nog sulke fossiele is in Frankryk en Noord-Irak gevind.
 

Neanderdalman en ’n 21ste-eeuse Kaukasiese manREGS: Die verskil tussen ’n voorwęreldse Neanderdalman en ’n 21ste-eeuse Kaukasiese man word deur hierdie voorstelling gesuggereer. Daar is aanduidings dat die Neanderdallers rooi hare kon gehad het.

Krediet: GSFC / NASA
 

Daar is lank gedink dat ons eie voorouers baie slimmer as die Neanderdallers was en dat hulle dus hul dom konkurrente met byvoorbeeld beter jagmetodes uitoorlę het. Die Neandertallers sou uitgesterf het om die eenvoudige rede dat hulle “stommerike” sou gewees het wat nie teen die skrander mense opgewasse was en met hulle in die verkryging van kos kon meeding nie.

NeanderdaljagterLINKS: ’n Museumvoorstelling van ’n Neanderdaljagter.

Krediet: American Museum of Natural History / via LBL, U.S. Department of Energy

Maar was die Neanderdallers werklik sulke swape? Nuwe navorsing dui op die teendeel. Wapens wat deur die vroeë mense ontwikkel is, was bes moontlik nie juis beter as dié van die Neanderdallers nie, terwyl die wesens van Homo neanderthalensis waarskynlik ook nie minder in staat was om sinvol met mekaar te kommunikeer as die verteenwoordigers van Homo sapiens nie.

Trouens, daar is wetenskaplikes wat reken dat hulle afdoende getuienis het dat die Neanderdallers 50 000 jaar gelede reeds hul liggame geverf het, ’n handeling wat op redelik gesofistikeerde denke dui.

Hulle kon selfs ’n gevorderde gevoel van meelewing gehad het.  Die reste is byvoorbeeld gevind van ’n Neanderdaller wat ’n verskrompelde arm en verwronge voete gehad het en blind was in die een oog—’n skepsel na wie sy naastes moet omgesien het, miskien so lank as twintig jaar.

Die Neanderdallers was korterig, nie meer as sowat een en ’n halwe meter plus ’n handlengte hoog nie, robuus en sterk gebou, maar blykbaar nie gehard genoeg vir enige gebeurlikheid nie.

Navorsers meen dat hulle sowat 30 000 jaar gelede uitgesterf het, miskien selfs so onlangs as 24 000 jaar gelede by Gibraltar. Die presiese rede vir hul uitsterwing bly onseker, maar klimaatsverandering is ’n besliste waarskynlikheid, omdat hulle straks nie so aanpasbaar as hul bure, die mense, was nie. Die omgesukkelde  mens se aggressiwiteit kon ook die Neanderdaller se jammerlike lot help beseël het.

In Oktober 2010 is bekend gemaak dat Russiese navorsers ná ’n studie groot waarde heg aan die teorie dat groot vulkaniese uitbarsings destyds die Neanderdallers uitgewis het. Die skepsels was glo waarskynlik net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Vondste van vulkaniese as by opgrawingsplekke, tesame met lae vlakke van stuifmeel in nagelate vulkaanreste, dui volgens geleerdes van Sint Petersburg op ’n “vulkaniese winter” waartydens aswolke die son selfs jare lank kon verdof het. Dit sou die doodsklok vir Neanderdallers kon gelui het.

•  Hoe verduidelik die Bybel die Neanderdallers? Die Bybel verduidelik hulle nie, want dit is geen argeologiese of paleontologiese handboek nie. Soos iemand dit al gestel het: Die Bybel is die Boek waarin God Sy werk verduidelik. Die wetenskap is hoe die mens die werk van God probeer verduidelik.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad