|
’n Laslappie van Mieliestronk |
||||
|
UILE:
Foto:
Kopiereg © Suid-Afrikaanse Toerisme / South African Tourism HOE-HOE-HOE
verkeerd is die uile nie al deur bygelowige mense beoordeel nie! As een
vannag op jou dak kom sit en skreeu, is eenmaal wyd geglo, gaan iemand naby
aan jou sterf, so seker as wat die son môreoggend gaan opkom! Alles
natuurlik die grootste snert, net soos die Middeleeuse onsinnigheid dat ’n
skunnige vlermuis se byt ’n mens in ’n wandelende lyk sou verander. Dis
veral die nonnetjiesuil, ook kerkuil genoem, wat die onregverdige reputasie
van die “doodsvoël” verwerf het. Maar
soos iemand al geskryf het: “Elkeen wat in die nag die hoë fluitgeluid
van ’n kerkuil hoor, kan hom maar met gerustheid in sy bed omdraai, met
die gedagte dat daar ’n vriend op die dak sit en nie ’n doodsbode vir
die mens nie, maar wel vir die rotte en muise wat in die omgewing boer. Waar
ons kan, moet ons dus die kerkuile aanmoedig om by ons te kom woon.” Die
nonnetjies- of kerkuil is maar net een van verskillende soorte uile wat in
Suid-Afrika voorkom, uiters nuttige voëls wat saam met die katte keer dat
ons deur verpestelike knaagdiere, vinke en ander kwaaddoeners uit huis en
haard gevreet word. Ander plaaslike soorte uile is onder meer die grasuil,
vlei-uil, bosuil, klein ooruil, witwang-ooruiltjie, dwerguiltjie, gebande
uiltjie, Kaapse ooruil, gevlekte ooruil, reuse-ooruil en die visuil. Alle
uile (daar is meer as 120 sogenaamde tipiese uile en sowat twaalf
kerkuil-spesies) is nagdiere en roofvoëls wat van knaagdiere, insekte,
skerpioene, klein voëltjies en molle lewe. Die uil se kop is plat van voor
en sy oë sit naby aan mekaar en kyk vorentoe, soos ons eie oë. Sy vere is
baie sag, wat hom help om volkome geruisloos deur die lug te vlieg. Kerkuile verskil van
die tipiese uile onder meer deurdat hulle ’n hartvormige gesig pleks van
’n ronde een het. Op
’n jagvlug word die prooi gewoonlik met die kloue op die grond gegryp en,
omdat die uil meestal snags jag, is uitstekende sig in die donker ’n
voorvereiste. Hoewel party
mense dink dat ’n uil glad nie in die dag kan sien nie, is dit onwaar,
maar sy skerp nagsig is werklik iets verstommends. Net
soos ander roofvoëls het uile die hebbelikheid om die onverteerbare reste
van hul kos—soos hare, vere en die kopbeentjies van hul prooi—in die
vorm van klein bolletjies op te bring. Dit word uilballe genoem. Deur
hierdie uilballe te ontleed, kan navorsers onder meer vasstel watter
diertjies deur ’n bepaalde uilsoort gevreet word. Ons
nonnetjiesuil, dit wil sê die gewone ou kerkuil (Tyto alba), word wyd en syd oor
die wêreld gevind, hoewel daar verskille aan onder meer die kleure van die
vere in verskillende wêrelddele bestaan. Ons ken hom as ’n mooi voël met
sy rare hartvormige, witterige gesig en geel vere op sy vlerke en rug.
Hoekom word hy juis die nonnetjiesuil genoem? Lyk hy dan nie op sy
manier sprekend na ’n klein non (kloostersuster) wie se wit gesig ook
opmerklik deur haar donker gewaad omkring word nie? Boonop tref ’n mens
tref die nonnetjiesuil, soos
nonne, ook by ou tradisionele kerke aan.
Bewens
in kerktorings maak die nonnetjiesuil hom ook graag in ander ou geboue en skure tuis, asook in
die kante van ou putte en selfs in ou hamerkop-neste. Die wyfie broei in die
reël op vyf tot sewe kalkwit eiers. Die
nonnetjiesuil se kos is reeds dekades gelede op Onderstepoort, ons
veeartsenykundige navorsingsinstituut, ondersoek. Sowat ’n jaar lank is
die uilballe van ’n sekere nonnetjiesuil-familie versamel en noukeurig
ontleed. Die resultaat is steeds baie insiggewend. Hier volg die getalle van
die geraamtetjies wat in die uilballe gekry is:
Wat
meer sê, dit kan nie eens ’n volledige opgawe van die
nonnetjiesuil-familie se jaarlange spyskaart wees nie, want baie van die uilballe
wat hulle uitgebraak het, is bes moontlik nie gevind nie! |
||||
|
Klik
hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser |
||||