|
Nomade van die wêreld |
||||
|
Nomade van die wêreld (1): Inuit (Eskimo’s) Mense
van
BO:
Historiese foto van ’n Inuit- of Eskimo-jagter
Foto:
U.S. Library of Congress Eskimo...
dit moet mos "mens van die ys" beteken, hoe anders? Verkeerd.
Die naam is afgelei van ’n
woord
in ’n Indiaanse dialek met die betekenis "rouvleisvreters".
Eintlik is dit ’n skelwoord, maar dit sê nogal iets van die ruwe,
geharde Eskimo’s. Om in een van die aarde se ongenadigste omgewings
wortel te skiet, moet jy immers so taai soos ’n
rob
se vel wees. Hulle noem hulself egter nie Eskimo’s nie maar Inuit—’n
woord wat eenvoudig "mense" of
"bewoners" beteken. • Die Eskimo’s woon sowel buite as binne die Noordpoolsirkel, in die enorme uitgestrektheid van die noordoostelike punt van die gewese Sowjet-Unie, oor Alaska en Kanada tot in Groenland. Hoewel hulle nie formeel georganiseer is nie, is hulle kennelik een volk. Daar in hul koue noorderwêrelde het hulle baie eenderse leefwyses en tradisies. |
||||
|
Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Oor
’n lang tydperk het verskillende etniese groepe in Noord-Amerika na
die suide en uiteindelik tot in Suid-Amerika getrek. Die Amerikaanse
Indiane is afstammelinge
van
die suidwaartse trekkers. Die
Eskimo’s het egter noord en wes gebly en ’n lang tyd hul biologiese
en kulturele bande met Asië behou. Van Alaska af het hulle later
ooswaarts oor die Noordpoolstreek van die Noord-Amerikaanse vasteland
versprei. Die
Eskimo’s is Mongoloïed. Hulle is betreklik kort, die gesig is breed
en plat met hoë wangbene, die oë donker, die hare reguit en swart. Die
velkleur van egte Eskimo’s is geelbruin. Die
verskillende Eskimo-tale behoort tot ’n taalfamilie wat Eskaleut
genoem word. Daar is twee vertakkinge: Aleut en Eskimo. Veranderings
DIE
eerste Europeërs wat die Eskimo’s teengekom het, was Wikings wat
omstreeks 1100 n.C. in Groenland gewoon het. In die sestiende eeu het
Europese ontdekkingsreisigers weer Tot
in daardie stadium het die Eskimo’s ’n heel eiesoortige lewe gelei
om in hul ruwe omgewing te kon oorleef. In die daaropvolgende eeue, en
veral die negentiende eeu, het dinge egter drasties verander. Talle
Europese walvisvangers en velhandelaars het hul verskyning in die verre
noorde gemaak en Eskimo’s vir hulle laat werk. Dié is met gewere,
ammunisie en ander goedere betaal. Weens
die doeltreffender jagtoerusting is baie diere byna heeltemal uitgewis
in die Eskimo-wêreld. Die Eskimo’s self is ook drasties uitgedun as
gevolg van siektes wat die Europeërs met hulle saamgebring het. Al
die vernuwings het die tradisionele leefwyse van die meeste van hulle
vernietig. Tradisionele
leefwyse
DIE
Eskimo’s was tradisioneel
’n
nomadiese volk. In die begin
van
die winter sou ’n aantal gesinne saamgroepeer en ’n gemeenskap vorm
wat tot die lente sou bestaan. Hulle het igloes van ys of klip gebou, of
partykeer sooi-skuilings.
Die ys-igloe was ’n koepel van blokke vaste sneeu—gewoonlik net een vertrek. Die sneeublokke is met ’n lang mes van been of yster uit die sneeu gesny en opgestapel in ’n sirkel met ’n effense helling na binne.
Verdere
rye sneeublokke is daarop geplaas totdat die bouwerk ’n koepelvorm gehad
het. Daar was ’n deuropening, en igloes is dikwels deur sneeutonnels met
mekaar verbind.
Hoewel
ons Eskimo’s gewoonlik met ys-igloes vereenselwig, was klip-igloes in
der waarheid talryker. Dit het uit ’n dubbele ry klippe bestaan met ’n
laag turf tussenin. Die
sooihuise het ’n raamwerk van walvisbeen, klip of hout gehad wat met
sooie bepak is. Daar was ’n versonke grondvloer. ’n Grondbank was die
sitplek en bed, en kleiner grondverhogies was die tafels. In
die somermaande het die gesinne in tente gewoon wat van robbe of kariboes
se velle gemaak
is.
Hulle moes te voet gaan jag en het met bote van diervelle in die
poolwaters rondgevaar. Daar
was twee soorte bote: kajakke en oemiakke. Die kajak lyk soos ’n kano en
is ’n lang, smal en ligte eenmensvaartuig. Die raamwerk bestaan uit hout
(gewoonlik dryfhout) en is op só ’n manier met seediervelle oorgetrek
dat net ’n klein sitopening oop bly. Dit is vir die jag van seesoogdiere
gebruik.
Historiese foto van U.S. Library of Congress
Die
oemiak is ’n oop boot met plek vir tot twaalf mense. Dit is vir
walvisjag en langer vaarte gebruik, ook wanneer die Eskimo’s getrek het. Die
wapens was onder meer vurkspiese en pyle, harpoene,
messe,
nette en die pyl en boog. Die
lewens van die Eskimo’s was nou verweef met dié van die diere in hul
omgewing. Die diere moes hulle van kos voorsien, asook van velle vir hul
klere. Die meeste Eskimo’s het naby die see gewoon, waar baie robbe,
walrusse, ysbere, walvisse en visse was. Hulle
was grootliks afhanklik van trekdiere en moes minstens twee keer per jaar
agter hulle aantrek. Maar die sleehond ("husky") was waarskynlik die belangrikste dier in die Eskimo se lewe.
Foto (spieëlbeeldweergawe van detail): Rear Admiral Harley D. Nygren, NOAA Corps (ret.) / NOAA
Dié soort honde is gebruik om die slee oor die sneeu
te trek en op jagtogte na groot diere soos ysbere. Die
sleehond het ’n veeleisende lewe gehad. Buiten wanneer hulle nog baie
klein was, moes hulle in wind en weer buite bly. Op die trekpad moes hulle
dikwels twee, drie dae lank sonder kos bly, maar ná ’n lang,
vermoeiende
tog is hulle gewoonlik beloon met al die vleis wat hulle kon opvreet.
Omdat hulle so waardevol was, het die Eskimo’s hul honde uiters goed
behandel. GemeenskapsleweDIT
was ’n klein, selfgenoegsame wêreldjie waarin die Eskimo gelewe het,
waarin hy meestal net met sy familielede verkeer het. Gesellige
byeenkomste het ’n belangrike rol gespeel om spanning te verlig. Hulle
sou mekaar besoek, speletjies organiseer en feesvier. Die
ouer lede van die familie is
geëer
vanweë hul wysheid, kennis van gebruike en die staaltjies wat hulle kon
vertel. Hulle is met respek en toegeneentheid behandel. Kinders is ook met
liefde behandel en as ’n versekering vir die oudag beskou. Omdat
die lewe so straf was, het ’n gesin selde meer as twee kinders gehad en
die bevolking het dus konstant gebly totdat die Europeërs op die toneel
verskyn het.
Almal
was afhanklik van almal. Die mans het hul vroue nodig gehad en omgekeerd. Daar
word beweer dat Eskimo’s hul verswakte bejaardes doodgemaak het. In
sekere gebiede, wanneer die toestand besonder haglik was, kon dit wel
gebeur het dat bejaardes vrywillig in ’n storm uitgeloop het om van die
honger om te kom of te verkluim. Dit
kan erg klink vir ons met ons Westerse uitkyk, maar die Eskimo’s het
geglo dat die siel van ’n gestorwene in elke pasgebore baba voortleef. ’n
Geboorte is dus beskou as die terugkeer van ’n oorledene. Eskimo’s
vandag NA
raming lewe daar vandag sowat 120 000 Eskimo’s. Baie min van hulle is
nomadies en die meeste woon in nedersettinkies of dorpe en dra moderne
klere, woon in moderne huise, ry in sneeumobiele en ander Westerse
voertuie rond, gaan skool en koop hul benodigdhede in winkels.
Foto: NOAA Dit
sal vir Christene goeie nuus wees om te hoor dat ’n groot persentasie
van hulle tot die Christendom bekeer is. Maar die Eskimo-storie is ook ’n
hartseer verhaal. Ná duisende jare waarin hulle die Noordpool-naarheid
getem het, is hul tradisionele leefwyse vir altyd daarmee heen. |
||||
|
Nomade van die wêreld |
||||