|
Nomade van die wêreld |
|||||||||||
|
Nomade van die wêreld (4): Bedoeïene en Skippers van die sandsee
Saamgestel uit foto’s van New York State Archives en Bureau of Land Management / U.S Department of the Interior
|
|||||||||||
|
Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
DIE
ongenadige woestyn. Bedags is dit ’n gloed van skroeiende sand en
snags ’n stil, koue leegheid. Kan enigiets ooit in só ’n bar en
groteske wêreld aan die lewe bly?
Die
mens sal versmoor onder die sand, het die nag nodig om te slaap en
besit nie die kameel se geroemde aanleg om vog te bewaar nie. In
weerwil hiervan kom ’n paar groepe mense wel verspreid in die wêreld
se woestynstreke voor. Hulle oorleef deur ’n nomadiese lewe te lei. Die
San
(Boesmans) van die Kalahari is aan ons goed bekend. In hul
tradisionele opset het hulle min besittings, geen permanente tuistes
en geen vee nie, en hulle is gedurig aan die swerf om kos en water te
kry. Omdat hulle te voet ronddool, kan hulle egter nie baie ver beweeg
nie. In
die woestyne van Noord-Afrika en die Midde-Ooste, daarenteen, vind ons
nomade wat groot afstande met hul kamele, beeste, bokke en skape aflê
en ’n bestaan maak uit ’n wêreld wat hulle bloedweinig bied. Hulle is die Bedoeïene en die Toearegs.
Bedoeïene
DIE
Bedoeïene is Arabiere en tradisioneel nomadiese herders in
die
woestyne van die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Feitlik almal is Moslems
en hulle praat ’n soort Arabies.
Nie
almal is heeltemal nomadies nie. Party sal byvoorbeeld wel dikwels van
weiplek na weiplek trek, maar woon eintlik in permanente nedersettings
naby waterbronne. Aan
die ander uiterste is die geswore swerwelinge wat jaar in, jaar uit in
die woestyn rondtrek. Die
meeste trek tydens die reënseisoen die woestyn binne op soek na vars
water en weiding vir hul vee, en keer vir die somer na hul grond terug
waar hulle hul palmbome en vrugteboorde versorg. Die
nomade woon in tente wat
maklik
opgeslaan word en dra klere wat van die velle en hare van hul diere
gemaak word. Hulle eet baie dadels, rys en suiwelprodukte en gee ook
hiervan in ruil vir dorpenaars se kookgerei en ander nuttige artikels. Die
verskillende Bedoeïen-stande kan gegroepeer word volgens die diere
waarvan hulle vir hul lewensbestaan afhanklik is. Die aansienlikste
stand is die kameel-nomade, wat in groot stamme georganiseer is en oor
groot gebiede van die Sahara en Siriese en Arabiese woestyne aangetref
word. Van
laer stand is die skaap- en bok-nomade, wat min of meer beperk is tot
die bewerkte gebiede van Jordanië, Sirië en Irak. Nog laer is die
bees-nomade van Arabië en die Soedan. Daar
is ’n uitvoerige klasse-struktuur, met adellike stamme wat knegte
beskerm in ruil vir die dienste soos smidswerk, vakarbeid en vermaak. Die Bedoeïene is ’n trotse en onafhanklike volk. Hulle het hoë etiese waardes—dapperheid, vrygewigheid, waardigheid en lojaliteit teenoor die stam word hoog aangeslaan. Die bloedige stamvetes waarvoor hulle bekend is, is juis die gevolg van gekrenkte trots. Sedert
die middel van die twintigste eeu het ál meer Bedoeïene hul
tradisionele, nomadiese leefwyse vir ’n gevestigde lewe versaak. Hoewel hulle tradisioneel nie van handearbeid hou buiten dit wat nodig is vir hul nomadiese bestaan nie, het baie van hulle voor die politieke en ekonomiese druk van hul tyd geswig. Hulle benut hul regerings se behuisingsprojekte, beter gesondheidsorg en onderwys vir hul kinders en aanvaar meer lonende werke.
Toearegs
DIE Toearegs is die grootste groep nomade in die Sahara, met beduidende bevolkings in Algerië, Libië, Mali, Niger en Burkina Faso. Hulle is ’n stam van die bekende Berbers van Noord-Afrika, en daar word gemeen dat hulle afstammelinge is van mense wat Libië sowat 2000 jaar gelede bewoon het.
Foto:
Kopiereg (c) Rigot @ Wanadoo.fr wat vrye gebruik vir enige doel
toelaat mits die kopiereg te alle tye vermeld word
Oor
die eeue heen het hierdie trotse ras van verwoede krygsmanne dapper
teen die Turke, Arabiere en Europeërs geveg. Hulle het op renkamele
gery, gewapen met ysterlanse, skilde van wildsbokvel en tweesnydende
swaarde. Hulle
het hul onafhanklikheid behou tot die twintigste eeu toe die Franse
hulle oorwin het. Soos
die Berbers is die Toearegs Moslems. Hulle praat ’n Berber-taal.
Hulle het hul eie antieke alfabet, wat verwant is aan die skrif van
die ou Libiërs. Party
woon in permanente huise en bly in een gebied, maar die meeste is
veeboere wat kamele, perde, bokke, skape en beeste teel en in die
Sahara rondtrek waar seisoensreëns vars weiding vir hul vee verskaf. Die
Toeareg-gemeenskap word verdeel in groepe van verskeie stamme met ’n
hoofman aan die hoof. Elke groep bestaan uit adellikes, dienaars en
slawe. Die
gesinne slaap in tente
van
bokvel of onder matbedekkings wat van palmblare
geweef
is. Die
mans is bedags meestal by die vee en is altyd goed bedek om hulle teen
die son en sandstorms te beskerm. Hulle draai hul tulbande om hul
koppe en oor hul gesigte sodat net hul oë sigbaar is. Daar word
vertel dat hulle nooit hul neuse of monde vir vreemdelinge wys nie uit
vrees dat ’n bose gees in hul liggame kan invaar. Die
vroue se taak is om die diere te melk en graan te maal vir etes.
Ongeag hul Moslem-kultuur dra hulle gewoonlik nie sluiers nie, hoewel
hulle dit in sekere streke
wel
doen. Mans en vroue word as gelykes beskou en albei geslagte mag vee
besit. Die Toearegs word soms die Blou Manne van die Woestyn genoem. Dit is vanweë hul gebruik om indigoblou gewade te dra, wat ’n blouheid op die vel laat.
Foto met vergunning van ANEP / U.S. Library of Congress
Karavane
wat soutkoeke vervoer om vir die beeste van ander stamme geruil te
word, is deesdae algemeen. Dit is nogal ’n aangrypende gesig om só ’n
trekgeselskap van kamele oor die woestyn te sien beweeg. Hoewel baie Toearegs vandag op een plek gevestig geraak het, het hulle hul taal, morele standaarde en trots behou. |
|||||||||||
|
Nomade van die wêreld |
|||||||||||