Nomade van die wêreld
Skakels na die verskillende artikels in hierdie reeks:

  Nomade van die wêreld (2): Sámi (Laplanders)   
 

Klein mensies van
  die
koue noorde
  

Sámi-ma en kinders

 

BO: ’n Betreklik ou foto van ’n Sámi- (of
Laplandse) ma met haar baba en twee jaar
oue peutertjie.

 

Foto openbare besit (“public domain”) omdat kopiereg weens ouderdom verval het

 

Sedert onheuglike tye oorleef hierdie volk van klein mensies die ysige winters aan die verre noordelike rand van Europa. Vandag is hulle egter vinnig besig om te moderniseer...

   


Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com 

  
  

Soos die hel

Klokke wat lui.

Horings wat kraak.

n Sneeustorm van rendier-hare...

HIERDIE woorde, uit ’n Laplandse volkslied, rep iets van die ruwe raserny van rendiere wanneer hulle aangekeer word om geslag te word.

 

Die Laplanders of Lappe (deesdae Sámi of Saami genoem, na dié mense se woord Sameh vir hulleself) behoort te weet. Eeue lank volg hierdie geharde mense reeds die spoor van die rendiere op hul seisoenstrekke, en hul hele bestaan hang trouens van dié herte af. Van tyd tot tyd maak hulle van die diere dood vir hul vleis en velle. Daarom dat hulle die slagting so raak kan beskryf.

 

Ligging van Sámiland (Lapland)Maar, soos by die Eskimo’s, is die tradisionele trekkerslewe van die Sámi vinnig aan die verdwyn. Dit is inderdaad slegs dié wat in die noorde van Noorweë woon wat vandag nog nomadies is.

 

Die Sámi woon aan die "bopunt" van Europa, of dan wel in die noordelikste uithoeke van Noorweë, Swede, Finland en die Kola-skiereiland van Rusland, in ’n streek wat Sámiland  genoem word (vroeër Lapland). Dit is nie ’n land op sigself nie, maar ’n gebied.

 

Oorsprong

NIEMAND weet vir seker waarvandaan die Laplanders oorspronklik gekom het nie. Hulle is beslis nie verwant aan die groot, blonde mense wat die Skandinawiese skiereiland ten suide van hulle bewoon nie, want hulle is klein—op sowat 1,5 m onder Europa se kortste mense—en taamlik donker van kleur.

 

Hulle het prominente wangbene, breë neuse en reguit, donker hare. (Baie het egter reeds met Swede, Finne en Noorweërs getrou en hul voorkoms is aan die verander.)

 

Hul taal toon ’n groot mate van ooreenkoms met die Finse en Hongaarse taal, waarvan die herkoms ook ietwat onseker is. Die Lapse taal bestaan egter uit ’n aantal dialekte wat soveel verskil dat die sprekers mekaar nie kan verstaan nie. Die dialekte kan dus byna as verskillende tale beskou word.

 

Die Laplanders het waarskynlik ’n paar duisend jaar gelede (dit kan dalk net 2000 jaar gelede wees) uit Asië gekom. Soos die Eskimo’s het hulle omstreeks 1000 nC met die Wikings kennis gemaak en met hulle handel gedryf.

 

Die Laplanders het toe nog die grootste deel van Finland en ’n groot deel van die noordelike Noorweë en Swede bewoon, maar toe die Finse setlaars later opdaag, is die Lappe noordwaarts na hul huidige woongebied gedwing.

 

Tradisionele leefwyse

IN die lente raak die toendra (die boomlose gebied in die verre noorde) moerasagtig en swerms insekte verskyn. Die mos wat die rendiere vreet, verdor. Dit dwing die rendiere om noordwaarts na vars weivelde te trek—en die Laplanders om hulle te volg.

   

REGS: Moderne Laplanders (Sámilanders) in tradisionele drag.

 

Foto deur Anthere (Florence Nibart-Devouard), wat dit op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web uitgeplaas het en kopiëring vergun ingevolge die Free Documentation License, weergawe 1.2 of enige latere weergawe, soos deur die Free Software Foundation gepubliseer. 

    

   

Hulle laai hul besittings op óf sleë óf pakrendiere wat klokke aan hul nekke het. Die meeste mense het ook ’n hond as troeteldier wat hulle gebruik om die rendiere te help aankeer.

 

Hulle trek gewoonlik snags wanneer die sneeu ferm is. Bedags vertoef die gesin in ’n tentjie—’n houtraam wat met rendiervelle bedek is. ’n Vuur word in die middel gemaak en die rook ontsnap deur ’n opening bo-aan die tent.

 

Wanneer die Laplanders die somerweivelde bereik, bou hulle houthuisies met pelse aan die mure en vloere om dit nog warmer te maak. Soos by die tente is daar ’n opening bo waardeur die rook ontsnap.

 

Die vroue bestee baie tyd aan die voorbereiding van kos vir die winter en aan naaldwerk, terwyl die mans na die troppe omsien. Ekstra benodigdhede soos aartappels, hooi en gort kan van vissersdorpies in die gebied verkry word.

 

Wanneer die somer einde se kant toe staan, slag die Laplanders party van hul diere en verkoop die vleis aan kopers uit die suide.

 

Nadat hulle eindelik vir die winter na die suide teruggekeer het, woon die Laplanders in klein boomstomphuisies, elk met ’n enkele vertrek. Hulle vertoef egter nie lank hier nie, omdat hulle soveel tyd op die trekpad deurbring terwyl hulle die rendiere na die lente- en herfsvelde volg.

 

Vandag se Laplanders

DIE Lappe het mettertyd ’n mengsel van gevestigde en deels nomadiese mense geword. Sedert die helfte van die twintigste eeu het ál meer hul tradisionele leefwyse versaak om werk in die stede en groot dorpe binne én buite Lapland te vind.

 

Die plattelandse Laplanders kan in drie kulturele hoofgroepe ingedeel word: die berg-, see- en woudmense.

 

Die berg-Lappe is vandag die grootste nomade, maar ook die kleinste groep. Hulle hou rendiere aan om hulle van vleis, klere en gereedskap te voorsien en om hulle te vervoer. Hulle volg die diere wanneer dié op trek gaan.

 

Sleë is tradisioneel gebruik om die rendiere aan te keer, maar vandag gebruik hulle meestal sneeumobiele en motors.

 

Die see-Lappe is die grootste groep Laplanders. Hulle woon aan die kus waar die meeste vissers is. Vroeër was hulle deels nomadies en het rendiere, ander soogdiere en voëls op hul seisoensmigrasies gevolg.

 

Die woud-Lappe woon in nedersettings in woude. Baie werk as houtkappers, ander boer met rendiere, beeste en skape. Baie woon aan die oewers van riviere of mere en maak ’n bestaan van visvang.

 

Die moderne lewe het wel deeglik sy stempel op Lapland afgedruk. Bevolkingsdruk en die ontginning van minerale het die tradisionele weivelde verklein. Dit het ook noodsaaklik geword om die kinders moderne skoling te gee. Maar die Lappe het by hul regerings aangedring om hulle te help om hul taal, gebruike en leefwyse te bewaar.

 

Die vakansietyd begin met die aanvang van die lente wanneer die troppe noord migreer. Die kinders kan dus hul ouers op die trek vergesel, die nomadiese leefwyse leer ken en met die gebied vertroud raak. Die skole heropen eers in die begin van die winter, wanneer die troppe terugkeer.

 

Een van die mees dramaties veranderings in Lapland in betreklik onlangse jare hou ook verband met die rendiere.

 

Moderne geriewe en artikels soos fabriekskos en -klere, TV-stelle, videomasjiene, motors, sneeumobiele en motorbote, en die sug na statussimbole, het veroorsaak dat daar ’n behoefte aan harde kontant by die Laplanders ontstaan het.

 

Rendiere is ál meer as ’n bron van kitsgeld beskou. Die gevolg was egter dat te veel diere geteel is vir die beskikbare weiding.

 

Nog ’n probleem was dat die Laplanders die troppe met sneeumobiele en helikopters veel vinniger oor die land aangejaag het as wat natuurlik is. Die diere het stres gekry, vermaer, is met parasiete besmet en die vleis het oneetbaar geraak.

 

n Ondersoek wat ’n aantal jare gelede ingestel is, het getoon dat duisende rendiere op die trek van maagsere gevrek het.

  Nomade van die wêreld
Skakels na die verskillende artikels in hierdie reeks:

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad