Nomade van die wêreld
Skakels na die verskillende artikels in hierdie reeks:

  Nomade van die wêreld (3): Sigeuners   
 

Waarsêers van die ewige wapad

 

Gesig van Sigeunerin in kristalbal Die wapad... hul woning

BO: Die wapad... hul woning.

BO: Die gesig van ’n Sigeunerin in ’n kristalbal—’n saamgestelde foto wat nie net die Sigeuners se fortuinvertellery simboliseer nie, maar ’n mens ook kan laat wonder wat die toekoms vir hierdie enigmatiese swerwersvolk inhou.

•  Illustrasie links bo saamgestel uit foto’s van USAID/Albania en U.S. Department of Transportation • Regs bo is ’n historiese illustrasie (1837)

Deur die eeue is hierdie swerwersvolk—wat dikwels ’n paar munte met onder meer misterieuse fortuinvertellery probeer verdien—soos misdadigers gejag of verslaaf. Tog het hulle oorleef. Hoewel hulle baiemaal verguis word waar hulle gaan, is die Sigeuners moontlik die onafhanklikste mense op aarde... 

   


Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com 

  

Toe Sigeuners geskape is,

is gelas hul moet swerf,

sonder behoefte aan huise

word die wêreld ons werf.

— Geskryf deur ’n Sigeuner.

IN die Bybelboek Genesis lees ons van Kain en Abel—’n verhaal uit die landelike wêreld van die vroegste mense op aarde. Maar hoewel Kain ’n saaiboer was, beteken sy naam eintlik metaalwerker of smid.

 

Nadat hy sy broer doodgemaak het, word Kain verdoem om " ’n doellose swerwer op aarde" te wees. Later in dieselfde hoofstuk lees ons van die nasate van Kain: een was die stamvader van dié wat in tente by hul kuddes woon, ’n ander die stamvader van dié wat op die lier en fluit speel (’n musikant), en nog een was ’n vakman in koper en yster.

 

Hierdie beskrywings pas die lewe van die Sigeuners so goed dat hulle self met groot oortuiging beweer dat Kain die eerste Sigeuner was.

 

Maar wat weet ons regtig omtrent die geskiedenis van hierdie vreemde en bra geheimsinnige mense?

 

Oorsprong

DAAR word algemeen gereken dat die Sigeunervolk in die Indus-kom in Noord-Indië ontstaan het, waar hulle eeue lank aan die grens van gevestigde gemeenskappe gewoon het.

 

Omstreeks 1000 n.C. het oorlog in die gebied hulle gedwing om stadig weswaarts deur die Midde-Ooste uit te wyk om geleidelik na baie lande te versprei.

 

Bulgaarse Sigeuner met opgeleide beerIn die vroeë vyftiende eeu het die eerste Sigeuners Wes-Europa bereik, waar sommige van hulle beweer het dat Moslems hulle uit ’n land gedryf het wat hulle Klein Egipte genoem het.

 

Dit is te betwyfel of hulle daarmee die regte Egipte bedoel het. Nogtans het hulle in Engels as Gypsies bekend geraak, ’n vervorming van die woord Egyptian.

 

En die naam Sigeuner? Een van die eerste name wat aan hulle gegee is, was die Griekse woord Athinganoi (onaanraakbaar). Dié woord het later Atsigan en nog later Tzigane geword, en Sigeuner is hiervan afgelei.

 

Tog het die Europeërs aanvanklik hierdie bra vermaaklike mense met hul musiek, danse en fassinerende praktyke verwelkom. Hulle sou om die reiswaens saamgedrom het om hulle ure lank te bekyk. Baie konings het hulle selfs onder hul vlerk geneem en wetlike beskerming aan hulle verleen.

 

Spoedig het hul opportunistiese gewoontes egter die mense kwaad gemaak. Boonop was baie Sigeuners besonder donker van kleur—en vir die Middeleeuse Europeërs was dit ’n teken van minderwaardigheid. Waar ’n misdaad ook al pleeg is met Sigeuners in die nabyheid, is die skuld vanselfsprekend op hulle gepak.

 

Europa het teen die Sigeuners gedraai. In die jare daarna het die owerhede die "Sigeunerprobleem" probeer oplos deur allerhande dekrete teen hulle uit te vaardig.

 

Baie is verslaaf. Ander is uit stede en state verdryf. Party lande het selfs sover gegaan as om belonings vir Sigeuners uit te loof, dood of lewend.

 

Desondanks het die Sigeuners gekom om te bly.

 

Ou Sigeunerkamp in Salt Lake City, Utah, VSALINKS: ’n Sowat honderd jaar oue foto (in 1906 geneem) van Sigeuners in ’n Sigeunerkamp in Salt Lake City in die Amerikaanse staat Utah.

 

Die rondreisende Sigeuners wat veral vroeër af en toe in Suid-Afrika te sien was terwyl hulle ’n lewe met waarsêery gemaak het, was stellig nie ware Sigeuners nie, hoewel party moontlik Sigeunerbloed in hul are gehad het. Die feit dat Sigeuners hulle nooit juis as groepe in Suid-Afrika gevestig het nie, het miskien daarmee te doen dat hulle geen aanvaarding hoegenaamd te wagte kon wees nie tussen konserwatiewe, landelike Christene wat fortuinvertellery as sondig en strydig met Christelike waardes beskou het.

 

Die meeste Sigeuners word in Wes- en Oos-Europa en Noord- en Suid-Amerika aangetref. En waarseêry is natuurlik net een aspek van hul lewenswyse. 

 

Tradisionele leefwyse

"OM saans by ’n Sigeuner-kampeerplek aan te kom. Om versigtig oor die ru-klip en modder na die reiswaens te loop waar hulle so knus en aanloklik staan, met gasligte wat deur hul pienk vinielgordyne skyn; om die mooi Sigeunermeisies te sien huiswaarts keer met hul glimmende kruike vol van die aand se watervoorraad; om die mans te sien terugkom in hul reuse-vragmotors wat, hoog opgestapel met rommel, huiswaarts steier; om te sien hoe rook uit die skoorstene begin opstyg..."

 

Hierdie woorde van die skrywer Jeremy Sandford in sy boek Gypsies weerspieël die romantiek van hierdie mense met hul helder kleure, danse, liedere en oënskynlik ewige vryheid. Daarteenoor word Sigeuners dikwels met smerigheid, bedelary en selfs diefstal vereenselwig.

 

Wat is dan die waarheid?

 

Die Sigeuners noem hulself Roma, ’n benaming waarop hulle baie trots is. Hulle het ’n eie taal, wat tot die Indo-Iraanse groep tale behoort, en die meeste praat ook die taal van die land waarin hulle woon.

 

Hulle hou steeds by baie ou ongeskrewe tradisies, hoewel hulle dit gedurig tydens hul omswerwinge aanpas.

 

Hulle het hul eie stel lewensreëls wat op hul godsdienstige en filosofiese oortuigings gegrond is en besleg hul geskille onder mekaar.

 

Straks die helfte van die wêreld se Sigeuners het reeds gevestig geraak en woon in huise. Die ander volg egter steeds die tradisies van hul voorvaders en reis van dorp tot dorp, kampeer in reiswaens en tente en verdien hul geld soos die geleentheid hom voordoen.

 

Sigeunerarbeid sluit waarsêery, metaalbewerking, perdehandel, skoenmakery, die verkoop van snuisterye en los werke in.

 

n Paar duisend Sigeuners het sekere grotte naby Granada in Spanje betrek. Dié woonplekke wissel van enkelvertrekke tot groot doolhowe met kerke, skole en winkeltjies.

 

Spaanse Sigeunermeisies, 1917REGS: Spaanse Sigeunermeisies, 1917.

 

Historiese foto wat in 1917 in die tydskrif National Geographic verskyn het en as openbare besit ("in the public domain") beskou word weens die verval van kopiereg

 

n Tipiese Roma-gesin bestaan uit ’n man en vrou, hul ongetroude dogters, hul getroude seuns en dié se vroue en kinders. Partykeer vorm ’n groep verwante gesinne ’n familiegeselskap wat saam woon en saam rondtrek.

 

Sigeuners dra gewoonlik dieselfde klere as die volkere onder wie hulle woon, hoewel die vroue dikwels kaalvoet loop en met lang heuprokke, tjalies, oorringe en ander juwele gesien word. Die mans het geen besondere soort drag nie, hoewel die meeste ’n tipiese vilthoed dra wat bo plat is en ’n breë rand het.

 

Sigeuners is goed bekend vir hul musiektalent en het die lirieke en danse van ander volkere oorgeneem sowel as verryk.

 

Nie-Sigeuners word deur Sigeuners verag. Wanneer ’n Roma-man byvoorbeeld met iemand van buite trou, word hy summier uitgeban en mag hy homself nie meer ’n Roma noem nie. Praat van ’n trotse volk!

 

Vandag se Sigeuners

DIT is moeilik om te skat hoeveel Sigeuners daar vandag in die wêreld is, want hulle is in talle klein groepies georganiseer en steek lyf weg wanneer amptelike volkstellings gehou word. Verskillende ramings ’n aantal jare voor die jongste eeuwisseling het hul getal op tussen een en ses miljoen gestel. Dit bly steeds ’n ope vraag hoeveel daar nog oor kan wees.

 

Albaniese sigeuners wat vandag ’n heel vermoënde bestaan as gesofistikeerde handelaars voer danksy leningshulp van die Amerikaanse regeringREGS: Albaniese sigeuners wat vandag ’n heel vermoënde bestaan as gesofistikeerde handelaars voer danksy leningshulp van die Amerikaanse regering.

 

Foto: USAID/Albania

 

Hoewel ál meer Sigeuners vandag gevestig raak, bly hulle steeds verkleef aan hul unieke kultuur. Behoudens oppervlakkige veranderings in hul lewenswyse, is hulle steeds die Sigeuners van die verlede: die rare, misterieuse volk waaraan die Middeleeuse Europeërs hulle reeds honderde jare gelede so verwonder het.

  Nomade van die wêreld
Skakels na die verskillende artikels in hierdie reeks:

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad