Nomade van die wêreld
Skakels na die verskillende artikels in hierdie reeks:

  Nomade van die wêreld (4): Bedoeïene en  
  Toearegs  

 

Skippers van die sandsee

 

Bedoeïen, kameel en woestynLINKS: Bedoeïen,  kameel en die eindelose woestyn...

 

Saamgestel uit foto’s van New York State Archives en Bureau of Land Management / U.S Department of the Interior 

 

Die kameel is die spreekwoordelike skip van die woestyn. En die Bedoeïene en Toearegs is die skippers van die sandsee. Dis ’n doodse wêreld waar net die gehardste plante en diere kan oorleef. Maar baie nomade sal die woestyn vir geen ander plek ruil nie...

    


Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com 

    

 

DIE ongenadige woestyn. Bedags is dit ’n gloed van skroeiende sand en snags ’n stil, koue leegheid. Kan enigiets ooit in só ’n bar en groteske wêreld aan die lewe bly?

 

WoestynbewonerTóg. Baie diere oorleef in die woestyn deur onder die sand weg te kruip en slegs snags uit te kom. Van die woestyndiere het ook ’n besondere vermoë om die water in hul liggame te bewaar.

Die mens sal versmoor onder die sand, het die nag nodig om te slaap en besit nie die kameel se geroemde aanleg om vog te bewaar nie. In weerwil hiervan kom ’n paar groepe mense wel verspreid in die wêreld se woestynstreke voor. Hulle oorleef deur ’n nomadiese lewe te lei.

Die San (Boesmans) van die Kalahari is aan ons goed bekend. In hul tradisionele opset het hulle min besittings, geen permanente tuistes en geen vee nie, en hulle is gedurig aan die swerf om kos en water te kry. Omdat hulle te voet ronddool, kan hulle egter nie baie ver beweeg nie.

 

In die woestyne van Noord-Afrika en die Midde-Ooste, daarenteen, vind ons nomade wat groot afstande met hul kamele, beeste, bokke en skape aflê en ’n bestaan maak uit ’n wêreld wat hulle bloedweinig bied.

 

Hulle is die Bedoeïene en die Toearegs.

  


  

 Bedoeïene

DIE Bedoeïene is Arabiere en tradisioneel nomadiese herders in die woestyne van die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Feitlik almal is Moslems en hulle praat ’n soort Arabies.

 

Nie almal is heeltemal nomadies nie. Party sal byvoorbeeld wel dikwels van weiplek na weiplek trek, maar woon eintlik in permanente nedersettings naby waterbronne.

 

Aan die ander uiterste is die geswore swerwelinge wat jaar in, jaar uit in die woestyn rondtrek.

 

Die meeste trek tydens die reënseisoen die woestyn binne op soek na vars water en weiding vir hul vee, en keer vir die somer na hul grond terug waar hulle hul palmbome en vrugteboorde versorg.

 

Die nomade woon in tente wat maklik opgeslaan word en dra klere wat van die velle en hare van hul diere gemaak word. Hulle eet baie dadels, rys en suiwelprodukte en gee ook hiervan in ruil vir dorpenaars se kookgerei en ander nuttige artikels.

 

Die verskillende Bedoeïen-stande kan gegroepeer word volgens die diere waarvan hulle vir hul lewensbestaan afhanklik is. Die aansienlikste stand is die kameel-nomade, wat in groot stamme georganiseer is en oor groot gebiede van die Sahara en Siriese en Arabiese woestyne aangetref word.

 

Van laer stand is die skaap- en bok-nomade, wat min of meer beperk is tot die bewerkte gebiede van Jordanië, Sirië en Irak. Nog laer is die bees-nomade van Arabië en die Soedan.

 

Daar is ’n uitvoerige klasse-struktuur, met adellike stamme wat knegte beskerm in ruil vir die dienste soos smidswerk, vakarbeid en vermaak.

 

Die Bedoeïene is ’n trotse en onafhanklike volk. Hulle het hoë etiese waardes—dapperheid, vrygewigheid, waardigheid en lojaliteit teenoor die stam word hoog aangeslaan. Die bloedige stamvetes waarvoor hulle bekend is, is juis die gevolg van gekrenkte trots.

 

Sedert die middel van die twintigste eeu het ál meer Bedoeïene hul tradisionele, nomadiese leefwyse vir ’n gevestigde lewe versaak.

 

Hoewel hulle tradisioneel nie van handearbeid hou buiten dit wat nodig is vir hul nomadiese bestaan nie, het baie van hulle voor die politieke en ekonomiese druk van hul tyd geswig. Hulle benut hul regerings se behuisingsprojekte, beter gesondheidsorg en onderwys vir hul kinders en aanvaar meer lonende werke.

    


Bedoeïene — gister en vandag


Bedoeïene aan die koffie maak in hul tent  

  

REGS: ’n Ou foto van Bedoeïene wat besig is om koffie te maak in hul tent.

 

Foto: New York State Archives (detail en gewysig)

Bedoeïen besig om ’n papirusmat te weef

   

  

LINKS: ’n Bedoeïen besig om ’n papirusmat te weef (histories).

Foto: New York State Archives

Bedoeïen-ma en kind (histories) Bedoeïen-ma en kinders (modern)

Bedoeïen-ma’s en kinders — histories (BO) en modern (REGS).

Foto’s: New York State Archives en USAID / West Bank and Gaza
    


     

 Toearegs

DIE Toearegs is die grootste groep nomade in die Sahara,  met beduidende bevolkings in Algerië, Libië, Mali, Niger en Burkina Faso. Hulle is ’n stam van die bekende Berbers van Noord-Afrika, en daar word gemeen dat hulle afstammelinge is van mense wat Libië sowat 2000 jaar gelede bewoon het.

 

Toearegs sing en klap handeREGS: Toearegs aan die sing met handegeklap.

 

Foto: Kopiereg (c) Rigot @ Wanadoo.fr  wat vrye gebruik vir enige doel toelaat mits die kopiereghouer te alle tye vermeld word

 

 

Oor die eeue heen het hierdie trotse ras van verwoede krygsmanne dapper teen die Turke, Arabiere en Europeërs geveg. Hulle het op renkamele gery, gewapen met ysterlanse, skilde van wildsbokvel en tweesnydende swaarde.

 

Hulle het hul onafhanklikheid behou tot die twintigste eeu toe die Franse hulle oorwin het.

 

Soos die Berbers is die Toearegs Moslems. Hulle praat ’n Berber-taal. Hulle het hul eie antieke alfabet, wat verwant is aan die skrif van die ou Libiërs.

 

Party woon in permanente huise en bly in een gebied, maar die meeste is veeboere wat kamele, perde, bokke, skape en beeste teel en in die Sahara rondtrek waar seisoensreëns vars weiding vir hul vee verskaf.

 

Die Toeareg-gemeenskap word verdeel in groepe van verskeie stamme met ’n hoofman aan die hoof. Elke groep bestaan uit adellikes, dienaars en slawe.

 

Die gesinne slaap in tente van bokvel of onder matbedekkings wat van palmblare geweef is.

 

Die mans is bedags meestal by die vee en is altyd goed bedek om hulle teen die son en sandstorms te beskerm. Hulle draai hul tulbande om hul koppe en oor hul gesigte sodat net hul oë sigbaar is. Daar word vertel dat hulle nooit hul neuse of monde vir vreemdelinge wys nie uit vrees dat ’n bose gees in hul liggame kan invaar.

 

Die vroue se taak is om die diere te melk en graan te maal vir etes. Ongeag hul Moslem-kultuur dra hulle gewoonlik nie sluiers nie, hoewel hulle dit in sekere streke wel doen. Mans en vroue word as gelykes beskou en albei geslagte mag vee besit.

 

Die Toearegs word soms die Blou Manne van die Woestyn genoem. Dit is vanweë hul gebruik om indigoblou gewade te dra, wat ’n blouheid op die vel laat.

 

Dansende ToearegsLINKS: ’n Ou foto van dansende Toearegs. Hoekom hulle hier wit klere dra en nie die tradisionele blou nie, word nie deur die bron vermeld nie.

  

Foto met vergunning van ANEP / U.S. Library of Congress

   

  

Karavane wat soutkoeke vervoer om vir die beeste van ander stamme geruil te word, is deesdae algemeen. Dit is nogal ’n aangrypende gesig om só ’n trekgeselskap van kamele oor die woestyn te sien beweeg.

 

Hoewel baie Toearegs vandag op een plek gevestig geraak het, het hulle hul taal, morele standaarde en trots behou.

  Nomade van die wêreld
Skakels na die verskillende artikels in hierdie reeks:

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad