|
Heil
die Nyl! |
|||||
|
Gegroet
is u, o Nyl! U wat uself oor hierdie land openbaar en lewe aan Egipte
gee! Misterieus is u verskyning vanuit die duisternis...
S lewensaar het die Nyl ’n baie lang geskiedenis... hierdie veel geroemde rivier waarlangs die ou Egiptiese beskawing millenniums gelede gebloei het. Daarom is dit nogal eienaardig dat geen bootvaarder, sover bekend, deur al die eeue ooit die hele rivier van sy oorsprong af tot by sy monding bevaar het nie. Die Nyl is eers in 2004 deur ’n ekspedisie onder leiding van ’n Suid-Afrikaner “oorwin”. Die
Wit Nyl-ekspedisie, gelei deur Hendri Coetzee, het in Januarie 2004 by
die Nyl se begin in Uganda weggespring en in Mei, vier maande en twee
weke later, veilig in Rosetta, Egipte, by die Middellandse See aangekom. Nie
dat dit vir hulle maklik was nie. Die span—bestaande uit
riviervlot-vaarders van Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Engeland—moes van
die ergste stroomverstellings op aarde trotseer. Erger nog: hulle moes
krokodil- en seekoei-aanvalle afweer, deur ’n moeras so groot soos
Engeland worstel en boonop deur gebiede beur waar twee burgeroorloë
gewoed het Hierdie waagmoediges sou dus leer wat ’n “heilige” respek vir die Nyl eintlik beteken. Maar dan het die antieke Egiptenare mos baie, baie eeue gelede reeds geweet! Die
siel van die Nyl DIE Nyl, in Noordoos-Afrika, word allerweë die langste rivier op aarde gereken. Die Victoria-meer in Uganda word tradisioneel as die rivier se oorsprong beskou en die lengte daarvandaan na die Middellandse See is 5584 km. Maar
vanaf die begin in Burundi van die langste voorstroom—die
Luvironza-river, ’n sytak van die Kagera-rivier wat in die
Victoria-meer invloei—is die Nyl ’n yslike 6695 km lank. Die
rivierbeken strek oor sowat 3 350 000 vk km en die gemiddelde afvloei is
meer as drie miljoen liter per sekonde. Duiselingwekkend, om die minste
daarvan te sê. Dog dis natuurlik nie waarvoor die Nyl eintlik beroemd is nie. Noem net die naam en bes moontlik verskyn beelde van die ou farao’s en piramides voor jou geestesoog, of dalk van koninklike mummies en hul grafkelders uit vergange eeue. Dooies
van gister—en tog verteenwoordig die Nyl steeds die lewe self vir die
mense aan sy oewers, soos hy reeds duisende jare lank gedoen het. Aan sy
walle is die verstommende oud-Egiptiese kultuur gevorm wat selfs
geleerdes vandag maar net begin begryp.
Foto: BIGPHOTO.COM / PD Van
die vroegste tye af het die waters van die Nyl, wat vanweë die moesonreëns
in Ethiopië tot ’n bruisende watermassa uitgeswel het, elke jaar
tussen Junie en September die oewers na die noorde oorstroom. Die
kosbare water en vrugbare slik wat op hierdie wyse periodiek oor die
landerye gegiet is wanneer die rivier oor sy walle gebars het, was die
lewensbloed van die ou Egiptenare. Dit is dan ook nie vreemd dat die Nyl
’n besondere invloed op hul denkwyse gehad het nie.
Wat
meer sê, die Egiptiese kultuur wat onder hierdie oewerboere aan die Nyl
ontwikkel het, was merkwaardig stabiel en het oor ’n tydperk van byna
3000 jaar weinig verander. Dit geld onder meer vir sowel die godsdiens,
gebruike, kunsbeoefening en argitektuur as die maatskaplike struktuur
wat in die Egiptiese samelewing bestaan het. Maar
waar het alles begin? Klimaatsverandering en moontlik oorbeweiding het
in die voortyd die weivelde van Egipte laat uitdor, waardeur die
Sahara-woestyn uiteindelik oorgeneem het. Die vroeë stamme van destyds
het vanselfsprekend na die Nyl versit, waar hulle gevestigde
landbougemeenskappe gevorm het. Die
geskiedenis van ou Egipte as ’n verenigde staat begin glo iewers teen
3100 v.C. Narmer, wat Bo- en Onder-Egipte sou verenig het, was glo die
eerste farao. Daarna,
terwyl hulle feitlik eksklusief op die smal vloedvlaktes van die Nyl
gewoon het, het Egiptiese en Soedannese beskawings duisende jare lank
gefloreer. Maar
tot die middel van die 1800’s was die oorsprong van die Nyl steeds een
van die wêreld se groot geheimenisse. Dit was eers toe die Britse
ontdekkingsreisiger John Hanning Speke (1827-1864) die eerste keer die
Victoria-meer as die oorsprong uitgeken het, dat die raaisel so min of
meer opgelos is. Die
lope van die Nyl
Die
wit en blou hou verband met die kleure van die waters van die
verskillende sytakke. As die Blou Nyl in vloed is, is hy wel modderig
van die slik wat van die berge van Ethiopië kom, maar in die droë
maande, van Maart tot Junie, is die water helder en lyk dit
inderdaad blouerig.
HOEWEL
die Luvironza-river, wat die Victoria-meer via die Kagera-rivier uit
Burundi voed, as die opperste voorstroom geëien is, word die
Victoria-meer (tussen Uganda, Kenia en Tanzanië) tradisioneel as die
Nyl se oorsprong beskou. Waar
die Nyl die Victoria-meer aan sy noordekant by Jinja verlaat, staan hy
bekend as die Victoria-Nyl. Die rivier het oorspronklik oor die Owen-
(of Ripon-)waterval gestort voordat hy na die Albert-meer koers gevat
het, maar die waterval is deur die Owen-watervaldam verswelg. Nagenoeg
480 km ver snel die Nyl oor ’n gebied van stroomversnellings en
katarakte, eers noordwes en dan wes, totdat hy in die Albert-meer
invloei. Hy verlaat die noordelike oewer van die Albert-meer as die Albert-Nyl, vloei deur Noord-Uganda, en word die sogenaamde Bahr al Jabal by die Soedannese grens. By sy sameloop met die Bahr al Ghazal word hy die Bahr al Abyad of die Wit Nyl. By Khartoem vloei die Wit Nyl en die Blou Nyl, of Bahr al Azraq, saam.
DIE
Blou Nyl van nagenoeg 1530 km kry sy meeste water van die Tana-meer in
die Ethiopiese hooglande. Die oorsprong is geëien as ’n fontein wat
van 2150 meter bokant die seevlak af in die meer invloei. Die Blou Nyl
vloei wes en dan noord totdat hy en die Wit Nyl uiteindelik mekaar by
Khartoem in die Soedan ontmoet.
Foto: NASA Hoewel
hy korter as die Wit Nyl is, hou die Blou Nyl baie meer water—sowat
sewentig persent van die totale volume van die Nyl—veral in Augustus
en September, wanneer die hooglande deurdrenk is van die baie reën.
Wanneer daar so baie water is, is die rivier selfs oor sowat 800 km
bevaarbaar. Sowat
tagtig persent van die Soedan se krag word deur hidroëlektriese skemas
by Roseires en Sennar opgewek. Hierdie damme verskaf ook
besproeiingswater vir meer as 10 000 vk km van die Gezira-vlakte.
VAN
Khartoem af vloei die Nyl noordoos, en loop sowat 320 km onderkant
Khartoem saam met die Atbarah-rivier. Die swart slik wat deur die
Atbarah en Blou Nyl meegevoer is, het vroeër op die oewers langs die
benede-Nyl neergeslaan en die wêreld daar baie vrugbaar gemaak. Maar
nie meer nie. Die
hoë Aswan-damwal, wat die Nyl se natuurlike vloei in Suid-Egipte naby
die stad Aswan stuit, het die Nyl-vallei beduidend verander sedert dit
in 1970 voltooi is. Nou word die jaarlikse vloede van die rivier deur
die dam beheer, terwyl ’n groot kunsmatige meer, die Nasser-meer, as
gevolg van die opdamming geskep is. Die helfte van Egipte se krag word
by Aswan opgewek en beheerde besproeiing uit die meer het die inkomste
uit die land se landbou met 200 persent laat styg.
Foto: US Department of Transportation Maar
die hoë stuwal het ook ’n duidelik negatiewe invloed op die omgewing
gehad. Omdat die Nyl getem is, dam die kosbare slik in die Nasser-meer
op en moet kunsmis op die landerye ondertoe die verlies vergoed. Sowel
in Egipte as die Soedan moes hele gemeenskappe en kosbare antieke plekke
as gevolg van die opdamming van die water verskuif word. Van
sy samevloeiing met die Atbarah maak die Nyl twee draaie deur die
Nubiese woestyn. Daar is ses watervalle tussen Khartoem en Aswan. Die
Nyl verdeel in die verspreidingstrome Rosetta en Damietta wat in die
Middellandse See invloei. Dit word die Nyl-delta genoem—delta omdat
die driehoekige vorm soos die Griekse letter delta lyk. Dit was
ook die Griekse geskiedkundige Herodotus, met wie ons vroeër in hierdie
artikel kennis gemaak het, wat dit destyds gebruik het om die vurk by
die monding van die Nyl te beskryf. Vandag word alle soortgelyke
riviermondings deltas genoem. Ja-nee,
heil die Nyl! Afrika sou in verskillende opsigte sonder hom baie, baie
armer gewees het. Lees ook: Egipte: langs die Nyl van die farao’s
|
|||||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |