|
Diepte-artikel
Hoe is die heelal gebore? Was daar In die begin... |
|
|
|
Eggo’s van die Oerknal? REGS:
Die COBE-satelliet se “hemelkaart” van die vroeë heelal... maar
wat beteken dit alles? Op sy eenvoudigste kan ’n mens dit só verduidelik:
Lig beweeg teen ’n sekere, duiselingwekkende snelheid. As die son
byvoorbeeld nou uitgedoof sou kon raak, sal dit eers oor agt minute donker
raak op die aarde, en die son soos ons hom nou sien, is dus nie soos hy is
nie, maar soos hy agt minute gelede was. Hoe verder ’n mens in die ruimte
inkyk, hoe ouer is die dinge wat jy daarin gewaar. Met die COBE-satelliet
het wetenskaplikes daarin gestaag om in die verlede terug te kyk na die
hemelruim soos hy duisende miljoene jaar gelede gelyk het—net 300 000
jaar, sê hulle, nadat alle dinge begin het. Volgens hulle bewys hul
hemelkaart die teorie van die Oerknal in die begin. |
|
IN
die begin, heel in die begin, was daar iets soos ’n gedagte. Klein,
verskriklik klein, baie duisend miljoene kere kleiner as een van die
minuskule bousteentjies van ’n atoom, soos ’n sluimerende sweempie van
iets werkliks binne-in ’n absolute niks. Rondom
dit was nie eens dinge soos lengte of breedte of hoogte nie. Ook geen jare
of sekondes of hoegenaamd enigiets soos tyd nie. Toe,
in die oerbegin van tyd en ruimte, bars daardie“gedagte” uit in
al sy glorie. En elke
breuk van 1 met 54 nulle van ’n sekonde verdubbel hy homself, blitsig en
aanhoudend, ’n swellende vuurbal van louter energie wat uitbundig
vermenigvuldig
in sy drif. Dit
was die geboorte—volgens
wetenskaplikes—van die heelal ...
die skepping. Die ontstaan van die kosmos, reken baie van hulle, wat wel
strook met die eerste vers in Genesis. Die
stippeltjie super-energie,
vertel
die wetenskaplikes verder, groei in die eerste mikrosekondes wonderbaarlik
tot die
grootte van ’n pomelo. Drie minute later is dit ’n onbeskryflik warm mis
van vry-swewende deeltjies waardeur lig nie kan dring nie, en vir die
volgende
driehonderdduisend jaar bly dit in hierdie toestand ofskoon dit later
miljoene der miljoene
kilometer in deursnee is. Maar
in hierdie stadium begin die steeds uitdyende heelal afkoel. Die deeltjies
kom bymekaar om atome te vorm, die klein fondamentjies van materie. •
DIE heelal raak nou minder kompak sodat lig deurgelaat kan word.
Party areas is ligter as ander en is dus warmer, en hierdie gebiede vorm
later gaswolke. Van
driehonderdduisend jaar
van die begin af tot tweeduisend miljoen (twee miljard)
jaar
daarna breek die kolossale
wolke
van gas in kleiner wolke op. Intussen neem die
grootte
van die heelal steeds hand
oor hand toe. Alles versprei en beweeg voortdurend
met
’n duiselingwekkende snelheid
van die misterieuse middelpunt
van hul ontstaan af weg. Van
die ruimte se bestaanstyd van tweeduisend miljoen jaar tot vandag se
vyftienduisend miljoen jaar, pak die gasse plek-plek saam om sterre of
sonne te vorm en dié groepeer weer gesellig saam in sogenaamde
sterrestelsels. Sodra
’n oormaat gas op een punt saamgebondel het, stort die hele massa as’t
ware onder sy eie geweldige swaartekrag inmekaar en word dit ’n vurige
waterstofbom wat gedurig op homself inplof—die
geboorte
van ’n son. •
TUUR ons vandag in die heelal rond, is daar sowat honderd miljoen
sterrestelsels binne reikafstand van die beste teleskope. En net een
sterrestelsel, soos ons eie Melkweg, kan weer honderdduisend miljoene
sterre of sonne bevat. Hoeveel sterre daar dus altesaam is, is onmoontlik
om te bereken. Die
afstande tussen die sterre is ook haas onbevatlik ver. Lig beweeg 299.792,4 km ver in net een sekonde en neem slegs agt minute om van ons son af
na die aarde toe te flits. As die son byvoorbeeld nou skielik sou uitdoof,
sal dit eers agt minute later by ons donker word. Maar
lig neem vier en ’n derde jaar om tussen ons son en sy naaste buur-son te
reis. Hierdie buur-ster is terloops in die konstellasie van die
Suiderkruis. En
daar is in die onvoorstelbaar groot ruimte hemelliggame wat nie net ’n paar nie, maar duisende of baie miljoene ligjare van ons verwyder is. Kyk
ons na die sterre met die blote oog of deur teleskope, sien ons hulle nie
soos hulle nou is nie, maar soos hulle lank gelede was. Dit is ’n kyk in
die geskiedenis. ’n
Ster kon dus miljoene jaar gelede in sy afgeleefdheid ontplof het, maar
vir ons nog rustig skyn met die ongesteurde glans van sy fleur. •
DIE teorie dat daar
’n“Big Bang” of Oerknal was waaruit
alles wat stoflik is, ontstaan het—en dat die heelal in ’n alleryslike
tempo bly uitsit tot vandag toe—is reeds in die jare twintig van die
twintigste eeu in die sterrekunde geformuleer. Die
eerste daadwerklike getuienis dat die teorie moontlik waar kan wees, is
egter in 1964 gevind.
Geleerdes
het ontdek dat daar ’n egalige see van mikrogolwe is wat deur die ganse
ruimte spoel, iets soos ’n eggo van die Oerknal... of ’n nagelate
fluistering van die Skepping. Tog
was dit juis die egalige verspreiding van hierdie mikrogolwe wat die
wetenskaplikes dronkgeslaan het. Die magtige oseaan van golfies is dan
byna spieëlglad. As energie en materie so eweredig deur die hemele
gesaai is, hoe kon deeltjies ooit kol-kol saamgekoek het om groot gaswolke
en uiteindelik trosse sterre te vorm? Maar
net ’n klompie jare gelede is bekend gemaak dat ’n Amerikaanse satelliet
genaamd COBE (Cosmic Background Explorer) as’t ware vyftienduisend miljoen
jaar in die tyd teruggekyk het. Die
satelliet het naamlik hemelpatrone vyftien miljard ligjare van die aarde
af waargeneem en daarmee glo vasgestel hoe die ruimte sou gelyk het slegs
driehonderdduisend jaar nadat die Oerknal plaasgevind het. Dit
blyk toe dat daar temperatuurverskille is tussen die verskillende dele van
daardie verste
hemelruim. Die mikrogolwe is kol-kol maar net ’n snarsie van ’n miljoenste
graad warmer of kouer as die gemiddelde, maar dis genoeg om aan te dui dat
die heelal destyds onegalig genoeg was om die ontstaan van sterrestelsels
moontlik te maak. Daarmee,
reken baie wetenskaplikes, is die Oerknal-teorie afdoende bewys. Opgewonde
navorsers het gejuig dat“die vermiste skakel gevind is...
hierdie
fossiele wat geskep is by die geboorte van die Al”. •
MAAR hoe rym hierdie vonds met die skeppingsverhaal soos ons dit in
die Bybel ken? Beteken dit Genesis is verkeerd? Allermins, word in baie
kringe gesê. Trouens, talle mense dink dit bevestig dit. “In
der waarheid is net Genesis se heel eerste vers hier ter sprake, maar met
hierdie bevinding
kom die teologie en wetenskap net miskien-miskien verstommend bymekaar
uit,” sê ’n gelowige. ’n
Astrofisikus het selfs oor die ontdekking gesê:“As jy godsdienstig
is, is dit soos om na God te kyk.” En
’n verslaggewer het uit Amerika geskryf:“Sedert die vroegste tye
stel die mensdom vrae oor waar alles begin het en waar dit heen gaan. Die
oneindigheid van ruimte en tyd huisves eenvoudig afmetings
en
kragte ver bo die mens se vuurmaakplek. “Nou
word gesê dat God in Sy alwysheid elemente van die ewig tergende
geheimenisse aan sy geskapenes openbaar.”
Die
tydskrif Newsweek het tot geskryf van“God se handskrif”. Die gelowige
trag om dit alles in perspektief te stel:“God se handskrif? Ja, in die begin was die Woord
mos daar, soos ook
in Nuwe Testament vertel word. God openbaar Hom nie net in die Skriftuur
nie, maar ook oorvloedig in die Natuur! “Maar
nee,” gaan hy voort, “ ’n mens hoef nie noodwendig aan die Oerknal te glo nie. Die heelal is
so groot en totaal onbegryplik dat daar ook heeltemal ander wetenskaplike
verklarings kan wees waaraan ons met ons beperkte menslike verstand glad
nie eens kan dink nie. Maar Genesis se eerste vers kán ook strook met
hierdie knalteorie, as laasgenoemde waar sou wees. “Ons
moet ons net nie so blind staar deur na die sonne te kyk dat ons reken dat
ons alles weet van die ware Lig agter alles nie.” |
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |