|
Y kan nog wonder oor die
verskil tussen ’n jakkals en ’n hond, of dalk ’n buffel en ’n
bees met mekaar verwar. Maar geen mens kan ooit ’n olifant vir iets
anders aansien nie. Daardie logge gestalte met die slurp en
ivoortande... nee, dié
reuse-dier is eenvoudig uniek.
Die pote is massief. Hulle lyk
soos pilare wat van bo tot onder feitlik ewe breed is. En die voete is
breed en rond. Tog toon
x-straalfoto’s dat olifante eintlik op die
punte van hul tone loop, wat deur ’n groot kussing beskerm word.
Olifante het wel "knieë", maar wanneer hulle loop of
hardloop, moet hulle altyd twee pote op die grond hê. Hulle kan glad
nie spring nie. Die hare staan bra yl op die dik velle van hierdie
diere.
Maar die olifant se slurp bly
die wonderlikste van alles. Dit is in der waarheid ’n verlengde neus,
dog dit werk boonop soos ’n arm en ’n hand. Deur die slurp om bosse,
grasse of bome te krul, kan die olifant plantkos nader trek en dit met
gemak in sy bek plaas om te vreet. Dis om dié rede dat die olifant-orde
die Proboscidea genoem word, wat letterlik "eet met die
neus" beteken.
Vandag is daar nog slegs drie lewende spesies
oor van die Proboscidea, die skamele oorblyfsel van ’n enorme
meer as seshonderd soorte wat volgens geleerdes reeds die aarde
deur die lange millenniums heen bewoon het. Die oorlewendes is die Indiese olifant
of Asiatiese olifant (Elephas maximus), die Afrika-bosolifant of savanne-olifant (Loxodonta africana)
en die Afrika-woudolifant (Loxodonta cyclotis).
Laasgenoemde twee Afrika-spesies is
tog onlangs nog as een spesie geklassifiseer en talle bronne maak dus
nog nie die onderskeid nie. Maar omdat hierdie soorte wel van mekaar
verskil—en die verskille glo deur DNS-toetsing uitgewys is— word hulle deesdae as twee afsonderlike spesies erken.
Die Afrika-woudolifant is dus nie bloot ’n subspesie van die
Afrika-bosolifant, soos lank gemeen is nie, reken kenners.
(Alle geleerdes stem egter nie
saam nie, met die gevolg dat ’n taamlike onsekerheid nog hieroor heers.)
|
Woudolifant
van Afrika
REGS: Die
Afrika-woudolifant (Loxodonta cyclotis).
Foto in die Frankfurtse dieretuin geneem
deur Dan
Koehl, en op hierdie
bladsy in die vrye
Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web beskikbaar gestel vir
kopiëring, verspreiding en/of modifisering ingevolge die bepalinge van
die GNU
Free Documentation License, weergawe
1.2 of enige latere weergawe, soos gepubliseer deur die Free
Software Foundation
|
Die omstrede
pigmee-olifante van die Kongo-stroomgebied, wat deur sekere
kwasi-wetenskaplikes as ’n afsonderlike spesie beskou word, is
waarskynlik niks anders as woudolifante nie wat as gevolg van
omgewingsfaktore tot dwerge gereduseer is.
Die bewaringstatus van die
Asiatiese olifant sowel as die Afrika-woudolifant word as
“bedreig” aangedui. Dié van die Afrika-bosolifant is
“kwesbaar”. Met die bewaringstatus van ’n spesie word aangedui wat
sy kans is om te oorleef.
Olifante se habitatte is dus
vandag baie beperk, hoewel geleerdes
reken dat hierdie diere vroeër op elke groot landmassa op aarde buiten in
Antartika en Australië voorgekom het.
Op die koop toe was daar in die
verlede verskeie verwante van hierdie reuse-dier in verskillende wêrelddele.
Die beroemdste van hierdie uitgestorwe familielede is die mammoet en die
mastodon, maar daar was ook die gomfotere en ander minder bekende
groepe.
REGS:
Die mammoet.
Wat
van die ander olifantagtiges geword het? Wel, ons weet dat ten minste die
mammoete heel waarskynlik uitgesterf het omdat die vroeë mense hulle so
meedoënloos gejag het. So onlangs as tienduisend jaar gelede was hulle
nog daar, maar hul enorme hoeveelhede vleis en ander neweprodukte was
eenvoudig te gewild.
En
dit geld blykbaar nie net vir die mammoete nie. ’n
Amerikaanse navorser, ene Todd Surovell van Universiteit van Wyoming,
het 41 argeologiese persele ondersoek en gevind dat olifantbevolkings
gekwyn en selfs verdwyn het waar menslike bevolkings toegeneem het.
Nog ’n besondere
kenmerk van die olifant is sy ivoortande, wat soos horings vorentoe krul.
Hierdie ivoortande is in werklikheid verlengde bo-snytande, en olifante
het geen oogtande of voorkiestande nie. Daar is wel kiestande, wat
meebring dat daar in die reël slegs vier tande op ’n slag in die bo- en
onderkake is (die ivoortande uitgesluit).
Die reuse-kiestande
word gebruik om hul plantkosse fyn te maal en word een ná die ander van
agter af vervang namate hulle wegslyt. ’n Olifant kry ses stelle
kiestande in sy lewe, met die gevolg dat sy lewensduur beperk is tot die
tyd waarin hierdie ses stelle verweer. Dit is gewoonlik sowat sestig jaar.
Olifante se
ivoortande is natuurlik baie gesog, maar dit het ook al byna die olifant
se ondergang beteken. In Afrika is olifante voor die voet geskiet deur
wilddiewe wat hul kosbare ivoor ten duurste aan die wêreld se rykes kon
verkoop. In die laat jare tagtig
het omgewingsbewustes met ’n wêreldwye veldtog begin om die ivoorhandel
te probeer stopsit. In 1989 het die
VSA en die Europese Gemeenskap (nou die Europese Unie genoem) toe alle
ivoorinvoere verbied.
(Verskeie ander
diere soos seekoeie, narwalle, spermaceti-walvisse en walrusse het ook
ivoortande. Hierdie ivore het soortgelyke fisiese eienskappe as dié van
olifante. Talle plastiek-plaasvervangers vir ivoor is al ontwikkel.)
Olifante het ook,
verbasend genoeg, geen sweetkliere nie. Dis waarom hulle so graag koel bly
deur in poele en strome rond te rol. Die modder wat op hul vel droog word,
beskerm hulle teen die son.
'n Olifant
vreet tot 230 kilogram voer per dag en drink tot 190 liter water. Hy suig
die water met sy slurp op en spuit dit dan in sy bek. Die uiters
veelsydige slurp word ook gebruik om te trompetter ('n geluid voort te
bring).
Nog ’n
interessantheid is dat olifantbeendere nie murgholtes het nie, maar gevul
is met ’n sponserige stof waarin die murg versprei is.
Verskille
tussen die Afrika-bosolifant en die Indiese olifant
DIE
Afrika-bosolifant is die bekende olifant wat in ons deel van Afrika
voorkom. Die Indiese olifant is weer ’n boorling van die tropiese
woude van Suid-Asië. Maar wat is die verskille tussen hierdie twee
soorte?
|
LINKS:
’n Indiese (ook genoem Asiatiese) olifantkoei.
Foto in Maart 2006
geneem in die Miami Metro-deretuin deur Aranda56,
wat op dit hierdie
bladsy in die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye
web beskikbaar gestel het vir kopiëring, verspreiding en/of
modifisering, ingevolge die bepalinge van die GNU
Free Documentation License, weergawe
1.2 of enige latere weergawe, soos gepubliseer deur die Free
Software Foundation |
Die Indiese olifant
word tot drie meter hoog en die Afrika-bosolifant tot byna vier meter. (Die
uitgestorwe mammoet het tot 4,5 meter hoog geword.) Voorts het ons eie
kolos van die Afrika-bos groter ore en ivoortande as sy Indiese eweknie, asook 'n
skuins voorkop en twee vingeragtige "lippe" vooraan die slurp,
teenoor die een lip van die Indiese olifant.
Slegs
die Indiese olifantbul het ivoortande, terwyl die olifantkoei van ons
wêrelddeel ook sulke tande het.
Ondanks hul
geweldige gewig—Afrika-bosolifante kan tot 7000 kg weeg en
Indiese olifante tot 5000 kg—beweeg hierdie reuse byna geruisloos en
met buitengewone grasie. Hulle kan weliswaar nie galop of oor slote spring
nie, maar wend hulle maklik tot riviere en mere, waar die water hulle
steun en hulle in staat stel om lang ente te swem sonder om moeg te word.
Hulle leef in
troppe van vyftien tot dertig of meer, gewoonlik familielede wat deur ’n
olifantkoei, die sogenaamde matriarg, gelei word. Die troppe van Indiese
olifante bestaan gewoonlik uit wyfies, onvolwasse olifante en een ou bul.
Die troppe van Afrika-bosolifante kan ook volwasse bulle insluit.
REGS: ’n
Afrika-bosolifant in die Ngorongoro-krater, Tanzanië.
Foto geneem deur Schuyler
S., wat dit op hierdie
bladsy in die vrye
Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web gepubliseer het ingevolge
die volgende lisensie: Creative Commons
Attribution 2.5
Die koeie
paar in die reël teen hul vyftiende of sestiende jaar.
Twee olifante wat paar, onttrek hulle dikwels etlike weke lank van die
trop. Ná ’n dratyd van 21 tot 22 maande (die langste dratyd van alle
soogdiere) word daar gewoonlik een kalf
gebore, wat binne ’n paar dae reeds in staat is om die trop te volg.
Kalwers is die prooi van tiers, leeus en tierwolwe, wat onder die
enkele roofdiere is wat op olifante jag maak. Die kalwers suip
twee jaar lank aan hul ma’s voordat hulle gespeen raak. Olifantkoeie kry
van vyf tot twaalf kalwers in ’n leeftyd.
Verskille
tussen die Afrika-bosolifant en die Afrika-woudolifant
DIE
Afrika-woudolifant verskil onder meer van die Afrika-bosolifant deurdat hy
’n lang, smal onderkaak het, teenoor die bosolifant se kort, breë
onderkaak. Sy is ore is ook gerond, waar die bosolifant se ore meer gepunt
is. Daarbenewens is die woudolifant se ivoortande aansienlik kleiner.
Wat meer sê, die
woudolifantbul word selde hoër as 2,5 meter, teenoor die bosbul wat byna
vier meter kan haal.
|