|
Elke vier jaar hou ons Olimpiese Spele... in navolging van die ou Grieke wat as't ware sportprestasies verafgood het
|
|
Ook
ander erfenisse soos die basiese
beginsels van ons wiskunde,
die Hippokratiese
eed in ons geneeskunde, die kunsvorms van tragiese drama en epiese poësie
en baie meer kan in ’n
mindere of meerdere mate teruggevoer word na daardie wêreldjie aan die
Middellandse See wat in die antieke tyd so ’n toonaangewende rol op
die aarde gespeel het. Op
die koop toe is die antieke Griekeland die bakermat van sekere van ons
belangrikste atletiektradisies. En natuurlik van die Olimpiese Spele.
Die Spele van vandag is ’n herlewing van die groot vierjaarlikse
gebeurtenis van weleer toe sportlui net soos in ons tyd haas onsterflike
roem op die atletiekbaan kon verwerf. Die
verskil is egter dat die moderne Spele ’n reeks kragmetings tussen
atlete van allerhande nasies van die wêreld is, terwyl al die nommers
op die antieke Spele slegs tussen Grieke onderling uitgespook is. Die
Griekeland van die Oudheid was weliswaar nog lank nie ’n verenigde
land soos vandag nie, maar ’n versameling van verskillende
selfregerende Griekse stad-state. Hierdie outonome gemeenskappe kon soms
onder mekaar veg dat die byle huil, maar sodra dit tyd geword het vir
die volgende Spele, is ’n haas onverbreekbare wapenstilstand gesluit.
Boodskapers sou voor die Spele na alle dele van die Griekse wêreld
gestuur word om ’n "heilige vrede" te verklaar wat ongeveer
drie maande geduur het. Só
kon hoopvolle atlete van heinde en ver dan ongehinderd na die vlakte van
Olimpia in die klein staatjie Elis reis --
met groot drome van ’n heldestatus wat hul hele lewe kon
verander.
Ofskoon
die Olimpiese Spele die eerste keer in 776 vC opgeteken is, het
dit minstens ’n eeu voor dit reeds bestaan en moontlik al so vroeg as
die dertiende eeu vC. Hoe ook al, hierdie sportgebeurtenis sou van 776
vC af tot 394 nC bly voortbestaan -- ver meer
as duisend jaar lank. Oor
hoe die Spele ontstaan het, is geskiedkundiges nie honderd persent seker
nie. Boonop het die geskiedskrywing met die Griekse mitologie vermeng
geraak. Volgens een Griekse legende het die groot Herakles (Hercules vir
die Romeine) ’n wedloop op die vlakte van Olympia gewen en gelas dat die
resies elke vier jaar herhaal moet word. Volgens ’n ander oorlewering
sou Zeus, die god van die lug en heerser van die gode van die berg
Olimpus, self die sportfees ingestel het nadat hy Kronus verslaan het in
die stryd om die oppergesag van die hemel. Bes
moontlik was die Olimpiese fees egter ’n plaaslike godsdienstige
plegtigheid totdat Iphitos, die koning van Elis, besluit het om dit in
’n fees vir alle Grieke te maak. Om dit te kon doen is die tydelike
vredesverdrag toe met ander heersers gesluit. Die sportfees was daarna
basies ’n godsdienstige byeenkoms ter ere van die gode wat deur al die
Hellene (ou Grieke) vereer is, veral Zeus.
Die
Grieke het hul tydrekening gegrond op periodes van vier jaar wat
Olimpiades genoem is, en die Olimpiese fees het elke nuwe Olimpiade
ingelui. Blykbaar is die fees in 776 vC herorganiseer, wat as die begin
van die eerste Olimpiade beskou is. Daar was
verskeie byeenkomste waaraan Griekse atlete destyds kon deelneem. Die
meeste was klein en plaaslik, maar benewens die Olimpiese Spele was daar
ook nog drie nasionale feeste -- die Pythiese, Ismiese en Nemeïese
Spele -- wat nie net atlete nie, maar ook duisende toeskouers vanuit
elke uithoek van die Griekse wêreld gelok het. Die Olimpiese Spele was
egter die heel belangrikste. ’n
Enkele wedloop was aanvanklik die enigste atletieknommer van die ou
Olimpiese Spele. Ons weet nie hoe vinnig die
ou Grieke gehardloop het nie, want hulle het nie tyd gehou nie. Daar was
immers nie geskikte meetinstrumente nie en al wat werklik saak gemaak
het, was om eerste te eindig. Hierdie
enkele wedloop is oor die lengte van die stadion gehardloop, nagenoeg 212 meter
ver. Met verloop van tyd is ander nommers bygevoeg.
’n
Wedloop van twee stadion-lengtes is in 724 vC ingestel en ’n resies
van 24 stadion-lengtes in 720 vC. Ander sportsoorte het spoedig gevolg
-- stoei en die vyfkamp in 708, boks in 688, strydwa-renne in 680 en die
pankratium, ’n kombinasie van boks en stoei, in 748 vC. Deur die eeue
was daar altesaam 23 Olimpiese nommers, maar al 23 was nooit saam in
dieselfde Spele te sien nie. Die strydwa-ren moet beslis
iets opwindends gewees het om te aanskou. Daar moes ses keer om die baan
gejaag word (volgens ’n ander bron twaalf keer of sowat veertien
kilometer ver!) Slegs ryk mense kon dit bekostig om vir die opleiding en
toerusting en kos vir die jaers sowel as die perde te betaal, met die
gevolg dat die eienaar van die seëvierende strydwa met die prys
weggestap het en nie die jaer nie. In die stoeinommer is
valle ook aangeteken soos vandag, terwyl byt verbode was. Tog was dit
toelaatbaar om jou teenstander se vingers te breek. Antieke boks het minder
reëls as die moderne sport gehad en daar was geen reël daarteen om jou
opponent te bly moker nadat hy reeds op die grond gelê het nie.
Trouens, boksgevegte het al hoe wreder geword. Waar sagte leer eers om
die vuisvegters se hande gedraai is om die houe te versag, is dit
naderhand vervang deur harde leer wat boonop partykeer met metaal
swaarder gemaak is. In
die pankratium (stoeiboks) is alles toegelaat buiten om te byt en om met
jou vingernaels in jou teenstander se oë, neus of mond te boor. Die
vyfkamp het uit diskusgooi, spiesgooi, spring, hardloop en stoei
bestaan. ROEM,
eerder as materiële gewin, was die groot beloning vir die bekroonde
atlete van die Spele. Op die laaste dag is die wenners na die Tempel van
Zeus om dankie te sê vir hul oorwinnings. Hierna was daar ’n
prysuitdeling en feesmaal. Die ideaal van die Olimpiese Spele was dat
atlete net die eer van deelname en die glorie van oorwinning sou
nastreef en nie stoflike wins nie. Gevolglik was die enigste pryse wat
uitgeloof is, kranse van olyfblare, palmtakke en dekorasies van wol. Tog het
oorwinnings ook groot welvaart vir die oorwinnaars beteken, wat in hul
stadstate as beroemdes behandel is. Hulle is gewoonlik met geskenke
oorlaai, kon selfs gratis etes vir die res van hul lewe ontvang en is
vrygestel van die betaling van belasting. Vir baie is standbeelde
opgerig. Stadstate was glo selfs trotser op Olimpiese seges as op
oorwinnings op die slagveld.
Atlete
moes ’n maand voor die tyd by Elis opdaag vir geestelike, morele en
liggaamlike opleiding onder toesig van die beoordelaars. Daar sou dan
besluit word wie werklik goed genoeg is om mee te ding. Elke deelnemer
moes ’n eed aflê dat hy ’n vrygebore Griek is wat geen
heiligskennis teen die gode gepleeg het nie. Atlete
het sonder ’n draad klere aan hul lywe meegeding. Hulle het
oorspronklik kort broeke gedra, maar volgens een skrywer, Pausanias, het
’n deelnemer van die wedloop van 720 vC met opset sy broek verloor om
vryliker te kon hardloop. Daar is toe weggedoen met klere en kaal
gehardloop. Vroue,
buitelanders en slawe is verbied om aan die Spele deel te neem. Die
vroue kon meestal nie eens kyk hoe die mans kragte meet nie, maar dit
het blykbaar niks met die naaktheid van die mans te doen gehad nie.
Omdat Olimpia aan Zeus opgedra is, was dit ’n heilige gebied waar
slegs mans toegelaat is. Die
strydwa-renne, wat buite die heilige grond plaasgevind het, was wel oop
vir vroulike toeskouers. (Vroue het darem ook hul eie heilige feeste
gehad, waar die mans weer verbied is, veral die Heraïese fees by Argos,
wat ’n spiesgooikompetisie ingesluit het.) Aanvanklik
is die Spele slegs op een dag van die fees gehou. Dit is in 680 vC tot twee
dae verleng en tot vyf dae in 632 vC. Maar slegs drie van dié dae is in
der waarheid deur kragmetings in beslag geneem. Die eerste dag is aan
godsdienstige offerandes, die registrasie van die atlete en die aflê
van die Olimpiese eed gewy. Op die vyfde dag is pryse toegeken en
offerandes van danksegging gebring. Op
sy toppunt in die vierde eeu vC het die Olimpiese fees nie net skares
vanuit die nabye Griekse wêreld gelok nie, maar ook van kolonies so ver
as Libië en Egipte. Digters en skrywers het spontaan geresiteer,
beeldhouers het aan beelde gewerk met toeskouers rondom hulle,
kosverkopers het stalletjies beman en handelaars het perde verkoop. Om
na Olimpië te reis was soos ’n pelgrimstog, en party van die grootste
name in Griekeland se klassieke tydperk het meegedoen. Die filosoof
Plato het byvoorbeeld die fees bygewoon toe hy sewentig was. Selfs
nadat die glorie van ou Griekeland verdwyn het, het die Olimpiese Spele
bly voortbestaan, maar in ’n afgewaterde vorm onder die Romeine. Dié
het die tradisionele byeenkoms deur hul eie gladiatoriese kragmetings
vervang waarin slawe pleks van vrygebore Grieke die deelnemers was. In 394 nC het Theodosius die Grote gelas dat die Olimpiese Spele beëindig word. Twee aardbewings het daarna die geboue van Olimpia verwoes en ’n oorstroming het die bouvalle onder 'n dik laag slik en gruis begrawe. Tog was die gees van gesonde, sportiewe mededinging by die mensdom nie werklik geblus nie. In die 1896 het dit uiteindelik in Athene herleef toe die moderne Olimpiese Spele in ’n internasionale gedaante heringestel is. Daarmee is uitvoering gegee aan die voorstel van ’n Fransman, ene baron Pierre de Coubertin, wat begeester was deur die ideale van die antieke Griekse atlete. Die Winterspele is in 1924 bygevoeg. Die Eerste en Tweede Wêreldorlog het die afstelling van die Olimpiese Spele in 1916, 1940 en 1944 genoodsaak, maar in die res van die tyd sedert 1896 het die beste atlete ter wêreld nog elke vier jaar saamgetrek vir die heel grootste gebeurtenis van almal op die sportkalender. Viva die Olimpiese vlam! |
|