|
Die
rare, bleek, blinde grotsalmander OLM:
I
N die Skotse
skrywer sir James Barrie se werk Peter Pan (1904) is daar ’n seun
met dieselfde naam. Dié Peter Pan hardloop weg na Nimmerland sodat hy nie
moet grootword nie. Is dit nou nie ’n fabelagtige gedagte nie? Om altyd ’n
kind te bly en nooit enige van die verantwoordelikhede van ’n grootmens
te hê nie! Maar
Barrie se tema is nie heeltemal so oorspronklik nie. In die natuur is daar
’n verskynsel wat “neotenie” genoem word—die onvermoë om verder
as die jeugdige vorm te ontwikkel. Die
meeste amfibieë—soos paddas en salmanders—lê hul eiers in water of
klam grond. Uit die eiers kom larwes, wat geleidelik tot volwasse
diertjies ontwikkel wat heeltemal anders as die larwes lyk—’n
veranderingsproses wat metamorfose genoem word. Die volwasse amfibieë hou
óf op land óf in die water. Maar
’n klompie salmanders is anders. Die larwes wat uit hul eiers broei, kan
mettertyd teelkragtig raak sonder dat hulle ooit ’n metamorfose
ondergaan. En die larwes bly hul hele lewe deur in die water. Die
oudste bekende salmander met hierdie ongewone eienskap is die olm of grotsalmander—’n
blinde, bleek en aal-agtige diertjie met veeragtige kieue. Hy woon
in oorstroomde onderaardse grotte in Suidoos-Europa.
Foto: Boštjan Burger, foto in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web aangedui as openbare besit (“public domain”) Die
eerste “optekening” van hierdie bisarre amfibie is ’n silhoeët aan
die rand van ’n put deur ’n onbekende tiende-eeuse klipbeitelaar. (Dis
nou in ’n museum in Wenen.) Die oudste behoue geskrif waarin die olm
vermeld word, dateer uit 1689, toe ’n posman ’n dooie een in die
waterbron naby sy dorpie gevind het. Hy het dit as ’n “onontwikkelde
draak” beskryf. In
’n boek deur die sewentiende-eeuse baron Valvasor word vertel van ’n
Joego-Slawiese legende oor ’n draak wat binne-in ’n berg gewoon het.
Elke keer dat sy houplek deur oorstromings bedreig is, sou die draak die
sluise oopmaak en sy babas laat uitspoel het. (Die babas was in
werklikheid olms.) Nog
verslae oor die diertjie het in die daaropvolgende eeue verskyn en
verskeie beroemde natuurkenners—onder wie Chevalier de Lamark (Frans),
baron Georges Cuvier (Frans) en Carolus Linnaeus (Sweeds)—kon ’n paar
in die hande kry om te bestudeer. Maar
die olm het die kenners totaal verwar. Is hy ’n vis? Dalk ’n reptiel?
Of ’n amfibie? Linnaeus, wat die Systema Naturae vir die
klassifikasie van diere ingevoer het, kon die geheim nie oplos nie en het
die olm uitgelaat. Intussen
is ’n ewe rare kreatuur, die sogenaamde aksolottel (Ambystoma mexicanum),
in ’n paar oop varswatermere om die stad Mexiko in Sentraal-Amerika
ontdek. Natuurkenners was net so dronkgeslaan oor waar die aksolottel in
die klassifikasie van diere inpas. Toe,
in 1865 in ’n laboratorium in Parys, het ’n klompie aksolottels wat in
gevangenskap geteel is, skielik van vorm verander. Hul sterte en kieue het
verdwyn en hulle het verkleur. Hulle het in der waarheid in salmanders
ontwikkel. Dit was die sleutel tot die raaisel. Die
aksolottel is ’n amfibie wat nie verder as die larwe-stadium ontwikkel
nie. Hy ondergaan met ander woorde geen metamorfose nie, maar kan tog wel
in sy larwe-staat aanteel. Dierkundiges het besef die olm is ’n
soortgelyke amfibie. Die
olm behoort tot die familie Proteidae, met sy twee bekende genera: Proteus
in Europa (met slegs een spesie—Anguinus); en Nectarus in
Noord-Amerika (met tot agt spesies en subspesies). (Die aksolottel behoort
tot die familie Ambystomidae.)
Foto: U.S. Gov. (PD) Die
olm hou in haas ontoeganklike grotte in Slovenië en ’n kalksteen-streek
vol spelonke oos van die Adriatiese See—’n bisarre diertjie van die
stikdonker waters. Die lang lyf kan tot 30 cm lank wees. Die kop is lank
en smal, die snoet stomp en die stert is soos ’n lem gevorm. Daar is
vier delikate ledemate. Hy
swem meestal deur die water, aangedryf deur sy sterk stert, maar kan ook
oor rotse klouter. Hy haal asem met veeragtige kieue en deur sy vel. Af en
toe kom hy na die wateroppervlak om na lug te snak. In
sy middernagtelike wêreld het hy geen oë nodig nie. Pas nadat hy
uitgebroei het, is daar klein swart kolletjies waar sy nefies oë het. Dié
kwyn geleidelik weg en word deur vel bedek. Die afwesigheid van lig
beteken ook dat geen pigmentasie nodig is nie. Omdat hy so bleek is, het
hy die bynaam “menslike vis” gekry. Wanneer die olm egter baie aktief
is, vloei bloed vinnig deur sy vel en word hy pienkerig. Die
olm plant voort deur eiers te lê, maar af en toe bly die eiers in die
ouer se liggaam en kom die kleintjies ten volle ontwikkel in die wêreld.
Hy is baie sensitief vir die trillings van klein waterdiertjies soos
skaaldiere en visse, wat sy prooi is. Die
olm kan verstommend lank sonder kos bly. Een wat in ’n laboratorium
aangehou is, het meer as 15 jaar lank geen krieseltjie kos gekry nie—maar
hy was toe steeds op en wakker en dit het ook nie gelyk of hy besig was om
swakker te word nie. Praat van ’n marathon-eetstaking.
|