Ons wonderlike plante (4): Blare en fotosintese

Blaar (PDPhoto.org)Lower-
lewe

Die baie are in blare lyk baiemaal soos iets wat deur ’n meesterhand in groen gegiet is. Ons sien dit feitlik elke dag, maar sien dit selde werklik raak. Blare is die natuur se eie fabrieke. Hier word gewoel en gewerskaf om kos vir die plant—en uiteindelik ook vir mens en dier—te maak. Blare is ons grootste vriende: hulle gebruik koolstofdioksied—die "vuil" lug wat ons uitasem—om vir ons "skoon" lug—suurstof—te maak. Lees verder oor hierdie stille werkers...

Foto van blaar BO: PDPhoto.org / PD

Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com


D

IS doodstil in hierdie fabriek. Daar's g’n gekletter van swaar masjinerie nie. Geen radio wat heeldag blêr om die werkers se produktiwiteit te verhoog nie. En dis ’n superskoon fabriek. Die afvalprodukte word voortdurend in die atmosfeer gestort—en ons lewe daarvan.

Het jy reg geraai? Ja, dis die blare om ons—die natuur se eie fabriek. As jy ’n plant só bekyk, sou jy nooit kon raai dat dit die ene woeligheid daarbinne is nie. Maar hierdie stil, groen werkers produseer dat dit bars—trouens, die hele wêreld se groenigheid saam vervaardig miljoene der miljoene tonne kos per jaar.

Die blare is die broodwinners van ’n plant. Net soos ons mense elke dag moet werk om te eet, só is die blare voortdurend besig met fotosintese om kos vir die plant (én die mens en dier wat hierdie plante eet) te vervaardig.

Die "grondstowwe" waaruit blare kos vervaardig, is oral om ons: sonlig en water.

As jy ’n bietjie oplet, sal jy sien dat die blare van plante altyd só gedraai is dat hulle die grootste hoeveelheid lig kan ontvang sonder om die lig van ander blare af te keer.

Sommige blare is toegerus om ook ander take te verrig. Blaardeeltjies van die pronk-ertjie word byvoorbeeld hegranke om die plant te help klim.

By sekere plante soos die bougainvilles en poinsettia (karlienblom) is die kleurryke blare deel van die blomme. ’n Mens sien die ware blomme amper nie eens raak nie.

Jy het seker al op ’n pynlike manier agtergekom dat plante soos die turksvy en kaktus glad nie vriendelik is nie. Die dorings en stekels op hierdie plante is eintlik "verskrompelde blare" wat vir ’n ander doel toegerus is.

LINKS: ’n Blommende kaktus met sy kenmerkende “doringblare”. En interessant genoeg staan hierdie een nogal bekend as die mieliestronk-kaktus! (“Corncob cactus”.)

Foto: Gary M. Stolz / DLS / US Fish & Wildlife Service

Baie blare is die spens van die plant en berg water of kos. Die ondergrondse blare van die uieplant is vol kos vir die winter. En daardie dik, vlesige blare van vetplante is "opgaartenks" vol water vir die maer jare.

Iets waarvan jy seker nog nie gehoor het nie, is dat party blare die "vullisverwyderaars" van plante is. Afvalstowwe van die plant bou in hulle op totdat hulle afval en die ongewenste stowwe saam met hulle neem.

Sekere blare is weer toegerus om voort te plant. Die blare van die Usambara-viooltjie (African violet) ontwikkel byvoorbeeld bywortels wanneer dit in klam grond of water geplaas word en vorm nuwe plantjies.

Dan kry ’n mens ook slagyster-blare wat proteïenkos vir hul plante vang. Sodra ’n niksvermoedende insek in die houer kruip wat die blare vorm, slaan hulle toe. Hier word die arme dingetjie deur ensieme verteer. (Kyk die artikel "Blare met byt" elders op Mieliestronk.)

Deur die blare

JY sal beslis deur die blare voel as jy moet tel hoeveel verskillende blare daar is. ’n Paar blaarvormsDie variasies is oneindig. Om so ’n bietjie orde te kry is blare in twee algemene hoofgroepe verdeel: die enkelvoudiges (net een blaar) en die saamgesteldes (’n blaar wat uit ’n klomp klein blaartjies bestaan).

Blare word verder geklassifiseer volgens vorm, grootte, rand, are en hoe dit aan die stingel vas is.

Die meeste blare is met steeltjies aan die stingel vas. Dié wat nie steeltjies het nie, noem ons sittende blare.

Bou van die blaar

BEKYK jy ’n blaar onder ’n mikroskoop, sien jy dat hy uit verskillende lae bestaan. Net soos ons het die blaar ’n "vel" wat die epidermis genoem word. Dit bestaan uit ’n enkele laag deursigtige sellesoos sardientjies in ’n blik styf teenmekaar gepak—bedek met ’n dun, waterdigte lagie wat die nerf genoem word. Hierdie nerf keer dat die blaar te veel water verloor.

Dwarssnee van ’n blaar

BO: ’n Dwarssnee van ’n blaar met die verskillende lae selle. Fotosintese (kyk ook afdeling daaroor hieronder) vind hoofsaaklik in die palissadeselle plaas omdat hulle baie bladgroenkorrels met chlorofil bevat.

Illustrasie: RUDI SENNETT vir Huisgenoot

Onder die epidermis is die mesofil (bladmoes). Die mesofil bestaan uit twee lae: die lang palissadeselle en die ronde sponsselle.

Die palissadeselle huisves die groen, ovaalvormige bladgroenkorrels met die chlorofil wat noodsaaklik vir fotosintese is.

Onder die palissadeselle is die sponsselle met groot lugopeninge tussen hulle en minder bladgroenkorrels. Hier vind ook fotosintese plaas, maar minder as in die palissadelaag. Water en gasse beweeg vryelik in die sponslaag.

Dan kry ’n mens weer die epidermis—onthou, die epidermis bedek die hele blaar, bo én onder. Huidmondjies kom gewoonlik in die epidermis onder die blaar voor. Hulle is  die "hekwagters" wat waterdamp en gasse in- en uitlaat.

Fotosintese

FOTOSINTESE is een van die wonders van die natuur. Die woord beteken "om te bou met lig"en dit is presies wat gebeur.

Wanneer sonlig op ’n blaar val, neem die chlorofil van die energie op. Hierdie ligenergie laat chemiese veranderinge plaasvind as twee eenvoudige bestanddele—water wat deur die wortels opgeneem is en koolstofdioksied (koolsuurgas) wat deur die huidmondjies binnegelaat is—teenwoordig is.

Fotosintese (ARC / NASA)

Illustrasie: ARC / NASA (vertaal en gewysig)

Water bestaan natuurlik uit waterstof en suurstof. Koolstofdioksied bestaan weer uit koolstof en suurstof. Deur die inwerking van die lig ruil die atome plekke om nuwe molekules, waaronder suikers, te vorm.

Die suurstof wat as ’n neweproduk afgegee word, is die hoofbron van atmosferiese suurstof. Koolstofdioksied word gereduseer om die basis vir die suikermolekule te verskaf. Die gebalanseerde vergelyking waarin koolstofdioksied en water verander in glukose-suiker, suurstof en die helfte minder water is:

6CO2 + 12H2O = C6H12O6+ 6O2 + 6H2O

Eenvoudige suikers word tot komplekse suikers, stysels, proteïene en vette omgesit—dit kan in die plant self geskied of in ’n dier wat die blare vreet.

Dis ongelooflik om te dink die hele proses gebeur in ’n breukdeel van ’n sekonde.

Mens en plant is op wonderbaarlike wyse op mekaar aangewese: plante voorsien die suurstof wat ons inasem en gebruik weer die koolstofdioksied wat ons uitasem.

Fotosintese geskied meestal in blare, maar dit kan eintlik op enige groen plek op ’n plant plaasvind. By kaktusse, byvoorbeeld, is die blare baie klein of bestaan glad nie—hier maak die stingels die kos. Alle plante bevat chlorofil, al lyk hulle nie groen nie. Sekere soorte seewier het bruin en rooi pigmente wat die groen verberg. Hierdie ander kleure is noodsaaklik om lig onder die water te help opneem.

Blaarverlies

WANNEER die weer kouer word, moet die boom suinig begin werk met sy water, want in die ysige winter kan water nie so maklik uit die grond opgeneem word nie.

HerfsblareOmdat blare gedurig waterdamp afgee, moet ’n plan met hulle gemaak word. In die herfs word hulle van die res van die boom afgesny—amper soos ’n ledemaat wat afgebind word. Hulle kry geen water en voedingstowwe van die wortels nie en kan nou nie meer chlorofil produseer nie. Dis wanneer die pragtige geel, oranje en rooi herfskleure te voorskyn kom—dié helder kleure is altyd teenwoordig, maar word eers sigbaar as die bladgroen verdwyn.

Met verloop van tyd word die blare heeltemal droog en val af. Al het bladwisselende plante geen blare om in die winter kos te maak nie, het hulle genoeg kos in die stam en wortels opgegaar om te oorleef.

Die blare van die volgende seisoen vorm in knoppies onder die beskermende skutblare. Wanneer die lente met sy langer sonskyndae aanbreek en meer water beskikbaar is, bars die blaartjies uit hul skuilplek—die wonder van ’n nuwe seisoen het begin.

Skakels na al die aflewerings in hierdie reeks:


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad