Ons wonderlike plante (7): Saadverspreiding

Meisietjie blaas perdeblom se “valskerm”-saadjies weg in die windKinders in die wind

  
Die fyn valskermpie van die perdeblom, klewerige klitsgras, “ontploffende” bone, rollende tolbosse, drywende kokosneute... plante versprei hul sade op die vernuftigste maniere om ’n nageslag te hê en te verseker dat hul soort bly voortlewe...

 

ERKENNING vir gebruik van FOTO BO: ENERGY STAR, ’n gesamentlike program van die Amerikaanse omgewingsbewaringsagentskap (U.S. Environmental Protection Agency) en die Amerikaanse departement van energie (U.S. Department of Energy). Dit is ’n program wat hom ten doel stel om almal te help om geld te bespaar en die omgewing te bewaar deur middel van kragbesparende produkte en praktyke. Hulle stipuleer dat foto’s soos die een hierbo van die meisietjie en die perdeblomme, wat deur hulle beskikbaar gestel word, gebruik moet word om ENERGY STAR te bevorder. Ons doen dit graag omdat ons meen dat omgewingsbewaring en kragbesparing nie net in Amerika nie, maar wêreldwyd in almal se belang is. Besoek gerus die webwerf van ENERGY STAR by:
http://www.energystar.gov
   

V

RUGTE—dis van die min lekker dinge in die lewe wat goed vir jou is, al het dit die mens daar doer in die begin lelik in die versoeking gelei.

Dis nie om dowe neute dat vrugte so lekker smaak en lyk nie. Die doel van die verleidelike verpakking is om die sade versprei te kry, verkieslik ver van die moederplant af.

 

As ons van vrugte praat, bedoel ons gewoonlik iets wat ons kan eet. Maar eintlik bring alle blomplante vrugte voort. ’n Vrug is die eindstadium in die ontwikkeling van die vrugbeginsel (die vroulike deel van ’n blom).

 

Dus is nie net perskes, pere en papajas vrugte nie, maar ook ’n koringkorrel, die gevleuelde vruggie van die esdoringboom en die fyn valskermvruggie van die perdeblom en die seidissel.

 

Perdeblom se bloeiwyse en “valskermpies”


LINKS: Die perdeblom se geel bloeiwyse ontwikkel in ’n ronde bossie valskermpies... met saadjies wat deur die wind weggedra word.

 

Foto gewysig. Oorspronklike foto van U.S. National Park Service

 

Daar is ook vrugte wat eintlik sade is. Die aarbei, byvoorbeeld, is die geswolle blombasis van die plant. Die klein skurwe knoppies aan die buitekant is in werklikheid die vrugte, elkeen met ’n saadjie binne-in.

 

In party eetbare vrugte soos die perske en kersie word die saad deur ’n klipharde dop (ons noem dit die pit) beskerm.

 

Perske en pitREGS: Die perske met sy saad binne-in ’n harde dop (die pit).

 

Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture

 

Blomplante is nie verniet die suksesvolste plantegroep nie. Die meeste sade is juis ontwerp om allerhande temperatuuruiterstes te oorleef totdat die weer net reg vir ontkieming is.

 

Die funksie van die vrug is om die sade binne-in te beskerm en om te help met die verspreiding daarvan. As ’n plant se sade sommer reguit grond toe sou val, sou al die jong plantjies mekaar gou verdring het.

 

Hulle sou met die moederplant om lig, water en voedingstowwe meeding. En sou daar ’n bosbrand wees, sal al die plantjies én die moederplant op een slag uitgewis word.

 

Dit is dus belangrik dat die sade versprei word, want dan is hul kanse op oorlewing soveel groter. Sade is baie vindingryk as dit by verspreiding kom. En hulle span selfs die mens in om hulle te help.

 

   Die vallende vrugte 
 

AppelsREGS: Appels wat ryp is, val sommerso van die bome af... en as die afgevalle saad daarna ver genoeg weggedra word, byvoorbeeld deur ’n mens of dier wat ’n afgevalle appel verslind, kan dit elders ontkiem en nuwe appelbome ontstaan.

 

Foto: U.S. Department of Agriculture

 

 

GRAVITASIE (swaartekrag) is ’n eenvoudige manier van saadverspreiding. Die uitwerking van gravitasie op swaarder vrugte bring mee dat hulle van die plant afval wanneer hulle ryp is—en die saad is natuurlik binne-in die vrugte. Vrugte wat hul saad op hierdie manier versprei, is onder meer appels, kokosneute en grenadellas.

 

Wanneer hulle harde doppe het, soos kokosneute, kan hulle boonop baiemaal soos balle van die moederplant af wegrol om op ’n afstand te ontkiem. Sade wat deur middel van gravitasie versprei, kan later ook deur water, mense of diere van die plant af weggevoer word nadat hulle op die grond beland het.

 

    Die windreisigers   

 

“Rabbit brush”LINKS: ’n Saadjie van ’n anderlandse plant wat as “rabbit brush” bekend staan, sweef deur die blou hemel om wie-weet-waar te land en wortel te skiet.

 

Foto: U.S. National Park Service


  
  

SOMMIGE saadjies is so piepklein dat die geringste luggie hulle meevoer. Orgideë, byvoorbeeld, se miljoene stofklein saadjies word maklik 100 km ver gewaai.

 

Baie vrugte is spesiaal vir windverspreiding toegerus. Die vruggies van die denne- en esdoringboom het vlerkies waarmee hulle op die wieke van die wind reis. Die perdeblomvruggie het, soos ons reeds verder boontoe in hierdie artikel gesien het, weer ’n ragfyn“valskerm” waarmee hy die wind skep.

 

Daar is ook vruggies met allerhande pluime, vere en hare, alles bedoel om die wind te skep.

 

Die tolbos is een van die skouspelagtigste windreisigers. Wanneer die sade ryp is, breek die blom-”balle” van die moederplant af en rol vir die vales oor die veld—en oral tuimel sade uit.

 

    Die rylopers   

SOMMIGE “slim” sade gebruik voëls, soogdiere, insekte en selfs die mens om oor die weg te kom.

 

Die vrugte van hierdie sade is gewoonlik lekker en sappig. Wanneer diere dit vreet, beland die sade in hul spyskanaal. Gewoonlik is die sade darem taai genoeg om die sterk verteringsappe te oorleef. Later word hulle in die ontlasting uitgeskei, hopelik op ’n ander plek as waar die vrug gevind is. Hierdie proses voorsien die ontkiemende saad selfs van ’n bietjie bemesting!

 

Vruggie en saadjiesREGS: ’n Vruggie van ’n bekende heiningplant, met ’n oopgebreekte vruggie en sy saadjies langsaan (heelwat vergroot). As byvoorbeeld voëls die vruggies vreet, word die saadjies later elders in hul mis uitgeskei—waar dit kan ontkiem as die toestande gunstig is.

 

Foto: MSKARG

 

Ander plante het vrugte wat “rylopers” is. Wanneer diere of mense verbykom, haak die weerhakies of stekeltjies in hul pels of klere vas en só “ryloop” die sade na die een of ander onbekende bestemming. Seker die bekendste“ryloper” is daardie lastige, klewerige klitsgras wat so graag aan ’n mens se kouse klou.

 

Party sade word klewerig wanneer hulle nat is. Dan klou hulle aan die pote van waadvoëls of diere vas. Hulle klou selfs ook aan jou stapskoene of motorbande.

 

Baie diere soos eekhorinkies en spegte maak vrugte en sade bymekaar vir die maer tye. Dikwels bêre hulle dit op plekke waar die toestande gunstig vir ontkieming is.

 

Insekte soos miere hou van olierige of soet sade en dra dit na hul neste aan.

 

Al werk bogenoemde metodes almal goed, is die mens eintlik die grootste verspreider van sade. Ons oes saad, verkoop dit en plant dit in ons tuine en parke.

 

    Die watervaarders   

KlapperHET jy al gewonder waarom daar altyd ’n klapperpalm (kokosboom) is in die tekengrappies van die man op die eiland? Dis omdat die kokosboom by uitstek op die see staatmaak om sy nageslag te versprei. Kokosbome groei gewoonlik langs die kus. Wanneer die kokosneute (klappers) ryp is, val hulle in die water en dryf saam met die strome na verre lande. Omdat die dik, harige omhulsel met lug gevul is, dryf die kokosneut maklik genoeg.

 

Ander watervaarders is die vrugte van die waterlelie, waterbiesie en lotusplant. Hulle is gewoonlik goed toegerus vir die lang reis met lugspasies en weefsel van kurk of spons om te dryf, asook ’n stewige dop en baie kos.

 

“Seeboon”
LINKS: Ook die sogenaamde “seebone” is watervaarders. Hulle kom van bome en slingerplante wat regoor die wêreld langs tropiese kuste en in reënwoude groei. Die sade val van hul ouerplant in waterweë, soos die Amasonerivier, en drywe dan na die mondings en beland vervolgens in die see. Hierna drywe hulle met die seestrome totdat hulle êrens op ’n strand uitgespoel word, dalk duisende kilometers van waar hulle gekom het.
Die seeboon op die foto word die seehart-seeboon genoem.

Foto: U.S. Fish & Wildlife Service

 

    “Ontploffende” vrugte    

Sade spring weg uit “ontploffende” peulSOMMIGE plante sorg self vir hul verspreiding en doen dit op ’n nogal dramatiese manier: die vrug “ontplof” en skiet die sade hot en haar.

 

Gewoonlik verdroog en krimp dele van die peul of vrug in verskillende tempo’s. Dit veroorsaak spanning totdat “breekpunt” bereik word. Dan bars die vrug oop en die sade word in alle rigtings uitgeskiet.

 

Voorbeelde van “plofbare” plante is peulgewasse soos ertjies, boontjies en pronk-ertjies.

 

    “Slapende” sade    

EEN van die merkwaardigste dinge van sade is dat hulle vir lang tye rustend kan wees. Die meeste sade kan langer as ’n jaar oorleef. Veral dié in koue klimaatstreke oorwinter as ’t ware in hul beskermende doppe totdat die weer net reg vir ontkieming is.

 

Net om vir jou ’n idee te gee van hoe lank sade kan bly lewe: In 1954 is sade van die Arktiese lupien tydens mynboubedrywighede in bevrore slik in Kanada opgediep. Koolstofdatering dui daarop dat die sade ongeveer 8.000 tot 13.000 vC deur lemmings (poolknaagdiertjies soos rotte) begrawe is.

 

Die sade is in ideale laboratoriumtoestande vertroetel—en jou werklik, party van die sade het ontkiem en gesonde plante geword!  

Die sade van ’n aantal bekende gewasse

Skakels na al die aflewerings in hierdie reeks:

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad