|
’n Laslappie van Mieliestronk |
||
OLIMPIA:Die terrein van die antieke Olimpiese Spele
Nadat
die antieke Olimpiese
Spele tot ’n einde gekom het, soos ons in ’n ander artikel
vertel, het die gebouekompleks van Olimpia bouvallig geraak en is dit
uiteindelik deur aardbewings en vloedwater verwoes. Al wat vandag daarvan
oorbly, is die ruïnes. Maar deur die bouvalle te bestudeer en die artefakte
daarin op te grawe, kon argeoloë ’n prent van die oord herskep soos hy op
die toppunt van sy roem gelyk het. Dit was ’n era toe sport en godsdiens
onlosmaaklik verbind was. Daarom was Olimpia—die heiligdom in die vallei
waar die antieke Olimpiese Spele gereeld gehou is—ontwerp om sowel die
mens as die gode van diens te wees… OLIMPIA het in ’n vallei meer as 200 km van Athene af gelê, op die Griekse skiereiland Peloponnesos. Daar was twee afsonderlike dele: ’n gebied van aanbidding en ’n gebied waar die Spele plaasgevind het.
Krediet: Openbare besit vanweë verstryking van kopiereg
Die
gebied wat aan die gode toegewy is, was bekend as die Altis (heilige bos).
Geleë aan die voet van ’n heuwel by die sameloop van die riviere Cladeus
en Alpheus, het hierdie heiligdom ingesluit die groot Tempel van Zeus met sy
beroemde standbeeld (een van die sewe wonders van die antieke wêreld); die
Tempel van Hera (wat van omstreeks 700vC dateer); die Pelopion (wat die graf
van die held Pelops bevat het); en verskeie ander geboue, altare en
standbeelde. Die sportgeboue was net anderkant die Altis. Hier was onder meer die Gimnasium vir wedlope en gooinommers; die Palaestra (’n skool vir spring, stoei en boks); en die Hippodroom (vir perdewedrenne en strydwaens).
Foto
onder (slegs effens deur ons gewysig) deur mdoege@compuserve.com,
wat dit op hierdie
bladsy in die Engelse weergawe van die vrye Wikipedia-ensiklopedie
beskikbaar stel ingevolge die GNU
Free Documentation License
Aan
die oostekant van die kompleks was die Stadion, of baan vir wedlope, wat in
die vierde eeu vC gebou is. Dit het bestaan uit klei wat met wit sand bedek
is, en die wegspring- en eindstrepe is gevorm met rye plat klippe wat op die
grond geplaas is. Die
Stadion is só genoem omdat hy een stadion (sowat 192 m) lank was. Hy kon
tot 40 000 toeskouers huisves, wat weerskante van die baan op ’n wal gesit
het om die wedlope te sien. Later het klipsitplekke plek-plek bygekom. Baie
besoekers aan Olimpia het in tente gekampeer. Met verloop van tyd het ál
meer luukses bygekom, onder meer ’n groot hotel vir belangrike beamptes
wat die Leonidaion genoem is. Opgrawings
by Olimpia het in 1829 begin, toe ’n span Franse argeoloë die Tempel van
Zeus begin opgrawe het. Hul werk is later deur die Duitse regering
voortgesit. Teen die 1870’s was die hele Altis en baie van die sportgeboue
reeds uit hul ondergrondse tronk bevry en stukke vase, beeldhouwerke, munte,
bronsdiskusse en ander voorwerp opgediep.
Foto: U.S. Library of Congress
Kragtens ’n ooreenkoms tussen die Duitse en Griekse regerings het die relikte die eiendom van Griekeland gebly, terwyl Duitsland toegelaat is om afgietsels van die voorwerpe te maak om in sy eie museums uit te stal. Danksy al hul harde werk kan besoekers aan Olimpia vandag ’n idee kry van hoe die groot sportfees destyds gevier is. Die terrein is in 1989 as ’n Unesco-Wêrelderfenisterrein aangewys.
|
||