___________________________________________

 Organiese tuinbou 
Handevol kompos  
Die stryd vir ’n gesonde aarde

 

Organiese tuinbou is die kweek van vrugte, groente en ander gewasse sonder die toevoeging van kunsmis, ander chemikalieë of groeihormone in die grond. Pleks daarvan word afval van die tuin sowel as die etenstafel tot sogenaamde kompos verwerk en in die grond ingewerk. Kraal- of ander mis en beenmeel kan ook gebruik word om die grond te verryk, of peulgewasse kan op ’n rotasiegrondslag in die grond gesaai word om stikstof daaraan toe te voeg. En chemiese plaagdoders is taboe. Maar presies hoekom doen organiese tuiniers wat hulle doen? En hoe gaan hulle te werk?

___________________________________________
 

D

ALK het jy al self agtergekom hoe ons mense die wêreld om ons ekologies laat agteruitgaan. Dink maar aan die onversteurbare trapsuutjiese met hul interessante kleurverwisselings wat ’n aantal jare gelede nog so lekker in jou tuin rondgehang het. Hulle is nie meer daar nie, moontlik omdat baie van hulle deur insektegif vergiftig is.

 

Miskien is dit ook die rede waarom die woelige akkedisse weg is—of so skaars geraak het dat jy net af en toe nog een van hulle in jou agterplaas sien rondskarrel.

 

Loop ’n bietjie rond op jou werf en nog ’n paar skokke kan op jou wag. Soos by die lemoenboom. Al het jy die skadelike plantluise op dié boom nou die dag nogal met ’n "omgewingsvriendelike"  insektegif gedood, het die talle nuttige liewenheersbesies ("ladybirds") ook in hul menigte saam met luise verdwyn. Jy't dan al hul kos weggevat.

 

En in die hoek van jou tuin staan ’n struik wat om die dood nie reg wil groei nie. Straks is dit omdat jy onlangs daar hopeloos te veel kunsmis in die grond ingewerk het, kunsmis wat nou besig is om die plant se wortels tot in hul binnevesels te verbrand.

 

Elders in jou tuin met al sy baie chemikalieë in die grond skei die erdwurms ook nie meer hopies-hopies humusaarde uit soos vantevore nie. Hulle het altyd jou tuingrond so gesond gehou. Ooit gedink daar sal ’n tyd kom dat jy die erdwurms se mis sal mis?!

 

Dis mos weens hierdie sorgwekkende verval van ons ekosisteme dat ’n mens maklik die ore spits wanneer ’n mens van organiese boedery of organiese tuinbou hoor...

 

Maar wat beteken organies? Wel, dis natuurlik ’n byvoeglike naamwoord wat van die selfstandige naamwoord orgaan afgelei is. En ’n orgaan is enige deel van ’n lewende wese, plant of dier, wat toegerus is om ’n spesifieke werk te verrig. By die mens, byvoorbeeld, is die hart, longe, oog, oor, ens. almal organe.

 

Nou is dit so dat alle plante en diere, trouens alles wat lewe, die element koolstof in al hul organe het. Koolstof verbind op miljoene verskillende maniere met ander elemente en sulke variasies word dan ook oral in die natuur aangetref. Organiese chemie is die studie van daardie groot menigte van koolstofverbindings.

 

Organiese afval is ook sulke koolstofverbindings—in die reël die reste van dooie plante en diere. Dié afval sou weer in grond kan terugbeland waar dit ontbind om nuwe plante te voed. Diere vreet op hul beurt daardie plante... en die mens eet die plante of die plantvretende diere.

 

Plant, mens en dier gaan dood en hul fisieke strukture word uiteindelik weer deel van die grond, en die hele siklus begin van voor af. Alles geskied doodnatuurlik sonder dat enige sintetiese stowwe hoegenaamd ’n rol in die harmonieuse kringloop hoef te speel. Dis die natuur in sy heeltemal ongerepte staat.

 

Organiese tuinbou is dus die kweek van vrugte, groente en ander gewasse sonder die toevoeging van kunsmis, ander chemikalieë of groeihormone in die grond. Pleks daarvan word afval van die tuin sowel as die etenstafel tot sogenaamde kompos verwerk en in die grond ingewerk. Kraal- of ander mis en beenmeel kan ook gebruik word om die grond te verryk, of peulgewasse kan vooraf in die grond gesaai word om stikstof daaraan toe te voeg.

 

Maar dis lank nie al wat organiese tuinbou behels nie. Stoere dissipels van hierdie praktyk wil ook niks met enige chemiese plaagdoders te doen hê nie. Sulke voorstanders redeneer dat hul metodes noodsaaklik is om die aarde van ’n slepende vergiftiging te red.

 

Samevattend kan organiese boerdery gedefinieer word as boederymetodes  "wat slegs gebruik maak van natuurlike dier- en plantprodukte as bemesting, insektedoders, swamdoders, ens. pleks van chemikalieë".

 

Radikale "groenes" voer dit so ver as om te reken dat selfs brandstowwe soos petrol en diesel in die ban gedoen en deur son-, water- en windkrag vervang moet word—ook op plase waar voedselgewasse gekweek word. Vir die huidige is só ’n drastiese omwenteling in ons wêreld egter ’n onmoontlikheid.

 

Organiese tuinbou—gister en vandag

 

MAAR alle organiese tuinboubedrywighede word nie deur ekstremiste gepredik nie. Dit was immers deur alle eeue voor die twintigste eeu die enigste—en die natuurlike—manier van boer met gesaaides, groente en ander gewasse.

 

Trouens, organiese boedery is nog algemeen in onderontwikkelde en ontwikkelende lande, grootliks weens ’n tekort aan geld en die nodige chemikalieë. Dog daar is niks ouderwets aan organiese landbou nie—party van die nuutste ontwikkelings in voedselproduksie vind op hierdie terrein plaas.

 

Dit raak deesdae ook aanvaarbaarder in ontwikkelde lande vanweë ’n geregverdigde kommer oor grondbesoedeling en vergiftigings op plase waar intensiewe chemiese boerderymetodes toegepas word.

 

’n Groot deel van die krediet vir die moderne beweging vir organiese boerdery word toegeskryf aan lady Eve Belfour, wat aan die einde van die 1800's gebore is en lid was van ’n ryk Britse familie wat baie in die landbou belang gestel het.

 

Ná die verskyning in 1944 van haar hoogs invloedryke boek The Living Soil, het verskillende groepe ontstaan wat hulle vir die navorsing, ontwikkeling en bevordering van volhoubare verhoudinge tussen die grond, plante, diere, mense en die biosfeer beywer. Hul doel is om gesonde kosse en ander produkte te produseer terwyl die omgewing beskerm en verbeter word.

 

Nog ’n belangrike persoon in die beweging was die Duitse skrywer en ekonoom Ernst Schumacher, wat in 1973 baie van die denke oor ’n terugkeer na die grond verwoord het in die boek Small is Beautiful: Economics as if People Mattered.

 

Organiese boerderypraktyke word vandag meestal in Noord-Europa toegepas, met Oostenryk aan die voorpunt, net ’n kort kop voor Duitsland.

 

Nederland en Denemarke laat hulle in dié opsig ook nie onbetuig nie.

 

Kort ná die eeuwisseling is 11,3 persent van Oostenryk se produktiewe grond organies bewerk. Vergelyk dit egter met slegs 1,2 persent van Brittanje se landbougrond in 1999.

 

Komposmakery

 

DIE maak van kompos wat die grond sal verryk en die grondtekstuur gesond sal hou, is ’n belangrike komponent van organiese tuinbou.

 

Tuin- en kosafval hoef nie weggegooi te word nie. Dit kan gekondenseer en hergebruik word as bemestingstof deur middel van ’n proses wat komposmakery genoem word.

 

Kompos kan gemaak word deur laag op laag van verskillende organiese afval in ’n groot houer op te stapel, terwyl jy ruimte tussen die lae laat sodat die lug kan sirkuleer. Stikstof word bygevoeg in die vorm van kraalmis of groen snysels ten einde hitte op te wek.

 

Die hitte bevorder verrotting en maak alle ongewenste organismes dood. Die afval word iewat nat gemaak en dan bedek. Namate hitte en stoom opbou, ontbind die afval om mettertyd ’n voedingryke stof genaamd kompos te vorm. Die kompos word dan as bemesting vir plante gebruik.

 

Die rotasie van gesaaides, herwinning van voedingstowwe en stikstoftoediening met peulgewasse

 

DIE organiese tuinier beskou sy tuin as ’n ekosisteem. Hy besef dat ’n verandering in een deel van die sisteem die onderlinge verhoudinge tussen organismes in die tuin kan ontwrig.

 

Hy sal byvoorbeeld ’n probleem van hoë stikstofvlakke in grond, wat die groei van onkruid kan stimuleer, aanspreek deur ’n gewas te plant wat juis baie op stikstof teer. Sodoende word ’n normale balans van grondvoedingstowwe geskep.

 

Nog ’n beginsel van organiese tuinbou is verskeidenheid. Organiese tuiniers roteer hul gewasse omdat dit help keer dat een besondere insek, onkruid of plantsiekte ’n probleem raak.

 

"Die basis van organiese tuinbou is rotasie," verduidelik ’n tuinier. "Dis ewe belangrik as om nie gif te spuit nie."

 

’n Ander beginsel van organiese tuinbou is herwinning. Die organiese tuinier se doel is om sy grond selfonderhoudend te hou deur die voedingstowwe te herbenut—alle organiese reste word regstreeks in die grond teruggewerk.

 

Om die grond op te bou is ’n kernkonsep. Dit is omdat die kwaliteit van plante regstreeks verband hou met die gehalte van die grond. Goed gebalanseerde grond sal genoeg voedingstowwe aan plante voorsien sodat hulle optimaal groei en die minste deur plae en siektes benadeel word.

 

Peulgewasse soos ertjies of boontjies kan ’n noodsaaklike deel van die rotasie van gewasse wees en verrig verskeie funksies. Benewens die feit dat hulle stikstof in die grond fikseer, maak hulle die grond los en beheer hulle onkruid.

 

Natuurlike metodes om skadelike plae vas te vat

 

METODES van natuurlike plaagbeheer is onder meer om die tuin skoon en onkruidloos te hou, goeie kompos in die grond in te werk en organiese gifstowwe slegs te gebruik wanneer dit absoluut noodsaaklik is. Organiese tuiniers glo dat gesonde en "gelukkige" plante ’n natuurlike immuniteit teen plae en siektes het.

 

Wanneer ’n insek af en toe aan die blare van ’n groenteplant knabbel, loop daardie plant mos ook nie gevaar om te vrek nie. Maar, toegegee, partykeer kan jou plante oornag deur honger slakke verwoes of deur ’n duinemol skoon uit die grond geploeg word. Dan is dit ’n hartseer saak. Tog bly eenvoudige en ou bepoefde bestrydingsmetodes dikwels nog die beste manier om sulke probleme aan te spreek.

 

As jy wel plaagdoders moet koop, sorg sover moontlik dat hulle organies is. Maar onthou ook dat selfs organiese plaagdoders gevaarlik kan wees en heuningbye en selfs voëls kan doodmaak as te veel daarvan gebruik word. Om elke insek in jou tuin dood te maak, is geen goeie praktyk nie, want baie nuttige insekte wat die pestilensies vreet, kan ook doodgemaak word—en dit kan ’n selfs groter probleem skep.

 

Boonop is daar ook die gevaar dat baie lewende wesentjies in die grond, soos erdwurms en bakterieë, wat dooie plant- en dieremateriaal help afbreek en voedsame grond vir jou plante voorsien, gedood kan word.

 

Maar wat doen ’n mens dan as die slakke en molle oorneem? ’n Goeie slagyster bly waarskynlik nog die beste wapen teen omdolwers soos die molle.

 

Slakke kan bestry word deur soveel van hulle as moontlik self dood te maak. Jy hoef darem nie snags met ’n flitslig in jou tuin rond te dwaal nie. ’n Mens kan stukke hardebord skuins teen mure staanmaak en hulle sal bedags daaragter wegkruip. Gaan in die namiddag uit en pluk hulle van die skadukant van die borde af en maak hulle dood. Of kry vir jou ’n paar eende, indien moontlik. Daar word vertel dat eende ’n tuin vry van slakke hou—met waarskynlik veel minder blywende nadele vir die ekologie as slakgif.

 

Dan kan daardie fraaie vlinders in ons tuine ongelukkig dikwels ’n hele spul vraatsige ruspers genereer. Die skoenlappers lê hul eiers op plante, wat binne ’n paar dae in wurmpies of ruspers verander wat in een dag hul eie gewig in blare verslind.

 

Bly maar regdeur die groeiseisoen op die uitkyk vir sulke ruspers en verwyder hulle waar moontlik met die hand. Jy sal verbaas wees om te sien hoe ’n mens hulle baiemaal op dié manier nogal goed in toom kan hou as die besmetting nie te erg is nie. Maar moenie laks word en jou waaksaamheid verslap nie!

 

Voor- en nadele van organiese tuinbou

 

ORGANIESE boerdery het gemiddeld twintig persent kleiner oeste gelewer as oeste met konvensionele boedery. Dit was die resultaat van ’n vergelykende studie van 21 jaar wat deur Switserse wetenskaplikes onderneem is. Maar hulle het ook bevind dat die organiese benadering meer as die verskil vergoed het met die ekologiese voordele wat behaal is.

 

Vra dan ook tuiniers wat hulle tot organiese tuinbou gewend het, en hulle sal jou ’n hele aantal goeie redes gee hoekom hulle dit gedoen het. Tog sal baie van hulle die eerstes wees wat erken dat hierdie metode dalk nie vir elke tuinier sal deug nie.

 

"Ek huiwer om standaarde te dikteer wat dalk vir my werk, maar miskien nie vir ander sal werk nie," vertel een. "Net omdat ek dit doen, vertel ek nie my bure en vriende dat hulle dit moet doen nie."

 

Daar is baie ruimte vir individualiteit in die organiese bedryf, maar daar is ook baie faktore wat van plek tot plek kan verskil. Dit beteken dat praktyke wat in een organiese tuin slaag, nie noodwendig in ’n ander tuin sal slaag nie. Organiese tuiniers is dus dikwels op hulself aangewese om hul pad deur hul eie besondere omstandighede te vind.

 

Maar een ding wat baie van hulle noodwendig gemeen het, is ’n passie vir ’n ongeskonde aarde en ’n liefde vir die ongerepte natuur.

 

In dié opsig verdien hulle ons elkeen se respek.

 

___________________________________________


         
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad

___________________________________________