Tropiese storms soos Katrina en Rita... hoe ontstaan hulle en wat maak hulle so gedug?  

     

Die orkaan Elena, 1985 (Foto: NASA)Orkaan
Die draaikolk van verskrikking

Ons het dit weer op die televisie gesiendie kolossale verwoestingwerk van tropiese storms. Die onnoemlike ellende wat die oorstromings in Amerika veroorsaak het, het dag ná dag in nuwe skokbeelde op die klein skerm ontvou.

Ons het byvoorbeeld verwese vasgekeerdes op huise se dakke aanskou wat in die watermassa hulpeloos op redding gewag het. Ons het gesien hoe een verpletterde man huilend vertel dat hy dooie drenkelinge by sy huis se voordeur sien verbydryf het.  En ons het toegekyk hoe hordes mense ylings voor die meedoënlose natuurgeweld vlug...

Maar presies hoe gebeur dit dan dat die natuur op hierdie manier hand-uit ruk? Hoe word dodelike orkane soos Katrina en Rita in die broeiende trope gegenereer om uiteindelik hul opgekropte energie met ’n dolle raserny elders te ontlaai?

Alles begin oor die see naby die ewenaar waar die bedompige lug tot talle donderstorms leien waar die baie donderstorms naderhand soos ’n hele bende omgesukkelde nukkebolle begin saamheul... voordat hulle as een magtige, onheilige draaikolk oor ons planeet  begin kruip...

BO: Die orkaan Elana, 1985.  Foto: NASA.

D

AAR is min verskynsels in die natuur wat met die verwoestingskrag van ’n tropiese sikloon vergelyk kan word. Dit word dan ook nie verniet die grootste storm op aarde genoem nie, hoewel die sogenaamde tornado (super-werwelwind) heelwat kragtiger op ’n gegewe punt is. Maar tornado’s se omvang en reikwydte is natuurlik baie kleiner en veel meer gelokaliseerd, terwyl die draaikolke van tropiese siklone oor honderde kilometers kan strek.

Die energie wat deur ’n tropiese sikloon vrygestel word, is om die minste te sê ontsagwekkend. Trouens, daar is al bereken dat dit gelyk kan staan aan die krag van 10.000 kernbomme!

Boonop kan dit selfs gebeur dat tornado’s hier en daar deur tropiese siklone opgewek word weens die chaotiese toestande wat in sulke ontsaglike atmosferiese maalkolke heers.

Terwyl die tropiese sikloon in ons wêrelddeel—en ook onder meer in Indië en Australië—in die reël ’n sikloon genoem word, staan dit in die Amerikas bekend as ’n orkaan. In Engels heet die orkaan ’n "hurricane", afgelei van Huracan, ’n god van boosheid van ’n ou Sentraal-Amerikaanse inboorlingstam. In ander wêrelddele het die tropiese sikloon weer ander name. In die gebiede van die westelike Stille Oseaan en Chinese See word dit ’n tifoon genoem en in die Filippyne ’n baguio. Om nog meer verwarring te skep, praat die Amerikaners boonop van hul tornado’s as siklone!

Hoe ook al, om ’n tropiese silkoon te probeer verstaan, moet ’n mens allereers begryp wat wind is. Die lug om ons heen is selde indien ooit heeltemal stil. Dit beweeg feitlik altydhorisontaal oor die aardoppervlak heen, asook op en af. Bewegende lug word wind genoem, soos almal weet.

Maar lug beweeg eintlik om die wanbalans te herstel tussen verskillende gebiede waar daar verskillende hoeveelhede lug is. Omdat die aarde voortdurend om sy as wentel en kol-kol minder of meer deur die son verwarm word, ontstaan daar lugmassas met verskillende digthede. Die lug in ’n lugmassa met groot digtheid (hoë lugdruk) beweeg altyd na ’n gebied met ’n kleiner digtheid (lae druk).

Kyk maar na ’n weerkaart. Daarop sal jy dikwels selle van hoë druk (antisiklone) en selle van lae druk (siklone) sien. By ’n laagdrukstelsel kolk die wind rondom die laagdruksentrum, van buite af binnetoe.

By ons in die Suidelike Halfrond maal die wind regs om saam met die horlosiewysers (ANIMASIE REGS) , maar net mooi andersom in die Noordelike Halfrond  (ANIMASIE LINKS).  

Nou gebeur dit baiemaal in die tropiese breedtes van die aardbol dat die drukverskil tussen die kern en die lugmassas aan die buitekant só groot is dat hierdie tropiese siklone of orkane vernietigende windsterktes bereik.

Tropiese siklone is verskynsels wat oor geweldig groot gebiede kan voorkom. Hulle kan aanvanklik minder as 100 km breed wees, maar kan selfs tot ’n deursnee van 800 km aangroei. Dit gaan gepaard met hewige winde van omtrent 120 km/h en selfs tot byna 300 km/h. Verbasend genoeg heers daar ’n rare kalmte in die sentrum van die sikloon—’n betreklik stil en wolklose gebied van tussen 10 en 30 km wat die oog genoem word. Met die wind se besonder vinnige draaibewing word daar naamlik ’n middelpuntvliedende krag in werking gestel wat die lug en wolke na buitentoe uitdruk.

'n Tropiese sikloon gesien vanuit die IRS

 

REGS: ’n Tropiese sikloon soos gesien vanaf die Internasionale Ruimtestasie. 

TROPIESE siklone ontstaan slegs in die trope, naby die ewenaar, waar uiters vogtige lug en hitte oor die see gekonsentreer is. Die watertemperatuur moet sowel bedags as snags minstens sowat 27 grade Celsius wees.

Die verdamping van die warm water maak die lug baie vogtig, en winde wat in verskillende rigtings oor die see waai, begin massas warm, vogtige lug na mekaar toe druk. Hierdie verskynsel word konvergensie genoem.

Wanneer die lugmassas bots, begin die lug in die middel opstyg en word ’n sterk stygwind gevorm. Hoog in die lug verkoel die vogtige lug van die stygwind en ontstaan piepklein druppeltjies water. Hierdie waterdruppeltjies vorm wolke.

Groot donderwolke begin saampak en donderstorms ontwikkel. Nog donderstorms ontstaan namate meer konvergensie en nog stygwinde voorkom. As die donderstorms hulself nie uitwoed nie, kan hulle met verdrag soos ’n hele bende omgesukkelde nukkebolle begin saamheul. Só ’n formasie word dan ’n tropiese steuring genoem.

Nog baie donderstorms sluit hulle by die steuring aan, en hierdie weerverskynsel raak groot genoeg om beïnvloed te word deur kragte wat deur die wenteling van die aarde om sy as opgewek word. Die tropiese steuring begin spin en word ’n draaikolk van donderstorms.

Stygwinde trek voortdurend nog meer lug in die steuring in. Sodra die winde teen ’n konstante nagenoeg 40 km/h begin waai, raak die storm ’n sogenaamde tropiese depressie. Die tropiese depressie raak steeds kragtiger en word ’n tropiese storm wanneer die windsnelheid omtrent 65 km/h bereik.

Die warm, vogtige lug in ’n steuring, depressie of storm kan te eniger tyd begin "opraak" en dan sal die onstuimigheid algaande bedaar of ophou. Indien dit egter steeds hewiger raak en die windsnelheid nagenoeg 120 km/h bereik, noem ons dit ’n tropiese sikloon of orkaan.

Tropiese siklone het top-windsnelhede van minstens sowat 120 km/h, maar die wind kan tot ’n verbysterende byna 300 km/h waai.

Hoe nader ’n mens, tot op ’n punt, in die rigting van die windstil oog beweeg, hoe vinniger sal die wind wees. En wanneer die oog oor ’n waarnemer beweeg namate die kolkende monster oor die aarde aankruip, raak die chaos eers erger en dan bedaar dit skielik. Die wind verflou tot ’n bries, dit hou op reën en die blou lug daarbo word selfs plek-plek sigbaar. Maar die kalmte is van korte duur en spoedig is die storm in al sy felheid terug, hoewel die wind nou uit ’n teenoorgestelde rigting waai.

Die energie in ’n tropiese sikloon kom van die hitte wat vrygestel word wanneer waterdamp tot vloeibare water kondenseer. Die atmosfeer bokant ’n tropiese oseaan is die enigste plek waar daar genoeg warm, vogtige lug beskikbaar is om die nodige energie vir die ontstaan van ’n tropiese sikloon te genereer.

Die beweging van ’n tropiese sikloon is enigsins voorspelbaar. Dit is so massief dat dit beweeg saam met die aarde se windstrome wat dit omgeef. Hierdie windstrome is baie groot en bestendig en verander nie skielik van rigting nie. Die tropiese siklone beweeg dus gewoonlik in een van hierdie windstrome totdat hulle ’n ander windstroom bereik, en dan kan hulle straks ’n ander koers inslaan. Indien ’n tropiese sikloon van rigting verander, kan dit gebeur dat dit twee keer oor dieselfde gebied beweeg. Partykeer word die pas dae lank oor ’n sekere gebied gemarkeer.

Tropiese siklone maal egter in die reël voort op ’n pad wat met die kromming van ’n parabool ooreenstem, teen snelhede wat van 8 tot 80 km/h kan wissel. Wanneer sulke atmosferiese  maalkolke die land vanuit die see nader, kan die sterk winde met stortreën en besonder hoë branders gepaard gaan.

’n Tipiese tropiese sikloon is sowat 500 km in deursnee. Dit sou maklik ’n provinsie soos die Vrystaat kon "insluk", maar dit was tot dusver nog altyd ons oostelike provinsies en Mosambiek wat die meeste kwesbaar vir tropiese silkone was.

Die tropiese siklone in ons eie wêrelddeel ontstaan meestal oos van Madagaskar in die Indiese Oseaan en beweeg partykeer oor Madagaskar en tot in die Mosambiek-kanaal. Af en toe beweeg hulle ook oor die vasteland. DIe siklone wat die ergste verwoesting nog in Suid-Afrika gesaai het, was Demoina en Imboa, respektiewelik in Januarie en Februarie 1984.

TROPIESE siklone of orkane kry hul name deurdat daar in ’n spesifieke orkaanseisoen ál met die letters van die alfabet afgegaan word vir die beginletters van die onderskeie name. Hulle het aanvanklik slegs vrouename gekry, maar dié praktyk is in die 1970’s onder druk van feministe verander met die gevolg dat hulle nou na mans sowel as vroue genoem word.

Die Wêreld- Meteorologiese Organisasie of WMO, ’n liggaam van die Verenigde Nasies, koördineer die naamgewing van hierdie gedugte weerstelsels. Daar is roterende naamlyste wat al om die ses jaar herhaal word, maar indien daar ’n bielie is wat ’n baie groot impak gehad het, word sy naam uit die spesifieke lys geskrap en vervang deur ’n naam met dieselfde beginletter.

Só het Olga in 2001 vir Opal vervang—sodat werklik besonderse orkane nooit vergeet sal word nie.


Die Saffir-Simpson-skaal

JY het moontlik ten tyde van die skrikbewinde van die orkane Katrina en Rita gehoor of gelees dat daar na hulle as klas 5-orkane verwys is. Maar wat beteken dit?

In die vroeë 1970’s is ’n klassifikasiestelsel in die VSA ontwerp waarvolgens die verwagte vlak van die skade en oorstromings van ’n orkaan aangedui word. Die ontwerpers was Herbert Saffir, ’n raadgewende ingenieur, en Robert Simpson, die toenmalige hoof van die Amerikaanse National Hurricane Center. Volgens die Saffir-Simpson-skaal is daar vyf klasse van orkaansterkte, met klas 1 die swakste en klas 5 die sterkste. Volgehoue windsterktes is die bepalende faktor om ’n klas aan te dui.

  • Klas 1: ’n Swak storm met windsnelhede tussen 118 en 152 km/h. Die verwagte skade is lig.

  • Klas 2: ’n Matige storm met windsnelhede tussen 153 en 176 km/h. Daar is dak- en vensterskade, asook belangrike skade aan bome en ander plante.

  • Klas 3: ’n Kragtige storm met windsnelhede tussen 177 en 208 km/h. Daar is groot skade met die grootskeepse vernieling van geboue.

  • Klas 4: ’n Baie kragtige storm met windsnelhede tussen 209 en 248 km/h. Dakke word afgewaai, en daar is groot waterskade en skade aan geboue. Voorbeelde was die orkane Felix, Luis en Opal in 1995, en Andrew in 1992.

  • Klas 5: ’n Verwoestende storm met windsnelhede groter as 248 km/h. Feitlik alles wat maar enigsins deur die wind geskep kan word, word weggewaai. Daar is massiewe skade aan geboue en die infrastruktuur, asook oorstromings. Voorbeelde was Gilbert en Mitch in 1998, Ivan in 2004, en Katrina en Rita in 2005.

Let wel, windsterkte self word weer volgens ’n ander skaal, die sogenaamde skaal van Beaufort, aangedui—van feitlik totale windstilte (windkrag 1) opwaarts. Daarvolgens is ’n tropiese storm (orkaan) op die bopunt van die skaal met ’n windkrag van 12.


Dodelike Katrina... die woede van die natuur

New Orleans oorstroom weens orkaan KatrinaREGS: New Orleans, Louisiana, lê verdronke weens die oorstromings wat deur die orkaan Katrina veroorsaak is.

Foto: United States Coast Guard / Public domain

SELFS die matigste en rykste land op aarde kan magteloos staan as die natuur hom die dag in al sy felle woede laat geld. Dit het in Amerika gebeur toe die orkaan Katrina in 2005 ongekende oorstromings veroorsaak heten stom geskokte oorlewendes selfs moes toekyk hoe dooie mense voor hulle verbydryf. Sekere lyke het weer soveel dae lank in die water of son lê en ontbind dat daar probleme was om hulle uit te ken. Huise is verwoes, strate weggespoel, nywerhede vernietig, derduisende bome platgevee.

Katrina was in terme van skade die duurste en ook een van die dodelikste orkane wat nog in die Verenigde State van Amerika ondervind is. Dit was die sesde sterkste Atlantiese orkaan wat ooit aangeteken is en, in die annale van windstorms, die derde sterkste orkaan wat nog die grondgebied van die VSA getref het.

Katrina het laat in Augustus ten tyde van die Atlantiese orkaanseisoen van 2005 ontstaan en enorme verwoesting in ’n groot deel van die noordsentrale Golfkus van die VSA gesaai. In die pers, op televisie en in ander media was daar veral groot dekking van die katastrofale skade aan die stad New Orleans in die staat Louisiana en aan die Mississippi-kusgebied. Katrina was so groot dat dit die Golfkus meer as 160 km ver van sy middelpunt verniel het.

Katrina was in die Atlantiese seisoen van 2005 die elfde storm, vyfde orkaan, derde groot orkaan en tweede kategorie 5-orkaan wat ’n naam van die Wêreld- Meteorologiese Organisasie ontvang het. Dit het op 23 Augustus 2005 oor die Bahama-eilande gevorm en Suid-Florida as ’n matige kategorie 1-orkaan oorgesteek waar dit ’n klompie lewens geëis en oorstromings veroorsaak het.

Hierna het dit vinnig in die Golf van Mexiko versterk en een van die magtigste orkane in die opgetekende geskiedenis geword. Die storm het weliswaar in ’n groot mate verswak voordat dit die tweede en derde keer die land binnegemaal en onderskeidelik Suidoos-Louisiana en die grensgebied tussen Louisiana en Mississippi as ’n kategorie 3-storm getref het.

Die storm het ernstige tot katastrofale skade langs die Golfkus gesaai en die stede Mobile, Alabama, Waveland en Biloxi/Gulfport in Mississippi, asook Slidell en ander plekke in Louisiana verrinneweer. Oewerwalle van die meer Pontchartrain het gebreek en tagtig persent van die stad New Orleans, asook buurgebiede, is uiteindelik oorstroom en het weke lank onder water gebly.  Ernstige windskade is ook taamlik diep die land in aangerig.  

Daar word geraam dat Katrina $81, 2 miljard skade aangerig het, wat dit die duurste natuurramp in die geskiedenis van die VSA maak. Dit het die lewens van minstens 1836 mense geëis, die dodelikste Amerikaanse orkaan sedert die Okeechobee-orkaan van 1928.

Daar was groot kritiek oor die wyse waarop die federale, staats- en plaaslike owerhede die ramp hanteer het. Dit het daartoe gelei dat die Amerikaanse Kongres (die federale wetgewende regeringsliggaam) die saak ondersoek en die hoof van die ramphanteringsagentskap van die departement van binnelandse veiligheid bedank het.

Inligting oor orkaan Katrina: Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad