Tropiese
storms soos Katrina en Rita... hoe ontstaan hulle en wat maak hulle so
gedug?
Ons het dit weer op die televisie gesien—die kolossale verwoestingwerk van tropiese storms. Die onnoemlike ellende wat die oorstromings in Amerika veroorsaak het, het dag ná dag in nuwe skokbeelde op die klein skerm ontvou. Ons het byvoorbeeld verwese vasgekeerdes op huise se dakke aanskou wat in die watermassa hulpeloos op redding gewag het. Ons het gesien hoe een verpletterde man huilend vertel dat hy dooie drenkelinge by sy huis se voordeur sien verbydryf het. En ons het toegekyk hoe hordes mense ylings voor die meedoënlose natuurgeweld vlug... Maar presies hoe gebeur dit dan dat die natuur op hierdie manier hand-uit ruk? Hoe word dodelike orkane soos Katrina en Rita in die broeiende trope gegenereer om uiteindelik hul opgekropte energie met ’n dolle raserny elders te ontlaai? Alles begin oor die see naby die ewenaar waar die bedompige lug tot talle donderstorms lei—en waar die baie donderstorms naderhand soos ’n hele bende omgesukkelde nukkebolle begin saamheul... voordat hulle as een magtige, onheilige draaikolk oor ons planeet begin kruip... BO: Die orkaan Elana, 1985. Foto: NASA. |
|||
AAR
is min verskynsels in die natuur wat met die verwoestingskrag van ’n
tropiese sikloon vergelyk kan word. Dit word dan ook nie verniet die
grootste storm op aarde genoem nie, hoewel die sogenaamde tornado
(super-werwelwind) heelwat kragtiger op ’n gegewe punt is. Maar
tornado’s se omvang en reikwydte is natuurlik baie kleiner en veel
meer gelokaliseerd, terwyl die draaikolke van tropiese siklone oor
honderde kilometers kan strek. Die
energie wat deur ’n tropiese sikloon vrygestel word, is om die
minste te sê ontsagwekkend. Trouens, daar is al bereken dat dit gelyk
kan staan aan die krag van 10.000 kernbomme! Boonop kan dit selfs gebeur dat tornado’s hier en daar deur tropiese siklone opgewek word weens die chaotiese toestande wat in sulke ontsaglike atmosferiese maalkolke heers. Terwyl
die tropiese sikloon in ons wêrelddeel—en ook onder meer in Indië en
Australië—in die reël ’n sikloon genoem word, staan dit in die
Amerikas bekend as ’n orkaan. In Engels heet die orkaan ’n
"hurricane", afgelei van Huracan, ’n god van boosheid van
’n ou Sentraal-Amerikaanse inboorlingstam. In ander wêrelddele het
die tropiese sikloon weer ander name. In die gebiede van die westelike
Stille Oseaan en Chinese See word dit ’n tifoon genoem en in die
Filippyne ’n baguio. Om nog meer verwarring te skep, praat die
Amerikaners boonop van hul tornado’s as siklone! Hoe
ook al, om
’n tropiese silkoon te probeer verstaan, moet ’n mens allereers
begryp wat wind is. Die
lug om ons heen is selde indien ooit heeltemal stil. Dit beweeg feitlik
altyd—horisontaal oor die aardoppervlak heen, asook op en af. Bewegende
lug word wind genoem, soos almal weet. Maar
lug beweeg eintlik om die wanbalans te herstel tussen verskillende
gebiede waar daar verskillende hoeveelhede lug is. Omdat die aarde
voortdurend om sy as wentel en kol-kol minder of meer deur die son
verwarm word, ontstaan daar lugmassas met verskillende digthede. Die lug
in ’n lugmassa met groot digtheid (hoë lugdruk) beweeg altyd na ’n
gebied met ’n kleiner digtheid (lae druk). Kyk maar na ’n weerkaart. Daarop sal jy dikwels selle van hoë druk (antisiklone) en selle van lae druk (siklone) sien. By ’n laagdrukstelsel kolk die wind rondom die laagdruksentrum, van buite af binnetoe.
Nou
gebeur dit baiemaal in die tropiese breedtes van die aardbol dat die
drukverskil tussen die kern en die lugmassas aan die buitekant só groot
is dat hierdie tropiese siklone of orkane vernietigende windsterktes
bereik. Tropiese siklone is verskynsels wat oor geweldig groot gebiede kan voorkom. Hulle kan aanvanklik minder as 100 km breed wees, maar kan selfs tot ’n deursnee van 800 km aangroei. Dit gaan gepaard met hewige winde van omtrent 120 km/h en selfs tot byna 300 km/h. Verbasend genoeg heers daar ’n rare kalmte in die sentrum van die sikloon—’n betreklik stil en wolklose gebied van tussen 10 en 30 km wat die oog genoem word. Met die wind se besonder vinnige draaibewing word daar naamlik ’n middelpuntvliedende krag in werking gestel wat die lug en wolke na buitentoe uitdruk.
TROPIESE
siklone ontstaan slegs in die trope, naby die ewenaar, waar uiters
vogtige lug en hitte oor die see gekonsentreer is. Die watertemperatuur
moet sowel bedags as snags minstens sowat 27 grade Celsius wees. Die
verdamping van die warm water maak die lug baie vogtig, en winde wat in
verskillende rigtings oor die see waai, begin massas warm, vogtige lug
na mekaar toe druk. Hierdie verskynsel word konvergensie genoem. Groot
donderwolke begin saampak en donderstorms
ontwikkel. Nog donderstorms ontstaan namate meer konvergensie en nog
stygwinde voorkom. As die donderstorms hulself nie uitwoed nie, kan
hulle met verdrag soos ’n hele bende omgesukkelde nukkebolle begin
saamheul. Só ’n formasie word dan ’n tropiese steuring genoem. Stygwinde
trek voortdurend nog meer lug in die steuring in. Sodra die winde teen
’n konstante nagenoeg 40 km/h begin waai, raak die storm ’n
sogenaamde tropiese depressie. Die tropiese depressie raak steeds
kragtiger en word ’n tropiese storm wanneer die windsnelheid omtrent
65 km/h bereik. Die
warm, vogtige lug in ’n steuring, depressie of storm kan te eniger tyd
begin "opraak" en dan sal die onstuimigheid algaande bedaar of
ophou. Indien dit egter steeds hewiger raak en die windsnelheid nagenoeg
120 km/h bereik, noem ons dit ’n tropiese sikloon of orkaan. Tropiese siklone het top-windsnelhede van minstens sowat 120 km/h, maar die wind kan tot ’n verbysterende byna 300 km/h waai. Hoe nader ’n mens,
tot op ’n punt, in die rigting van die windstil oog beweeg, hoe vinniger sal
die wind wees. En
wanneer
die oog oor ’n waarnemer beweeg namate die kolkende monster oor die
aarde aankruip, raak die chaos eers erger en dan bedaar dit skielik. Die
wind verflou tot ’n bries, dit hou op reën en die blou lug daarbo
word selfs plek-plek sigbaar. Die
energie in ’n tropiese sikloon kom van die hitte wat vrygestel word
wanneer waterdamp tot vloeibare water kondenseer. Die atmosfeer bokant
’n tropiese oseaan is die enigste plek waar daar genoeg warm, vogtige
lug beskikbaar is om die nodige energie vir die ontstaan van ’n
tropiese sikloon te genereer. Die beweging van ’n tropiese sikloon is enigsins voorspelbaar. Dit is so massief dat dit beweeg saam met die aarde se windstrome wat dit omgeef. Hierdie windstrome is baie groot en bestendig en verander nie skielik van rigting nie. Die tropiese siklone beweeg dus gewoonlik in een van hierdie windstrome totdat hulle ’n ander windstroom bereik, en dan kan hulle straks ’n ander koers inslaan. Indien ’n tropiese sikloon van rigting verander, kan dit gebeur dat dit twee keer oor dieselfde gebied beweeg. Partykeer word die pas dae lank oor ’n sekere gebied gemarkeer. Tropiese siklone maal egter in die reël voort op ’n pad wat met die kromming van ’n parabool ooreenstem, teen snelhede wat van 8 tot 80 km/h kan wissel. Wanneer sulke atmosferiese maalkolke die land vanuit die see nader, kan die sterk winde met stortreën en besonder hoë branders gepaard gaan. ’n
Tipiese tropiese sikloon is sowat 500 km in deursnee. Dit sou maklik
’n provinsie soos die Vrystaat kon "insluk", maar dit was
tot dusver nog altyd ons oostelike provinsies en Mosambiek wat die
meeste kwesbaar vir tropiese silkone was. Die tropiese siklone in ons eie wêrelddeel
ontstaan meestal oos van Madagaskar in die Indiese Oseaan en beweeg
partykeer oor Madagaskar en tot in die Mosambiek-kanaal. Af en toe
beweeg hulle ook oor die vasteland. DIe siklone wat die ergste verwoesting
nog in Suid-Afrika gesaai het, was Demoina
en Imboa, respektiewelik in Januarie en Februarie 1984. TROPIESE
siklone of orkane kry hul name deurdat daar in ’n spesifieke
orkaanseisoen ál met die letters van die alfabet afgegaan word vir die
beginletters van die onderskeie name. Hulle het aanvanklik slegs vrouename gekry, maar dié
praktyk is in die 1970’s onder druk van feministe verander met die gevolg dat
hulle nou na mans sowel as vroue genoem word. Die Wêreld- Meteorologiese Organisasie of WMO, ’n liggaam van die Verenigde Nasies, koördineer die naamgewing van hierdie gedugte weerstelsels. Daar is roterende naamlyste wat al om die ses jaar herhaal word, maar indien daar ’n bielie is wat ’n baie groot impak gehad het, word sy naam uit die spesifieke lys geskrap en vervang deur ’n naam met dieselfde beginletter. Só het Olga in 2001 vir Opal vervang—sodat werklik besonderse orkane nooit vergeet sal word nie. Die
Saffir-Simpson-skaal JY
het moontlik ten tyde van die skrikbewinde van die orkane Katrina
en Rita gehoor of gelees dat daar na hulle as klas 5-orkane verwys is.
Maar wat beteken dit? In
die vroeë 1970’s is ’n klassifikasiestelsel in die VSA ontwerp
waarvolgens die verwagte vlak van die skade en oorstromings van ’n
orkaan aangedui word. Die
ontwerpers was Herbert Saffir, ’n raadgewende ingenieur, en Robert
Simpson, die toenmalige hoof van die Amerikaanse National Hurricane
Center. Volgens die Saffir-Simpson-skaal is daar vyf klasse van
orkaansterkte, met klas 1 die swakste en klas 5 die sterkste. Volgehoue
windsterktes is die bepalende faktor om ’n klas aan te dui.
Let
wel, windsterkte self word weer volgens ’n ander skaal, die sogenaamde
skaal van Beaufort, aangedui—van feitlik totale windstilte (windkrag
1) opwaarts. Daarvolgens is ’n tropiese storm (orkaan) op die bopunt
van die skaal met ’n windkrag van 12. Dodelike Katrina... die woede van die natuur
Foto: United States Coast Guard / Public domain SELFS
die matigste en rykste land op aarde kan magteloos staan as die natuur hom
die dag in al sy felle woede laat geld. Dit het in Amerika gebeur toe die
orkaan Katrina in 2005 ongekende oorstromings veroorsaak het—en
stom geskokte oorlewendes selfs moes toekyk hoe dooie mense voor hulle
verbydryf. Sekere lyke het weer soveel dae lank in die water of son lê en
ontbind dat daar probleme was om hulle uit te ken. Huise is verwoes,
strate weggespoel, nywerhede vernietig, derduisende bome platgevee. Katrina
was in terme van skade die duurste en ook een van die dodelikste orkane
wat nog in die Verenigde State van Amerika ondervind is. Dit was die sesde
sterkste Atlantiese orkaan wat ooit aangeteken is en, in die annale van
windstorms, die derde sterkste orkaan wat nog die grondgebied van die VSA
getref het. Katrina
het laat in Augustus ten tyde van die Atlantiese orkaanseisoen van 2005
ontstaan en enorme verwoesting in ’n groot deel van die noordsentrale
Golfkus van die VSA gesaai. In die pers, op televisie en in ander media
was daar veral groot dekking van die katastrofale skade aan die stad New
Orleans in die staat Louisiana en aan die Mississippi-kusgebied. Katrina
was so groot dat dit die Golfkus meer as 160 km ver van sy middelpunt
verniel het. Katrina
was in die Atlantiese seisoen van 2005 die elfde storm, vyfde orkaan,
derde groot orkaan en tweede kategorie 5-orkaan wat ’n naam van die Wêreld-
Meteorologiese Organisasie ontvang het. Dit het op 23
Augustus 2005 oor die Bahama-eilande gevorm en Suid-Florida as ’n matige
kategorie 1-orkaan oorgesteek waar dit ’n klompie lewens geëis en
oorstromings veroorsaak het. Hierna
het dit vinnig in die Golf van Mexiko versterk en een van die magtigste
orkane in die opgetekende geskiedenis geword. Die storm het weliswaar in
’n groot mate verswak voordat dit die tweede en derde keer die land
binnegemaal en onderskeidelik Suidoos-Louisiana en die grensgebied tussen
Louisiana en Mississippi as ’n kategorie 3-storm getref het. Die
storm het ernstige tot katastrofale skade langs die Golfkus gesaai en die
stede Mobile, Alabama, Waveland en Biloxi/Gulfport in Mississippi, asook
Slidell en ander plekke in Louisiana verrinneweer. Oewerwalle van die meer
Pontchartrain het gebreek en tagtig persent van die stad New Orleans,
asook buurgebiede, is uiteindelik oorstroom en het weke lank onder water
gebly. Ernstige windskade is
ook taamlik diep die land in aangerig. Daar
word geraam dat Katrina $81, 2 miljard skade aangerig het, wat dit die
duurste natuurramp in die geskiedenis van die VSA maak. Dit het die lewens
van minstens 1836 mense geëis, die dodelikste Amerikaanse orkaan sedert
die Okeechobee-orkaan van 1928. Daar was groot kritiek oor die wyse waarop die federale, staats- en plaaslike owerhede die ramp hanteer het. Dit het daartoe gelei dat die Amerikaanse Kongres (die federale wetgewende regeringsliggaam) die saak ondersoek en die hoof van die ramphanteringsagentskap van die departement van binnelandse veiligheid bedank het. Inligting
oor orkaan Katrina: Wikipedia,
die vrye ensiklopedie |
|||