|
Osoon—suurstof in ’n verstikkende vorm
DIE
gas osoon is darem ’n rare vent. Hy’s ’n soort suurstof (een van die
allotrope van suurstof), maar hoegenaamd nie die soort waarmee ons
almal gereeld ons longe moet vul om te bly lewe nie. ’n
Suurstof-molekule soos ons dit ken, het twee atome suurstof in sy
samestelling. Osoon het drie.
Die gas suurstof word dus chemies as O2
aangedui en die
gas osoon as O3.
En waar suurstof noodsaaklik is vir die respirasieproses van mens en
dier op die aarde, is osoon ’n verstikkende lugbesoedelaar wat
giftig is vir die asemhalingstelsels.
Nee dankie dus, osoon. Ons het jou hoegenaamd nie nodig in die onderste sone van die
atmosfeer waarin ons woon—hier in die troposfeer nie. Maar boontoe in die
lug is dit ’n heel ander storie en is osoon wel ’n uiters belangrike
komponent om die brose ewewig te help bewaar wat vir alle lewe
op die aarde geld. Trouens, daar is so ’n beduidende
versameling osoon daarbo dat daar van die osoonlaag in die aarde se
atmosfeer gepraat word.

BO: Die molekulęre struktuur van osoon, met drie
suurstofatome in die gesin. Maar eintlik is dit ook
nie so 'n hegte gesin nie, want osoon is nie so
stabiel as die suurstof met twee atome wat ons
inasem om te lewe nie—behalwe in die stratosfeer,
wat as ’t ware die tuisland van osoon is. Tog word
dit ook daar vernietig deur sekere stowwe wat ons
hier op die aardoppervlak in die atmosfeer loslaat.
En dit bedreig in der waarheid alle lewensvorme op
aarde.
Krediet:
Ben Mills
/ Public Domain Release, Wikimedia Commons
Die
ligging van die aarde se osoonlaag
DIE
osoonlaag is hoofsaaklik op ’n hoogte van 10 tot 50 km in die
stratosfeer gekonsentreer en bevat meer as 91 persent van al die
osoon in die aarde se atmosfeer.
REGS:
Die
verskillende sones in die atmosfeer van die aarde. Ons lewe in
die troposfeer, die sone net bokant die aardkors. Die sogenaamde
osoonlaag is in die stratosfeer gekonsentreer, waar kommersiële
straalvliegtuie ook dikwels vlieg om brandstof te bespaar en omdat
die onstuimige weersgesteldhede van die troposfeer nie daar
ondervind word nie.
Die dikte van
die osoonlaag wissel saam met
die seisoene, asook geografies—dit is in die reël dunner naby die ewenaar
en dikker in die rigting van die pole. Hierdie osoonlaag is in 1913
deur die Franse fisici Charles Fabry en Henri Buisson ontdek.
Die osoon in die stratosfeer word deur die ultraviolet strale van
die son geskep uit die “gewone” suurstofmolekules wat ook daar
voorkom. In die stratosfeer raak dit warmer hoe hoër ’n mens opstyg,
omdat die ultraviolet strale van die son met die vermeerderde hoogte
ál meer deur suurstofmolekules geabsorbeer word.
Dit lei dan tot die vorming van dié verdigte suurstof in enorme
hoeveelhede—wat soos ’n kombers oor die aarde vou om die lewe op ons
planeet wonderbaarlik te beskerm.
Die
nut van ons wonderlike osoonlaag
REGS: Hierdie illustrasie toon hoe die aarde se osoonlaag skadelike
strale van die son blokkeer.
Krediet: NASA
WATTER
soort beskerming bied die osoonlaag? Hierdie laag absorbeer 93 tot
99 persent van die son se hoëfrekwensie- ultraviolet lig, wat baie
skadelik vir die lewe op aarde kan wees. Ultraviolet (UV) lig is
elektromagnetiese uitstraling met ’n golflengte korter as dié van
sigbare lig, maar langer as x-strale. Almal wat al pynlik “deur die
son” verrinneweer nadat daar te lank langs die swembad gelę is
sonder dat sonbrandroom gebruik is, moet eintlik die son se UV
strale daarvoor blameer.
As slegs een tot sewe persent van die UV strale soveel skade aan ’n
mens se vel kan aanrig, stel jou die verwoesting voor indien daar
geen osoonlaag was wat die res van die strale van ons weggeskerm het
nie.
Dit hoef niemand te verbaas dat buitensporige blootsteling aan UV
strale sekere soorte velkanker, asook ander akute en chroniese
probleme van die vel veroorsaak nie. Dit kan ook die oë en selfs die
immuunstelsel aantas.
En dit is nie slegs die mens wat erg nadelig aangetas word deur
verhoogde UV vlakke in sy omgewing nie, maar selfs iets so klein as
die plankton in die see. Afsterwing van plankton moet eenvoudig ’n
uitwerking hę op die voedselwebbe in ons oseane—en uiteindelik op
alle aardse lewensvorme.
Tot gesaaides kan deur ’n vermeerdering van UV uitstraling beďnvloed
word. ’n Aantal ekonomies belangrike plantsoorte, soos rys, maak
staat op sianobakterieë wat op hul wortels voorkom om stikstof te
behou. Sianobakterieë is
gevoelig vir UV strale.
Alles genoeg rede om die osoonlaag vertoetelend te beskerm. Daarom
dat daar soveel opskudding was toe wetenskaplikes ’n dekade of drie
gelede ontdek het dat die osoonlaag bokant Antartika skrikwekkend
verdun het. Daarna is die gat in die osoonlaag van tyd tot tyd
bokant sowel die Suidpool as die Noordpool waargeneem.
Hoekom
’n gat in die osoonlaag ontstaan het
’N
MENS
moet dadelik noem dat die sogenaamde “gat” in die osoonlaag nie
werklik ’n gat is in die sin dat die osoon op daardie plek totaal
verdwyn het nie. Maar die verdunning van die O3
is inderdaad so onrusbarend dat niemand die oë daarvoor durf sluit
nie. ’n Bevinding soos dié in 1983 dat daar in die stratosfeer
bokant Antarktika ’n gebied is waar die osoonkonsentrasie slegs 40
tot 50 persent van die normale was, was skokkend genoeg om geleerdes
te laat besef dat iets daadwerkliks daaromtrent gedoen moes word.
Die ontstellende verlies van osoon in die stratosfeer is gewyt aan
sogenaamde chlorofluorokoolstowwe (CFK’s)— mensgemaakte chemikalieë
wat onder meer in sekere spuitkannetjies en verkoelingsapparate voorkom.
Die gewone suurstofmolekule, O2,
is ’n betreklik stabiele konstruksie, maar O3
is nie, en word aggressief deur atomiese chloor (Cl) en broom (Br)
aangeval.
Die laasgenoemdes kom voor in CFK’s wat hul weg van die
aardoppervlak af tot in die stratosfeer vind om daar deur fotone
afgebreek te word. Die vrygelate Cl- en Br-atome vernietig dan die
osoon-molekules daar in die stratosfeer deur ’n verskeidenheid van
siklusse.
Dit klink miskien vir baie mense onmoontlik dat die klein bietjies
CFK’s in spuitkannetjies ensovoorts so ’n kataklismiese uitwerking
kan hę, maar daar moet onthou word dat dit ook klein reëndruppeltjies kos om saam ’n hele dam te vul.
Die
Montreal-protokol en wat al gedoen is (en gedoen word) om te keer dat die probleem van
osoonvernietiging vererger
STAPPE
sou in die 1980’s naarstiglik aangekondig word om die produksie van
chlorofluorokoolstowwe in te kort—daar kon eenvoudig nie toegelaat
word dat ons eie mensgemaakte chemikalieë onbeteueld die “sambreel”
opvreet wat ons teen skadelike sonstrale beskerm nie.
Die Montreal-Protokol oor Stowwe wat die Osoonlaag Beskadig is op 16
September 1987 oopgestel vir ondertekening en het op 1 Januarie 1989
van krag geword. Dit is ’n internasionale ooreenkoms, wat tans reeds
deur 196 lande bekragtig is. Die Montreal-protokol trag om die
osoonlaag te beskerm deur die uitfasering van ’n aantal stowwe wat,
soos geglo word, vir die uitputting van osoon verantwoordelik is.
Baie is reeds vermag in die internasionale veldtog om die produksie
van chlorofluorokoolstowwe dramaties hok te slaan, soseer dat
verskillende kenners meen dat die osoonlaag se beskadiging nog binne
die 21ste eeu gestuit kan word. Die probleem is net dat daar nog
soveel van die osoonvretende stowwe in die lug is wat steeds hul pad
na die osoonlaag kan vind, dat dinge nog kan versleg voordat hulle
verbeter. En ’n hele aantal dekades is glo nodig vir die
herstelproses.
Op ’n daaglikse grondslag word die stryd steeds węreldwyd gevoer
teen CFK’s wat nog kol-kol in dinge soos verkoelingstowwe,
spuitkannetjies en skoonmaakmiddels voorkom en in die vervaardiging
van plastiekskuim gebruik kan word.
In 1994 het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies gestem
om 16 September tot “Węreld-osoondag” te verklaar, om die
ondertekening van Montreal-protokol op daardie dag in 1987 te
gedenk.
Die węreld maak erns van sy osoonprobleem—iets wat tragies genoeg
nog nie werklik van sy aardverwarmingsprobleem gesę kan word nie.
As die
osoonlaag verder verniel word… wat dan?
’N
AANTAL
van die skadelike gevolge van osoonuitwissing is reeds hierbo in die
afdeling oor die nut van die osoonlaag genoem.
Die einste osoonlaag is maar een van die baie kenmerke van planeet
Aarde wat hom totaal anders maak as enige ander hemelliggaam in ons
sonnestelsel.
Maar stel jou ons węreld voor met ’n verflenterde osoonlaag. Lyding
en armoede is aan die orde van die dag, selfs in węrelddele wat
vantevore ryk en voorspoedig was. Mense is sieklik en moes hul
werksaamhede verskuif na die nag omdat dit lewensgevaarlik is om jou
bedags buite in die son te waag. Gewasse staan petieterig en yl op
die lande en word snags geoes. Selfs vee word heeltyd in skure
aangehou en gevoer met gras wat snags van die velde afgemaai word.
Die son, eenmaal ons groot vriend en lewegewer, is nou ons
verskriklike vyand en moordenaar.
O, só ’n
osoon
darem! Ons kan eenvoudig nie daarsonder nie…
|