|
Met liefde vir Otterjasie...
|
|
OM
nog voor sonopkoms tussen modder en riete rond te plas, net in die hoop
om ’n sagte “biep-biep”-sein te hoor van ’n otter wat iewers in ’n
meer ronddryf, is nie almal se idee van pret nie. Vir
Diana Young, ’n self-erkende natuurverslaafde, verskaf dit egter
eindelose plesier. Sy kies keer op keer die douvoordag-skof om die
groototters van Groenvlei in die Goukamma Natuurreservaat buite
Sedgefield te help monitor. Hier
is twee belangrike watermassas – die Goukammarivier, wat by die see
naby Buffelsbaai uitmond, en Groenvlei, die enigste varswatermeer langs
die Tuinroete.
REGS: Die observasie van Otterjasie... vrywilligers aan die werk. Groototters
skuil gedurende die dag in digte riete. Dié waterdiere is op hul
aktiefste rondom sonopkoms en sononder wanneer hulle jag en speel. Dit wéét
Diana nou, ’n anderhalf jaar nadat sy aangesluit het by ’n groep
vrywilligers wat vir Kaapse Natuurbewaring help om ’n navorsingsprojek
voort te sit wat bydra tot die bewaring van die Tuinroete se groototters. Die
projek gebruik opsporingsappaaraat om die bewegings van dié skemerdiere
te volg, en om te help om hulle makliker te sien. Een
van haar kosbaarste herinneringe is van die oggend toe ’n otter so naby
aan die boot geswem het waarin sy en natuurbewaarder Natalie Baker gesit
het, dat sy kenmerkende wit vlekke op sy bruin pels duidelik te siene was.
“Dis soveel beter om een in lewende lywe te sien as om maar net heeltyd
na sy sein te luister,” verduidelik Diana. Dit
gee haar kans om eerstehands deel te wees van ’n bewaringsprojek. “
’n Mens se werk lewer resultate op en is nie net deel van ’n
langtermyn wetenskaplike projek nie,” glo sy. En natuurlik is daar nog
die byvoordele om bietjie voëls te kyk terwyl jy op soek is na ’n
otter-sein! Die
vrywilligers wat data insamel oor die otters se verspreiding, sosiale
patrone en dieet, wissel van afgetredenes, ’n student wat eintlik
navorsing doen oor skilpaaie, ’n avontuursportgids tot organiseerders
van ’n plaaslike buitelugmark. Groototters
(Aonyx capensis) is nie bedreigd
nie, maar word deur CITES gelys as beskermd. Hul getalle is besig om te
daal langs die Tuinroete weens die invloed van ontwikkeling en besoedeling
deur afvalwater en gifstowwe op hul habitat, bevolkingsgetalle en
verskeidenheid prooi wat beskikbaar is. Sekere boere en gemeenskappe
beskou ook die otter as ’n pes, en stel voor die voet strikke. Die
basis van Goukamma se otter-projek lê in die harde werk van ’n
vrywilliger, Brian Campbell van George, wat saam met Kaapse Natuurbewaring
se Rhett Hiseman die navorsingsprojek gemotiveer het. “Eers
wou ons net met direkte observasies inligting oor die otters insamel, maar
het gou besef die digte oewerplante maak dit eenvoudig te moeilik om altyd
naby die meer te kom om enigiets te sien,” verduidelik Hiseman. Danksy
befondsing deur Lake Pleasant Hotel en WESSA is opsporingsapparaat
aangeskaf. Miniatuur-sendertjies is verlede jaar ingeplant in twee otters,
Wesley en Otto, deur die Knysna Veeartsenykliniek.
’n Soortgelyke metode is suksesvol in Amerika gebruik. “Weens
beperkte fondse is die apparaat maar basies, maar dit help ten minste om
te weet waar die otters rondbeweeg,” sê Diana, wat soos die ander
vrywilligers opleiding ontvang het in die gebruik daarvan. Die
vrywilligers werk in pare saam en samel sowat 40 uur se data in gedurende
die dertien skofte elke maand. Hulle word bygestaan deur
natuurbewaringstudente en veldwagters van Goukamma.
’n 24-uur skof word elke drie maande gedoen. As
hulle nie rondom die meer hul datalyste aanvul wanneer hulle enige spore
of tekens van lêplekke sien nie, waak hulle geduldig in ’n
batteryaangedrewe bootjie op Groenvlei in die hoop op ’n sein of miskien
’n swemmende otter. Petrolaangedrewe vaartuie word nie op dié
sensitiewe watermassa, wat geen uitloop na die see het nie, toegelaat nie. “Die
tyd wat hulle vrywillig afstaan, is gelyk aan 140 mandae se werk jaarliks,
waarsonder ons eenvoudig nie die projek sou kon volhou om kritieke data in
te samel nie,” prys Johan Huisamen, projekleier van Kaapse
Natuurbewaring. Een
van die otters is onlangs dood aangetref.
Daarby kan die huidige projek net vir nog sowat ’n jaar
voortduur, aangesien die battery in die oorblywende otter se seintoestel
dan pap behoort te raak. Hopelik
sal nog ’n otter binnekort langs die Goukammarivier gemerk word, maar
dit is nie sommer so ’n maklike taak nie. Dis fyn beplanning om
vanghokke, personeel en veeartse bymekaar te kry – en ook om ’n otter
te oortuig om gevang te word! Volgens
Natalie weet hulle reeds baie meer oor die otters se interaksie, en waar
hul gunsteling-kuierplekke is. “Hul eetgewoontes verskil nogal van ander
groototters, want hul prooi bestaan grootliks uit vis en voëls omdat daar
nie varswaterkrappe in die meer is nie.” Uit
die studie blyk dit dat net een paar by Groenvlei bly, wat daar van tyd
tot tyd hul kleintjies grootmaak. Twee tot drie kleintjies word ná ’n
draperiode van twee maande gebore. In ideale omstandighede kan ’n
groototter tot 11 jaar oud word. Die
navorsing sal hopelik klinkklare bewys lewer van ’n ekologiese korridor
tussen Groenvlei en Ruigtevlei (ook bekend as Swartvlei), wat deur
wildsoorte soos bosbokke en otters gebruik word as ’n migrasieroete.
Hierdie “korridor” kruis die N2. “Gemeet
aan die getal diere wat gereeld hier doodgery word, het die bestaande pad
reeds ’n groot invloed op die dierepopulasie,” verduidelik Hiseman.
“Otters is net ’n deeltjie van hierdie statistiek.” Bewaringslui wil
motiveer vir die verskaffing van duikweë onderdeur die snelweg indien
planne voortgaan om dié gedeelte van die N2 tot vier verkeersbane te
verbreed. Vir
Diana sou die oprigting van waarskuwingsborde oor die ekologies sensitiewe
gebied langs die N2, reeds ’n oorwinning wees. “Dan kan motoriste hul
spoed daarby aanpas.” Tot
dan, as jy weer vroegoggend die pad tussen Sedgefield en Knysna aandurf,
kyk bietjie rond of jy nie Groenvlei se otter-tellers sien nie. En lig jou
hoed vir hulle. Vir
navrae of moontlike verdere befondsing van die projek, tree in verbinding
met Huisamen by die Goukamma Natuurreservaat by (044) 383-0042 of
goukamma@mweb.co.za |
|
Indien
jy internet-toegang het, besoek
ook die webwerf van |