|
Bome—oudste
lewende dinge op aarde
As
’n mens honderd jaar oud word, is dit ’n groot okkasie. Duisend jaar?
Totaal buite die kwessie! Tog is daar sekere lewensvorme op aarde wat
reeds met hul vierde, vyfde en selfs sewende millennium begin het...
Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie
deur Mieliestronk.com
HULLE
was al duisende jare oud toe Christus op aarde geloop het. Groot
mensefigure uit die verlede kon aan hul voete gesit het, geluister het na
hul fluisteringe in die reën en die wind, in hul skaduwees geskuil of
onder hul bedekkings geslaap het.
Hierdie
antieke wesens is natuurlik bome. Vas geanker in die grond vertel hul
verwronge en knoesterige stamme van die eeuelange aanslae deur die son en
die elemente.
In
sekere berge van Kalifornië in Amerika is daar ’n aantal
borselbol-denne wat glo reeds na aan 5000 jaar oud is.
BOONSTE
FOTO en REGS: Erg verweer deur die lange eeue van hul bestaan, maar nog
lewend—horingoue borselbol-denne in die Great Basin National Park in
Amerika.
Foto:
U.S. National Park Service
Die
grootste Italiaanse kastaiing kan tot 4000 veelbewoë jare agter hom hê.
Maar in die boswêreld in die weste van Engeland het ’n
kleinblaar-lindeboom al sy 6000ste verjaardag gevier, terwyl die gewone
taksusboom wat by Fortingall in Skotland staan ’n verstommende 9000 jaar
oud kan wees.
’n
Aantal van Europa se eerbiedwaardige olyfbome het feitlik gewis reeds
tydens Christus se aardse omwandelinge bestaan. Dit stel die geroemde
''seekat van die woestyn'',
die Welwitschia mirabilis van die Namib, wat volgens een bron ’n
geraamde leeftyd van 750 tot meer as 1000 jaar het, so ietwat in die
skadu.
 |
LINKS:
Die raaiselagtige Welwitschia mirabilis van die Namib. In
sy lang lewe ontwikkel die welwitschia slegs
twee blare, wat naderhand soos vodde om hom verstrengel lê weens
die verrinnewering deur die sand en wind.
Foto: THOMAS SCHOCH |
Navorsers
het al meer as honderd antieke boomspesies van ouer as duisend jaar gevind
en die lys raak eenvoudig al hoe langer. Hulle groei op alle vastelande
van die wêreld buiten Antarktika, en baie van hulle is maklik binne die
bereik van miljoene mense, stedelinge sowel as plattelanders.
Só
is daar duisend jaar oue bome in die Chinese hoofstad, Beijing, ander
binne vier uur se ry van Los Angeles in Amerika, nog ander aan die
buitewyke van Londen en antieke bome selfs naby die grootste stad in die
Amasone-reënwoud, Manaus.
Verblydend,
sê geleerdes wat hierdie stokou plante navors, dat daar nog soveel
beblaarde grootjies is wat deur soveel mense geniet kan word!
|
REGS:
Ook deur die reste te bestudeer van bome wat lank reeds uitgesterf het, kan ons
taamlik baie te wete kom van hoe die bome self gelyk en gegroei
het—en van die omgewing waarin hulle gefloreer het. Hier is ‘n
lugborrel wat in amber (versteende boomgom) vasgevang is. Wat meer
sê, wetenskaplikes reken daardie lug is 84 miljoen jaar
oud! Met gesofistikeerde hulpmiddels kan die geleerdes
bepaal hoe die atmosfeer daar uitgesien het toe die dinosourusse
die wêreld bewandel het. |
Lugborrel
in versteende boomgom
 |
|
Foto:
U.S. Geological Survey |
Oudste van die boom-fossiele
DIE
oergrootjie onder die bome, reken wetenskaplikes, is die sogenaamde Archaeopteris
LINKS , wat volgens hulle 370
miljoen jaar gelede die onbetwiste heerser van die plantelewe op die aarde
se twee vastelande was.
Twee
vastelande? Ja, tog. Die vyf kontinente van vandag het toe nog nie bestaan
nie, slegs die vastelande Larussia en Gondwana, wat later in vyf dele sou
verbrokkel.
Toe
afdrukke van die gefossileerde blare van dié boom in 1871 deur ene
Dawson, ’n Kanadees, ontleed is, het dit vir hom so na varings gelyk dat
hy dit Archaeopteris genoem het (uit die antieke woorde arkhaios
= baie oud en pteris = varing). Daarna is gefossileerde hout uit
dieselfde tydperk egter ook op baie plekke op die aarde gevind en
uiteindelik is vasgestel dat die ''varing'' eintlik ’n boom was.
REGS:
Archaeopteris halliana, soos uitgebeeld op ’n Kanadese seël.
En
watter enorme reuse was hierdie bome nie. Geleerdes meen hulle kon tot
dertig meter hoog word—en dat hulle in uiters digte woude voorgekom het.
Maar uiteindelik was hulle toe die slagoffers van hul eie sukses.
Hulle
sou, volgens die wetenskaplikes, soveel kooldioksied uit die atmosfeer
onttrek en soveel suurstof daaraan toegevoeg het, dat die omgekeerde van
die sogenaamde kweekhuis-effek plaasgevind het.
Pleks
van warmer te word weens te veel kooldioksied het die aarde weens te min
daarvan verkoel. ’n Gevolglike ystydperk het die einde van die
wenverhaal van die Archaeopteris beteken.
|