Ou Griekeland Ou Griekeland en Helena van Troje soos gespeel deur die beelskone Rosanna Podesta in die klassieke rolprent Helen of Troy
Wieg van die Westerse beskawing

D

IE merkwaardige Grieke van weleer... hoeveel is ons nie vandag aan hulle verskuldig nie! Hulle is die mees gevierde nasie van die Oudheid, want hul prestasies en kundighede vorm die grondslag van die Westerse beskawing.

Hierdie lewenskragtige, avontuurlike en vryheidsliewende mense, wat so uitmuntend prakties en intellektueel vernuftig was, het met hul kunswerke, argitektuur, dramas, letterkunde en filosofiese konsepte die wonderlikste fondamente geskep waarop ons vandag steeds voortbou.

Maar dit is nog lank nie al nie. Ook hooggeëerde moderne instellings, begrippe en beginsels soos die demokrasie, burgerregte en die vryheid van spraak en godsdiens het hul beslag by die ou Grieke gekry. Boonop het hulle groot ontdekkings op die gebiede van die sterrekunde, fisika, wiskunde en die geneeskunde gedoen. Die eerste eksperimentele wetenskaplikes was Grieke.

Ou Griekeland was die antieke beskawing wat om die Egeïese See tot stand gekom en regdeur die Griekse skiereiland versprei het. Op sy toppunt het dit tot by Sicilië en Italië in die weste gestrek, en deur Klein-Asië en om die Middellandse See na die ooste en suide.

Die Griekse wêreld, wat deur die Grieke Hallas genoem is, was ’n kulturele eenheid, maar was nooit staatkundig in ’n enkele onafhanklike moondheid verenig nie. Trouens, dit is eers onder ’n enkele regering gebring toe dit in die tweede eeu nC ’n deel van die Romeinse Ryk geword het.

Die Griekse beskawing het later tot stand gekom as die beskawings in die valleie van die Eufraat en die Nyl, maar vroeër as dié van Rome. Ou Griekeland se bloeityd was veral in die vyfde en vierde eeu vC, maar sy invloed het regdeur die tydperk van Romeinse oorheersing sterk gebly.


'n Kaart van Ou Griekeland met sekere belangrike plekke en streke


Hoe Ou Griekeland ontstaan het

GRIEKELAND, met sy talle hawens, baaie, golwe en eilandkettings was van die begin af ’n land van seevaarders. Die vroeë beskawing wat om die Egeïese See ontstaan het, moontlik vanweë kolonisasie deur die Feniciërs, het voordeel getrek uit kontakte met die ouer kulture van Mesopotamië en Egipte.

Minoïese en Miceense beskawings: Die eiland Kreta was die spil van die vroegste Egeïese beskawing, wat as die Minoïese beskawing bekend staan en genoem word na Minos, ’n legendariese koning van Kreta. Die Minoïese beskawing het omstreeks 2500 vC ontwikkel en teen die middel van die sestiende eeu vC die Egeïese wêreld oorheers. Sy belangrikste stad was Knossos. Die Minoërs het baie Egeïese eilande gekoloniseer en stede aan die kus van Klein-Asië en in Griekeland gestig.

Op die Griekse hoofland het ’n ander beskawing ontwikkel uit die vermenging van die plaaslike inwoners, wat volgens antieke geskrifte Pelasgers genoem is, en die Acheërs (of Achajers), stamme wat uit die noorde soontoe getrek het. Die Acheërs het die heersersklas geword waar hulle hulle ook al gevestig het. Hul vernaamste stad was Micene.

In die 1400’s vC is die Minoïese eiland Thera vernietig deur ’n vulkaniese uitbarsting wat ook groot verwoesting op Kreta aangerig het. Minoïese vlugtelinge kon toe hul hoëre kutuur na die Miceense Grieke gebring het.

Die Acheërs het tot die Indo-Europese taalfamilie behoort. In Griekeland het drie dialekte ontwikkel en die inwoners is mettertyd daarvolgens geïdentifiseer. Die Eoliërs het in Thessalië en Sentraal-Griekeland gewoon, die Ioniërs in Beosië, Attika en Eubea, en die Arkadiërs in die Peloponnesus.

Die Heroïese, of Homeriese, tydperk: Teen 1200 vC was die Grieke reeds aan die handel drywe. Een van die stede waarmee hulle sake gedoen het, was Troje (of Ilium) in Klein-Asië. Onmin het ontstaan en omstreeks 1194 vC het die Grieke Troje beleër, wat tien jaar later tot oorgawe gedwing is. Die Trojaanse Oorlog was die laaste groot veroweringsoorlog van die Miceense tydperk. Eeue later was dit die onderwerp van twee epiese gedigte, die Ilias en Odussee, wat deur Homerus geskryf sou gewees het. (Niks is bekend omtrent die persoon Homerus nie en baie geleerdes wil nie maklik glo dat ’n enkele mens die twee eposse kon geskep het nie.)  In hierdie eposse het inligting oor die helde, plekke, gebruike en gelowe van die laaste stadium van die Miceense beskawing behoue gebly.

Trojaanse perd  
  

Die Trojaanse perd

LINKS: Die Trojaanse Oorlog is lank as niks anders as ’n legende beskou nie, maar geleerdes het later op grond van argeologiese vondste aanvaar dat dit werklik gebeur het. Presies wat waar en wat verdigsel is, kan egter nie so maklik uit die behoue geskrifte afgelei word nie, want die ou Griekse oorlewerings is vermeng met die mitologie. Na wat vertel word, het die Grieke ’n manier gevind om die stad Troje binne te gaan deur ’n reuse-houtperd te bou wat hol van binne was en waarin gewapende manne weggekruip het. Die Trojane het die perd voor hul stadshek gevind en dit in die stad ingesleep. Daardie nag het die gewapende manne uit die perd geklim en die stadshek vir die res van die Grieke oopgemaak—met die gevolg dat Troje verwoes is.

Doriese verowering: Nog ’n groot golf van Indo-Europeërs het omstreeds 1100 vC in die Griekse skiereiland ingespoel. Hulle was die Doriërs, barbaarse stamlede wat alles in hul pad verwoes het. Micene is aan die brand gesteek en die laaste spore van die ou Minoïese kultuur is vernietig. Baie van die Acheïese bevolking het na die Egeïese eilande en Klein-Asië gevlug, waar hulle Griekse stede gestig het—die Eoliërs in die noordelike deel van die eilande en aan die kus, die Ioniërs in die middel. Die Doriërs self het die suide beset. Attika was die enigste deel op die hoofland wat nie deur die Doriese inval geraak is nie.

Die volgende sowat drie eeue word dikwels die Donker Eeue van Griekeland genoem. Dit was ’n tyd van oorlogvoering en omswerwinge. Daar is feitlik geen optekening van wat in hierdie tydperk gebeur het nie. Een uiters belangrike ontwikkeling was egter die invoering van die Feniciese alfabet. Die Grieke het dit verbeter en dit uiteindelik, via Rome, aan die Westerse wêreld deurgegee.

Wat ook van belang is, is dat die verskillende elemente van die bevolking geleidelik tot een nasie versmelt het. Die Grieke—of Hellene, soos hulle hulself genoem het—wat van die sewentiende eeu vC in die geskiedenis verrys het, het dieselfde taal, godsdiens en oorleweringe gehad.

Ontwikkeling van die stadstate

GRIEKELAND is ’n land van talle klein valleie. Namate stede ontwikkel het, het elkeen ’n stadstaat geword, ’n eie gemeenskap omring deur ’n beperkte hoeveelheid landbougrond binne ’n muur van berge. Onder die eerste stadstate was Athene, Korinthe, Argos, Sparta en Thebe.

Aanvanklik is ’n stadstaat deur ’n koning regeer, wat deur ’n raad bygestaan is. Teen die einde van die Griekse Donker Eeue het die monargieë meestal plek gemaak vir groepsbesture deur die aristokrasie. Soms sou een man hom die bewind toeëien en alleen heers. Hy sou bekend staan as ’n tiran, dit wil sê ’n diktator. Party tiranne was uitstekende heersers, bemind by hul onderdane.

Tydperk van kolonisasie: Die klipperige grond van Griekeland en Klein-Asië kon nie langer ’n groeiende bevolking onderhou nie. In die agtste eeu vC het die avontuurlike Grieke kolonies in nuwe, onbewoonde gebiede begin stig. Elke kolonie was onder die beskerming van ’n stadstaat, maar is toegelaat om homself te bestuur.

Griekse kolonies is in Macedonië en Thracië langs die Egeïese noordkus, om die See van Marmora en aan die suidelike oewer van die Swart See gevestig; aan die Afrika-kus in Libië; in Sicilië en Italië tot so ver noord as die Baai van Napels; en op Sardinië, Korsika en die kuste van Frankryk en Spanje.

Istanbul (wat deur die Grieke Bisantium genoem is), Ben­gasi (Berenice), Napels (Neapolis) en Marseilles (Massilia) het as Griekse kol­onies begin. Die ekonomie is dermate deur die kolonies versterk dat Griekse stede spoedig fluks aan die handel drywe was met Egipte, Fenicië, Lidië, Mesopotamië, asook met die Italiane, Etruskers, Galliërs en Iberiërs.

Ioniese kultuur. In Klein-Asië was Ionië (die streek waarin die Ioniërs hulle gevestig het) uitsonderlik goed geleë vir handelsverkeer. Die Ioniese stadstate was nie net voorspoedig nie, maar vanweë die noue kontak met hul bure is kulturele ontwikkelinge uit buurlande in die Griekse samelewing ingevoer. Dit het skrif uit Fenicië ingesluit; geldmunting uit Lidië; ’n stelsel van mate en gewigte uit Babilonië; en verbeterde metodes van metaalbewerking en weef, asook kennis van die wiskunde en sterrekunde uit Egipte.

Westerse filosofie het in Ionië begin met Thales, ’n geleerde wat in die middel van die sewende eeu vC gebore is. Belangrike vorderings in die wiskunde en sterrekunde is deur Ioniese filosowe gemaak. Kuns, beeldhouwerk en die letterkunde het floreer. In die middel van die sesde eeu is Ionië deur Croesus, die koning van Lidië, verower.

Sparta en Athene: Sparta, in die Pelo­ponnesus, was die vernaamste stad van Lakonië, waar die plaaslike bevolking deur die Doriese verowering tot slawerny verneder is. Die Spartane het hul heerskappy oor die naburige Messenië uitgebrei. Sparta het min tot die Griekse artistieke en intellektuele ontwikkeling bygedra, maar dit het die grootste en sterkste van die stadstate geword.

Trouens, die woord Spartaans beteken vandag nog ''dapper; gehard; afkerig van weelde''—eienskappe wat ’n krygsman in die streng militêre stelsel van Sparta moes kenmerk. Seuns en jong mans van sewe tot twintig is deur fisieke oefeninge hard gemaak en moes krygsdiens verrig totdat hulle sestig was. Sodoende was ’n leër van opgeleide soldate te alle tye slaggereed.

Nie-burgers in Sparta was óf perioikoi óf helote. Die perioikoi was vry manne wat, ofskoon hulle nie die regte van die burgers gehad het nie, toegelaat is om handel te dryf en in die leër te dien.

Helote was die afstammelinge van die gebied se oorspronklike bewoners. Hulle het die grond bewerk en al die swaar werk vir hul Spartaanse heersers gedoen.

Athene, die belangrikste stad van die distrik Attika, het stadig ontwikkel. Omstreeks 594 vC het die digter-soldaat Solon die magte van ’n tiran ontvang. Hy het die wette hervorm, die regte van die bevolking vergroot en ’n ekonomie gevestig wat op handel en nywerheid gegrond is.

Maatskaplike hervormings is onder die tiran Pisistratus voortgesit. Met die Ioniese kultuur as inspirasie, het die drama, digkuns en kuns begin floreer. Handel het Athene voorspoedig gemaak. ’n Stelsel van selfregering is omstreeks 507 onder Kleisthenes ingestel. Athene het die toonaangewende stad in Griekeland op die gebiede van politieke, intellektuele en artistieke ontwikkeling geword.

Die Atheense tydperk

HOEWEL die Griekse stadstate baie redes gevind het om teen mekaar oorlog te maak, het atletiek en godsdiens hulle in hul feeste verenig, soos met hul Olimpiese Spele. Buurstate sou ’n raad vorm om sulke byeenkomste te reël.

Die Persiese Oorloë (490-479 vC): In die middel van die sesde eeu vC het Cyrus die Grote van Persië vir Lidië en Ionië verower. Die opmars van sy skoonseun Darius die Grote tot in Thracië het tot die Persiese Oorloë gelei.

In hul eerste inval in Griekeland is die Perse deur die Atheners onder Miltiades by Marathon verslaan (490 vC). Omdat hy verdere konflikte verwag het, het die Atheense leier Themistocles ’n groot vloot begin opbou. ’n Tweede Persiese inval in 480 is deur Darius se seun Xerxes gelei. By die bergpas Thermopilae het ’n mag van Sparta, Thespiae en Thebe heldhaftig maar tevergeefs teen ’n groot Persiese oormag probeer weerstand bied. Die Perse het Athene ingeneem en aan die brand gesteek.

Die Griekse vloot het skuiling gesoek by die eiland Salamis, waar ’n beslissende oorwinning oor die Persiese vloot behaal is (480 vC). Die oorblywende Perse is deur die magte onder die Spartaanse bevelvoerder Pausanias en die Atheners Xanthippus en Aristides verslaan. Die geskiedkundige Herodotus het sy belangrikste werk aan ’n verslag oor die Persiese Oorloë gewy.

Perikles en die Atheense Ryk: Omstreeks 460 vC het die staatsman en redenaar Perikles die hoof van die Atheense demokratiese party geword, waarna hy dertig jaar lank prakties die heerser van Athene sou wees. Hy is by wyse van ’n volkstemming verkies en die algemene vergadering het sy wense uitgevoer. Die Atheense regering was in dié tyd ten volle demokraties, in die destydse sin van die woord. Sparta, stewig onder aristokratiese bestuur, het hierdie demokrasie as ’n bedreiging vir sy eie regeringstelsel beskou.

Athene was imperialisties en outokraties in sy buitelandse beleid. Hy het die Deliese Bond oorheers, ’n bondgenootskap van Egeïese stede wat vir hul gemeenskaplike beskerming gestig is, en die lede gedwing om heffings te betaal.

Athene het begin uitbrei—oor die see na die ooste, wat hom in botsing met Persië gebring het; en weswaarts oor land, waar hy oorhoop gelê het met Peloponnesiese Bond, wat deur Sparta gelei is. 

Lede van die Deliese Bond het gerebelleer. Daar was tallose gevegte, met Athene as die finale oorwinnaar. In 448 vC is ’n vredesverdrag met Persië onderteken en in 445 is ’n Dertigjarige Wapenstilstand met Sparta gesluit. In 443 het Perikles die Deliese Bond as die Atheense Ryk herorganiseer.

PeriklesPerikles   (LINKS)   het hom nou daarop toegespits om Athene die mooiste stad in Griekeland te maak. Die Parthenon en ander tempels is op die Akropolis opgerig. Perikles het homself met digters, beeldhouers en filosowe omring. Die drama en letterkunde het gedy. Opvoerings van die tragedies van Aeschylus, Sophokles en Euripidesis is deur feitlik die hele bevolking bygewoon.

Trouens, hierdie era is al ''die gedenkwaardigste tyd in die geskiedenis'' genoem. Só het die groot Engelse digter Shelley in elk geval die tydperk van die geboorte van Perikles tot met die dood van Aristoteles beskryf. Binne die bestek van enkele dekades het Griekeland onder die leiding van die stadstaat Athene so ’n bloeitydperk beleef dat dié periode dikwels as die Goue Eeu van die Griekse beskawing bestempel word. Soms word dit egter ook die Tydperk van Perikles genoem, na die man wat destyds oor Athene regeer en so ’n belangrike rol in die opkoms van dié stad gespeel het. ’n Mens kan sonder vrees vir teëspraak sê dat grondslag vir die Westerse beskawing in dié tyd gelê is.

Tog was die ou Griekse samelewing ook afhanklik van slawe. Party was oorlogsgevangenes en ander is weer van slawehandelaars gekoop. Die meeste van die huiswerk in die wonings van ryk Grieke is deur slawe gedoen. Slawe het ook in die silwermyne in Suid-Griekeland gewerk. ’n Paar gelukkige slawe sou lone van hul base ontvang het en kon hulself vrykoop. Ander, soos die onderwysers wat die kinders in ryk gesinne onderrig het, kon met respek behandel gewees het, maar die meeste slawe het dit waarskynlik maar bitter swaar gehad.

Ook die Goue Eeu van die ou Grieke kan dus nie werklik as ’n goue era vir menseregte in die wêreldgeskiedenis bestempel word nie. Selfs die ''demokrasie'' van weleer was geen demokrasie soos ons die begrip vandag verstaan nie, al kry ons die woord van hulle af. Trouens, ’n groot deel van die Griekse samelewing, onder wie vroue, buitelanders en slawe, kon glad nie stem nie.

Peloponnesiese Oorlog (431-404 vC): Al die belangrike Griekse stede het die uitbreiding van Athene gevrees. Athene en Korinthe het mekaar in 433 gepak. In 431 het Thebe vir Plataea probeer verower, ’n stad wat lank reeds met Athene geallieer was, en die hele Griekeland was in ’n oorlog gedompel, met Sparta as Athene se belangrikste vyand. In die eerste jaar het Athene verwoed onder Perikles geveg, maar in die tweede jaar het die pes in die stad uitgebreek en baie lewens geëis. Perikles was self ’n slagoffer.

In 421 het Nikias, ’n Atheense leier, ’n vrede beding wat bedoel was om ’n vyftig jaar lange verbond tussen Athene en Sparta te sluit. Pleks daarvan is gevegte hervat onder Alkibiades, die gewetenlose teenstander van Nikias. Athene het ’n geweldige aanval op Sicilië geloods; dit het rampspoedig geëindig. Revolusie het uitgebreek en die een regering ná die ander het die bewind oorgeneem. Persië het hierdie geleentheid benut om Sparta te help.

Hoewel die Atheners ’n paar laaste oorwinnings behaal het, is hul vloot uiteindelik verslaan en die stad beleër. Tot oorgawe uitgehonger, moes die Atheners in 404 vC oorgee. Die Athe­ense Ryk is ontbind en die seëvierende Sparta het ’n groep aristokrate, wart die Dertig Tiranne genoem is, aangestel om oor die verslane stad te heers. Sokrates, die ou filosoof, het hulle openlik trotseer. In die bitterheid van die nederlaag het die Atheners teen hom gedraai en hy is ter dood veroordeel. Thucydides, ’n Atheense generaal, het die klassieke geskiedenis van die Peloponnesiese Oorlog beskryf.

Laaste jare van Griekse onafhanklikheid

DIT het nie lank geduur voordat die demokrate in Athene die Dertig Tiranne se val bewerk het nie, en Sparta het geen verdere pogings aangewend om die Atheense regering te oorheers nie. ’n Spartaaanse veldtog teen Persië het in 387 vC geëindig met ’n vrede wat Griekeland se uitsluiting uit Klein-Asië beteken het. Sparta se tirannie op die vasteland het baie opstande veroorsaak. In 371 vC het Thebe vir Sparta by Leuctra verslaan, wat die Spartaanse oorheersing permanent beëindig het.

Thebe het toe sy mag tot in Thessalië, Macedonië en die Peloponnesus uitgebrei. Die Spartane is in 362 nogmaals verslaan by Mantinea, maar die Thebaanse generaal Epaminondas het gesneuwel en die Thebaanse heerskappy was op ’n einde.

Athene het baie van sy lewenskrag en sy handel herwin. Hoewel hy nie langer die septer op die politieke terein geswaai het nie, het hy steeds Griekeland op die gebiede van die kultuur en geleerdheid gelei. Dit was die tyd van die filosoof Plato, wie se briljantste leerling die Aristoteles was. Die historikus Xenophon, wat soos Plato ’n leerling van Sokrates was, het oor die geskiedenis van hierdie tydperk geskryf.

Voorstellings van Aristoteles, Plato en Sokrates

BO: Wyse manne van Ou Griekeland.

Dionysus die Ouere, heerser van Sirakuse, het oorlog gemaak teen die Carthagers en die beheer oor die grootste deel van Sicilië en ’n deel van Italië verkry. Sy ryk het die grootste en sterkste in Europa geword. In sy derde oorlog teen Carthago (383-378 vC) het hy baie grondgebied verloor en sy dood in 367 het die imperiale ambisies van Sirakuse beëindig.

Philippus en Alexander van Macedonië

WRYWING tussen Athene en sy bondgenote het in 357 vC begin ontwikkel. In 356 is ’n Heilige Oorlog deur die ontheiliging van die tempel by Delphi ontketen. Na die noorde was die Macedo­niërs, ’n wilde en oorlogslustige volk. Onder hul koning Philippus II, wat die troon in 359 bestyg het, het hulle Griekse kuskolonies oorgeneem en na die suide begin opruk. In 351 het die Atheeense redenaar Demosthenes sy eerste waarskuwings (genaamd Filippika) oor Philippus gerig, maar sy landgenote het nie die gevaar ingesien nie.

Persephone, godin van die lente in die Griekse mitologieIn 346 vC. het Philippus tussenbeide getree om die Heilige Oorlog te beëindig en hom van ’n setel in die Amfiktioniese Raad (’n bond van buurstate) te verseker. Die Atheense filosoof Isokrates het hom in die openbaar genooi om die hele Griekeland onder sy heerskappy te verenig. Athene en ander stede het egter saamgespan om sy opmars te probeer stuit. Die geallieerde magte is in 338 deur Philippus verslaan en die hele Griekse skiereiland is onder sy beheer gebring. Griekeland is in die Bond van Korinthe verenig en in 337 is planne beraam vir ’n veldtog teen Persië. Voordat die aanval kon plaasvind, is Philippus vermoor.

Philippus se seun Alexander (later "die Grote" genoem) het die Griekse en Macedoniese leërs in ’n massiewe oorlogsmag verenig en Klein-Asië in 334 binnegeval. In die volgende tien jaar het hy die hele Persiese ryk verower, wat lande aan die oostekant van die Middellandse See so ver as Egipte ingesluit en landwaarts so ver as Indië gestrek het. Ná Alexander se dood in 323 vC is sy ryk verdeel—maar deur sy toedoen was ’n Hellenistiese kultuur reeds regoor die oostelike Middellandse See-gebied gevestig.  

Die Hellenistiese Tydperk

ALEXANDER se ryk het drie belangrike Hellenistiese koninkryke geword—Egipte onder die Ptolemieë (323-30 vC), Sirië onder die Seleucide (312-64 vC) en Macedonië en Griekeland onder die Antigonide (306-168 vC). Die Griekse kultuur het in die nuwe Hellenistiese stede soos Antiochië in Sirië en Alexandrië in Egipte floreer.

In Griekeland self het die stede geleidelik by twee federasies ingeskakel—die Etoliese Bond in die noorde en die Acheïese Bond in die Peloponnesus. Athene, steeds die Griekse sentrum van geleerdheid, en Sparta het onafhanklik van die bonde gebly.

In Italië het Rome reeds die toonaangewende mag geword. Hy het Griekse stede op die Italiaanse hoofland verower en opgeruk om ook Sicilië in te palm. In Sirakuse het die wetenskaplike Archimedes etlike oorlogsmasjiene ter verdediging van sy stad ontwerp, maar die Romeine het dit in 212 vC ingeneem. Rome was nie gretig om Griekeland te annekseer nie, maar ná vier oorloë wat deur twiste tussen Griekeland en Macedonië veroorsaak is, is die twee lande in 146 vC tot Romeinse provinsies verklaar.

Griekeland onder die Romeinse Ryk

KORINTHE is in 146 vC in die finale veldtog van Romeinse verowering verwoes en Thebe se grondgebiede is gekonfiskeer. Athene en Sparta is egter onafhanklik gelaat. Vir die Romeine was Athene steeds die sentrum van geleerdheid en kultuur. Die Romeine het die Griekse leiding in intellektuele en artistieke aangeleenthede erken en op prys gestel. Griekse slawe is as onderwysers gebruik, terwyl die Romeinse adel die Griekse filosofie gretig aanvaar het.

In die eerste eeu vC het die Parthiese koning Mithridates VI die grootste deel van Klein-Asië van Romeinse beheer bevry en Griekeland aangemoedig om te rebelleer. Die Romeinse generaal Sulla het Athene in 86 vC verower en die vrede in die res van die land herstel. Rome, wat toe in sy tydvak van ryksopbou was, het steeds ooswaarts opgeruk en spoedig die hele Hellenistiese wêreld besit.

Vir die eerste keer in sy geskiedenis het vrede nou in Griekeland geheers. Die land, verniel en verarmd, is stadig deur die Romeine opgebou. Die Griekse stede in Klein-Asië het hul voorspoed veel vinniger herwin. In 286 nC het keiser Diocletianus die Romeinse Ryk vir administratiewe doeleindes in twee dele verdeel. Griekeland was in die oostelike deel, wat later as die Bisantynse Ryk bekend gestaan het.

Hoofbron vir teks: New Standard Encyclopedia
  

Moderne Griekeland
  
BO en REGS: Die rustige moderne Griekse dorpies rep, oppervlakkig beskou, weinig van die land se onstuimige verlede. Maar by die ruïnes van vergange eeue kan 'n mens jou maklik verbeel dat jy steeds die skimme van 'n roemryke tyd sien rondwaal.
 
Foto regs: FREEPHOTO
Moderne Griekeland

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad