Ons
varswater-palings
Teks en grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com |
||||||||
|
Die lewensiklus van varswater-palings
|
||||||||
ANDAG
klink dit vir ons lagwekkend, indien nie verspot nie—al die
wolhaarstories en teorieë wat in die gryse verlede oor
varswater-palings
versin is. Daar
was byvoorbeeld ’n tyd toe party Europeërs geglo het dat ’n mens
feetjies sou sien as jy paling-olie aan jou vel smeer! Maar
dit was veral die herkoms van hierdie slangagtige visse wat baie mense
dronkgeslaan het. Hulle slinger, glip en glimmer ewe lustig in die
riviere rond, dog niemand het nog ooit paling-eiers of -larwes in rivierwater
gesien nie. Hulle bring beslis ook nie hul kleintjies lewend in die węreld
nie. Nugter weet hoe hierdie palings aanteel, het die ou mense stellig gesę. Sekere
antieke Grieke het wel die raaisel probeer verklaar deur aan te voer dat
baba-palings deur spontane generasie tot stand kom. Dit beteken dat
hulle sommerso van niewers en nęrens af, heeltemal uit die niet in die
węreld verskyn. Daarteenoor het die Griekse filosoof Aristoteles darem
gemeen dat hulle uit die stof van die aarde ontstaan. En die Romeinse
natuurkundige Plinius die Ouere het met ’n effens geloofwaardiger
teorie beweer dat hulle ontwikkel uit stukkies paling wat wegbrokkel
wanneer hierdie visse hul lywe teen rotse skuur. In
die Middeleeue het die mites selfs meer fantasties geraak. Daar
was die amusante geloof dat lewende
klein palinkies sou uitswel uit perdehare wat
per ongeluk in varswater beland het. Eers is die embrionale klein
palinkie pure perd, kan ’n mens omtrent van hierdie fantastiese proses
sę—en as hy daarna begin kriewel, is hy so fris soos ’n vis in die
water! Tot
uit vlokkies afgedopte mensevel en die dou op die gras sou palings te
voorskyn kom, is geglo. Die
onkunde het voortgeduur selfs nadat sekere eienaardige klein vissies in
die see mettertyd die aandag van wetenskaplikes begin trek het. Sulke
vissies word Leptocephali genoem, waarvan die enkelvoud—Leptocephalus—letterlik
as “kleinkop” vertaal kan word. Hulle is platterig aan die bokant en
lyk soos langwerpige blare, kan glad nie swem nie en word deur die seestrome
meegevoer. Navorsers het hulle oral in die see gevind en aanvanklik
gedink dat hulle met ’n soort seevissie te make het. Maar
uiteindelik is deur navorsing agtergekom dat Leptocephali eintlik
palinglarwes is... dat die varswater-palings ęrens in die see uitbroei,
later in riviere opswem en naderhand terugkeer na die see, waar hulle
’n nuwe geslag palinkies sal genereer. Dan begin die kringloop opnuut. Dit
was die Deense geleerde Johannes Schmidt wat in 1922 beroemdheid verwerf
het deurdat hy die presiese teelgebied van die varswater-palings van Europa en Amerika opgespoor het. Hy het die palinglarwes oor die
Noord-Atlantiese Oseaan gevolg en gevind dat hulle al hoe kleiner (en
dus jonger) word in die rigting van ’n seegebied naby Bermuda.
Terloops, Bermuda
bestaan uit meer as 150 eilandjies en is sedert 1968 ’n selfregerende
gebied van Brittanje. Die eilandgroep lę nagenoeg 1000 km van die
suidooskus van die Verenigde State van Amerika.
Maar
die varswater-palings van Suidelike Afrika dan? Hoe teel hulle aan?
Beweeg
hulle ook in ’n soort sprokiesbestaan van en na die riviere en ęrens
in die oseaan? En, indien wel, waar is ons plaaslike spesies se eie “Sargasso-see?” Wáár, inderdaad. Baie Suid-Afrikaners sal mos ook wil weet, het Mieliestronk.com gereken—en toe gaan lig opsteek by dr. Jim Cambray van die Albany-museum in Grahamstad. By hom het ons die interessantste inligting oor ons eie glibberige riviergedaantes gekry. Hy is ’n veel gerekende viskenner wat reeds baie jare lank besig is om ons varswater-visse te bestudeer.
DR. CAMBRAY vertel dat hy in die loop van sy omvangryke navorsing al gereeld met boere kennis gemaak het wat nooit geweet het dat die jong elwers en groot palings in hul riviere nie in die riviere self uitbroei nie, maar in der waarheid in die see. Dan is hulle baie verbaas as hulle verneem dat die teelgebied van ons varswater-palings in werklikheid in die westelike Indiese Oseaan oos van Madagaskar lę!
Die
wanopvattings oor die lewensloop van die varswater-palings van ons eie węrelddeel
het dr. Cambray genoop om ’n opvoedkundige boekie daaroor te skryf.
Die naam van die boekie is Slippa and Slippery—The adventures of
two freshwater eels on the long swim to survival (onderaan
hierdie artikel word vertel hoe dit bestel
kan word *). In
die boekie vertel ’n pa op ’n kampeeruitstappie vir sy kinders die
lewensverhaal van twee palings, Slippery en sy suster Slippa... al hul
avonture vandat hulle anderkant Madagaskar uit hul eiers gebroei
het. Die lesers deel onder meer in hul interessante jare in ’n
groot kuil in die Kowierivier by Port Alfred tot by die terugkeer na die
diepsee om aan te teel. Talle
illustrasies, asook speletjies en pret om die inligting oor palings
verder by jong kinders in te skerp, maak die werkie ’n wenner sover
dit baie bekostigbare opvoedkundige boekies aangaan—die prys is ’n
skamele R10 plus posgeld. DIE
leser van dr. Cambray se boekie leer op ’n boeiende manier dat daar sestien
spesies varswater-palings is wat in verskeie oseaankomme gevind word
en dat hulle almal tot die genus Anguilla in die familie
Anguillidae behoort. Die letterlik honderde ander palingspesies (of ale)
wat heeltyd in die see woon, moet nie met die varswater-palings verwar
word nie. Daar is vier varswater-spesies in Suidelike Afrika, te wete die geelbek-paling (Anguilla mossambica), kortvinpaling (Anguilla bicolor bicolor), Afrika-bontpaling (Anguilla bengalensis labiata) en Madagaskar-bontpaling (Anguilla marmorata).
In
die maande Desember en Januarie broei die blaar-agtige palinglarwes (leptocephali)
uit in die see oos van Madagaskar en die ooskus van Afrika. Die
jong palinkies word daarna deur die Agulhasstroom teen die suidooskus
van Afrika afgevoer. Namate die leptocephali nader aan die vasteland kom, verander hulle (ondergaan hulle ’n metamorfose) en word glaspalings. Hulle lyk nou soos kort deursigtige repies spaghetti.
Glaspalings
bereik die kuswaters in die ooste en suide van ons węrelddeel, en die varswater
wat uit ons riviere vloei, is die sneller wat hulle in die
varswater-omgewing laat inbeweeg.
Jaarliks
in Januarie en Februarie beweeg hulle dan ook die mondings binne. Die jong palings het nou ontwikkel tot sogenaamde elwers. Hulle begin die moeisame tog stroom op in die rivier, waarin die soutwater gaandeweg varser word en hulle met beperkings te kampe kry wat nooit in die wye, vrye oseaan bestaan nie. Gelukkig vir hulle kan die elwers egter teen loodregte mure van klip of beton uitklouter, mits dit nat is. Wanneer hulle ’n lengte van sowat 18 cm bereik, vind hulle dit wel moeilik om oor sekere versperrings, soos steil watervalle, te kom. Bewaringsbewustes sorg inmiddels ook vir hulpmiddels soos sogenaamde “visweë” of “vislere” by keerwalle, sodat palings en ander visse trapsgewys oor die keerwalle kan spring. Die
palings maak hulle uiteindelik vir ’n lang verblyf tuis in byvoorbeeld
’n kuil in die rivierwater. Die mannetjies bly dan agt tot tien jaar
lank in die varswater, terwyl die wyfies vyftien tot twintig jaar daarin
vertoef. Wanneer
die palinkies klein is, vreet hulle insekte soos swartvlieglarwes en
klein ongewerwelde waterdiertjies. Op die volwassenes se spyskaart is
krappe, paddas en visse. Palingwyfies
is gewoonlik groter as die mannetjies en die verskil kan aanmerklik
wees. Só kan die wyfies van die Afrika-bontpaling ’n massa van tot 21
kg bereik, terwyl die mannetjies sleg afsteek met ’n maksimum-massa
van omtrent 2 kg. Maar
die oorlewing van die spesie verg oplaas dat die palings weer moet verhuis.
Sodra hulle volwasse begin raak, trek hulle uit die varswater-stelsels
terug see toe, swem honderde kilometers terug na waar hulle vandaan
gekom het, teel in die diepsee aan en keer nie weer na die varswater
terug nie. Wanneer
hulle volwassenes word, verander die palings ook van voorkoms: hulle kry
’n silweragtige kleur, hul oë word groter, hul geslagorgane (gonades)
vergroot en uiteindelik degenereer hul spysverteringstelsel. En
wanneer ’n nuwe geslag verwek is, is hul taak uitgedien. Die palings
gaan dood. Maar lank lewe die nuwe Leptocephali. Ja
werklik, só gebeur daar baiemaal wonders reg onder ons neus in die
natuur sonder dat ons die vaagste benul het wat inderdaad daar
plaasvind, soos een geleerde dit stel. Wie weet hoe ons nog verder
verras gaan word, soos deur dr. Cambray se fassinerende
navorsingsresultate oor ons eie varswater-palings… Naskrif:
Varswater-palings doen dinge net mooi andersom as die
Atlantiese salms, waarvan in ’n ander artikel op die
Mieliestronk-werf vertel word. Salms
gaan van die see af na die riviere om aan te teel, maar palings van die
riviere af na die see toe. |
||||||||
|
*
)
Die opvoedkundige boekie Slippa and Slippery—The adventures of
two freshwater eels on the long swim to survival
kan bestel word van die Albany-museum in Grahamstad teen slegs
R10 plus posgeld. Tree in verbinding met: J.Cambray@ru.ac.za
; of
telefoneer Pat Black by |
||||||||