|
Geurige
verhaal van die wêreld se eksotiese reukwaters Die
romantiek van
Foto: U.S. Library of Congress
Dis gewyde wierook, misterieuse mirre, soet jasmyn, die muskusgeur van rose, die speserye van die woestyn, die welriekendheid van die veld... Dit is die geurige rook van Middeleeuse kloosters en van gedrapeerde harems, die reuk van kosbare olies wat die skouers van die hofdames gestreel het en in antieke grafkelders oor die dooies gesprinkel is. Dit is ’n gawe vir die sinne, ’n herwonne herinnering. Dit is parfuum...
Foto: Kopiereg © www.free-images.dot.org.uk Skakel na webwerf vereis
Teks deels uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com
IE
Afrikaanse digter D.J. Opperman het sy nooi in die nartjiegeur gevind,
maar ook antieke geskrifte is vol verwysings na geure en parfuum. Van die
Bybel tot Shakespeare, in Latyn, Arabies en die hiërogliewe van Egipte...
sedert vervloë tye het mense geurige olies en velverfrissers in
godsdienstige rituele en vir skoonheid gebruik. Trouens,
lank voordat hulle parfuum kon maak, is primitiewe mense deur geure
geboei; hulle het geglo dat daar in blomme se welriekendheid die een of
ander natuurgod skuil. Van
die heel eerste parfuums is in Indië en Egipte gemaak—as offerreukwerk
of om lyke te balsem ten einde hulle voor te berei vir hul “reis” na
die hiernamaals. (Die woord parfuum kom van die Latynse woorde per
fumum, wat in der waarheid “deur rook” beteken.) Potte
waardevolle olies wat omstreeks 1350 vC in die jeugdige farao Toetankamen
se grafkelder verseël is, was steeds geurig toe dit in 1922 oopgemaak is. Die kuns van parfuumvervaardiging is deur die kruisvaarders na Europa gebring en eers in Italië en toe in Frankryk ontwikkel, wat vandag steeds die parfuumsentrum van die wêreld is. In daardie dae van primitiewe higiëne en twyfelagtige sanitêre gewoontes het ryk dames reukwaters gebruik om onaangename liggaamsreuke te verbloem en die lug te versoet in bedompige kamers wat van die vlooie gewemel het.
Foto: rootgrafix.com (PD) Maar
teen die sewentiende eeu het parfuum ’n hulpmiddel by hofmakery en ’n
modebykomstigheid geword. Sy moderne geskiedenis begin omstreeks dié tyd,
in die Franse dorp Grasse, waar landerye vol laventel en jasmyn vandag nog
gekweek word om in baie van die wêreld se beroemdste geure gebruik te
word.
Die
waardevolste parfuums bevat steeds kosbare natuurlike bestanddele:
damasrose van Indië, Persië, Frankryk, Bulgarye en die Balkanstate;
bergamot van Italië; iriswortels—teen duisende rande per 500.g—van
Marokko. Vandag
is parfuumvervaardiging ’n reuse-bedryf met verbete mededinging, veral
sedert die ontstaan van die groot Amerikaanse vervaardigers. Baie van die
voorste modeontwerpers het hul eie parfuums, wat oorspronklik as geskenke
vir klante gemaak is: die geure van Chanel, Dior, Yves St. Laurent,
Benetton, Gucci and Hermés is almal topverkopers. Die juweliersfima
Cartier het ook sy eie pafuum—selfs die sigaarmakers Davidhoff en
Dunhill. Vandag se vroue—en mans—dra daagliks hul parfuums, nie net by spesiale geleenthede nie, en miljarde rande word jaarliks oor die wêreld heen daaraan bestee.
Hoe
reukwerk gemaak word
WELRIEKENDE plante het piepklein sakkies met sogenaamde eteriese olies daarin—vlugtige bestanddele met ’n aangename geur. Dié sakkies kan in die hele plant voorkom, soos by laventel en malvas, in die blom, soos by jasmyn en rose, in die saadhulsels van vanielje, in die skil van lemoene en suurlemoene, in die bas van kaneel, of in botsels, hout of blare.
Slegs
sowat 2000 van die 250.000
bekende soorte blomplante bevat eteriese olies. Dit is dié stowwe wat
parfumeurs—mense wat reukwerk maak—in hul produkte gebruik. Parfumeurs
moet ’n lang kursus volg in die kuns om te ruik. Duur
lyfparfuum bevat die olies van skaars blomme, terwyl seep en
reukweermiddels goedkoper geure bevat. Die meeste soorte parfuum is
mengsels van plantekstrakte, dierlike stowwe, alkohol, water en sintetiese
reukwerk. Geurolie word meestal uit plante onttrek deur middel van stoom-distillasie (waar stoom deur die plantemateriaal gestuur word); die kook van blomblare in water; die behandeling van blomblare met ’n stof wat die ander bestanddele oplos; en ’n metode waar vet gebruik word om olie uit die blomblare te absorbeer.
Dieremateriaal
is lank in parfuums gebruik om die verdamping van eteriese olies te
vertraag en om seker te maak die geur hou lank nadat die flessie oopgemaak
is. Onder
die dierlike stowwe is muskus van die muskushert-ram van Tibet en China;
sivet van Afrika se sivetkat, wat wild voorkom, maar meestal
in gevangenskap in Ethiopië geteel word; en ambergrys uit die ingewande
van die potvis (’n walvissoort). Dierlike bestanddele is reeds tot groot hoogte deur sintetiese stowwe vervang weens heftige besware deur bewaringsbewustes. Trouens, die meeste bestanddele van vandag se reukwerk is sinteties.
Hoe jy ruik en die belangrikheid van reuk in die natuur
GEURMOLEKULES beweeg deur die neus via reseptore na die olfaktoriese bol, van waar die inligting na die brein gestuur word. Só gestel, klink dit nie te ingewikkeld nie, maar geleerdes het al vasgestel dat selfs die beweging van die lug deur die menslike neus ingewikkelder is as die lugbeweging oor die vlerk van ’n groot straalvliegtuig!
Die reuksintuig is nie net vir ons belangrik nie, maar vir baie soogdiere. Vir party van hulle is dit selfs belangriker as die vermoë om te sien en te hoor en vir baie is dit min of meer ewe belangrik as die sintuie van sig en gehoor.
Reuk kan nie inligting oor die rigting van ’n voorwerp so presies oordra soos gehoor en sig nie, maar dit het die voordeel dat dit inligting oor ’n tydsverloop kan oorbring. Jy sien en hoor nagenoeg dadelik, maar jy gewaar byvoorbeeld ’n minder aangename “krakie” in die lug nog ’n hele rukkie nadat jou buurt se smerigste teertou by jou verbygedrentel het!
En ’n dier wat sy gebied met sy reuk afbaken, verstrek inligting oor homself aan ander diere wat waargeneem kan word lank nadat hy sy “stank” aan bome en ander dinge “afgesmeer” het. |
|||