|
Die
stryd teen die bose mikrobes—en die belangrike bydraes van Jenner,
Pasteur, Koch en Lister Hoe
om ’n kiem in die kiem te smoor...
|
||||||
Y
kan jou feitlik geen plek op aarde voorstel waar jy nie kieme sal vind
nie. Hulle is oral om, op en in ons. Van altwee die poolstreke af
regdeur tot op ons velle en in ons monde woel en krioel hulle onsigbaar
in hul totaal ontelbare hordes. Trouens, ons loop, eet, slaap en haal
gedurig asem in ’n atmosfeer van kieme. Hoekom is ek en jy dan nie die
hele tyd so siek soos, wel, daardie spreekwoordelike hond nie? Hiervoor
moet ons baie, baie dankie sê vir die natuurlike weerstand van ons
liggame. ’n Gesonde liggaam is dus die beste teenmiddel teen kieme.
Die bose mikrobes kan slegs kwaad doen as hulle die liggaamsweefsels
ongehinderd kan binnedring. Die gesonde liggaam laat dit eenvoudig nie
toe nie. Die
oomblik wanneer kieme êrens in die weefsels van die liggaam beland, sê
maar deur ’n oop wondjie, word die "soldate" van die liggaam
summier ontbied. Hierdie
gedugte bewakers is ons wit bloedliggaampies of wit bloedselle. Hulle
storm op die indringende kieme af, verlam hulle met ’n rare gif,
omsingel hulle en vreet hulle heelhuids op, dood of lewend. Dit gebeur
in elke wondjie wat ons het, sonder dat ons eens daarvan weet of miskien
ooit daaraan dink. Die
rooi kleur wat ’n mens om ’n wond sien, kan grafies beskryf word as
die brande wat woed op die slagveld waar die kieme en die wit bloedselle
mekaar verbete aanvat. Dit word inflammasie genoem. Hoe
die geveg gaan verloop en wat die uiteinde sal wees, hang enersyds af
van die spesifieke stoffasie van die invalsmag, maar ook van hul
getalsterkte en natuurlik van die weefsels se vermoë om weerstand te
bied. Hierdie weerstandsvermoë hang weer heeltemal af van hoe gesond
die liggaam is. Indien
daar verwoed gebaklei word (as die inflammasie hewig is), dan is die
wond baie rooi en geswel. Sou die wit selle wen, vorm daar ’n sweer,
en die etter van die sweer is dan doodeenvoudig die lyke van die
verslane vyand. As
die kieme die oorhand het, sien ons sulke lang, rooi strepe waar hulle
die weefsels binnemarsjeer. Dit word bloedvergiftiging genoem en is baie
gevaarlik vir die liggaam. Gelukkig
vir ons beskik ons liggaam darem nog oor ’n paar forte wat die
invalsmag kan keer. Dit is die kliere, wat die gif opvang en voorkeer en
in die proses opswel en pynlik word. As die vyand egter hierdie laaste
skans kan oorsteek, of indien die kieme sommer direk in die bloedstroom
beland, word akute bloedvergifting ondervind, wat uiters gevaarlik is. AS
só ’n vergifting nou by elke wond kan plaasvind, sal die dokters
natuurlik altyd te bang wees om te opereer. En dis presies wat tot so
onlangs as in die negentiende eeu nog gebeur het—voordat die mens
agtergekom het dat daar iets soos kieme is en hoe om hierdie piepklein
booswigte kort te vat. Die
Europa van vroeër was allermins ’n sindelike wêrelddeel. Honderde
jare lank het dorpenaars hul vullis in die strate gegooi en hul
kamerpotte se inhoud by die vensters uitgesmyt. Die
strate het van die kante af binnetoe ingeduik om ’n sloot in die
middel te vorm sodat die reën die vullis en riool kon wegspoel. Die
straatvore het dikwels verstop geraak en ’n teelaarde vir peste
geword. Party
huise het groot kelders of sogenaamde vuilputte onder hul vloere gehad,
waarin mense hul afval gegooi het. In ander was die vloer eenvoudig die
toilet. Vee
en troeteldiere het die strate nog verder bevuil. Rotte het hul pad tot
in die houthuise ingeknaag. Allerhande goggas het in die mense se
beddens, klere en selfs in hul pruike gewoon. Dit
was ’n geil teelaarde vir die boosaardigste mikrobes, maar die mense
het geen benul gehad dat so iets soos kieme eens bestaan nie. Selfs die
verband tussen sindelikheid en gesondheid is eenvoudig nie begryp nie. DIE
geleerde wat die eerste keer die kiemewêreld vir ons blootgelê en ontdek
het dat inflammasies
en siektes deur sulke kwaadaardige mikro-organismes veroorsaak word, was
die Fransman Louis Pasteur (1822-1895).
Pasteur
het nie net die gevaarlike kieme ontdek wat hondsdolheid en miltvuur
veroorsaak nie, maar terselfdertyd ’n middel daarteen uitgevind. En dis
miskien meer vir die ontdekking van die teenmiddels as vir die ontdekking
van die kiem dat ons Pasteur vandag moet bedank. (Hy het boonop ook die
proses van pasteurasie uitgevind.) Edward
Jenner (1749-1823), ’n dokter van Engeland, het reeds die weg vir
Pasteur gebaan deur die tegniek van inenting teen die gevreesde pokke uit
te vind. Voor
Jenner se tyd het sestien mense uit elke 2.000
van die bevolking aan pokke beswyk. Ná inenting het slegs sestien per
miljoen weens dié siekte gesterf. Jenner
het naamlik by ’n melkmeisie gehoor dat sy nie bang was dat sy pokke sou
opdoen nie, omdat sy reeds koeipokkies gehad het. Dit het hom aan die dink
gesit. Ná 25 jaar se navorsing en proewe het hy uiteindelik in 1796 etter
geneem uit die hand van ’n melkmeisie wat met koeipokkies besmet geraak
het en dit op die arm van ’n agtjarige seun geënt. Twee maande later het Jenner die seun met regte pokke besmet. Die seun het glad nie siek geword nie. Jenner se naam is verewig as die man wat die wêreld verlos het van een van die aakligste siektes wat ooit bestaan het. Hy word ook beskou as die man wat die fondament gelê het vir die immunologie (die wetenskap van die onvatbaarbaarheid vir aansteeklike siektes).
MAAR
Frankryk se Pasteur het nog ’n stap verder gegaan as Engeland se Jenner.
Hy het bewys dat, deur mense met verswakte kieme in te ent, hulle teen
siektes beskerm kan word. Die groei van die ent is die reaksie teen die
verswakte kiem. Daarmee bou die liggaam ’n teëgif op, wat die persoon
red as hy later werklik deur die gevreesde siekte aangetas word. Pasteur
het met uitgebreide toetse bewys dat die gevaarlike werking van ’n kiem
verminder kan word deur die kiem byvoorbeeld te verwaarloos, dit wil sê
honger te laat ly. Word hierdie verswakte kieme in die mens gespuit, kan
die teëgif wat in die liggaam gevorm word maklik die verswakte kiem
oorwin. Hierdie teëgif bly soms lank in die liggaam en kan dit jare lank
beskerm teen moontlike aanvalle deur dieselfde soort kiem. Só iemand is
dan onvatbaar of immuun vir daardie soort siekte. Pasteur
was egter lank nie die enigste geleerde wat hom om die gebied van
kiembestryding sou onderskei nie. In sy tyd was daar ook ’n ander,
jonger dokter wat deur ’n mikroskoop na die kieme van die onsigbare wêreld
sit en tuur het: die onbekende en baie bedeesde Duitser Robert Koch (1843-1910). Onbekend
en bedees ofte nie, Koch sou later die Nobelprys verower en is vandag
steeds ’n wêreldnaam, want dit is hy wat die kiem van die gevreesde
tuberkulose (tering) ontdek het, asook dié van die nog gevaarliker
cholera.
Koch
het in 1876 die kommavormige cholera-verwekker Vibrio cholerae
onder sy mikroskoop ontdek. Oor die siekte cholera word op ’n ander
webbladsy meer vertel (klik hier vir artikel). Die
eerste deurbraak in die stryd teen tering het sowat ses jaar later, in 1882,
gekom. Ná 270 mislukte pogings het Koch eindelik daarin geslaag het om
die basil wat tuberkulose veroorsaak onder die mikroskoop uit te ken. Die Mycobacterium
tuberculosis is staafvormig en net drie duisendstes van ’n
millimeter lank. Dit sou voortaan moontlik wees om vas te stel wie die
siekte ronddra deur speeksel te ontleed. Deur sulke mense te isoleer, kan
tering in ’n sekere mate bekamp word. ’n
Halfeeu nadat Robert Koch die teringkiem ontdek het, is ’n spesifieke
teenmiddel daarteen ontwikkel. Ene Charles Albert Calmette en Camille Guérin
het wel reeds vroeër daarin geslaag om ’n entstof teen tering by
grootvee te ontwikkel en daar is ernstig gewonder of hul entstof miskien
ook mense sou kon beskerm. Op
21 Julie 1921 het Calmette uiteindelik die waagstuk aangegaan deur ’n
baba in Parys in te ent van wie die ma en die ouma aansteeklike tering
gehad het. Ses maande later was die baba steeds blakend gesond. Die
entstofbevattende verswakte teringkieme (tuberkulien) het bekend geword as
BCG (Basil van Calmette en Guérin). Die
immunisering van babas teen tering is vandag verpligtend in die meeste
ontwikkelde lande asook in Suid-Afrika. MAAR
om terug te keer tot die negentiende eeu en die ontwikkeling van reinheid
in die geneeskunde. Louis Pasteur
se werk in verband met kiemverspreiding het ook die aandag van die groot
Engelse snydokter Joseph
Lister
(1827-1912)
getrek.
Lister
het goed geweet watter kwaad kieme in operasiewonde kan doen. As ’n mens
net die kieme uit die wonde kan hou, het hy geredeneer, sal inflammasie
uitgeskakel wees. Karbolvloeistof was destyds die beste
ontsmettingsmiddel, en Lister het besluit om sy operasiekamer gedurig met
karbol te bespuit. In
hierdie karbol-misreën het hy probeer opereer. Partykeer het hy en sy
assistente half verstik, en dan moes hulle maar na ’n kamer langsaan
vlug om weer asem te skep. Dokter sowel as pasiënt het soms
karbolvergiftiging gekry, sodat Lister se plan gestaak moes word. Tog
is sy werk van die grootste belang. Hy het meer mense met operasies gered
as wat ooit voorheen moontlik was. Lister word beskou as die vader van die
moderne reinheid in die operasiesaal. Vandag
word ’n ander metode gevolg, wat asepsis (kiemvryheid) genoem word. Dit
behels dat alles wat met die operasiewond in aanraking kom—hande,
instrumente, verbande—kiemvry gemaak moet word. Sodoende sal daar geen
kieme wees om te beveg nie en is geen karbolgasse meer nodig nie. Hoofbron
vir teks:
Afrikaanse Kinderensiklopedie
BO:
Reinheid in die geneeskunde en veilige chirurgie... Foto: US National Library of Medicine / PD |
||||||