|
|
T |
WEE
keer het dit die Amerikaners tot verbystering geskok. Twee maal het ’n
pendeltuig, die trots van hul ruimteprogram, in ’n
skrikwekkende doodsvaart saam met al sewe sy bemanningslede doer bo in die
atmosfeer vergaan.
Maar
dit mag nie weer gebeur nie, só glo hulle. Nooit weer nie. Daarom dat die
Amerikaners deesdae so oorversigtig is en geen nuwe pendelvlug wil onderneem
wat nie aan alle moontlike veiligheidstandaarde voldoen nie.
REGS:
10-9-8-7-6-5-4-3-2-1... daar trek hy op pad na die ruimte! Die pendeltuig
Discovery dertig sekondes ná ’n lansering.
Foto: NASA
Die Amerikaanse Ruimteagentskap NASA is nie verniet in ’n verslag oor die ruimteramp van 2003 kwaai geroskam omdat hy te laks met sy veiligheidsmaatreëls was nie.
Dié
pendelongeluk het op 1 Februarie 2003 gebeur toe die oudste strydros in
die Amerikaanse pendel-stal, die meer as twintig jaar oue Columbia, op sy
28ste sending dramaties tussen hemel en aarde verbrokkel het. Dit was met
sy terugkeer van die Internasionale Ruimtestasie, toe hy weer die
atmosfeer binnegekom het.
Vlugbeheerders
van die Amerikaanse ruimteagentskap NASA het kontak met die Columbia
verloor terwyl hy teen nagenoeg 20 000 km/h sowat 70 kilometer bokant
Texas gevlieg het.
Sewe
bemanningslede het die ewigheid ingeskiet toe die Columbia gedisintegreer
het, en alle vlugte met die oorblywende drie pendeltuie is daarna summier
opgeskort. Vlugte sou eers
hervat kon word nadat duidelik vasgestel is wat met die Columbia verkeerd
gegaan het.
Die rampspoedige fout met die Columbia—só het dit geblyk—was dat ’n brokstuk isoleringskuim so groot soos ’n aktetas van die buitetenk afgebreek en ’n gat in voorste rand van die pendeltuig se linkervlerk geruk het. Die intense hitte wat met die inkomslag opgewek is, het die beskadigde vlerk verswak en die pendeltuig het verbrokkel.
Meer as
anderhalf dekade tevore, in 1986, het die ander ongelukstuig, die
Challenger, wat ook die eerste skooljuffrou sou saamneem ruimte toe, met
sy sewe insittendes in ’n seekat-agtige rookwolk ontplof—’n skamele
73 sekondes ná die lansering.
REGS:
Die dramatiese, wêreldskokkende einde van die Challenger in 1986.
Later sou ’n foutiewe sluitring die skuld vir die ontploffing kry. Die fout met die ring het tot ’n reeks dinge gelei wat die vloeibare waterstof en vloeibare suurstof in die Challenger se buitetenk uiteindelik met katastrofale gevolge laat meng het.
"Ons
treur oor sewe helde," het pres. Ronald Reagan destyds aan die
verpletterde Amerikaanse nasie en ’n geskokte wêreld gesê.
En
die Columbia-ramp van 2003 het meelewende mense wêreldwyd opnuut
droefgeestig gestem. Ook sy sewe gestorwe bemanningslede was helde in
diens van die wetenskap en tegnologie.
Die
pendelvloot van Amerika
AMERIKA
het sy pendeltuie in die 1970’s begin ontwerp nadat sy hoogs suksesvolle
Apollo-sendings ’n hele aantal mense op die maan geplaas en hulle veilig
teruggebring het aarde toe. Maar ruimtesendings is bitter duur en nadat
’n ruimtetuig gelanseer is en weer geland het, was die landingskapsule
vir niks meer bruikbaar as om, sê maar, in ’n museum bewaar te word
nie.
Gevolglik
het die klem verskuif na die goedkoper alternatief van ruimtetuie wat oor
en oor gebruik kan word—ruimtetuie wat met vuurpylkrag in die ruimte
geplaas word maar dan soos vliegtuie kan land, tuie wat tot honderd sulke
ruimtesendings kan onderneem, maar slegs geringe onderhoud nodig het.
En
só het die era van die sogenaamde "shuttles'' of pendeltuie begin.
Die
wenteltuie van die pendelprojek sou dan soos vliegtuie lyk, maar eintlik
tog heeltemal anders werk. Die tuig verlaat die aarde in ’n horisontale
posisie, vasgeheg aan lanseervuurpyle en ’n enorme brandstoftenk wat hom
help om in ’n wentelbaan om die aarde te kom, maar hierdie aanhangsels
word almal in die loop van die vlug van hom afgewerp. Aan die einde van
die sending keer die wenteltuig na die aarde terug in ’n horisontale
posisie soortgelyk aan dié van ’n vliegtuig, dog in der waarheid land
hy soos ’n sweeftuig op ’n konvensionele aanloopbaan sonder om
enige enjinkrag te gebruik.
Die
Columbia wat, soos ons gesê het, die eerste pendeltuig was, is in 1981
gelanseer. ’n Jaar later het die Challenger die tweede lid van die VSA
se pendelvloot geword. Hulle is in 1983 deur die Discovery gevolg en in
1985 deur die Atlantis.
Die
Challenger sou nege geslaagde ruimtesendings voltooi voor daardie
noodlottige dag in 1986. Pendelsendings is, soos in 2003 weer, destyds
tydelik gestaak, en dit is eers in September 1988 hervat met ’n vlug van
die einste Discovery, wat in 2005 weer die hervatte pendelprogram ingelui het.
’n Nuwe pendeltuig, die Endeavour, het die verwoeste Challenger in Mei
1992 vervang.
Die
bou, funksies en vlug van ’n pendeltuig
MAAR
kom ons kyk ’n bietjie van naderby hoe ’n pendeltuig saamgestel is. Hy
bestaan
uit drie hoofdele—’n wenteltuig, ’n buitetenk en twee aanjaagvuurpyle
met soliede brandstof. Die "vliegtuigagtige" wenteltuig het
drie hoof- en twee kleiner motore.
Tot
sewe mense en ’n vrag van tot byna 30 000 kg kan met een pendelsending die
ruimte ingedra word. Die vrag kan satelliete insluit, wat ver bokant die
aarde in hul wentelbane geplaas sal word. Dit is baie meer prakties en
lonend om ’n aantal satelliete op hierdie manier saam die ruimte in te
neem as om hulle ten duurste een-een te lanseer.
Materiaal
en toerusting word natuurlik ook deur pendeltuie na die Internasionale
Ruimtestasie (IRS) geneem. Maar van die begin van 2003 tot 2005 is die IRS slegs
bedien deur die Russe
se Sojoez-ruimtetuie, wat natuurlik nie pendeltuie is nie.
Sojoez-kapsules
wat na die aarde terugkeer, word so beskadig deur die hitte wat deur
wrywing in die atmosfeer opgewek word, dat hulle eenvoudig nie weer
gebruik kan word nie. Terloops, die leser sal onthou dat ons eie Mark Shuttleworth in 2002 in ’n Sojoez gereis
het op sy tiendaagse tog na die Internasionale Ruimtestasie.
Maar om terug te keer tot die pendeltuig: Sy buitetenk is ’n groot silinder. Dit bevat by lansering ’n yslike hoeveelheid brandstof—1.900.000 liter vloeibare suurstof en vloeibare waterstof, wat op ’n beheerde wyse gemeng en in die wenteltuig se motore ingevoer word. Die gasse moet honderde grade onder vriespunt gehou word.
Die
aanjaagvuurpyle aan weerskante van die buitetenk bevat ’n soliede
brandstof van droë chemikalieë.
’n
Pendeltuig styg met behulp van sy eie motore en die twee aanjaagvuurpyle
van die lanseerblad af op. Nagenoeg twee minute ná die lansering, op ’n
hoogte van om en by 40 kilometer, word die aanjaagvuurpyle outomaties
afgegooi en daal hulle met valskerms terug aarde toe. Hulle word dan deur
skepe in die see opgepik om later weer gebruik te word.
Omdat
die wenteltuig nou nie meer aan die swaar aanjaagvuurpyle vas is nie,
beweeg hy vinniger en, net voordat hy in ’n baan om die aarde begin
wentel, word die reuse-buitetenk—nou omtrent leeg—weggewerp. Die tenk
verbrokkel en val see toe.
Binne-in
die wenteltuig is ’n verrassend leefbare wêreldjie waar
ruimtevaarders selfs in gewone klere hul take kan verrig en waarin daar
ook allerhande kombuis-, badkamer-, slaap-, oefen- en ontspanningsgeriewe
is. Wanneer die bemanningslede egter die wenteltuig in die ruimte verlaat—miskien
vir die lansering van ’n satelliet of ’n ander taak—dra hulle
spesiale ruimtepakke waarin die korrekte lugdruk en temperatuur gehandhaaf
word.
Die
wenteltuig kan ook aan die Internasionale Ruimtestasie vasmeer, waarna die
bemanningslede daarin sal oorklim.
Wanneer die wenteltuig se bemanning ná die voltooiing van hul take moet terugkeer aarde toe, word "rem getrap" en die tuig se snelheid word met behulp van sy kleiner motore verminder. Hy word dus uit sy wentelbaan om die aarde geruk en val nou letterlik terug aarde toe—omgeef deur ’n ontsettende hitte weens die wrywing in die atmosfeer, maar die bemanning word danksy die uitstekende isolering teen ’n aaklige vuurdood beskut. Rekenaars, of die bemanning self indien nodig, beheer ook steeds die wenteltuig se maneuvers.
Uiteindelik
word die snelheid tot ’n hanteerbare spoed gerem en is die tuig eerder
’n sweeftuig as ’n ruimtetuig. Die
vlieënier-ruimtevaarder kan dit na links of regs stuur, maar rekenaars
sorg vir die landing. Sowat ’n uur het verstryk vandat die wenteltuig sy
twee klein motore laat ontbrand het totdat hy teen sowat 320 km/h op die
aarde land.
En kort voor lank kan hy gereed wees vir sy volgende waaghalsige vlug na die buiteruim. Dit is mos waarvoor ’n pendeltuig daar is. As daar nou net vasgestel kan word hoekom hy deesdae so ietwat mankoliekig en broos geraak het...