|
|
![]() |
||
|
Die
geniale Galileo en die interessante verhaal van die pendule Slinger-slinger |
|||
|
|
Niks
vreemds daaromtrent nie en die deursnee-mens sou hom beswaarlik daaraan
gesteur het. Maar nie Galileo Galilei
(1564-1642) illustrasie
HIERBY nie. Dié talentvolle
jongeling, wat hom mettertyd as een van die groot wetenskaplikes in die
wêreldgeskiedenis sou onderskei, kom iets baie interessants agter
omtrent die swaai van daardie kroonkandelaar. Die
tydsduur van elke swaai—merk Galileo op—is dieselfde, al raak die
beweging minder. Hy doen daarna verskeie eksperimente en ontdek
dat die tyd vir elke volledige ossillasie (slingering tussen twee punte)
altyd dieselfde is vir pendules met dieselfde lengte. Sy ontdekking sou
die Wet van die Isochronisme van ’n Pendule genoem word (afgelei van
die Grieks isos, wat “dieselfde”, en chronos, wat
“tyd” beteken). Vroeg in sy geskiedenis reeds het die mens op verskillende maniere die tyd met sonwysers, waterklokke en uurglase probeer meet —wel oorspronklike en vindingryke uitvindsels, maar toestelle wat die tyd nie juis baie noukeurig kon aantoon nie. Die eerste meganiese klokke is in die veertiende en vyftiende eeu vervaardig, maar ’n klok wat presies kon tyd hou, kon eers gebou word nadat die wette van die pendule ontdek was. Die pendule met sy reëlmatige swaai reguleer ’n tandrat, wat gedraai word deur ’n gewig wat met verdrag ondertoe afsak, terwyl wysers wat met die rat gekoppel is die tydsverloop aandui (kyk illustrasie heel onderaan hierdie artikel). Die
eerste betroubare klok is deur die Nederlandse wetenskaplike Christian
Huygens (1629-1695) gemaak.
Wat
is hierdie pendule dan wat so ’n geweldige verandering teweeggebring
het?
’N
PENDULE
is ’n gewig wat van ’n hegpunt of draaipunt na onder hang, op só
’n manier dat dit vry is om horisontaal heen en weer te beweeg. Pendules word ook
slingers genoem. ’n Pendule het twee dele, te wete ’n gewig (’n
sogenaamde slingergewig of “bob” op Engels) en ’n slingerstang of
staaf (Engels “rod”). Wanneer
dit nie beweeg nie, hang ’n pendule loodreg ondertoe van sy heg- of
draaipunt. Maar sodra dit aan die beweeg gesit word, swaai die pendule
heen en weer in ’n boog wat voortdurend op een plek in die ruimte bly
tensy ’n krag van buite daarop inwerk. Grondbeginsels DIE
tyd wat dit ’n pendule kos om een volledige swaai te voltooi van die
hoogste punt aan die een kant tot die hoogste punt aan die keersy word
die vibrasieperiode genoem. Die vibrasieperiode hang af
van die lengte van die slingerstang en die swaartekrag by die plek waar
die pendule geleë is. Nóg die gewig van die slingergewig nóg die
breedte van die swaai het ’n merkbare invloed op die vibrasieperiode. ’n Kind se skoppelmaai
(“swing” op Engels) is ’n voorbeeld van ’n pendule. ’n Kind
wat daarop swaai, sal dieselfde getal kere per minuut daarop heen en
weer beweeg of hy nou hoog of laag swaai. As ’n swaarder kind op die
skoppelmaai gaan sit, sal die getal vibrasies steeds nie verander nie. Maar as die skoppelmaai
gelig word deur die toue (stang) korter te maak, sal dit minder tyd kos
om ’n swaai te voltooi. Die
vibrasieperiode van ’n pendule is direk eweredig aan die
vierkantswortel van sy lengte. Byvoorbeeld: as ’n pendule wat een
meter lank is ’n periode van een sekonde het, het ’n pendule van
vier meter ’n periode van twee sekondes.
Die
beweging van ’n pendule is die gevolg van swaartekrag en inersie.
(Inersie is die eienskap van liggame om te volhard in die toestand van
óf rus óf beweging waarin hulle hul bevind.) Wanneer
die slingergewig na die een kant verskuif en losgelaat word, trek die
swaartekrag dit ondertoe. Die slingergewig versnel totdat dit die
laagste punt van die swaai bereik. Inersie veroorsaak dan dat die
slingergewig die swaai aan die ander kant boontoe voorsit. Omdat
die slingergewig egter opwaarts teen die swaartekrag beweeg, verloor dit
snelheid. Wanneer die slingergewig die toppunt van sy swaai bereik, stop
dit ’n oomblik totdat die swaartekrag veroorsaak dat die siklus hom
herhaal. As
daar geen weerstand weens wrywing sou wees nie, sou die pendule vir ewig
in dieselfde grootte boog bly swaai, omdat die inersie genoeg sou wees
om die pendule telkens te laat terugkeer na die hoogte waar dit begin
het. Maar weens wrywing verklein die grootte van die boog met elke swaai
en uiteindelik kom die pendule heeltemal tot rus, tensy dit deur ’n
krag van buite aan die beweeg gehou word. Gebruike
van pendules OMDAT
hul beweging so reëlmatig is, is pendules veral vroeër dikwels in die
ou staanhorlosies gebruik, soos ons hierbo gesien het. Pendules kan ook
gebruik word om die swaartekrag op enige gegewe plek te meet. Eers word
die vibrasieperiode van ’n pendule van ’n gegewe lengte gemeet by
’n plek waar die presiese waarde van die swaartekrag bekend is. Die
vibrasieperiode van ’n pendule van dieselfde lengte word dan gemeet
waar die waarde van die swaartekrag nie bekend is nie. Uit die waardes
van die twee periodes kan die waarde van die swaartekrag op die tweede
plek bereken word. ’n
Groot pendule is in 1851 deur die Franse fisikus Jean Bernard Léon
Foucault (1819-1868) gebruik vir die eerste afdoende demonstrasie van
die draaiing van die aarde om sy eie as. Die Foucault-pendule was langer
as 60 meter met ’n slingergewig wat met elke swaai ’n streep in los
sand getrek het. Wanneer die pendule versigtig aan die beweeg gesit is,
het die strepe getoon dat die pendule blykbaar stadig roteer het in die
rigting waarin die horlosiewysers loop. Omdat dit bekend is dat ’n
pendule aanhou swaai op die vlak waar dit aan die gang gesit is, moes
dit die aarde, en nie die pendule nie, wees wat gedraai het. Sedert 1851 is Foucault-slingers al dikwels in byvoorbeeld museums regoor die wêreld opgestel.
|
||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |