|
’n Eentoon-wonder wat nooit eentonig kan wees
nie…
Een van die vernaamste kenmerke
van die perd is dat hy net een toon aan elk van sy vier pote het. Maar
eentonig kan hy nooit wees nie. As aristokraat onder die diere
was hy immers van die vroegste tye af die mens se getroue
bondgenoot—in oorlog en vrede. Nie verniet dat daar soveel kommer is
telkens wanneer die gevreesde perdesiekte weer êrens in ons land
uitbreek nie… Foto
BO: NRCS / USDA (detail / gewysig) |
|
|
Skimmels
en kie. BO: Individuele perde word gewoonlik onderskei deur die kleur van hul haarkleed, maanhare en stert. Die algemeenste kleure is skimmel (soos die perd hierbo), bruin, vos en swart. Skimmelperde wissel van donkergrys tot wit. By die bruines is die haarkleed lig tot donker mahoniekleurig, met donkerbruin tot swart bene, stert en maanhare. Vosperde is koperkleurig in verskillende skakerings en het baiemaal wit bene en ’n bles of kol voor die kop. By die swartes is alles swart—die hare, maanhare en hoewe. Foto:
Scott Bauer / ARS / USDA Perdesiekte—die wrede
tirannie van
Foto:
Scott Bauer / ARS / USDA
IE
vlieg in die salf, sover dit ons perde se gesondheid aangaan, is muggies.
Dit klink na ’n ligsinnige vergelyking waar iets so verskrikliks as
perdesiekte ter sprake is. Tog is die nietige muggie werklik waar die groot
sondaar wat slag om slag soos ’n wreedaardige tier onder die perde in ons eie wêrelddeel
maai. Dis
weliswaar nie die muggies self nie, maar die virus wat hulle onder perde
versprei wat die perdetelers so vrees. Dit kan vergelyk word met die malaria-parasiet
wat deur ’n sekere muskietsoort na mense oorgedra word. Wetenskaplikes
eien die draers van perdesiekte as bytende muggies van die Culcoides-soorte.
Tog kan dit ook deur muskietsoorte soos Culex, Anopheles en Aedes
oorgedra word, asook deur sekere bosluise. Boonop
is die bytende muggies ook die draers van bloutong, wat veral skape
aantas, en drie-dae-stywesiekte, wat meestal by beeste voorkom. Perdesiekte
self kan ’n paar vorms aanneem. Een daarvan is die longvariant, wat ook dunkop
genoem word.
Die aangetaste perd se koors is baie hoog en hy worstel letterlik om asem
te kry. ’n Baie hoë persentasie van die aangetaste diere vrek en die
dood kom vinnig.
Dit is werklik geen mooi gesig om ’n swetende, proestende perd te sien
staan met sy voorpote van mekaar af en skuim wat by sy oopgesperde
neusgate uitkom nie. Die
hartvariant van perdesiekte staan weer bekend as dikkop. Sowat die helfte van die lyers
vrek ná sowat ’n week. Swelling van die kop en ooglede kom veral voor,
met bloeding in die vliese van die bek en oë. Die perd se slukfunksie word
naderhand heeltemal belemmer. Daar is ook ’n
gemengde vorm van perdesiekte waar die simptome van dun- sowel as dikkop
ondervind word. Tog
bestaan daar op die oomblik nog geen doeltreffende middel teen perdesiekte
as dit eers uitgebreek het nie. Om verspreiding te voorkom, word besmette
perde gewoonlik geslag, terwyl dié wat nog gesond is, daarteen ingeënt
word. Die insektedraers kan ook met plaagdoders gedood word, maar dit is
ongelukkig baiemaal ’n feitlik onbegonne taak. Die
perde kan wel op stal gehou en sover moontlik afgesonder word van enige
insekte wat hulle kan besmet. Muggies is gewoonlik op hul bedrywigste net
ná sononder en teen sonop, en dit word as die groot gevaartye beskou
wanneer telers veral op hul pasoppens moet wees. Perdesiekte
is blykbaar endemies in die tropiese gebiede van Midde-Afrika, van waar
dit gereeld na Suidelike Afrika versprei. Wanneer
uitbrake in Suid-Afrika voorkom, moet die navorsinginstituut vir
veeartsenykunde op Onderstepoort by Pretoria in kennis gestel word. Maar perdesiekte is natuurlik lank nie die enigste kwaal wat die perd kan tref nie, hierdie betroubare ry- en trekdier wat reeds so ’n lang pad met mens saamkom. Daar is ook siektes met skrikwekkende name soos aansteeklike perde-baarmoederontsteking, petegiaalkoors, perde-piroplasmose, Venezuelaanse perde-harsing-en-rugmurg-ontsteking, blaasagtige bekvliesontsteking en besmetting deur die Wes-Nyl-virus. Dit laat ’n mens wonder watter bitter grapmaker dan destyds die woord perdfris uitgedink het om blakende gesondheid te beskryf. Want
elke af en toe is daar maar weer uitbrake van
sulke aaklighede onder perde in verskillende wêrelddele, met telers en ander
perdeliefhebbers wat naarstiglik skarrel om die verspreiding van die
siektes te voorkom. Die
perd is immers ons hulp en bystand waardig, want hy was lank, naas die hond, die mens se beste
vriend. As
aristokraat onder die diere was hy van die vroegste tye af ons getroue
bondgenoot—in oorlog en vrede. Al die moontlike siektes ten spyt is hy sterk, vinnig en
vaardig, en boonop inskiklik en liefderyk teenoor sy eienaar en nog baie meer. "Met al
hierdie eienskappe in hom verenig," só is daar al oor die perd
geskryf, "het hy onnoemlik baie bygedra tot die vooruitgang van die
beskawing." Ja-nee
ou perd, jy’s ’n bielie—dit moet elke mens beaam! Wat
is ’n perd?
DIE
perd behoort tot die familie van die perdagtiges, wat ook ’n paar groepe
wilde soogdiere insluit. Een groep bestaan uit ’n klompie sebraspesies,
wat inheems in Afrika is. Dan is daar die esel-groep, waartoe onder meer
die kiang en onager van Asië en die wilde-esel van Afrika behoort. Przewalski
se perd, wat reeds in die vrye natuur uitgesterf het, behoort tot ’n
derde groep.
Detail
van foto wat beskikbaar gestel is ingevolge GNU-vergunning
Przewalski
se perd is die enigste ware wilde perd wat nog bestaan en hy is so naby
verwant aan die gewone perd dat hulle kan verbaster en vrugbare vulletjies
voortbring. Dit is anders as waar perde en esels
kruis en die muile onvrugbaar is. Daar
word dikwels ook na perde wat vry in die natuur rondswerf as wilde perde
verwys. Hulle is egter nie ware wilde perde nie, maar slegs die nasate van
mak perde wat die veld en bosse ingevaar en toe weer wild geraak het. Maar
hoe het die perd dan oorspronklik by die mens uitgekom? Lees verder... ’n
Perdagtige ‘hond’ van toeka
|
|
|
Perde en
donkies •
Die muil is ’n kruising tussen ’n perdemerrie en ’n
donkiehings, wat baie van albei sy ouers se eienskappe het—die vermoë
om swaar laste te dra soos sy ma en die bou en taaiheid van sy pa. |
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |