|
IE piramides van Egipte bly fassinerend. Reeds in die Oudheid het
hulle vele reisigers sowel as veroweraars geboei. Vandag word hulle
steeds met verwondering aanskou deur toeriste, wiskundiges, argeoloë
en wie ook al op die woestynsand staan en die oë ophef na die
imposante ou bouwerke wat al soveel eeue getrotseer het.
Nee kyk, om sulke kolossale, spits toelopende grafmonumente soos
veral dié by Giza te bou in die tyd waarin dit gedoen is, moet mos
’n verbysterende kundigheid en ’n haas ongelooflike aanwending van
mannekrag geverg het.
Die ou Egiptenare het geglo dat die siel slegs kon voortlewe indien
die liggaam van die gestorwene teen verval en skending beskerm sou
word. Veral die farao’s (Egiptiese konings) sou dus die
spreekwoordelike berge versit om hul eie ewige lewe te probeer
verseker.
Die
mummies van die koninklikes en die adel is eers in minder
indrukwekkende grafmonumente geplaas saam met voorwerpe wat hulle
konsuis in die hiernamaals sou kon gebruik. Dit was dikwels
waardevolle dinge, met die gevolg dat die meeste grafte mettertyd
geplunder is.
Om plunderaars te keer is die grafmonumente ál groter gemaak totdat
die piramide die standaard-graf van die koninklikes geword het.
Die farao’s het talle piramides gebou—tot in 2008 was reeds byna
140 in Egipte ontdek. Maar dié praktyk het in die Oudheid met
verloop van tyd in onbruik
verval waarna die koninklikes in geheime, uit rots gekapte
grafkelders in die Vallei van die Konings begrawe is. Daar is bes
moontlik besef dat ook die piramides nie die gewetenlose grafrowers
gekeer het nie, maar hulle inderdaad aangelok het. Miskien was dit juis
omdat dit so ’n geweldige uitdaging was om die skatte binne-in te
vind...
DIE
grafmonumente van die vroeë Egiptiese konings was strukture van
kleistene of klip wat mastabas genoem word. Die woord
mastaba kom van die Arabiese woord vir ’n sitbank, want van ver
af sou mastabas soos banke lyk. Die dooie is in ’n onderaardse
kelder ter ruste gelê, met ’n skag wat van bo af soontoe gelei het.
Bo-oor die grafkelder is die reghoekige struktuur van die mastaba
aangebring, sowat vier keer so lank as wat dit breed was, met skuins
lopende wande en ’n plat dak. Dit was minstens omtrent nege meter
hoog.

BO: ’n Mastaba.
Rande weggesny van ’n oorspronklike foto deur
©
John Bodsworth,
wat dit op sy webwerf The Egypt Archive uitgeplaas het en goedgunstiglik
die hergebruik daarvan vergun
Maar daarby het dit nie gebly nie. Omstreeks 2780 v.C. het ene
Imhotep, die argitek van die farao Djoser, die eerste piramide gebou
deur ses mastabas opmekaar te stapel, elke volgende een kleiner as
die een daaronder, om ’n piramide met stygende trappe te vorm.
Hierdie trappiramide staan steeds op die wesoewer van die Nyl by
Sakkara, naby Memphis. Dit bevat verskeie kamers en gange,
insluitende die grafkamer van die farao. Sakkara lê sowat 30 km suid
van die teenswoordige Kaïro en was die dodeakker van Memphis, die
oud-Egiptiese hoofstad. Benewens Djoser het nog sestien Egiptiese
konings piramides hier gebou.

BO: Die trappiramide van Sakkara—eintlik ses mastabas
bo-op mekaar.
Rande weggesny van ’n oorspronklike foto deur
©
John Bodsworth,
wat dit op sy webwerf
The Egypt Archive uitgeplaas het en goedgunstiglik
die hergebruik daarvan vergun
BO: Die trappiramide van Sakkara, soos dit verskyn op ’n
ou foto wat omstreeks in die jaar 1905 geneem is. Maar
waar is die onderste van die struktuur se ses “verdiepings”?
Dis straks nie so maklik om te bepaal waar die fotograaf
destyds gestaan het nie, maar onderaan kyk ons bes moontlik
iewers vas teen een aansig van die “grondverdieping”.
Krediet: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg
weens ouderdom (“Public Domain Old”)
Die oorgang van die trappiramide na ’n ware piramide met steil
oplopende, reguit kante het tydens die heerskappy van die farao
Snofroe, grondlegger van die Vierde Dinastie (2680-2560 v.C.),
plaasgevind. ’n Trappiramide is by Medum gebou, waarna dit met klip
opgevul en met ’n dop van kalksteen bedek was.
By Dasjoer daar naby is begin om ’n piramide te bou wat aanvanklik
blykbaar ook reguit kante moes hê. Maar teen die helfte van die
konstruksie verminder die hellingshoek van meer as 54 grade tot
sowat 43 grade en die kante styg skerp. Die rede hiervoor was
waarskynlik dat besef is dat die druk te groot sou word indien die
hele piramide met die beplande helling gebou sou word en dat dit sou ineenstort. Vanweë
sy ongewone vorm word dit die Knikpiramide of Geboë Piramide genoem.

BO: Die noordelike aansig van die
sogenaamde Knikpiramide of Geboë Piramide.
Foto
deur ©
John Bodsworth,
wat dit op sy webwerf The Egypt Archive uitgeplaas het en goedgunstiglik die
hergebruik daarvan vergun
DIE
grootste en beroemdste van al die piramides, die Groot Piramide op
die
Giza-plato in die suidwestelike
buitewyke van die teenswoordige Kaïro, is gebou deur Snofroe
se seun, Choefoe, ook bekend as Cheops, die latere Griekse vorm van
sy naam. Dit is omstreeks 2560 v.C. opgerig, volgens optekeninge oor ’n tydperk van sowat twintig
jaar.
Die Groot Piramide was oorspronklik bedek met dekstene wat ’n gladde
buite-oppervlak aan die bouwerk verleen het, maar vandag is die
onderliggende kernstrukstuur te sien, met sekere van die dekstene
nog onderaan. Die piramide was aanvanklik ’n entjie duskant 147 m
hoog, maar weens erosie en die verlies van die piramidion is dit tans ’n raps
onder 139 m. Die piramidion van ’n piramide is die klein
piramidevormige kopsteen reg bo by die spits.

BO: Die Groot Piramide op ’n ou foto (hier digitaal ietwat
verkleur).
Foto: U.S.
Library of Congress
Baie teorieë, sowel wetenskaplik as andersins, is al bedink oor
presies hoe die Groot Piramide—en natuurlik ook die ander
piramides—gebou kon gewees het. Die meeste van die aanvaarde
verklarings is gegrond op die gedagte dat dit gebou is deur
reuse-klipblokke van ’n glipgroef af aan te bring. Die blokke is straks
na die piramideperseel vervoer deur hulle
oor dik, ronde houtpale voort te stu en te trek. Daarna sou die
klipblokke in
posisie geplaas gewees het deur hulle teen spesiaal gemaakte
skuinstes teen die piramide op te sleep. ’n Mens kan hierdie
skuinstes byna met opritte vergelyk!
Tog moet uiters
groot vernuf en klipharde arbeid vir só ’n opslepery
nodig gewees het, want wetenskaplikes raam dat die klipblokke
gemiddeld elk sowat twee tot twee en ’n halwe ton weeg. Die
grootstes sou ’n massa van tot ongeveer vyftien ton elk hê. Hierdie
prestasie raak egter eers verbysterend wanneer ’n mens verneem dat die
Groot Piramide uit meer as 2 300 000 miljoen
kalksteenblokke bestaan.
Boonop is die blokke uiters noukeurig neffens mekaar in die bouwerk
geplaas. Gegrond op metings wat by dekstene aan die noordoostelike
kant gedoen is, is die gemiddelde opening tussen die bymekaarkomplekke maar
slegs ’n halwe millimeter breed.
Maar presies hoe is die blokke dan bo gekry? Volgens die mees
aanvaarde teorie is die klippe met ’n vreeslike gesweet met sleë
opgesleep teen hellings van kleisteen en ru-klip wat teenaan die
piramide opgehoop is. Só ’n “oprit” is met verdrag hoër en langer
gemaak namate die bouwerk gevorder het, en die fondament daarvan is al hoe
meer verbreed, anders sou die blokke se sleepbaan ondertoe wegsak. Dis
straks moontlik
dat verskillende sulke skuinstes vir die bou van ’n piramide
gebruik is.
|
REGS: ’n Helling teenaan ’n onvoltooide piramide, soos die
piramidebouers van ouds dit glo aangebring het ten einde die swaar
boublokke
daarteen op te sleep. Maar alle navorsers stem steeds nie saam dat
dit wel só gedoen is nie.
Krediet: MSKARG
|
 |
Hierdie teorie bevredig weliswaar nie alle navorsers nie, want
dié soort sleepbane sou glo met verloop van tyd langer moes
gewees het as waarvoor daar plek is op die betrokke terrein.
Daarom is daar ook ander interessante menings oor hoe die piramides
dalk staan gemaak is. Een daarvan is dat die bouers miskien hefbome
vir die ophysing van die boublokke kon gebruik
het, iets meganies soortgelyk aan die sjadoef, waarmee die Egiptenare water uit
die Nyl gelig het. Dié is egter ’n primitiewe en enigsins
ondoeltreffende prakseersel, en of dit vir die gevorderde piramide-bou aangepas sou
kon gewees het, is ’n ope vraag.
Om nie te praat van vandag se omstrede
“ruimtewesens”-teorie nie. Die propageerders daarvan voer aan dat die Egiptenare van ouds
mos nooit self sulke fabelagtige strukture kon gebou het nie en
beweer dat die farao’s se onderdane ongetwyfeld hulp moet
ontvang het van gevorderde kreature van elders in die heelal. Vir
gerekende wetenskaplikes is sulke bewerings egter totaal belaglik,
indien nie ’n laakbare miskenning van die antieke Egiptenare se
talente nie.
Hoe ook al, hoeveel werkers moes swoeg om die Groot Piramide te bou,
kan niemand vandag meer vir seker sê nie. Moderne kenners aanvaar nietemin
dat tienduisende vakmanne betrokke moet gewees het—en nie slawe
soos eeue gelede reeds deur die ou Grieke geglo is nie.
Daar is sover bekend drie kamers binne-in die Groot Piramide. Die
onderste kamer is uit die vaste gesteente gekap waarop die piramide
gebou is en is onvoltooid gelaat. Die sogenaamde Koninginskamer en
Koningskamer is hoër op in die bouwerk.

BO: Die Koningskamer in die Groot Piramide. Dit is 10,8 m
lank, 5,2
m breed en 5,8 m hoog.
Foto
deur ©
John Bodsworth,
wat dit op sy webwerf The Egypt Archive uitgeplaas het en goedgunstiglik die
hergebruik daarvan vergun
Twee ander belangrikse piramides is by Giza gebou—vir Choefoe se
seun Khafra (Chefren), en vir ’n opvolger van Khafra, ene Menkaure
(Mycerinus). Ook die beroemde
Sfinks
is by Giza, ’n
massiewe kalksteenbeeld sowat 20 m hoog en 73 m lank, met die kop
van ’n mens en die lyf van ’n leeu. Die beeld is vermoedelik
opgerig om
as ’n beskermer van die piramides te dien.
DIE
Egiptiese piramides het nie alleen gestaan nie. Hulle was in der
waarheid deel van ’n groep geboue wat tempels, kapelle, ander
graftombes en massiewe mure ingesluit het.
Aan die mure van piramides van die Vyfde en Sesde Dinastie is
inskripsies wat as die Piramide-tekste bekend staan, ’n belangrike
bron van inligting oor die oud-Egiptiese godsdiens. Omdat antieke
stukke egter so skaars is, is dit moeilik om met sekerheid te sê
waarvoor al die geboue in die piramidekompleks gebruik is en presies
wat die begrafnisprosedures was.
Daar word gemeen dat die farao se lyk per boot op die Nyl na die
piramideperseel gebring is en waarskynlik in die Valleitempel
gemummifiseer is voordat dit oplaas vir die begrafnis in die
piramide geplaas is.
Die bou van piramides was veral gewild tydens die Vierde, Vyfde en
Sesde Dinastieë in Egipte, maar kleiner piramides is nog meer as
duisend jaar daarna gebou. Ofskoon skuins duskant anderhalf honderd
al ontdek is, lê die oorblyfsels van ander waarskynlik steeds
begrawe onder die sand.
Toe dit duidelik raak dat die piramides nie beskerming teen
grafrowers verleen het aan die gemummifiseerde lyke van die farao’s
nie, is latere Egiptiese konings
begrawe in geheime grafte wat in rotskranse uitgekap is. Tog het die
manjifieke piramides gesorg dat die name en verhale van die farao’s
vir en deur wie hulle opgerig is, tot vandag toe vir ons lewend bly.
In die meetkunde kan ’n piramide beskryf word as ’n ruimtelike
figuur, bestaande uit ’n grondvlak wat ’n reëlmatige of onreëlmatige
veelhoek is, en driehoekige vlakke wat vanuit elk van die sye van
die veelhoek uitreik na ’n gemeenskaplike punt.
In die argeologie is ’n piramide baie meer as dit!
Illustrasie: S vd Molen (PD)
•
Erkenning: ’n Deel van hierdie artikel is betreklik vry verwerk uit
’n Engelse
artikel in die Smithsonian Encyclopedia. Gebruik van daardie
Engelse teks vir nie-kommersiële doeleindes word vergun ingevolge die
Amerikaanse “fair use”-beginsel soos uiteengesit by:
http://www.si.edu/termsofuse/
•
Acknowledgement: The text above in the Afrikaans language is, in
part, a rather free adaption of
the English article on the Egyptian pyramids
in the
Smithsonian Encyclopedia. Non-commercial use of the original text is
allowed in accordance with the “fair use” principle of the United
States of America, as explained here:
http://www.si.edu/termsofuse/
|