Foto: R. Wampers van http://www.zoo.be, geneem in die Antwerpense dieretuin en gepubliseer in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web. Op hierdie werk is die Creative Commons-"Naamsvermelding-GelijkDelen 2.0 België" van toepassing.
|
Maar is hy rêrig ’n mensvreter?
|
||||
LINKS:
Die rooipens-piranha (Pygocentrus nattereri), een van
verskeie piranha-spesies, is onder die vier soorte wat as gevaarlik
vir die mens beskou word. Wat meer sê, hy word as een van die
wreedste varswatervisse op aarde bestempel. Soos sy naam aandui, is
die volwasse rooipens rooierig van onder, hoewel die jonges silwerig
met donkerder kolle is. Hulle kan langer as 30 cm word en tot 3,5 kg
weeg. |
||||
|
|
||||
’N
SKOOL waansinnige
piranhas het ’n swemmer (of ontdekkingsreisiger) aangeval en hom aan
flarde geskeur. ’n Bees (of vark) het in ’n rivier geval en binne
oomblikke was net die geraamte oor. Sulke vertellings is volop in
avonturiers se beskrywings van die omstandighede in die onbeskaafde
wêrelddele in die stroomgebied van die magtige Amasonerivier en sy
sytakke in Suid-Amerika. Verskillende bronne hou dan ook vol dat die
vertellings omtrent mensvreter-piranhas blote wolhaarstories is, of
wat die Engelse “urban legends” noem. Hulle wys daarop dat geen
mensedood weens ’n piranha-aanval nog ooit afdoende bewys is nie.
Daar is wel gevalle bekend waar mense deur hierdie roofvisse gebyt
is, maar dat piranhas ’n mens in ’n ommesientjie met huid en haar
kan opvreet dat net sy geraamte oorbly... aikôna, sê die
onoortuigdes, dis darem te dik vir ’n daalder.
Dit is nie bekend hoeveel piranha-spesies daar is nie en bronne wissel van 18, 20 of 25 tot 38 of 39. Nuut ontdekte spesies word egter streeds beskrywe. Slegs vier is nietemin glo gevaarlik vir die mens. Vreemd genoeg lyk hulle met die eerste kyk taamlik goedaardig en die meeste soorte word slegs 20 cm lank—hoewel die grootste, Serrasalmus piraya (ook bekend as Pygocentrus piraya), ’n lengte van tot 60 cm haal. Hierdie bielie is behoorlik aggressief, maar die een wat as regtig omgesukkel en bytlustig beskou word, is die rooipens-piranha, Pygocentrus nattereri.
Goedaardig? Wat wou! Dis wanneer jy in die
bekke van die piranhas inloer dat jy besef waarom mense hulle so
skrikwekkend vind. Hul tande is plat en driehoekig met naaldskerp
punte wat deur harde velle moet kan dring. En die kante van die
tande is vlymskerp om deur vleis te kan sny. Die tande van die
bo-kaak is ietwat kleiner as dié in die onderkaak, sodat hulle
netjies inmekaar pas. Dit lyk of die water kook en kolk wanneer
die piranha-skool met hul frenetiese vretery besig is. Die water
word rooi van die bloed. Hule byt so rond en bont en deurmekaar dat
hulle partykeer ook mekaar raakhap en verwond. Siek beeste op wankele pote wat hul koppe neergelaat om van die rivierwater suip, word sonder meer aan die bek en neus gegryp en die water ingetrek. Kort voor lank bly slegs die kale beendere oor.
Die groeiende klein piranha REEDS die oomblik wanneer die piranha-kleintjie sy verskyning uit sy piepklein eiertjie maak, is hy gewapen vir die wêreld en ’n vyandjie om mee rekening te hou. Klein skaaldiertjies is sy prooi. Hy vreet ook vrugte, sade en waterplante. Sodra hy nagenoeg vier sentimeter lank is, begin hy om aan die vinne en vleis te knabbel van ander visse wat dit te naby aan hom waag. Namate hy groter word, vorm hy jagskole saam met omtrent twintig van sy makkers en gebruik hulle allerhande jagmetodes om hul prooi te kan verslind.
My dierbare troetel-piranhatjie RAAR maar waar, daar is rêrig mense wat piranhas as “troeteldiere” aanhou. Dié visse is natuurlik nie liefderyke troeteldiere soos honde en katte nie en jy kan hulle nie maklik streel sonder om met ’n bebloede hand daarvan af te kom nie. Boonop moet jy hulle gedurig dik en uitgevreet hou om te keer dat hulle rasend raak. ’n Mens moet ook pasop dat jou piranhas nie op ’n manier in riviere en mere in jou omgewing beland nie, want hulle kan dalk net daar soos konyne aanteel en die inheemse visse verslind. Dit kan ’n groot omwenteling in die plaaslike waterlewe (en vir swemmers) beteken as die verpestelike piranhas alles begin byt wat hul oë sien. |
||||
|