Piranha 
 
Terreur van die Amasone


Koop jou piranha-plakkaat aanlyn by Allposters.com

 Maar is hy rêrig ’n mensvreter?

’n Nare moordmasjien soos die haai met ’n voorliefde vir mensvleis... dis die indruk wat baie mense het van die omgesukkelde piranha, daardie berugte vleisvretetende vis van die stroomgebied van die Amasonerivier in Suid-Amerika. Maar verdien die piranha werklik sy reputasie as ’n mensvreter? Lees ons artikel hieronder en besluit self...

LINKS: Die rooipens-piranha (Pygocentrus nattereri), een van verskeie piranha-spesies, is onder die vier soorte wat as gevaarlik vir die mens beskou word. Wat meer sê, hy word as een van die wreedste varswatervisse op aarde bestempel. Soos sy naam aandui, is die volwasse rooipens rooierig van onder, hoewel die jonges silwerig met donkerder kolle is. Hulle kan langer as 30 cm word en tot 3,5 kg weeg.

   
REGS: Piranhas is oor die wêreld heen berug vir hul vlymskerp tande. Inboorlinge van die Amasonegebied vang hulle en maak dan gereedskap en wapens van die gevaarlike gebit. Maar die hengelaar durf nie sy waaksaamheid verslap as hy ta in sy boot het of hom aan wal gebring het nie. Selfs buite die water is die piranha nog gevaarlik genoeg om die vleis aan ’n vinger of ’n toon tot op die been weg te skraap.

Koop allerhande pirahana-plakkate aanlyn by Allposters.com


’N SKOOL waansinnige piranhas het ’n swemmer (of ontdekkingsreisiger) aangeval en hom aan flarde geskeur. ’n Bees (of vark) het in ’n rivier geval en binne oomblikke was net die geraamte oor. Sulke vertellings is volop in avonturiers se beskrywings van die omstandighede in die onbeskaafde wêrelddele in die stroomgebied van die magtige Amasonerivier en sy sytakke in Suid-Amerika.
 
Een van die bekendste verhale is dié van ’n reisiger wat ’n rivier te perd oorgesteek en deur ’n trop piranhas bygedam is. Die geraamtes van die man en perd is ’n rukkie later gevind—skoon gevreet—maar die man se klere was feitlik ongeskonde.
 
Volgens die Guinness Book of Records is meer as 300 mense na bewering in 1981 deur piranhas verslind toe ’n oorlaaide passasiersboot omgekantel en gesink het terwyl dit by die Brasiliaanse rivierhawe Obidos vasgemeer het.
 
Maar hoe waar is al hierdie verhale? Is die slagoffers van die Obidos werklik deur piranhas opgevreet of het hulle bloot verdrink? Die antwoord is, verrassend genoeg, dat ons nie rêrig weet nie. Die bewerings kan natuurlik moeilik bewys word. En daar is maklik net soveel verhale van mense wat sonder ’n enkele byt- of knabbelwond uit die water gekom het nadat hulle in mere en riviere vol piranhas geswem of deur die water geloop het.

Verskillende bronne hou dan ook vol dat die vertellings omtrent mensvreter-piranhas blote wolhaarstories is, of wat die Engelse “urban legends” noem. Hulle wys daarop dat geen mensedood weens ’n piranha-aanval nog ooit afdoende bewys is nie. Daar is wel gevalle bekend waar mense deur hierdie roofvisse gebyt is, maar dat piranhas ’n mens in ’n ommesientjie met huid en haar kan opvreet dat net sy geraamte oorbly... aikôna, sê die onoortuigdes, dis darem te dik vir ’n daalder.
 
Diegene met ’n ingebore oervrees vir die piranha laat hulle egter nie sommerso tot ander insigte beweeg nie. Want, sê hulle, die rede waarom party mense aangeval en ander met rus gelaat word, is doodeenvoudig dat sommige soorte piranhas baie wreder as ander is. Boonop kan piranhas dalk die aggressiefste wees wanneer die reënseisoen begin en die mannetjies oor die eiers waak. Dit kan verduidelik waarom piranhas in een deel van die rivier so bytlustig kan wees terwyl hul neefs verder stroom af of stroom op so passief bly.
 
Hoe ook al, dis beslis nie waar dat die vleisvretende piranhas ’n voorliefde juis vir mensvleis het nie. Hulle is opportunistiese roofdiere, wat enige bloedige maaltyd sal waardeer wat hul pad kruis.
 
Piranhas behoort tot die visfamilie Serrasalmidae—hoewel party wetenskaplikes steeds reken dat hulle tot die familie Characidae behoort, wat ook verwante visse soos die pacu’s insluit. Tradisioneel word slegs die vier genera Pygocentrus, Pygopristis, Pristobrycon en Serrasalmus as ware piranhas beskou, weens hul gespesialiseerde soort tande.


BO: Die rooipens-pacu (Piaractus brachypomus)... dit is nie moeilik om te sien waarom hy meermale met die rooipens-piranha verwar word nie (kyk die beeld tweede van bo op hierdie bladsy). Die rooipens-pacu is ook ’n boorling van die Amasonegebied.
 
Foto: U.S. Geological Survey

Dit is nie bekend hoeveel piranha-spesies daar is nie en bronne wissel van 18, 20 of 25 tot 38 of 39. Nuut ontdekte spesies word egter streeds beskrywe. Slegs vier is nietemin glo gevaarlik vir die mens.

Vreemd genoeg lyk hulle met die eerste kyk taamlik goedaardig en die meeste soorte word slegs 20 cm lank—hoewel die grootste, Serrasalmus piraya (ook bekend as Pygocentrus piraya), ’n lengte van tot 60 cm haal. Hierdie bielie is behoorlik aggressief, maar die een wat as regtig omgesukkel en bytlustig beskou word, is die rooipens-piranha, Pygocentrus nattereri.


BO: Die grootste piranha, Serrasalmus piraya (ook bekend as Pygocentrus piraya), wat dikwels die San Francisco-piranha genoem word. Hy is ’n aggressiewe knewel, wat in die São Francisco-rivierkom in Brasilië aangetref word.

Foto: R. Wampers van http://www.zoo.be, geneem in die Antwerpense dieretuin en gepubliseer in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web. Op hierdie werk is die Creative Commons-"Naamsvermelding-GelijkDelen 2.0 België" van toepassing.

Goedaardig? Wat wou! Dis wanneer jy in die bekke van die piranhas inloer dat jy besef waarom mense hulle so skrikwekkend vind. Hul tande is plat en driehoekig met naaldskerp punte wat deur harde velle moet kan dring. En die kante van die tande is vlymskerp om deur vleis te kan sny. Die tande van die bo-kaak is ietwat kleiner as dié in die onderkaak, sodat hulle netjies inmekaar pas.
 
Wanneer die vis ’n slagoffer gehap het, is daar geen wegkomkans nie. Piranhas spoor hul prooi met hul goed ontwikkelde reuksintuig op. Dis veral die bloed van ’n gewonde dier wat hulle aantrek. Dit lyk ook of hulle gevoelig is vir trillings in die water; met enige ongewone versteuring haas hulle hulle na die toneel.
 
Af en toe lewe hulle alleen en vreet waterplante en kleiner visse. Meer dikwels swem piranhas egter in plate van honderde of selfs duisende rond om veel groter prooidiere by te dam.
 
Wanneer ’n skool piranhas ’n skool kleiner visse teëkom, bevlieg hulle die groep. Die visse skarrel dan in alle rigtings en word opgevreet. Klein vissies word heel ingesluk. Groot prooidiere se vleis word deur die skrikwekkende tande afgeskeur. Al wat van die ongelukkige slagoffers oorbly, is die kale beendere.

Dit lyk of die water kook en kolk wanneer die piranha-skool met hul frenetiese vretery besig is. Die water word rooi van die bloed. Hule byt so rond en bont en deurmekaar dat hulle partykeer ook mekaar raakhap en verwond.
 
Soos gesê, sal piranhas omtrent enigiets vreet waarop hulle hul tande kan lê—ander visse, siek en verswakte vee, selfs dele van mense. Daar is tot waargeneem dat piranhas hul eie kleintjies opvreet.

Siek beeste op wankele pote wat hul koppe neergelaat om van die rivierwater suip, word sonder meer aan die bek en neus gegryp en die water ingetrek. Kort voor lank bly slegs die kale beendere oor.


BO: ’n Jong groen tierpiranha (Serrasalmus manueli).

Foto: Jonas Hansel, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“in the publiic domain”)

Die groeiende klein piranha

REEDS die oomblik wanneer die piranha-kleintjie sy verskyning uit sy piepklein eiertjie maak, is hy gewapen vir die wêreld en ’n vyandjie om mee rekening te hou. Klein skaaldiertjies is sy prooi. Hy vreet ook vrugte, sade en waterplante.

Sodra hy nagenoeg vier sentimeter lank is, begin hy om aan die vinne en vleis te knabbel van ander visse wat dit te naby aan hom waag. Namate hy groter word, vorm hy jagskole saam met omtrent twintig van sy makkers en gebruik hulle allerhande jagmetodes om hul prooi te kan verslind.

 
En dan maak hulle nie hul prooi eers dood nie—hulle verslind dit lewend. Praat van ’n spul hartelose wreedaards!

 
Maar, nou ja, wreed soos sy bloedige feeste klink, vervul die piranha ’n nuttige funksie in die reënwoude van die Amasone, net soos ander roofdiere in die natuur. Hy help om sieklikes en swakkes uit die weg te ruim sodat die sterkes kan oorlewe.

 

My dierbare troetel-piranhatjie

RAAR maar waar, daar is rêrig mense wat piranhas as “troeteldiere” aanhou. Dié visse is natuurlik nie liefderyke troeteldiere soos honde en katte nie en jy kan hulle nie maklik streel sonder om met ’n bebloede hand daarvan af te kom nie. Boonop moet jy hulle gedurig dik en uitgevreet hou om te keer dat hulle rasend raak.

’n Mens moet ook pasop dat jou piranhas nie op ’n manier in riviere en mere in jou omgewing beland nie, want hulle kan dalk net daar soos konyne aanteel en die inheemse visse verslind. Dit kan ’n groot omwenteling in die plaaslike waterlewe (en vir swemmers) beteken as die verpestelike piranhas alles begin byt wat hul oë sien.


BO: Die bloeiwyse van ’n waterhisiasint (’n onkruid in verskillende wêrelddele) en die klein Amasone-vliegie wat die hiasint se tier is.

Foto van waterhiasint: Willey Durden / ARS / U.S. Department of Agriculture (USDA); foto van Amasone-vliegie: Christine Bennet / ARS / U.S. Department of Agriculture

Die ander “Amasone-monster”... wat deur ’n nederige vliegie getem word
  

DIE opmerkings in die artikel hierbo dat selfs die bloeddorstige piranha van die Amasone sy plek in die natuur het—maar ook nie toegelaat moet word om onbeheerd in ander wêrelddele te vervuil nie—herinner ’n mens aan nog ’n boorling van die Amasonestreek wat wel ’n plaag in ander omgewings oor die wêreld geword het.

Dit is ’n plant, die waterhiasint, wat damme en mere totaal kan oorgroei as dit nie beheer word nie. Die watervloei word dramaties belemmer, sonlig word van inheemse waterplante weggekeer en die suurstof in die water word uitgeput, wat tot visvrektes lei. Dié ongewenste onkruid het ’n groot hoofpyn vir baie bewaringsbewustes geword. Plantgifstowwe en meganiese verwydering is duur en dikwels ondoeltreffend.

Navorsers van die VSA se federale departement van landbou (USDA) het egter gaan soek na die natuurlike vyande van die waterhiasint en ’n klompie jare gelede afgekom op ’n Amasone-vliegie van 1,5 millimeter wat die plante se blaarstingels van die binnekant af rysmier en verswak, sodat hulle nie so geil aanteel nie.

Baie van hierdie soort vlieë sal dus geteel en by varswatermassas met boskasies van hiasinte losgelaat moet word. Biologiese beheer soos dié is noodwendig ’n langtermyn-oplossing, maar die oorlog met die behulp van die vlieg sal met belangstelling gevolg word.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad