Plankton

Piepklein lewensbronne in die see
 

BO: ’n Klein plankton-jellievissie met heldergroen glimmende tentakels en ’n rooi gloed in sy binneste. Die wonderlikste en vreemdste organismes van ’n menigte soorte vorm die plankton in ons oseane.

Foto: Mikhail Matz, via NOAA

 

Onsigbare mikroörganismes beheers die oseane. Ontelbare bakterieë en virusse, alge en eensellige diertjies in die water kontroleer die klimaat van die aarde—en bepaal die toekoms van die mens...

 

Lees ook artikel oor diatome, die adel van die fitoplankton: klik hier

  


     

D

IS uiters maklik om plankton te versamel. ’n Mens hoef maar net ’n bottel seewater te gaan skep en jy’t oorgenoeg daarvan. Maar om die plankton te sien, is glad nie so eenvoudig nie. Hierdie belangrike lewensvorms van ons planeet is immers mikroskopies klein.

 

Trouens, in ’n enkele liter oppervlakwater is ’n ganse leërskare saamgebondel: biljoene virusse, sowat ’n miljard bakterieë, nagenoeg vyf miljoen eensellige diertjies en ’n miljoen alge. Selfs as ’n mens water vanuit die liglose wêreld 6 km onder die see-oppervlak kan gaan haal, sal jy steeds honderde miljoene virusse en duisende miljoene bakterieë in elke liter vind.

 

As jy dus die hele mikrobevolking in die see wil probeer bereken, stuit jy teen ’n totaal onbegonne taak. In ons planeet se oseane is na berekening 1 400 000 000 000 000 000 000 000 liter water!

 

Al die virusse, bakterieë en klein plantjies en diertjies (trouens, alle lewe wat in die seestrome ronddryf en te swak is om aktief teen die strome swem) noem ons plankton.

Sulke mikrobes kry ’n mens ook nie net in die see nie. ’n Liter meerwater kan self meer as 500 miljoen planktoniese organismes bevat.
 
Plantaardige plankton word fitoplankton genoem. Hulle is eensellige plantjies wat in staat is om met die son se energie kos en suurstof te vervaardig. Hulle is ’n uiters belangrike skakel in die voedselkringloop in die see. Des te belangriker nog is hul rol as makers van suurstof, net soos die bome op land, waarsonder die aarde werklik in ’n damp van koolstofdioksied sou vergaan het. As sodanig is hulle boonop klimaatvormers wat die lewe vir elkeen van ons gerieflik maak.

 



REGS: Daar word geraam dat 90 persent van alle fotosintese en die afgee van vry suurstof in die oseane plaasvind. Trouens, fitoplankton alleen is verantwoordelik vir omtrent die helfte van die vry suurstof wat deur al die plantelewe op die aarde deur middel van sonlig uit die gas koolstofdioksied geproduseer word.

 

Krediet: aanpassing van ’n illustrasie van NASA

 



Daar is baie soorte middels wat hierdie plankton help om drywend te bly. Hoewel hulle as plantaardig geklassifiseer word, klap hulle met hul sweephare en ‘‘trap water’’. Ander het vinne en stekels wat as watervleuels dien.

 

Nog ander berg ekstra kos as olie op, wat hulle ligter maak en naby die oppervlak laat dobber. Sodra die fitoplankton met olie gevul is, gaan hulle dood en sink af na die seebodem. Daar raak hulle begrawe onder modder en sand. Met verloop van baie, baie eeue verander hitte en druk binne-in die aarde die dooie fitoplankton in neerslae van aardolie, wat deur die mens benut word.
 

REGS: ’n Mikrografiese foto van piepklein groen alge, bekend as Ostreococcus. Hierdie hiperklein organismes het ’n gemiddelde deursnee van slegs 0,8 mikrometer. ’n Mikrometer (of mikron) is ’n miljoenste van ’n meter of ’n duisendste van ’n millimeter. Die organismes op die lang strook LINKS op hierdie bladsy is eweneens mikroskopies klein fitoplankton, wat in die boonste aantal meters van die oseane ronddryf om die son se energie tot ons almal se voordeel te benut.
 

Mikrograaf regs: Wenche Eikrem en Jahn Throndsen, Universiteit van Oslo / via  U.S. Department of Energy. MIkrograaf op lang strook links: NASA

 

In die gematigde seë wissel die konsentrasie van fitoplankton aansienlik van seisoen tot seisoen. In die winter is dit laag, want dan is daar min sonlig. Maar hewige winterstorms wat dan aan die orde van die dag is, laat die oppervlakwater met dieper water meng en bring minerale na bo wat die plankton nodig het om te groei en te vermeerder.

 

In die vroeë lente kan die hoeveelheid fitoplankton dus sterk toeneem. Namate die somer vorder en hulle die minerale opgebruik, neem hul getalle weer af. Só kan ons byvoorbeeld op satellietfoto’s sien hoe die Noord-Atlantiese Oseaan in die lente vanaf die Amerikaanse staat Noord-Carolina tot by Spanje vergroen.

 

Daarteenoor kleur die  blougroen alge Trichodesmus weer soms die water rooierig wanneer dit doodgaan. Die Rooi See kry juis sy naam hiervandaan.

REGS: Rooi en groen verkleurings in die see deur fitoplankton, soos uit die ruimte waargeneem.

 

Krediet: NASA/GSFC/LaRC/JPL, MISR Team 

 

 

TEENOOR die plantaardige fitoplankton is daar die soöplankton—’n groot verskeidenheid van organismes wat deur bioloë as diere geklassifiseer word. Die meeste is mikroskopies klein, maar party soorte kan wel met die blote oog waargeneem word as ’n mens ’n bietjie seewater in ’n vlak bakkie gooi wat met swart papier uitgevoer is.

 

Byna alle soöplankton is deurskynend. Hulle wei op die fitoplankton of vreet mekaar en vul eweneens ’n belangrike plek in die see se voedselketting. Party soorte is hul lewe lank plankton; ander (soos visse en krappe) is dit net as larwes.

 

Die hoë proteïeninhoud van soöplankton het al tot navorsing gelei oor hoe dit dalk as kos vir die mens verwerk kan word.

 

BO: ’n Mikroskopiese foto van ’n kraplarwe, uit ’n plankton-versameling. Die diertjie is hier in een van twee larwe-stadiums, waarin die larwe reeds meer soos ’n volwasse krap lyk. In ’n voorafgaande stadium lyk die larwe nog nie soos die volwassene nie. Die larwes ontwikkel uit eiers. Krappe is in die reël plankton wanneer hulle larwes is, maar nie nadat hulle tot volwasse krappe ontwikkel het nie.

Foto: Uit plankton-versameling aan boord van die Seward Johnson II / NOAA

 

BO: Hierdie weekdiertjie, Hydromeles globulosa, is slegs een mikron (’n duisendste van ’n millimeter) breed.

Foto: 2007: Exploring Inner Space of Celebes Sea / NOAA

 

 


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad