|
|
|||
Gedink
wortels is altyd net so groot of klein soos die plant bo die grond?
Moenie glo nie. Een plantkundige het selfs ontdek dat, as al die wortels
en wortelhare van ’n enkele klein rogplant aanmekaargelas word, hulle
van Johannesburg af halfpad Kaapstad toe sal strek! En wortels is
werklik wonderlike plantdele. Hulle verrig nie net allerhande take vir
plante nie, maar doen dit boonop soms met ’n ongelooflike
"ywer". ’n Mens kan byna sê, waar daar ’n wil is, is daar
’n wortel... • " ’n Deel van die saad ... het op klipbanke geval ... en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog."—Matt. 13:5,6. Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld |
|||
S
jy iemand vertel waar Dawid die wortels gegrawe het, sê jy hom goed die
waarheid. Die wortel van alle kwaad, sê die Bybel, is geldgierigheid.
Daar is ook die vierkantswortel van wiskunde wat vrees in die harte van
syferdommes laat wortelskiet. Wortels
van allerlei aard is goed in die taal geanker, en nie om dowe neute nie.
Hulle is die lewedraers van plante, die spyskanale wat deur die donkerte
van die aarde boor op soek na voedingstowwe en water.
Omdat
wortels so buite sig groei, is ’n mens geneig om te dink hulle is net
so groot of klein soos die plant bo die grond. Maar dit kan misleidend
wees. Doodgewone plante, die pampoen byvoorbeeld, se wortels kan
gesamentlik oor ’n yslike afstand strek. In
die Indiese Botaniese Tuin in Kalkutta het ’n baniaanboom vir hom ’n
plek in die prestasieboek van plante oopgegroei deur regop gehou te word
deur 1775 stutwortels. Die boom en sy wortels se deursnee? ’n
Ontsagwekkende 412 m.
En
een ywerige plantkundige het ontdek dat ’n enkele klein rogplant amper
veertien miljoen wortels en meer as veertien miljard wortelhare het. As
al die wortels en wortelhare aanmekaargelas word, sal hulle van
Johannesburg af halfpad Kaapstad toe strek! Al
dié indrukwekkende statistiek ten spyt is wortels seker die mees
obskure deel van die plant. Al is hulle gewoonlik die eerste deel van
die plant wat uitkom wanneer ’n saad ontkiem, draai hulle onmiddellik
weg van die lig en verdwyn in die donker dieptes. Wortels
is nie net belangrike voedselgaarders vir die plant nie, maar dien ook
as voedsel vir die mens. Daardie lekker soet geelwortel is in
werklikheid ’n vlesige penwortel met opgebergde voedsel. Beet,
aartappels, rape en uie is almal knolle, wat eintlik ook maar
wortels is. Wortels
is vroeër, voor die koms van sintetiese kleurstowwe, ook as kleurstof
gebruik. In
oupa en ouma se tyd is talle wortels as medisyne gebruik, en vandag nog
word hoesmedisyne, hartstimulante en ontwateringsmiddels daaruit
vervaardig. Wortels verrig nog ’n belangrike funksie wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Hulle stabiliseer die grond en voorkom erosie.
Foto: U.S. Geological Survey Op steil plekke waar
plante en bome op groot skaal uitgeroei is, spoel tonne kosbare bogrond
weg en grondstortings vind maklik plaas, dikwels met rampspoedige
gevolge. Maar nie net die mens en die plant is van wortels afhanklik nie. Dink maar aan die ontelbare diertjies wat onder die grond van wortels lewe en selfs swamme wat in simbiose met wortels bestaan.
Wat
wortels doen
WORTELS
het twee hooffunksies: om water en voedingstowwe uit die grond op te
neem en na die stam te vervoer, en om die plant te anker. ’n
Ander funksie van baie wortels is om as "spens" van die plant
op te tree en voedingstowwe te berg,
byvoorbeeld
geelwortels en beet. Wortels
verrig soms ook ander funksies, byvoorbeeld dié van moerasbome wat
boontoe groei om suurstof op te neem, en die hegwortels van klimoppe wat
die plant aan voorwerpe heg. ’n
Wortel-warboel
Die
meeste groentesoorte het penwortels, terwyl bywortels weer algemeen by
grasse en graangewasse voorkom. Waterplante
se wortels neem die nodige mineraalsoute regstreeks uit die water op.
Soms bevat hulle ook chlorofil en neem die taak van fotosintese van die
blare oor.
Sommige
plante soos klimoppe met swak stingels ontwikkel klein hegworteltjies
wat ’n soort gom afskei wanneer dit met ’n stut in aanraking kom.
Daar bestaan ook lugwortels, byvoorbeeld dié van tropiese orgideë
wat hoog in bome en takke groei. Die lugwortels anker die plant stewig
aan die takke en neem waterdamp uit die lug op. Hoe
werk ’n wortel?
Onder
die wortelmussie is ’n klein gebied, die meristeem, waar die
selle gedurig verdeel. Hierdie selle word later die verskillende
wortelweefsels. Net agter die meristeem is die verlengingstreek
van die wortel. Die selle hier verleng baie vinnig en stoot só die
wortelpunt verder deur die grond. Die meristeem en verlengingstreek vorm
saam die groeistreek. Die
buitenste laag selle van die wortel word die epidermis genoem.
Baie van hierdie selle verleng om duisende fyn wortelhaartjies te
vorm. Hulle is as ’t ware die kosinsamelaars, want hul hooftaak is om
water en minerale uit die grond op te neem. Die delikate haartjies het
maar ’n kort lewe, maar word gedurig deur nuwes aangevul. Binne
die epidermis is die korteks, die stewige "liggaam" van
die wortel, en in die middel hiervan loop die "kanale"
waardeur water en voedingstowwe vervoer word. Wanneer
water met opgeloste voedingstowwe deur die wortelhare en ander
epidermale selle opgeneem word, vul dit die selholtes (vakuole)
tot barstens toe vol. Die water word van sel tot sel aangegee totdat dit
die "waterkanale" in die korteks bereik. Van hier gaan die water deur die stam na die blare... maar dis ’n storie vir ’n ander aflewering in hierdie reeks. |
|||
|
Skakels na al die aflewerings in hierdie reeks: |
|||
|
|
|||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |