Foto: Olympic National Park / U.S. National Park Service |
|
|
Só
was dit ook met die ou Egiptenare. Baie lank gelede, 3000 v.C. al, het
hulle agtergekom as hulle die stingel van die vlasplant in water week,
die vesels uitmekaar haal, droog maak en dan spin, kry hulle ’n
soort materiaal. Hierdie
materiaal noem ons vandag linne. Die Egiptenare het dit gebruik om hul
dooies in toe te draai—en vandag gebruik ons dit om spoggerige klere
en gordyne van te maak. Die
vroeë Europese ontdekkingsreisigers het weer op ’n ander ding in
die Amasone afgekom. Hulle het opgelet dat die inboorlinge nie malaria
kry as hulle ’n brousel van die bas van die kinaboom drink nie. Later,
in die negentiende eeu, het wetenskaplikes dit reggekry
om
die aktiewe bestanddeel in die bas, naamlik kinien, te isoleer. Nou
kon hulle mensgemaakte medisyne met dieselfde samestelling ontwikkel—nie
alleen het dit malaria voorkom nie, maar dit het ook nie die
onaangename newe-effekte van kinien gehad nie. Kruiehelers in Europa en die medisynemanne van die Indiane in Noord-Amerika het weer ’n ander ding ontdek: ’n brousel van die bas van die wilgerboom verlig die pyn en inflammasie van artritis. Die aktiewe bestanddeel in die bas is salisien, en hiervan het wetenskaplikes die algemeen bekende pynstiller aspirien gemaak. Die
mens het ook ’n legio ander gebruike vir stingels en stamme ontdek.
Uit die bas kry ons looisuur (tannien), kleurstowwe, kleefmiddels en
geneesmiddels. Van die sap, gom en hars maak ons kleefstowwe, vernis,
medisyne, drukkersink, verf, skoenpolitoer en plofstowwe. Boomstompe
word gebruik vir fineerhout, houtskool, pik en houtteer. Daar is ook
papierhout, wat verwerk word tot papier, sneespapier, karton,
sellofaan, plastiek en fotografiese papier. En
dan is daar nog ’n eindelose lys van alles wat ons met die hout kan
maak: omtrent enigiets van ’n vuurhoutjie of ’n tandestokkie tot ’n
telefoonpaal. Stingelstories
Foto: Children’s Wildflower Art Classes / U.S. National Park Service
Groen
stamme bevat chlorofil (bladgroen) en kan daarom die blare help om kos
deur fotosintese op te bou. Sommige
stingels is ook vir ’n paar ander take toegerus. By baie kaktusplante
is die stingel as 't ware ’n opgaardam. Hulle is ook verantwoordelik
vir fotosintese, want pleks van blare is daar net dorings en stekels. Party
stingels (en wortels) het opgeswelde dele wat knolle genoem word.
Hierdie knolle is die spens, want voedingstowwe word hier geberg. ’n
Goeie voorbeeld van só ’n knol is die aartappel. Sommige wortelstokke
(stingels wat horisontaal onder die grond groei) soos dié van die iris
berg ook voedsel. Daar
is ook stingels wat vir voortplanting toegerus is. Die bekende lopers
van die aarbeiplant is eintlik takkies van die hoofstingel wat ál met
die grond langs kruip. Babaplantjies ontwikkel uit die knope van die
lopers. Die
meeste stingels staan stewig en regop, maar ’n paar mors geen
energie
om ’n stewige stingel te vorm nie. Dié luies klim sommer op die
stingels van ander plante. Dan
is daar ook "gewapende" stingels. Hulle het dorings om
plantvretende diere af te skrik. Bekende voorbeelde hiervan is sekere
soorte lemoen- en suurlemoenbome. Hoe
lyk dit binne?
|
|
|
Skakels na al die aflewerings in hierdie reeks: |
|