|
|
IS
doodstil in hierdie fabriek. Daar's g’n gekletter van swaar masjinerie
nie. Geen radio wat heeldag blêr om die werkers se produktiwiteit te
verhoog nie. En dis ’n superskoon fabriek. Die afvalprodukte word
voortdurend in die atmosfeer gestort—en ons lewe daarvan. Het
jy reg geraai? Ja, dis die blare om ons—die natuur se eie fabriek. As
jy ’n plant só bekyk, sou jy nooit kon raai dat dit die ene
woeligheid daarbinne is nie. Maar hierdie stil, groen werkers produseer
dat dit bars—trouens, die hele wêreld se groenigheid saam vervaardig
miljoene der miljoene tonne kos per jaar. Die
blare is die broodwinners van ’n plant. Net soos ons mense elke dag
moet werk om te eet, só is die blare voortdurend besig met fotosintese
om kos vir die plant (én die mens en dier wat hierdie plante eet) te
vervaardig. Die
"grondstowwe" waaruit blare kos vervaardig, is oral om ons:
sonlig en water. As
jy ’n bietjie oplet, sal jy sien dat die blare van plante altyd só
gedraai is dat hulle die grootste hoeveelheid lig kan ontvang sonder om
die lig van ander blare af te keer. Sommige
blare is toegerus om ook ander take te verrig. Blaardeeltjies van die
pronk-ertjie word byvoorbeeld hegranke om die plant te help klim. By
sekere plante soos die bougainvilles en poinsettia (karlienblom) is die
kleurryke blare deel van die blomme. ’n Mens sien die ware blomme
amper nie eens raak nie. Jy
het seker al op ’n pynlike manier agtergekom dat plante soos die
turksvy en kaktus glad nie vriendelik is nie. Die dorings en stekels op
hierdie plante is eintlik
"verskrompelde
blare" wat vir ’n ander doel toegerus is.
Foto: Gary M. Stolz / DLS / US Fish & Wildlife Service Baie
blare is die spens van die plant en berg water of kos. Die ondergrondse
blare van die uieplant is vol kos vir die winter. En daardie dik,
vlesige blare van vetplante is "opgaartenks" vol water vir die
maer jare. Iets
waarvan jy seker nog nie gehoor het nie, is dat party blare die
"vullisverwyderaars" van plante is. Afvalstowwe van die plant
bou in hulle op totdat hulle afval en die ongewenste stowwe saam met
hulle neem. Sekere
blare is weer toegerus om voort te plant. Die blare van die
Usambara-viooltjie (African violet) ontwikkel byvoorbeeld
bywortels wanneer dit in klam grond of water geplaas word en vorm nuwe
plantjies. Dan
kry ’n mens ook slagyster-blare wat proteïenkos vir hul plante vang.
Sodra ’n niksvermoedende insek in die houer kruip wat die blare vorm,
slaan hulle toe. Hier word die arme dingetjie deur ensieme verteer. (Kyk
die artikel "Blare met byt" elders op Mieliestronk.) Deur
die blare
JY
sal beslis deur die blare voel as jy moet tel hoeveel verskillende blare
daar is. Blare
word verder geklassifiseer volgens vorm, grootte, rand, are en hoe dit
aan die stingel vas is. Die
meeste blare is met steeltjies aan die stingel vas. Dié wat nie
steeltjies het nie, noem ons sittende blare. Bou van die blaarBEKYK
jy ’n blaar onder ’n mikroskoop, sien jy dat hy uit
verskillende
lae bestaan. Net soos ons het die blaar ’n "vel" wat die
epidermis genoem word. Dit bestaan uit ’n enkele laag deursigtige
selle—soos
sardientjies in ’n blik styf teenmekaar gepak—bedek met ’n dun,
waterdigte lagie wat die nerf genoem word. Hierdie nerf keer dat die
blaar te veel water verloor.
BO: ’n Dwarssnee van ’n blaar met die verskillende lae selle. Fotosintese (kyk ook afdeling daaroor hieronder) vind hoofsaaklik in die palissadeselle plaas omdat hulle baie bladgroenkorrels met chlorofil bevat. Illustrasie: RUDI SENNETT vir Huisgenoot Onder
die epidermis is die mesofil (bladmoes). Die mesofil bestaan uit twee
lae: die lang palissadeselle en die ronde sponsselle. Die
palissadeselle huisves die groen, ovaalvormige bladgroenkorrels met die
chlorofil wat noodsaaklik vir fotosintese is. Onder
die palissadeselle is die sponsselle met groot lugopeninge tussen hulle
en minder bladgroenkorrels. Hier vind ook fotosintese plaas, maar minder
as in die palissadelaag. Water en gasse beweeg vryelik in die sponslaag. Dan
kry ’n mens weer die epidermis—onthou, die epidermis bedek die hele
blaar, bo én onder. Huidmondjies kom gewoonlik in die epidermis onder
die blaar voor. Hulle is die
"hekwagters" wat waterdamp en gasse in- en uitlaat. Fotosintese
FOTOSINTESE
is een van die
wonders
van die natuur. Die
woord
beteken "om te bou met lig"—en
dit is presies wat gebeur. Wanneer sonlig op ’n blaar val, neem die chlorofil van die energie op. Hierdie ligenergie laat chemiese veranderinge plaasvind as twee eenvoudige bestanddele—water wat deur die wortels opgeneem is en koolstofdioksied (koolsuurgas) wat deur die huidmondjies binnegelaat is—teenwoordig is.
Illustrasie: ARC / NASA (vertaal en gewysig) Water
bestaan natuurlik uit waterstof en suurstof. Koolstofdioksied bestaan
weer uit koolstof en suurstof. Deur die inwerking van die lig ruil die
atome plekke om nuwe molekules, waaronder suikers, te vorm. Die
suurstof wat as ’n neweproduk afgegee word, is die hoofbron van
atmosferiese suurstof. Koolstofdioksied word gereduseer om die basis vir
die suikermolekule te verskaf. Die gebalanseerde vergelyking waarin
koolstofdioksied en water verander in glukose-suiker, suurstof en die helfte
minder water is: 6CO2
+ 12H2O
= C6H12O6+
6O2 +
6H2O Eenvoudige
suikers word tot komplekse suikers, stysels, proteïene en vette
omgesit—dit kan in die plant self geskied of in ’n dier wat die
blare vreet. Dis
ongelooflik om te dink die hele proses gebeur in ’n breukdeel van ’n
sekonde. Mens
en plant is op wonderbaarlike wyse op mekaar aangewese: plante voorsien
die suurstof wat ons inasem en gebruik weer die koolstofdioksied wat ons
uitasem. Fotosintese
geskied meestal in blare, maar dit kan eintlik op enige groen plek op
’n plant plaasvind. By kaktusse, byvoorbeeld, is die blare baie klein
of bestaan glad nie—hier maak die stingels die kos. Alle plante bevat
chlorofil, al lyk
hulle
nie groen nie. Sekere soorte seewier het bruin en rooi pigmente wat die
groen verberg. Hierdie ander kleure is noodsaaklik om lig onder die
water te help opneem. Blaarverlies
WANNEER
die weer kouer word, moet die boom suinig
begin
werk met sy water, want in die ysige winter kan water nie so maklik uit
die grond opgeneem word nie.
Met
verloop van tyd word die blare heeltemal droog en val af. Al het
bladwisselende plante geen blare om in die winter kos te maak nie, het
hulle genoeg kos in die stam en wortels opgegaar om te oorleef. Die
blare van die volgende seisoen vorm in knoppies onder die beskermende
skutblare. Wanneer die lente met sy langer sonskyndae aanbreek en meer
water beskikbaar is, bars die blaartjies uit hul skuilplek—die wonder
van ’n nuwe seisoen het begin. |
|
|
Skakels na al die aflewerings in hierdie reeks: |
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |