en
ander bestuiwers
Foto: Dean E. Briggins / US Fish and Wildlife Service
|
||
|
Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld Grafika-kompilasie
deur Mieliestronk.com
-A-A-TSJOE!
Gesondheid! Dis weer daardie tyd van die jaar. Die wêreld lyk
verruklik van die tere lenteblomme en oral koer verliefdes en duiwe om
mekaar. Net arme jy is erg miserabel, want dis stuifmeeltyd—en jy’s
’n hooikoorslyer. Mense
wat nie aan hooikoors ly nie, dink partykeer jy sit aan. Want niemand
kan die miljoene stuifmeeldeeltjies sien wat heen en weer in die lug
vlieg nie. Ag,
nou ja, snuit maar die neus en hou uit. Jy ly vir ’n goeie doel.
Blomme is nie net vir die mooi nie. Hulle is die voortplantingsorgane
van plante, en sonder ons groen vriende kan ons en feitlik alle ander
lewende skepsels nie bestaan nie. Deur
die eeue heen was blomme
nog
altyd die boodskappers van liefde. En soos die mens maar is, het dit ’n
groot geldmaakstorie geword. Skoonheidshuise gebruik tonne der tonne
blomblare vir olies en ekstrakte vir allerlei mooimaaksalwe en parfuum. Ook
die dierewêreld hou van blomme. ’n Mens weet nou nie of hulle ook
kykgenot uit blomme put nie, maar hulle geniet dit beslis om hul mae se
ontwil. Baie insekte, skoenlappers en voëls lewe van die stuifmeel,
nektar en olie van blomme. Dan praat ’n mens nie eens van die gulsige
kewers wat ’n hap hier en ’n hap daar uit blomblare vat nie. Insekte
gebruik ook die harsdeeltjies van blomme as boumateriaal. Maar
dit is alles bysaak. Die
hoofdoel
van blomme is om sade voort te bring, wat weer in nuwe plante ontkiem.
Omdat die sade binne-in die blomme is, word blomplante bedeksadiges
genoem. Hul geleerde naam is angiosperme. Blomme
doen hul voortplantingstaak so goed dat hulle vandag die mees
wydverspreide en veelsoortige groep plante op aarde is. Bou
van die blom
|
|
ONDER:
Die stuifmeelkorrel van ’n sitrusspesie lyk darem nie so
formidabel nie. |
Stuifmeel
bestaan uit talle piepklein korrels wat kilometers ver gewaai kan word.
Omdat windbestuiwing maar ’n onsekere manier van voortplanting is,
word baie groot hoeveelhede stuifmeel geproduseer. Jy sien soms selfs ’n
hele sypaadjie wat met stuifmeel bestuif is.
’n
Klein groepie plante wat in of naby water groei, span die water in vir
bestuiwing. Sommige waterplante laat piepklein manlike blommetjies onder
die water vry. Dit styg boontoe en dryf op die water—en bestuif
hopelik vroulike blomme op hul pad na die see.
Ander
laat bloot hul stuifmeel op die water val, van waar die strominge dit
verder versprei.
Dat
dit loon om te adverteer, het blomme al lankal agtergekom. Met allerlei
kleure en geure, vorms en patrone lok hulle insekte nader. Dié moet
natuurlik iets kry om die besoek die moeite werd te maak—en dis kos.
Baie
blomme het allerlei strepies en kolle in die kelk. Dit staan bekend as
heuningwysers en lei die insekte na die nektar- en stuifmeel-spens.
Proefnemings
het getoon dat reuk die beste lokmiddel is—maar dis iets wat vroue
hulle lankal kon vertel het. Nie dat die reuke altyd aangenaam vir die
mens se neus is nie—in tropiese dele ruik sommige plante nes vrot
vleis, maar sekere vlieë is dol daaroor.
Ander
plante, veral orgideë, gaan ’n stappie verder—hulle vermom hulle
soos insekte. Onder die indruk dat dit moontlik ’n maat is, besoek die
insek die blom. Voordat
hy
sy fout besef, het stuifmeelkorreltjies al aan sy harige lyfie
vasgeklou, net reg om op die volgende blom te val.
SODRA
’n stuifmeelkorreltjie op ’n ryp stempel beland, ontwikkel die
korreltjie ’n stuifmeelbuis wat in die styl afgroei totdat dit die
eiersel bereik.
Die
punt van die buis bars oop en stel twee spermselle vry. Een van hulle
versmelt met die eiersel en vorm ’n embrio terwyl die ander een die
voedingstowwe vorm waarop die embrio teer.
En
só word die weg gebaan vir die ontwikkeling van ’n nuwe plant of
plante.
Skakels na al die aflewerings in hierdie reeks: