Ons wonderlike plante (6): Ongeslagtelike voortplanting

     

’n Plant uit ’n plant

uit ’n plant...

 

Kalanchoë pinnata met ontwikkelende "kinders"REGS: Die vetplant Kalanchoë pinnata, wat klein plantjies ál langs die kante van sy blare ontwikkel. Die plantjie voor is omtrent een sentimeter hoog.

 

Foto beskikbaar gestel deur ERIC GUINTHER in die Engelse weergawe van die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web en wel in die artikel oor “Vegetative reproduction”. Die groter weergawe van die foto verskyn in die Wikipedia by hierdie skakel, waar vertel word dat kopiëring vergun word ingevolge die GNU Free Documentation License, weergawe 1.2 of enige latere weergawe, soos deur die Free Software Foundation gepubliseer.

 

’n Plant uit ’n plant uit ’n plant... dis omtrent hoe dit gebeur wanneer plante ongeslagtelik (vegetarief) voortplant.  Al langs die kante van byvoorbeeld ’n vetplant se blare ontstaan klein plantjies wat naderhand afval—om hulle in die grond te anker en ’n eie lewe te begin. Of ’n turksvyplant verloor een van sy stekelrige blaaie—maar ’n nuwe plant skiet daaruit wortel, ’n regte kloon van die ouerplant, kan ’n mens maar sê. Dis waar... hoe meer ’n mens van plante leer, hoe meer staan jy verwonderd oor die wonder van die skepping...

 


Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld

Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

   

P

Turksvyblad word ’n nuwe plantARTY mense het groen vingers en ander het nie. Die groenvinger-mense steel ’n steggie hier en ’n blaartjie daar, druk dit in ’n hoekie van die tuin of ’n blompot—en kan jy glo, amper oornag kom daar ’n weelderige groeisel op.

 

Mense wat nie groen vingers het nie, voel dikwels minderwaardig. Hulle glo plante hou nie van hulle nie en sterf onder hul liefderyke versorging. Darem seker nie waar nie, hoewel daar sekere mense is wat vas glo dat plante op mense reageer—selfs op hul gedagtes!

 

Hoe ook al, plante is regtig alte "slim" as dit by voortplanting kom. In die vorige aflewering het ons vertel van plante wat deur middel van sade voortplant. Dit word geslagtelike voortplanting genoem. Net soos by die mens, smelt ’n manlike geslagsel met ’n vroulike eiersel saam om ’n nuwe lewetjie, die embrio, te vorm.

 

Maar daar is ook ’n ander manier van voortplanting waar geen geslagselle betrokke is nie. Baie plante kan hulself voortplant deur die vorming van nuwe plante uit wortels, stingels en blare. Dis op dié gebied dat die groenvinger-mense so ’n slag het. Dit word ongeslagtelike of vegetatiewe voortplanting genoem.

 

Kyk maar wat gebeur met aartappels en uie as hulle ’n ruk lank in die groentemandjie lê. Hulle spruit uitloopsels, die eerste dele van ’n nuwe plant.

 

Eensellige plantaardige organismes soos mikroskopiese alge plant ook ongeslagtelik voort. Hulle verdeel eenvoudig. Daar is ook plante wat deur middel van spore, piepklein struktuurtjies, voortplant.

 

Maar verreweg die meeste ongeslagtelike voortplanting geskied deur die vorming van ’n nuwe plant uit verskillende dele van die "moeder"-plant. Die nuwe plantjie begin gewoonlik as ’n wortel of uitloopsel van die "moeder".

 

Hierdie vorm van voortplanting is kenmerkend van bolle (uie), knolle (aartappels), wortelstokke (kannas) en suiers (populierbome), asook sekere stingels (malvasteggies) en blare (Usambara-viooltjie oftewel "African violet").

 

By geslagtelike voortplanting kry die nuwe plant ’n kombinasie van die ouers se eienskappe. Maar ’n plant wat ongeslagtelik ontstaan, is ’n identiese weergawe van die ouer waaruit hy gegroei het—’n propperse kloon, kan ’n mens wel sê.

 

Aan die een kant is geslagtelike voortplanting voordeliger omdat dit vir ’n groter genetiese verskeidenheid sorg, maar aan die ander kant is ongeslagtelike voortplanting ’n baie eenvoudiger proses—geen blomme, bestuiwing of saadverspreiding is nodig nie.

 

Jong saailinge (geslagtelike voortplanting) is uiters kwesbaar, maar jong plantjies wat deur ongeslagtelike voortplanting ontstaan, loop baiemaal nie dié gevaar nie omdat hulle nog aan die ouerplant vas is. Wanneer hulle eindelik by wyse van spreke op eie bene staan, is hulle al goed ontwikkel en heeltemal selfvoorsienend.

 

Met ongeslagtelike voortplanting kan plantjies ook in ’n baie vinniger tempo voortgebring word.

 

Sommige plante maak net staat op óf geslagtelike óf ongeslagtelike voortplanting, terwyl ander albei maniere inspan.

 

Die verdelingsweefsel van plante, die meristeem, kom gewoonlik voor aan die punte van wortels en uitloopsels, asook waar blare en stingels byeenkom. ’n Steggie wat van dié weefsel bevat, sal in gunstige omstandighede tot ’n volledige plant ontwikkel. Die wonder van ongeslagtelike voortplanting is dat sekere selle hul oorspronklike funksie kan wysig sodat ’n nuwe plant gevorm kan word.

 

Maar net sekere dele van plante kan hulself op hierdie manier voortplant, en hierdie dele verskil van plant tot plant.

  

Bolle:

BOLLE is van die bekendste plante wat ongeslagtelik voortplant. Die bol is gewoonlik die spens van die plant en nuwe bolle kan binne-in of bo-op ontwikkel.

 

’n Bolplant bestaan uit ’n skyfvormige stingel waaruit die vlesige blare, wat die bol vorm, ontstaan. (Net die blare bokant die grond fotosintetiseer.)

 

Die vlesige blare is omhul deur bruin, papieragtige skubblare en berg voedsel waarop die groeiende uitloopsel aan die bokant teer.

 

Sodra die bol uitgegroei en toestande gunstig is, begin hy voortplant. Knoppe vorm tussen die vlesige blare en soms bo die grond aan die basis van die groen blare. Hulle ontwikkel tot nuwe bolle.

 

Bekende voorbeelde van bolle is uie en lelieplante.

 

UiREGS: Die uiebol is een van die bekendste voorbeelde van plante wat ongeslagtelik voortplant. Ná die groeiseisoen gaan die bogrondse blare van die plant dood, maar die bol bly voortleef. Wanneer die lente aanbreek, word die kos in die vlesige blare van die bol gebruik om nuwe bogrondse dele te ontwikkel. Knoppe vorm tussen die vlesige blare en elkeen kan tot ’n nuwe bol ontwikkel.

Foto: U.S. Centers for Disease Control and Prevention (gewysig)

KormusKormus (gerokte knol):

MET die eerste oogopslag lyk kormusse nes bolle, maar hulle ontstaan heeltemal anders, ’n Kormus is die geswelde deel van ’n stingel wat oorbly nadat die boonste dele van ’n plant dood is. Dit word deur ’n soort "rokkie", die skede, beskerm.

 

Elke jaar ontwikkel ’n nuwe plant uit die kormus en gebruik van die kos in die "spens" om te groei. Die kos wat deur die nuwe plant se blare opgebou word, word in sy stingel bokant die kormus van die vorige jaar geberg. ’n Nuwe kormus vorm dus bokant die oue.

 

Klein kormussies kan uit die nuwe kormus ontstaan en tot nuwe plante ontwikkel. Soms is die stingel vertak sodat nuwe kormusse afsonderlik gevorm word.

 

Voorbeelde van kormusplante is pypies, watsonias en freesias.

 

Risome:

’N ANDER algemene manier van ongeslagtelike voortplanting is deur horisontale ondergrondse stingels wat risome genoem word. Hulle lyk nogal na wortels, maar is in werklikheid stingels met hul eie wortels, knoppe en blare.

 

Gemmer-risoomDistel spruit uit risoomTerwyl die risoom horisontaal ál onder die grond groei, ontwikkel uitloopsels wat boontoe groei om nuwe plante te vorm.

 

Plante wat uit risome spruit, is die iris, adelaarsvaring en bekende hardnekkige onkruid soos kweekgras.

 

In sommige plante ontwikkel die punt van die risoom tot ’n geswelde knol, waar kos geberg word. ’n Goeie voorbeeld van ’n knol is die aartappel. Die bekende "ogies" op die aartappel bevat elkeen ’n miniatuur-blaartjie met ’n klomp klein knoppies. Een aartappel kan dus ’n klomp nuwe plante voortbring.

 

Aarbei-loperLopers:

AMPER nes wortelstokke is daar stingels wat lopers genoem word, maar pleks van horisontaal ondergronds groei hulle horisontaal ál met die grond langs. Oral waar die stingel grondvat, ontwikkel bywortels uit sekere knope. Nuwe plantjies ontwikkel hier wat heeltemal onafhanklik van die moederplant is.

 

’n Bekende voorbeeld van ’n plant wat só voortplant, is die aarbei.

 

Suiers:

DAN is daar ook plante wat kort ondergrondse stingels voortbring met nuwe plante, wat suiers genoem word, aan die punte. Nes lopers word suiers met kort stingels aan die moederplant verbind.

 

Wanneer die stingel afbreek, kan die nuwe plant onafhanklik groei waar hy ook al in die grond wortelskiet.

 

SoetpatatWortels:

HET jy geweet dat soetpatats en dahliaknolle nie regtig knolle is nie, maar vlesige wortels wat kos berg? Ons verwys egter na hulle as knolle.

 

Die bogrondse dele van hierdie plante gaan dood nadat hulle geblom het, maar die knolle bly lewe. In die volgende groeiseisoen ontwikkel die knoppe aan die bopunt van die knolle tot uitloopsels wat bokant die grond groei. Hierdie nuwe plante kan op hul beurt weer geswolle wortels ontwikkel waarin kos geberg word.

 

As ’n knol met ’n knop van die stingel verwyder en geplant word, sal dit tot ’n nuwe plant ontwikkel.

 

Steggies

 

Stingels:

BAIE plante is in staat om deur ’n steggie voort te plant. Dit word moontlik gemaak deurdat die selle in die afgesnyde stingel hul funksie kan wysig en selle vir die nuwe wortels vorm.

 

Baie plante plant in die natuur só voort, maar die mens gebruik ook hierdie vermoë van plante om hulle kunsmatig en op groot skaal voort te plant.

  
Blare:

S
OMS is net ’n enkele blaartjie genoeg om ’n heel nuwe plant voort te bring. Seker die bekendste voorbeeld van só ’n plant is die pragtige Usambara-viooltjie. ’n Ander voorbeeld is die vetplant kalanchoe wat klein plantjies met lugwortels al langs die kante van sy blare ontwikkel. Wanneer hierdie plantjies afval, anker hulle hulself in die grond en begin ’n eie lewe.

Skakels na al die aflewerings in hierdie reeks:

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad