|
IE
oorlog wat nou teen plastieksakkies woed, is een ding, maar jy kan jou
omtrent nie die węreld sonder plastiek voorstel nie. ’n Aarde met
geen plastiekbekleedsels, -meubels, -houers,
-speelgoed en-skryfgoed—trouens, met geen van die duisternis ander dinge wat wat
van hierdie sintetiese ''ivoor'' van die moderne tyd gemaak word nie.
Maar presies wat is plastiek? Die geleerdes praat van
plastiekstowwe as hoogpolimeerstowwe. Dit is stowwe wat uit reuse-molekules
bestaan, wat makromolekules genoem word. Die meeste plastiekstowwe is organies (dit wil sę hulle het die element
koolstof as basis), omdat koolstof juis in staat is om die nodige makromolekules te vorm.
Silikon (’n nie-metaalagtige element wat algemeen in sand voorkom) is in
’n mindere mate
ook in staat om makromolekules te vorm, en plastiekstowwe kan dus ook daarvan gemaak
word.
Polimerisasie kan gedemonstreer word deur honderde skuifspelde (papierklemme) aan
mekaar te haak om kettings te vorm.
Al bestaan die meeste polimeerstowwe basies uit koolstof
(C) en waterstof
(H) [ILLUSTRASIE HIERBY], kan ander elemente soos suurstof, chloor, stikstof, fosfor, swael, ens. ook betrokke wees.
Natuurlike polimeerstowwe is maar al die eeue met ons. Dit sluit in sulke dinge soos teer,
skilpaddoppe en horings, asook sekere plante se lateks (waarvan rubber gemaak kan word).
Die hars waarvan plastiekstowwe gemaak word, bepaal elke soort plastiek se eienskappe.
’n Hars kan byvoorbeeld óf deur hitte verhard óf daardeur versag word, en die soort plastiek
wat daarvan verkry word, word dienooreenkomstig as onderskeidelik termosettend of
termoplasties aangedui.
• •
• • • • •
DIE ontwikkeling van plastiek het omstreeks 1860 begin toe Phelan
and Collander, ’n Amerikaanse firma wat onder meer biljartballe vervaardig het,
’n prys van $10 000 (destyds ’n enorme klomp geld) uitgeloof het om ’n
bevredigende plaasvervanger vir natuurlike ivoor
te vind.
Die uitvinder John Wesley Hyatt het nie die prys gewen nie, maar tog vorendag gekom met
’n produk uit sellulose, wat hy selluloďed genoem het. Dit is later vir allerlei dinge gebruik, van die maak van kunstande tot rolprentfilms. Dit was egter hoogs vlambaar en
bioskoopmasjiniste het letterlik met vuur gespeel as hulle naby hul projektors gerook het!
Hyatt het, só word vertel, ’n bottel kollodion in sy werkwinkel uitgemors. Kollodion is
’n oplossing van skietkatoen en eter, wat as kleefstof gebruik kan word. Skietkatoen is, op sy beurt,
’n ontplofbare stof, bestaande uit katoen of ander veselstof waarop swaelsuur of
salpetersuur ingewerk het. Sellulose is ’n bestanddeel van plantaardige
selwande, dus ook van katoen.
Ná sy ongelukkie het Hyatt agtergekom dat die kollodion tot ’n sterk, buigbare film gestol het. Toe maak hy biljartballe uit kollodion, maar omdat laasgenoemde so hoogs plofbaar is, sou die biljartballe ontplof die oomblik wanneer hulle mekaar tref. Die oplossing was die byvoeging van kanfer—’n
vlugtige stof wat uit die hout van ’n lourieragtige boom verkry word. En die eindproduk was toe selluloďed, die eerste termoplastiekstof.
Die eerste volledig sintetiese plastiekstof is in 1910 kommersieel uit fenol en formaldehied
vervaardig deur Leo Hendrik Baekeland, ’n Amerikaanse skeikundige wat in België gebore
is. Dit is later bakeliet genoem en in die elektrisiteitsbedryf gebruik.
Die meeste soorte plastiek is oorspronklik gemaak van stowwe van plantaardige maar
selfs ook dierlike oorsprong—soos kaseďen uit melk. Hoewel die produksie van nylon oorspronklik op steenkool, lug en water gegrond was, en nylon 11 steeds kasterolie as basis het, word die meeste plastiekstowwe vandag van
petrochemikalieë verkry.
REGS:
Die spigtige vrug van die kasterolieplant bevat die bone (REGS ONDER)
waaruit kasterolie gepers word. Hoewel kasterolie vroeër ’n gewilde
purgasie was, word deesdae besef hoe giftig alle dele van die plant
in der waarheid is (trouens, net twee tot ses bone sou ’n mens kon
doodmaak). Kasterolie is egter steeds van waarde in byvoorbeeld die
plastiek- en verfbedryf.
.Foto’s:
Brian Prechtel / ARS / U.S. Department of Agriculture
Hierdie grondstowwe met ’n oliebasis is betreklik wyd beskikbaar en goedkoop. Omdat die
węreld se olievoorrraad egter beperk is, word ander bronne van grondstowwe, soos
steenkool-vergassing, ook ondersoek.
In die twintigste eeu het die plastiekbedryf met rasse skrede vooruitgegaan en so te sę die
hele węreld verower. Vandag is plastiek ’n integrerende deel van die boubedryf,
motorbedryf, meubelbedryf, noem maar op.
Baie soort plastiekstowwe word in mengsels gebruik. Versterkende stowwe (gewoonlik
vesels van glas of koolstof) word by plastiekhars gevoeg. Sulke samestellings is so sterk en
stabiel dat hulle selfs met metale kan meeding en tog weeg hulle in die reël nie so swaar
nie. Van plastiekskuime, wat samestellings van plastiek en gas is, kan groot voorwerpe
gemaak word wat lig van gewig is.
’n Mens hoef maar net agteroor te sit en in jou onmiddellike omgewing sal jy heel moontlik
verskeie voorwerpe kan uitken wat van plastiek gemaak is—al is die plastieksakkie se dae
as "nasionale blom" hopelik met die nuwe maatreëls getel!
|