|
YK in die spieël na jou gesig. Dit lyk
simmetries, oftewel alkant eenders—hoewel natuurlik nie op ’n haar
eenders nie. Maar jou neus en mond is in die middel, en weerskante
het jy ’n oog en ’n oor. Selfs die linker- en regterkant van jou lyf
is simmetries, en jy is gewoond daaraan om regop te loop.
Maar sê nou jy moes jou lewe lank op jou sy op die grond gelê het?
Dan sou jou regs-links-simmetrie maar bloedweinig vir jou beteken
het. Daar is egter ’n groep visse wat, pleks van deur die water te
swem, die meeste van hul tyd op die seebodem lê. Platvisse—wat die
tongvis, bot, skol en heilbot insluit—het liggame wat lyk asof dit
horisontaal afgeplat is, hoewel hulle in der waardheid op hul sye
lê.
Wanneer hulle uitbroei, lyk die platvislarwes nes die ander. Maar
namate hulle groter word, begin iets eienaardigs gebeur: een kant
van die skedel groei vinniger as die ander, wat die een oog na die
ander kant van die kop laat skuif en die bek sywaarts verwring.
Terselfdertyd verdonker die kant van die liggaam waar die oë is,
terwyl die ooglose kant byna kleurloos word. Die verdonkering help
om die boonste deel van die liggaam te kamoefleer. Die kant wat aan
die seebodem raak, het geen kleur nodig nie.
Die eindresultaat is ’n groep kreature wat bra komies lyk. Maar as
jy dink hulle lyk raar, dink net hoe bisar jou eie gesig sou gelyk
het as dieselfde met jou gebeur het!

BO: Die
rugkant van ’n klein heilbot. Die larwes begin die lewe soos
gewone visse met ’n oog aan elke kant van die kop. Wanneer
hulle nagenoeg drie, vier sentimeter lank is, verskuif die
oë oor die snoet na die regterkant van die kop, terwyl die
kleur aan die linkerkant verdof.
Foto: NOAA
Tongvis
PRAAT van die
tongvis en baie mense dink aan ’n smaaklike gereg in ’n
restaurant. Tien teen een dink hulle nooit eens aan die vreemde
anatomie van die skepsel op hul borde nie—genoodsaak deur sy
lewenstyl op die seebodem.

BO: Een van
die tongvissoorte (’n sogenaamde Dover-tongvis) lê op die
modderige seebodem.
Foto: NOAA
Soos ander platvisse lyk die stuk of veertig soorte tongvisse
soos '’normale'' klein vissies wanneer hulle uitbroei. Maar in
hul vroeë lewenstadiums gaan lê hulle op hul linkersy en die
linkeroog beweeg oor na die regterkant toe. ’n Groot deel van
die bek raak verwronge onder die kop. Teen die tyd dat hulle
volwassenheid bereik, is die liggaam plat en ovaalvormig, en het
die rug-, aars- en stertvinne reeds ’n volledige rand om die vis
gevorm.
Tongvisse hou in warm, vlak waters in die meeste wêrelddele.
Hulle lê die grootste deel van die dag weggesteek onder die sand
of gruis en maak gewoonlik snags hul verskyning of wanneer die
lug betrokke is. Dan vreet hulle byvoorbeeld weekdiere, wurms en
klein vissies wat op die seebodem lewe.
Omdat sy bek so anders sit, vreet die tongvis deur die voorkant
van sy kop oor die slagoffer te maneuvreer en dit dan van die
sand af in sy bek op te raap.
Orde: Pleuronectiformes. Familie: Soleidae.
Bot
SOWAT 300
verskillende soorte botte word in die Noordelike Halfrond
aangetref. Die meeste hou in die kuswaters en
varswaterriviermondings van Europa, maar party word so ver noord
as die ysige waters van die Noordelike Yssee en sommige so ver
suid as by die sonnige kuste van Noord-Afrika gevind. Die
Engelse woord vir botte is ''flounders''.
Soos by ander platvisse sit altwee die oë van volwasse botte aan
die een kant van die kop en wys die bek sywaarts. Hulle kan hul
kleur soos verkleurmannetjies verander om met hul omgewing saam
te smelt. Trouens, hulle is so vasbeslote om hulself te vermom
dat ’n vis wat onder die water op ’n skaakbord geplaas word ook só ’n
blokkiespatroon aanneem.
LINKS:
As ’n bot onder die water op ’n skaakbord lê, sal hy homself
probeer kamoefleer deur swart en wit vlekke te ontwikkel.
Krediet: NASA
Botte vreet garnale, weekdiere en wurms wat in die sand of
modder lewe. Hierdie skepseltjies speel wegkruipertjie wanneer
dit laagwater is, maar met hoogwater kom hulle te voorskyn om
die inkomende plankton te vreet. Dan is dit vir die botte maklik
om oor die sand of modder te swem en hulle op te vreet.
Soos ander platvisse swem botte met vertikale golfbewegings van
hul afgeplatte liggame.
Orde: Pleuronectiformes. Families: Pleuronectidae
en Bothidae.
Skol
DIE skol is een van
die belangrikste platvisse in die menslike dieet en groot
hoeveelhede word in Noord- en Suid-Europa verorber. Hy verskil
is sy kleurvlekke ietwat van ander platvisse, maar het eweneens ’n skewe bek en altwee oë aan
dieselfde kant van die kop.
Skolle vreet ook klein weekdiertjies en ongewerweldes wat op die
seebodem woon. Hulle gewaar hulle met hul oë en skiet dan
horisontaal vorentoe om hulle met die bek op te raap. Klein
prooi word heel opgevreet, maar groter slagoffers word deur
skerp tande in die keel verbrysel.
Orde: Pleuronectiformes. Familie: Pleuronectidae.
LINKS:
’n Europese skol (Pleuronectes platessa) uit
die suidelike Noordsee.
Foto:
Hans Hillewaert,
wat dit op
hierdie bladsy in
Wikimedia op die wêreldwye web geplaas het en dit
gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.5-lisensie.
Kortom, gebruik word vergun mits
Hans Hillewaert behoorlik erken word
en dit slegs versprei sal word ingevolge ’n lisensie
soortgelyk aan hierdie een.
Amptelike lisensie.
|
Heilbot
DIE ''heil'' in die
naam ''heilbot'' is afgelei van ''heilig'', ’n verwysing na die
feit dat dit eenmaal op Christene se heilige dae geëet is. Maar
die heilbot—die grootste van die platvisse—smaak goed op enige
dag van die jaar.
Die heilbot, wat in koel, diep waters in die Noordelike Halfrond
voorkom, kan langer as twee meter word en tot 180 kg of meer weeg. Soos
ander platvisse het hy ’n afgeplatte liggaam met altwee oë aan
dieselfde kant van die kop. Die ontblote deel van die liggaam is
donkerbruin, die deel wat aan die seebodem raak, is so goed as
kleurloos.
Krappe, visse en skulpvisse is op sy spyskaart.
Orde: Pleuronectiformes. Familie: Hippoglossidae.
|

|
Bees van ’n vis!
LINKS: Die
Pasifiese heilbot
(Hippoglossus stenolepis)
van die noordelike Stille Oseaan is die grootste platvis in die
see. Volgens die Internasionale Hengelvereniging word die rekord
gehou deur ’n bielie van sowat 208 kg wat in 1996 by Alaska
gevang is.
Foto: NOAA
|
Maar die rôe is nie so
“bot” nie!
RÔE,
wat verwant is aan haaie, behoort tot ’n aparte groep platvisse
as tongvisse, skolle en botte, maar anders as die bot-groep, wat
op hul sye lê, is rôe só afgeplat dat hulle op hul pense lê.
REGS : ’n
Mantarog (Manta birostris).
Foto: Emma Hickerson / US National Oceanic and
Atmospheric Administration (NOAA)
ONDER: ’n
Pylstert-rog van die see by Helsinki, die hoofstad van Finland.
Foto deur
Skorpion87, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die
wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“in the public
domain”). Foto gewysig.
|