|
NOTA: Hierdie artikel is
in Augustus 2006 geskryf. Intusen het die dwergplaneet 2003
UB313 (bygenaamd
“Xena”),
waarna in die artikel verwys word, op 13 September 2006 ’n amptelike
naam gekry, te wete Eris. Die dwergplaneet is genoem na die Griekse
godin Eris, ’n verpersoonliking van twis en onvrede. Die hemelliggaam
Eris is steeds die grootste bekende dwergplaneet in ons sonnestelsel
[31 Julie 2007].
Hoe
en hoekom die raaiselwêreldjie aan die buitegrens van die domein van
die planete gestroop is van die hoë status wat hy sedert 1930 beklee
het Pluto
|
|
OU ja, nou
is dit amptelik. Pluto is nie meer ’n planeet nie! Op
24 Augustus 2006 het die Internasionale Astronomiese Unie in Praag
in die Tsjeggiese Republiek besluit om Pluto van sy status as volwaardige
planeet te stroop. Die
beslissing behels ook dat hy voortaan as ’n "dwergplaneet"
bekend sal staan. Enkele ander groterige voorwerpies in ons son se familie
is weer tot dwergplanete opgegradeer. Die betreklik onlangs ontdekte
ruimtelike voorwerp 2003
UB313 (bygenaamd
Xena), Pluto se vernaamste maan Charon en die grootste
asteroïde in die sonnestelsel, Ceres, is nou almal dwergplanete
saam met Pluto. BO: Planete en dwergplanete van die sonnestelsel volgens die nuwe indeling. Dit was
lankal duidelik dat Pluto—aan die verre buitegrens van die domein van
die planete in die sonnestelsel—nie rêrig in die liga van die agt ander
planete tuishoort nie, te wete Mercurius, Venus, die Aarde, Mars, Jupiter,
Saturnus, Uranus en Neptunus. Pluto is
doodeenvoudig te klein—kleiner selfs as ’n hele klompie van die mane
van die ander planete. Hy voldoen ook nie aan die nuwe definisie dat ’n
planeet in staat moet wees om die omgewing van sy wentelbaan skoon te vee
van ruimtelike voorwerpe nie. Hy beweeg boonop nie eens op die dieselfde
vlak as die agt planete nie en volg ’n eksentieke wentelpad wat hom soms
nader aan die son bring as Neptunus.
Kompilasie van NASA-foto’s Toe Pluto in 1930 deur die Amerikaanse
sterrekundige Clyde William Tombaugh ontdek is (op grond van aanvoorwerk
deur Amerikaanse sterrekundige Percival Lowell) is weliswaar gedink dat hy
omtrent so groot soos die aarde moes wees. Daar is
nie besef dat hy ook ’n maan het nie en die hele planeet-maan-kompleks is
aangesien vir ’n enkele, heel aansienlike planeet. Eers veel later is agtergekom dat Pluto net ’n kleinerige wêreldjie met ’n maan (genoem Charon) is—dat hy in der waarheid so klein is dat hy hoogtens die naam mini-planeet of dan wel dwergplaneet waardig is. Charon is eers in 1978 ontdek. Dit is omdat hierdie maan so naby aan sy moederplaneet is dat hulle een dowwe skynsel gevorm het wanneer hulle met aardteleskope bekyk is. Maar
uiteindelik moes sterrekundiges ernstig besin of Pluto se tjank as
"planeet" nie afgetrap moes word nie—want met hoogs verbeterde
waarnemingsinstrumente is dit heel moontlik dat nog ’n tros Pluto’s in
die sonnestelsel se buitewyke opgespoor kan word. Trouens, so onlangs as in
2003 is ’n
ruimtelike voorwerp verder in die diepruim ontdek, ’n vrieskoue
konglomeraat van gesteentes en ys wat, met sy deursnee van sowat 3.000
km, groter is as Pluto met sy deursnee van naastenby 2.270
km. Hierdie
"groter Pluto" sou amptelik bekend staan as 2003
UB313, totdat
oor ’n naam vir hom besluit sou word. Die dwerg het ook ’n maantjie. Dié
tweetal het voorlopig onderskeidelik die byname Xena en Gabrielle gekry (na
karakters in 'n Amerikaanse TV-reeks, Xena: Warrior Princess), maar
dit is nie hul amptelike mane nie. Die
bekendmaking van 2003
UB313
se ontdekking het gevolg kort op
die bekendmaking van die ontdekking van die mini-wêreldjie Sedna, wat met
groot fanfare as die "tiende planeet" bestempel is. Maar Sedna
(slegs omtrent 1.770 km breed)
is so klein dat dié aanspraak gou die nek ingeslaan is. Om die
waarheid te sê, selfs 2003 UB313
(wat, soos gesê, 3.000 km in deursnee is)
is kleiner as die aarde se maan, met sy deursnee van 3.476 km. Die dramatiese besluit oor Pluto is
geneem op ’n konferensie van 2500 sterrekundiges van 75 lande, nadat die
groepleiers lank en hard gedebatteer het oor ’n ander voorstel dat ’n
paar ander grotere mini-voorwerpe soos Pluto in die sonnestelsel tot
volwaardige planete opgegradeer moes word. Daardie voorstel is egter
afgestem. Pluto is nog nooit deur ruimtetuie
besoek nie, maar vroeër vanjaar (2006) het die Amerikaanse ruimteagentskap
NASA sy "New Horizons" van $700 miljoen na Pluto gelanseer—’n
onbemande snuffeltuig wat, as alles volgens plan verloop, die dwergplaneet ná
sowat nege jaar sal bereik.
Volgens ’n NASA-baas raak Pluto se
"verminderde status" darem nie die New Horizons-sending nie. Hy sê
NASA sal voortgaan om die wetenskaplik interessantste voorwerpe in die
sonnestelsel te gaan bekyk, ongeag by watter kategorie hulle ingedeel word.
Dit
lyk immers of Pluto nie wil ophou om ons te verras nie. Vroeg in 2006 het
navorsers wat met die wentelende Hubble-ruimteteleskoop werk, bevestig dat
twee ander mane van Pluto ontdek is. Die ontdekking is reeds in Mei 2005
gedoen, maar daar moes tot 15 Februarie 2006 gewag word om seker te maak van
die vonds. Die nuut ontdekte mane staan voorlopig bekend as S/2005 P 1 en
S/2005 P 2. Hulle is egter blykbaar so klein dat hulle nie naastenby die
benaming dwergplaneet waardig is soos die groter Charon nie.
Maar hoe lyk dit op Pluto?
Rotsagtig, reken die geleerdes.
Daarby het hy ’n baie dun atmosfeer van waarskynlik metaan. Die
atmosferiese druk is slegs sowat een 100 000ste van die druk by seevlak op
die aarde. Daar is ligte verskuiwende streke van vermoedelik verysde
stikstof en donker dele van vermoedelik metaan-ys. Sekere
sterrekundiges het eenmaal gedink Pluto was vroeër ’n maan van Neptunus,
wat weens ’n botsing met ’n ander ruimtelike voorwerp in ’n nuwe
wentelbaan om die son uitgewerp kon gewees het. Die maan Charon sou ’n
samestelling kon wees van ligter rommel wat deur dié botsing ontstaan het.
Daar is egter ook ander teorieë oor Pluto en dit lyk of die teorie dat hy
’n Neptunus-maan was nie juis meer aanvaar word nie. |
|
|
Pluto
in ’n neutedop Deursnee: 2274
km. |
|
Sonnestelsel: die nuwe indelingSentrum:
Die
Son. Planete:
Mercurius,
Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus. Dwergplanete:
2003 UB313 (bygenaamd
Xena), Pluto se vernaamste maan Charon en die grootste
asteroïde in die sonnestelsel, Ceres, is nou almal dwergplanete
saam met Pluto. Ander: Planete se mane - Asteroïdegordel - Komete - Kuipergordel- Verspreide skyf - Oortwolk. |
|