Pluto — die woelige
dwergplaneet!

 

Pluto

 
 Wetenskapsnuus:
 

 
Onthul—die dramatiese seisoene  op ’n rare wêreldjie
waar ryp in die vorm van koolstofmonoksied voorkom
 

     

 

Foto: NASA, ESA en M. Buie/Southwest Research Institute

 

Plasing op web: Februarie 2010

 

 

W

AT ons hierbo sien, is die mees gedetaileerde blik tot dusver op die oppervlak van die dwergplaneet Pluto—waaruit afgelei word dat hierdie hemelliggaampie se seisoenale veranderinge baie meer dramaties is as dié van enige ander ligggaam in die Sonnestelsel wat aan ons bekend is, insluitende die Aarde.

 

Die middelste foto van die vrieskoue Pluto toon ook ’n geheimsinnige kol wat ongewoon ryk is aan ryp wat uit koolstofmonoksied bestaan.

 

Volgens die Amerikaanse ruimte-agentskap NASA se webwerf is Pluto so klein en ver van ons af dat die taak om uit te pluis hoe dit op sy oppervlak lyk, so uitdagend is as om die merke te probeer uitmaak op ’n sokkerbal wat meer as 60 kilometer ver is.

 

Die foto’s is saamgestel uit veelvuldige foto’s wat in 2002 en 2003 deur NASA se wentelende Hubble-ruimteteleskoop geneem is.

 

Pluto is ’n tydjie gelede van sy status as ’n volwaardige planeet gestroop nadat daar lank reeds besef was dat hy, met sy deursnee van slegs sowat 2360 km, eintlik kleiner is as etlike mane in die Sonnestelsel. Sy wentelbaan is eksentriek, en dit neem hom 248 Aardse jare om een keer om die Son te wentel, omdat hy hom so doer in die buitewyke van die Sonnestelsel bevind.

 

Wanneer Hubble-foto’s wat in 1994 geneem is, vergelyk word met die nuwe stel foto’s van 2002 tot 2003, sien sterrekuniges tekens dat Pluto se noordpoolgebied helderder geword het. Die afleiding word gemaak dat, indien daar so ’n merkbare wisseling in minder as ’n dekade was, die seisoensveranderinge in byna twee en ’n halwe eeu verbysterend kan wees.

 

Wetenskaplikes verwag egter om eers in 2015 baie meer van Pluto te wete ten kom wanneer die New Horizons-snuffeltuig, wat reeds in Januarie 2006 van die Aarde gelanseer is, hopelik by die raaiselagtige dwergplaneet sal verbyvlieg om darem een halfrond in die grootste moontlike detail te fotografeer.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad