|
|
| ''TOE HOOR hulle die plettering van vallende dakke; nog 'n oomblik verloop en dit lyk of die bergwolk op hulle afrol, donker en vinnig, soos 'n stortvloed; terselfdertyd giet dit uit sy boesem 'n vlaag asse gemeng met yslike brokstukke van brandende klip! Oor die brekende wynstokke
-- oor die verlate strate -- oor die amfiteater self -- wyd en syd -- met talle hewige plonse in die onrustige see -- val daardie aaklige reën...'' -- uit The Last Days of Pompeii deur Edward George Bulwer-Lytton, 1834. Dit moet vir die mense daar gevoel het of die hel losgebars het -- daardie verskriklike Augustus-dag in die jaar 79 nC toe die vulkaan Vesuvius met 'n wrewel ontplof en die Romeinse nedersettings Pompeiji, Herculaneum en Stabiae in Italië verwoes het.
Spoedig het 'n laag vulkaan-as, klippe, modder en lawa tot ses meter dik oor die gebied versprei gelê -- die sombere massagraf van 'n paar duisend versmoorde en verkoolde mense, wat in hul huise skuiling gesoek het, maar nogtans in hul eie wonings oorweldig is.Van die verwoeste nedersettings in die Baai van Napels is Pompeji bepaald die bekendste. Dié ou Italiaanse stad, net suid van Vesuvius, is reeds omstreeks 600 vC gestig deur die Oskiërs, wat in hierdie gebied gewoon het. Dit het in 80 vC onder Romeinse beheer gekom en in die begin van die Christelike jaartelling sowat 20000 inwoners gehad. Maar toe kom die vernietigende ramp. En meer as 1500 jaar lank het Pompeji en die ander plekke ongestoord onder die vulkaanpuin gelê, trouens, in die Middeleeue is skoon vergeet dat hulle ooit bestaan het. Dit was eers in 1738 dat met opgrawings in Herculaneum begin is, gevolg deur Pompeji in 1748 (deur die Duitse argeoloog Johann Joachim Winckelmann) en Stabiae in 1749. Daar is gevind dat hele dorpe merkwaardig behou gebly het, selfs die eenvoudigste besonderhede van die inwoners se daaglikse lewe. Hier is dinge nog soos hulle van ouds was: mure, strate, openbare monumente en geboue, winkels, indrukwekkende en eenvoudige wonings... maar daarmee saam ook die holtes wat in die gestolde vulkaniese as gelaat is deur lyke wat deur die loop van die eeue vergaan het. Daarvan kon afgietsels gemaak word.LINKS: Die bouvalle van Pompeji.
Foto met vergunning FreeStockPhotos.com Maar hoekom is die ruïnes in so 'n goeie toestand gevind? Dit blyk dat die vulkaan-as
in der waarheid vir 'n lugdigte verseëling gesorg het. Ongelukkig is die bouvalle vandag baie vinniger aan die verkrummel as in al die eeue toe hulle nog onder hul beskermende ''kombers'' was. Die grootste rede is omdat toeriste daarheen stroom en die ruïnes oorgelewer is aan gemiddeld 5000 besoekers per dag.
BO: Selfs van die mosaïekwerk aan die mure het behoue gebly. En dit ná byna tweeduisend jaar. Foto met vergunning FreeStockPhotos.com |