|
IE verpoeierde
gruis
van lank vergane berge en koppies sit vasgevang in die
ander soort koppies op jou etenstafel... ook in die
pierings, borde, teepotte en al sulke breekgoed wat
ons elke dag gebruik.
Die slik
van sekere verweerde gesteentes wat oor baie lang
tydperke deur waterstrome van die hoogtes af
meegesleur is en as kleigrond in die laagtes
neergeslaan het, word deur vernuftige vakkundiges
omgetower in glansende en dienlike gereedskap wat in
ons ondermaanse lewe so onontbeerlik geword het.
Dit wat
ons klei noem, is eintlik ’n groep waterhoudende
verbindings van aluminium en sand of kwarts
(silikondioksied). Dit is die produk van die
verwering van veldspaatagtige gesteentes,
byvoorbeeld graniet.
Die
mikroskopies klein, afsonderlike korreltjies van klei
is soos vlokkies gevorm.
Gevolglik is hul
totale oppervlakte baie groter as hul dikte, wat
hulle in staat stel om groot hoeveelhede water deur
adhesie (aanklewing) op te neem. Dit gee hulle ’n
plastisiteit of kneedbaarheid.
Die
toevoeging van water veroorsaak ook dat sekere
soorte uitswel.
Wanneer
klei droog word, raak dit ferm, en wanneer dit in ’n
oond gebak word, vind permanente fisiese en chemiese
reaksies plaas. Deur verskillende soorte klei met
verskillende ander minerale te meng en op
verskillende maniere te bak, word óf erdeware óf steengoed
óf porselein geskep.
Wanneer
die mens die eerste keer ontdek het dat klei
kliphard gemaak kan word deur dit in vuur te bak,
weet ons nie. Tot dusver is die oudste reste van
pottebakkerswerk in die Yuchanyan-grot in Suid-China
gevind. Wetenskaplikes het in 2009 gereken dat
hierdie erdewerk omstreeks 16 000 v.C. geskep moet gewees het.
En ofskoon
dit heelwat later gebeur het as die erdeskeppings in
die Chinese grot, het gebakte klei nogmaals ’n
kardinale rol gespeel toe een van die vroegste deurbrake in die
ontwikkeling van skrif gemaak is. Dit was toe die sogenaamde
wigskrif of spykerskrif
in die Midde-Ooste uitgevind is—skrif op
gebakte kleitablette. Voordat die tablette gebak
is, is daar met ’n stomp riet genaamd ’n stilus op
die klei geskrywe.
Vandag
word keramiekvoorwerpe in so te sê elke huis
gevind... van die paleise van koninklikes en die
pragwonings van presidente tot die nederigste
gehuggie in ’n afgeleë wêrelddeel.

BO: Terwyl die planeet Aarde kwistig met
klei-neerslae bedeel is, reken navorsers dat
Mars ook sy kwota klei-minerale het. Hierdie
foto wat deur die wentelende snuffeltuig
Mars Reconnaissance Orbiter geneem is, toon
besonderse patrone in ’n vallei op ons
buurplaneet. Die patrone word toegeskryf
word aan klei-minerale in die gesteentes op
die oppervlak.
Foto: GSFC / NASA
KERAMIEK
is die naam van die kuns om voorwerpe uit klei te maak
en dit daarna deur middel van hitte te laat verhard.
(Pleks van klei kan ’n ander nie-metaalagtige,
anorganiese stof ook gebruik word. Anorganiese stowwe is dinge wat nie tot die diere-
of planteryk behoort nie).
Die woord
keramiek word ook gebruik vir die vervaardigde
voorwerpe self. Die woord is afgelei is van die
Grieks, want die ou Grieke het ’n pottebakker ’n
kerameus genoem.
Keramiekprodukte word gewoonlik in sekere groepe
ingedeel. Een van hierdie groepe is sogenaamde
witware, wat tafelgerei, muurteëls,
pottebakkersprodukte en sanitêre ware insluit.
Nader beskou, noem
ons hier ’n viertal
belangrike voorbeelde van witware-keramiek:
•
Erdeware,
wat dikwels van klei, kwarts en veldspaat gemaak
word. Erdeware is van die oudste produkte in die
keramiekkuns. Rooi erdeware wat van rooi klei gemaak
word, is baie bekend, terwyl wit en dofgeel
kleisoorte ook algemeen gebruik word.
•
Steengoed—glasagtige
of halfglasagtige keramiekware met ’n voortreflike
tekstuur wat hoofsaaklik van nie-vuurvaste klei
gemaak word. Steengoed is wesenlik mensgemaakte
klip.
•
Beenporselein—’n
soort porseleinstof wat aanvanklik in Brittanje
ontwikkel is en waarvan verbrande beesbeendere ’n
belangrike bestanddeel is. Beenporselein het ’n
besonderse witheid, sterkte en deurskynendheid.
•
Porselein,
wat van die kleisoort kaolien gemaak word.
Gesteentes wat ryk is aan die kleimineraal
kaoliniet, Al2Si2O5(OH)4,
staan bekend as porseleinklei of kaolien.
Die naam
kaolien kom van Gaoling of Kao-Ling (wat “Hoë
Heuwel" beteken) in Jingdezhen, in die Chinese
provinsie Jiangxi. ’n Soort porselein is aanvanklik
reeds iewers tussen nagenoeg 200 v.C. en 220 n.C. in
China gemaak, en die Chinese was dan ook lank die
alleenvervaardigers van porselein. Dit verklaar
terloops hoekom porselein
in Engels nie net porcelain nie, maar ook
china genoem word.
REGS:
Kaolien. die kleisoort waarvan porselein gemaak word.
Foto: U.S. Geological
Survey
Die
Engelse woord porcelain en ons woord
porselein is weer afgelei van die ou Italiaanse
woord porcellana (kauri-skulp), omdat
porseleinvoorwerpe aan die buitekant so baie na die
oppervlak van hierdie mooi soort skulpe lyk. (By ’n
ander artikel op die
Mieliestronk-werf kan gesien word hoe lyk die skulpe
van verskillende kauri-spesies van regoor die
wêreld.)
Porseleinklei of kaolien is een van die volopste
minerale en word in heelparty lande ontgin, maar
deesdae hoofsaaklik in Maleisië en in Cornwall,
Engeland. Suid-Afrika is egter geen groot
kaolienprodusent nie. Trouens, volgens beskikbare
syfers lewer ons nie eens ’n halwe persent van die
wêreldtotaal nie. Boonop is die vraag na en die
produksie van die mineraal aan die daal. Dit word
weerspieël deur die statistieke dat ons land in 2006
slegs 51 602 metrieke ton kaolien geproduseer het,
teenoor 86 700 metrieke ton in 2002.
Maar is
daar ’n eenvoudige manier waarop ’n mens tussen
erdewerk en porselein kan onderskei? Basies kan ons
sê dat porselein deurskynend vertoon, met ander
woorde dat dit ’n sekere hoeveelheid lig deurlaat,
terwyl erdewerk dit nie doen nie.
Porselein
se deurskynendheid en sterkte word hoofsaaklik
verkry deur klei by so ’n hoë te temperatuur te bak
(tussen 1200 °C
en 1400 °C) dat glas en die mineraal
mulliet in die kleivoorwerp gevorm word. Erdewerk
wat by ’n laer temperatuur gebak word as wat vir
porselein vereis word, ondergaan nie hierdie proses
van verglasing nie.
PORSELEIN
is die eerste keer deur reisigers uit China na
Europa gebring en glo omstreeks 1470 in Venesië
vervaardig. Die Italiane het die toonaangewende
vervaardigers gebly totdat die Franse, en veral dié
by Sèvres, dit in die vroeë 1700’s in groot
hoeveelhede begin vervaardig het. Ook in Meissen,
naby Dresden in Duitsland, is in 1710 met
porseleinvervaardiging begin, en sowel kunstenaars
as vakmanne wat soheentoe gelok is, het Meissen een van
die beroemdste leweraars van porselein gemaak. Die
fabriek is vandag nog daar.
REGS:
Dansers van porselein in die Meissense
porseleinmuseum.
Foto deur “Ingersoll”,
wat dit tot
openbare besit
verklaar het (“released into the public domain)
Oordragdrukwerk, waardeur talle afdrukke van een
kunswerk op geboë of ongelyke voorwerpe aangebring
word, is in die 1750’s in Engeland uitgevind en het
die keramiekbedryf geweldig gestimuleer. Voorheen
kon ontwerpe slegs met die hand op die voorwerpe
geskilder word en
elkeen was natuurlik anders as die vorige.
Vanselfsprekend kon net die vermoëndes
sulke eksklusiewe produkte, wat elk ’n kunswerk uit
eie reg was, bekostig. Die vervaardigers van
porseleinwerke is deur koninklikes en die
aristokrasie gefinansier.
Maar
oordragdrukwerk het ’n hele omwenteling veroorsaak.
Volgens hierdie proses word die ontwerp eers op ’n
koperplaat gegraveer, waarna ink van verskillende
kleure aangewend word. Die ink word dikwels met olie
gemeng en verhit sodat die kleur diep in die
graverings kan invloei. Die ontwerp word vervolgens
oorgedra na spesiale papier wat geplaas word op die
keramiekvoorwerp wanneer dit nog in die
ongeglasuurde stadium is. Die voorwerp word dan
geglasuur en weer gebrand om die afdruk daarop
permanent te maak.
Omdat
allerhande mooi patrone en tekeninge in groot maat
op porseleinvoorwerpe aangebring kon word, het
Engelse porseleinfabrieke destyds tafelgerei en
huisornamente vir die massas begin produseer.
Met
verloop van tyd het porselein nog meer gebruike
gekry, wat wissel van pragtige muurteëls tot
elektrisiteitstoestelle omdat dit so ’n uitstekende
isolator is. Om nie te praat van die poppe van ons
oumagrootjies of oorgrootjies nie, fraai nagemaakte kindertjies met
koppe van porselein wat die trots moet gewees het
van elke bevoorregte meisietjie wat een besit het.
REGS:
Die kop van ’n porseleinpop, soos dié waarmee ons
oumagrootjies of oorgrootjies gespeel het toe hulle
kinders was.
Foto: U.S. National Park Service
In
ons taal het ons ’n beskrywende idioom:
Versigtigheid is die moeder van die porseleinkas.
Dit beteken dat ’n mens versigtig moet wees as jy
teer of fyn dinge hanteer.
Maar wie sal in elk
geval nou
roekeloos te werk wil gaan met ’n
mooi porseleinvoorwerp... iets wat letterlik ’n
hewige vuurdoop moes ondergaan om die sieraad te word wat dit
is?
|
Oorgelewer
HIERONDER
is ’n ou Nederlandse kinderversie oor ’n pop met ’n porseleinkop
waarvan die kop “in duisend stukkies” gebreek het.
Dit het gebeur tot die groot hartseer van die
meisietjie wat die storietjie vertel.
’n Suid-Afrikaanse vrou (lank reeds oorlede) het dit in
die vroeë jare van die twintigste eeu op skool
geleer, het ’n familielid van haar aan Mieliestronk
gesê. Omdat ons informant egter net dele van die gediggie onthou
het wat die vrou nog gereeld in haar volwasse jare
opgesê het, het ons ’n bietjie navorsing gedoen en
die volledige versie opgespoor.
Daar is klaarblyklik selfs verskillende weergawes
daarvan—soos dit maar met sulke oorgelewerde dinge
gaan. Wie die gediggie geskryf het, kon ons ook nie
vasstel nie, maar dit is moontlik ’n deel van ons
tradisionele erfgoed uit Nederland. Of nog
waarskynliker: dit kon deur ’n Nederlandse
onderwyser na Suid-Afrika gebring gewees het.
|
|
 |
Ik had
een keurig mooie,
Een keurig mooie pop,
Met fijne stoffen laarsjes
En een porceleinen kop.
Ze had een rok met strooken,
Een hoedje met een veer,
Een zonnescherm en ketting,
En’k weet niet wat al meer.
Maar ik heb haar laten vallen,
Mijn keurig mooie pop,
En wel in duizend stukjes
Was nu de poppekop.
Wat zal ik nu beginnen,
Ik schrei mijne oogjes blind.
Ik heb mijn pop gebroken,
Nu heb ik geen kind. |
|