
REGS: ’n Basiese
kaart van Portugal.
Krediet: World
Factbook van die CIA (verafrikaans en gewysig)
ORTUGAL . . . as ’n mens hierdie land
ken en daaroor mymer, wat sien voor jou geestesoog? Wellig klein
vissersdorpies waar vroue sardiens verkoop wat van die olie drup. Of
straks die land se sondeurdrenkte heuwelhange met wingerde wat puik
portwyne lewer. Miskien roep jy die pragtige strande en
rotsformasies soos dié van die Algarve voor die gees. Of dalk die ou geboue van die groter dorpe en
stede, met hul swaar aromas van peri-peri-hoender en gebraaide lewer
en uie.
Maar hoe betowerend dit dalk ook al in sekere
opsigte kan wees en hoeveel romantiek daar miskien aan hierdie
gewilde toeristebestemming kleef, wil die lewenswyse van sy inwoners nie altyd vir ’n mens rym met die rykdomme en glorie
van daardie Portugal waarvan ons in die geskiedenisboeke lees nie. Is
dit dieselfde land—het menige toeris hom- of haarself bes moontlik
al meermale afgevra—wat in vergange eeue, die 1400’s en 1500’s, ’n
wêreldleier ter see was en sommige van die uitmuntendste seemanne
van alle tye opgelewer het.?
Want vandag is Portugal weliswaar ’n
onwikkelde land, maar die gemiddelde Portugees se inkomste is hoeka
die minste in Wes-Europa.
Hoe het dinge nie verander nie...
Die ou Portugal was ’n maritieme reus, wat
wel deeglik ook sy invloed aan weerskante van Afrika laat geld het.
Sy kolonisasie van Angola aan die westekant en Mosambiek aan die
ooskus van ons vasteland sou boonop die verloop van die
Suid-Afrikaanse geskiedenis ingrypend beïnvloed.
’n Belangrike figuur doer in die beginjare van die Portugese ryk was
die sogenaamde
prins Hendrik die Seevaarder, wie se materiële steun en vaardigheid met wiskunde en
sterrekunde in die 1400’s die verkenning van ’n groot deel van die
kus van Wes-Afrika moontlik gemaak het.
REGS:
Prins Hendrik die Seevaarder (1394–1460), die Portugese koningseun
wat in sy tyd soveel ontdekkingsreise geborg het dat hy daarmee sy
naam as “seevaarder” verewig het. In der waarheid het prins Hendrik
egter geen van hierdie seereise self meegemaak nie.
Dan was daar
Bartolomeu
Dias, die Portugese ontdekkingsreisiger wie se vaart om die suidpunt van Afrika in 1488 die weg vir
seereise tussen Europa en Asië gebaan het. Kort op sy hakke was die
ander Portugese pionier
Vasco da Gama, wat in 1498 in Indië
aangekom het ná sy eie epiese vaart
om die Kaap. Dit was die heel eerste keer dat die Ooste op hierdie
manier vanuit Europa bereik is.
In 1500 weer het Pedro Cabral, in ’n poging om óm Afrika na Indië te
vaar, per ongeluk die ooste van Brasilië bereik en dit vir Portugal
opgeëis. En in 1522 het een van Ferdinand Magellaan se skepe die
eerste vaart reg om die wêreld voltooi en die heel eerste
onweerlegbare bewys gelewer dat ons planeet rond is.
REGS:
Ferdinand Magellaan
(1480–1521), die
Portugese skeepskaptein wat in die betreklik vroeë 1500’s vyf
Spaanse skepe in die eerste vaart rondom die wêreld gelei het. Hy is
self onderweg dood en slegs een van die skepe het die vaart voltooi,
maar dit was een van die belangrikste gebeurtenisse in die
geskiedenis van ontdekkingsreise. Magellaan
is deur stamkrygers in ’n geveg in die Filippyne gedood. Wat meer
sê, van die 270 bemanningslede wat die ekspedisie saam met hom begin
het, het net 18 weer Europa bereik.
Die
Portugese ontdekkingstogte het nie net die mens se kennis van die
aarde baie verbreed nie, maar ook tot die vestiging van ’n enorme
Portugese ryk in Afrika, Asië en Suid-Amerika gelei. Portugal het
ryk geword uit die natuurlike hulpbronne van sy kolonies, soos hul
speserye, goud, diamante, hout en eksotiese gewasse, en Lissabon het
selfs ryk stede soos Brugge en Venesië verbygesteek.
Maar reeds in die laat 1500’s was daar die duidelike eerste tekens
van ’n latere verval, want Europese mededingers soos Engeland,
Nederland en Frankryk het geleidelik Portugal se oorsese besittings
oorgeneem.
In 1580 het Portugal in Spaanse hande geval, en in die
daaropvolgende sestig jaar is hy by die gedinge van Spanje betrek.
Portugal, wat tog die ekonomiese verval oorleef het wat uit die
Spaanse oorheersing gespruit het, kon ná 1660 op ’n ekonomiese
herlewing roem, iets wat hy regdeur die 1700’s kon volhou vanweë sy
bande met Brasilië.
Maar in 1807 het Frankryk Portugal binnegeval. Ofskoon die Engelse
die Franse verdryf het, is die land verwoes agtergelaat. Toe, in
1822, verklaar Brasilië, die rykste deel van die Portugese ryk,
homself onafhanklik. Die ekonomie van Portugal het ’n ernstige
knou gekry.
In 1910 het die land ’n republiek geword, maar grootliks onstabiel
gebly. In die 1930’s het António Salazar, die seun van ’n gesiene
grondbesitter, die landsbeheer oorgeneem en ’n diktator geword. Die
land het hom van die res van die wêreld onttrek en daar was groot
armoede.
REGS:
António Salazar (1889–1970), diktator
van Portugal, soos hy in 1946 op die voorblad van die tydskrif Time
verskyn het.
Demokrasie—en Portugal se hertoetrede tot die statery—het geleidelik
gevolg ná Salazar se dood in 1970. Vier jaar later was daar ’n
revolusie wat die vernieting van die laaste oorblyfsels van die
diktatuur ten doel gehad het. In die middel van die jare sewentig
het die nuwe regering onafhanklikheid verleen aan die meeste van sy
oorblywende oorsese gebiede, waaronder Angola en Mosambiek.
Portugal het uiteindelik die hand uitgereik na Europa, wat hy soveel
jare lank misken het. Sedertdien het Portugal met rasse skrede
gevorder om ekonomiese groei te bevorder. Tot in die middel van die
twintigste eeu was sy ekonomie feitlik geheel en al op die landbou
en vissery gegrond. Fabrieke en diensnywerhede (banke, die handel,
toerisme, nutsdienste en gesondheid en opvoeding) is nou die
vernaamste ekonomiese bedrywighede.
In 1985 het Portugal ’n lid van die Europese Gemeenskap (nou die
Europese Unie) geword, en in
die begin van 2002 het die Portugese ook die euro as geldeenheid aanvaar.
Die ekonomiese groei was in ’n groot
deel van die 1990’s bokant die gemiddelde van die Europese Unie,
maar ná 2001 het die vlam ongelukkig weer vir Portugal verdof. Die
land het in
2008 die 202de plek beklee op die Amerikaanse CIA se lys wat
verskillende lande se reële
groei aantoon, terwyl die 217de plek aan Zimbabwe toegeken is.
Suid-Afrika staan 124ste op dié lys.
Van Portugal se uitgebreide oorsese gebiede
van weleer het die eilande van die Madeira-argipel en die Asore in die
Noordelike Atlantiese Oseaan oorgebly.
Waar hulle steeds tot een van die minder vermoënde lande in Wes-Europa
behoort, stry die Portugese vandag nog om hul land se verlede af te skud.
Maar as hulle ten
minste net ’n sweem van die waagmoed kan monster wat Portugal vyfhonderd
jaar gelede ’n wêreldryk gemaak het, kan dit dalk heelwat beter
gaan met hierdie land met die veelbewoë verlede.

BO: Lissabon, die
hoofstad van Portugal, huisves vandag nagenoeg 2,8 miljoen
inwoners in sy metropolitaanse gebied en altesaam 3,34 miljoen
in sy breër metropolitaanse gebied, wat stede soos byvoorbeeld
Setúbal insluit. Die Portugese bevolking tel iets duskant 11
miljoen, volgens ’n raming vir Julie 2009. 'n Laagtepunt in
Lissabon se lang geskiedenis was toe sowat 85 persent van die
stad op 1 November 1755 deur ’n aardbewing verwoes is en ’n
geskatte 30.000
tot 40.000
van die stadsbewoners dood is. Die ramp was nog ’n rede vir
Portugal se ekonomiese verval ná sy bloeityd.
Foto: U.S. Export.gov

BO: ’n Toneel in die stad Porto in
Portugal.
Foto: U.S. Export.gov
|