Poskantoor — ja, pos kán “toor”!
Vir die ou seevaarders om die Kaap sou die 21ste eeu se posdiensstelsels maklik na toordery geklink het—dat ’n pakkie wat vandag hiervandaan versend word, môre, oormôre in Engeland oopgemaak kan word. Om nie te praat van e-pos-briewe wat mense op verskillende vastelande feitlik dadelik met mekaar kan verbind nie. Hoeveel duiselingwekkende veranderings was daar nie in die posstelsel sedert die eerste brief in ons land in ’n skoen gepos is nie...
• Kyk ook die geboorte van die posseël in ons Laslappie-afdeling
Of jy skryf self agterop ’n mooi poskaart, plak ’n seël daarop en gooi dit in die rooi openbare posbus by die poskantoor naby jou huis. Môreoggend vroeg kom mense dit met ’n voertuig haal en binne ’n ommesientjie is dit op ’n vliegtuig onderweg na Londen. Binne enkele dae ontvang jou oudste suster, wat in Engeland werk, jou poskaart. Dié soort blitsdiens bestaan nog maar net enkele dekades.
Nie dat pos self iets nuuts is nie. Briewe is waarskynlik nagenoeg so oud as skrif self. Party geskiedkundiges reken dat daar in 3000 v.C. al ’n posdiens in China was. En in ou Assirië is skriftelike bevele van koningin Semiramis reeds sowat agt eeue voor die geboorte van Christus deur boodskappers na ander dele van die ryk gedra.
Die stigters van die eerste gereelde posdiens waaroor meer bekend is, was die antieke Perse. In hul groot ryk is geskrewe boodskappe reeds meer as tweeduisend jaar gelede op ’n vaste grondslag deur perderuiters van een stad na ’n ander gebring.
Die ou Grieke en die Romeine se posdienste was soortgelyk aan dié van die Perse. Die Romeinse keiser Augustus (1ste eeu n.C.) het ’n uiters doeltreffende posdiens deur die hele Romeinse Ryk ingestel. Dit was die Cursus publicus.
Augustus het “posstasies” op afstande van tussen agt en twaalf kilometer van mekaar langs al die hoofpaaie laat bou. By hierdie stasies, wat die Romeine posita genoem het en waarvan ons woord pos mettertyd afgelei is, kon boodskappers van perde verwissel. Dit was dus moontlik om boodskappe vinnig van Rome na die uithoeke van die ryk se provinsies en terug te stuur.
Hierdie vroeë posdienste was slegs vir regeringsgebruik. Burgers wat boodskappe wou stuur, moes van persoonlike boodskappers of reisende handelaars gebruik maak.
Nadat die Romeinse ryk tot ’n val gekom het, het dit ruim vierhonderd jaar geduur voordat Karel die Grote, keiser van die Heilige Romeinse Ryk, weer ’n posdiens vir Europa ingestel het. Dit was na die voorbeeld van die ou Romeinse posdiens. Dié posdiens was nodig vir die keiser om sy staatsake te behartig, en die groot opbloei in die handel en die verspreiding van kennis ná die Middeleeue het eweneens ’n groot rol gespeel.
Karel die Grote se posdiens sou egter nooit so doeltreffend as die ou Romeinse posdiens word nie. In die Middeleeue is posdienste ook uitsluitlik vir en deur verskillende regerings en hul amptenare gebruik en was dit nie tot Jan en alleman se beskikking nie.
Eers in 1500 het posdienste ontstaan wat, hoewel toe nog op ’n baie beperkte skaal, deur die algemene publiek gebruik kon word. Maar die tariewe was betreklik hoog. Erger nog: die wêreld sou nog sowat drie eeue op ’n ander ontwikkeling moes wag voordat die moderne posstelsel sy beslag kon kry. Dit was die geboorte van die posseël.
Oor die posseël is daar ’n kort artikel in Mieliestronk se Laslappie-afdeling. Maar kom ons kyk ook hoe die geskiedenis van die poswese in ons eie land verloop het...
Foto: Kaapse Argief
Begin van die Suid-Afrikaanse poswese HOE het Suid-Afrika se eerste posbus gelyk? Nee, dit was nie rooi en rond met ’n gleuf waardeur die briewe na binne gegly het nie. Ons eerste posbus was ’n skoen. En dit is by die huidige Mosselbaai aan ’n boom opgehang deur ’n Portugese skeepskaptein wat saam met ’n vloot na die Ooste onderweg was—in die jaar 1501 en dus ’n eeu en ’n half voordat Jan van Riebeeck hier aangekom het.
Pedro d’Ataide wou die boodskap Portugal toe stuur dat Bartholomeu Dias se skip ter see vergaan het en kom toe op die gedagte om ’n brief in ’n ou skoen te steek en dit aan ’n melkhoutboom naby die see op te hang.
Dias en sy manne was, volgens die heersende beskouing, in 1488 die eerste Westerlinge wat in Suid-Afrika voet aan wal gesit het. Dié ontdekker is egter twaalf jaar later, in 1500, tragies dood tydens ’n ander seereis toe sy karveel in die Atlantiese Oseaan wes van die Kaap gesink het. Die karveel was ’n deel van die vloot van Pedro Alvares Cabral wat na die Ooste onderweg was.
Pedro d’Ataide se brief rakende Dias het die versoek bevat dat iemand wat die brief daar kry, dit tog na Portugal moes saamneem. En werklik—’n paar maande later het ’n ander Portugees, Joao da Nova, die brief daar gevind en saamgeneem huis toe.
Die ou boom staan nog by Mosseblaai en elkeen wat in die geskiedenis belang stel, moet nie nalaat om daarna te gaan kyk wanneer hy of sy daardie deel van die land besoek nie.
Foto: Afrikaanse Kinderensiklopedie
Hoe ook al, die eintlike geskiedenis van die poswese in ons land het eers begin toe die Nederlanders en die Engelse gereeld om die Kaap begin vaar het om die ryk handelsware van die Ooste te gaan haal. Nadat die kooplui van Nederland in 1602 die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie gestig het, het hulle ’n “poskantoor” aan die Kaap georganiseer. Dié was natuurlik nie in ’n gebou gesetel soos ons dit vandag ken nie, maar baie jare lank was die hele Tafelbaai self die “poskantoor”.
Die kapteins van die skepe wat na Oos-Indië gevaar het, is beveel om, waar moontlik, dinge só te reël dat uitvarende en terugkerende skepe vir mekaar in Tafelbaai sou wag. Dit was sodat die een groep skepe briewe huis toe kon neem, terwyl die matrose van die ander weer nuus van hul mense tuis kon kry. Tog kon die skepe nie altyd vir mekaar wag nie. ’n Plan moes toe beraam word om die briewe hier agter te laat sodat verbygaande skepe hulle kon kry en saamneem.
Vanselfsprekend het baie van die pakkies en briewe wat só begrawe is, verlore geraak, nie net weens die berugte Kaapse suidoostewind wat die klippe met byvoorbeeld sand toegewaai het nie, maar ook omdat die plaaslike Khoikhoi, wat nie begryp het wat dit kon beteken nie, van die briewe verwyder het.
Nadat die verversingspos aan die Kaap gevestig was, was posklippe gelukkig nie meer nodig nie. Tog is daar in die eerste dekades ná die stigting van die nedersetting weinig gedoen om werklik die poswese op te knap. Die gewone mense het geen posdiens gehad nie. Amptelike dokumente is deur renbodes—Khoikhoi-boodskappers wat dit soos ’n aflosspan van hardlopers vir mekaar aangegee het—na landdroste geneem.
REGS BO: ’n Brief wat aan Jan van Riebeeck geskrywe is. Krediet: Kaapse Argief
Die eerste werklike poskantoor aan die Kaap het eers ’n paar jaar voor die einde van die Kompanjie se bewind tot stand gekom. Op 2 Maart 1792 het waarnemende goewerneur Johan Isaac Rhenius ’n proklamasie uitgevaardig dat daar ’n poskantoor aan die Kaap geopen sou word. A.V. Bergh is as posmeester aangestel, en die kamer langs die spens in die Kasteel sou as poskantoor ingerig word. Benewens die posmeester was daar een posbode of briewebesteller.
Maar dit was eers in 1805, onder die Engelse bewind, dat ’n begin met ’n gereelde binnelandse posdiens gemaak is.
In 1849 is die Oranjerivier-Soewereiniteit se eerste poskantoor geopen, gevolg deur vier in 1850 in KwaZulu-Natal. Die Zuid-Afrikaansche Republiek (voormalige Transvaal) se eerste poskantoor by Ferreira’s Camp het al die pos na die goudmyne gehanteer.
Teen 1899 was alle dele van Suid-Afrika deur poskoetsroetes verbind. ’n Gereelde posdiens is ingestel en ’n posunie het tot stand gekom tussen wat nou die nege provinsies van Suid-Afrika en Mosambiek is.
Wat die seepos betref, het skepe wat na en van Indië gereis het, van 1815 af een keer per maand pos uit Engeland aan die Kaap afgelewer. Die seereis van 114 dae is tot 58 dae verkort toe die eerste stoomskip, die Enterprise, in 1825 in Tafelbaai aangekom het. In 1857 het die Union Line die Kaapse seeposdiens oorgeneem. In 1900 het die Union en die Castle Line saamgesmelt om die Union-Castle Mail Steamship Company te vorm. Die laaste posskip, die Windsor Castle, het in September 1977 uit Tafelbaai vertrek.
Lugpos sou noodwendig volg in die era van lugvaart wat deur die Amerikaanse broers Orville en Wilbur Wright ingelui is. Die Wrights het die wêreld se eerste praktiese vliegtuig gebou en op 17 Desember 1903 by Kitty Hawk die eerste kragaangedrewe vlugte in die geskiedenis onderneem.
Reeds op 27 Desember 1911 was Evelyn Frederick (Bok) Driver agter die stuurstang van ’n eenmotorige Bleriot-vliegtuig wat 729 poskaarte van Kenilworth na Muizenberg in die Kaap gebring het. Die publiek het egter nie die lugposdiens vertrou wat in 1925 tussen Kaapstad en Durban ingestel is nie en dit is beëindig.
’n Nuwe lugposdiens is darem in 1929 tussen Kaapstad, Port Elizabeth, Oos-Londen, Durban, Bloemfontein en later ook Johannesburg ingestel. Dit is in 1939 met die uitbreek van die Tweede Wereldoorlog beëindig omdat alle vliegtuie vir militêre gebruik nodig was.
Die afgelope aantal dekades reeds word briewe en pakkies per pad, spoor en lug, en soms selfs per fiets, vervoer. Masjiene sorteer duisende items per uur volgens nommers, en daarom is ’n poskodestelsel in 1973 ingestel—elke poskantoor het sy eie kode.
En toe kom e-pos ook nog met die wêreldwye verbreiding van die internet teen die einde van die twintigste eeu! Die eeu van elektroniese kommunikasie is deeglik met ons en die wêreld het as ’t ware in ’n “dorpie” verander. Maar dit is weer ’n heeltemal ander storie... |
|||