’n Laslappie van Mieliestronk

PLAATTEKTONIEK

DIE aarde bestaan uit drie lae. Van buite na binne kry ons:

  1. die aardkors;
  2. die aardmantel  met vaste of taai-vloeibaar gesteentes daarin;
  3. die kern (die buitekern en die binnekern) wat uit yster en nikkel bestaan.

As jy met jou voet op die grond stamp, voel die aarde hard. Terra firma, heet dit in Latyn—oorgesit die "vaste aarde".

Miskien dink jy dan ook aan ons planeet as iets soos ’n ontsaglike  harde bal, of miskien ’n kolossale albaster wat regdeur uit vaste stowwe bestaan. Maar dit is nie werklik so nie. Trouens,  ’n groot gedeelte van die aarde se kern is vloeibaar. Die temperatuur daarbinne is naamlik  so hoog—meer as 5.000°C—dat alle vaste stowwe daar vanweë die hitte smelt of vervloei.

Aarde se basiese samestelling

Tussen die kern en die aardkors is die aardmantel, waarvan die gesteentes weliswaar vas is, maar dit word ook taai-vloeibaar genoem omdat dit  in der waarheid soos teer of botter is.

Slegs heeltemal in die middel van die aardbol—in die sogenaamde binnenkernis die druk so enorm dat die yster vanweë die geweldige drukking weer tot 'n vaste vorm stol.

Die buitenste laag van die aarde heet die litosfeer en bestaan uit die aardkors en die boonste stukkie, die harde bolaag, van die aardmantel. Die litosfeer is geen groot, aaneenlopende dop of skil soos, sê maar, die skil van ’n lemoen nie, maar bestaan uit massiewe brokstukke wat plate genoem word. Hierdie plate dryf as’t ware op die taai-vloeibare gesteentes van die aardmantel, net soos ys op water dryf.  Die plate is natuurlik oral oor die aardoppervlak versprei, hetsy as dele van vastelande of onder die see.

Die studie van hierdie plate en hul verskuiwings word plaattektoniek genoem. Omdat die plate op ’n laag van gedeeltelik gesmelte gesteentes dryf, beweeg hulle inderdaad. Maar die harde "dop" kan selfs 75 km dik wees en boonop is die verskuiwings so ontsettend stadig—sowat  5 cm per jaar—dat ons dit nie opmerk nie.

Waar die verskillende plate egter bymekaarkom, is daar baiemaal groot seismiese onbestendigheid. Die wetenskaplikes praat van sulke bymekaarkomplekke as "breuke" ("faults" in Engels). By die breuke bots of skuur die verskillende plate teen mekaar of skuif onder mekaar in. Spanning word opgebou totdat die vaste gesteentes aan die rande van die plate skielik "spring" of meegee—en die gevolg is aardbewings op land of miskien tsoenami-vloedgolwe wat kusgebiede en eilande meedoënloos vanuit die see binnerol.

Plaatgrense en warm kolle

Kaart deur U.S. Geological Survey

BO: ’n Wêreldkaart wat die plate van die aarde aantoon met aanduidings van die verskillende soorte plaatgrense wat voorkom waar hierdie plate mekaar ontmoet. Daarbenewens word belangrike sogenaamde “warm kolle” ook op die kaart aangedui.

Die meeste vulkaniese aktiwiteit word langs tektoniese plaatgrense aangetref, want dit is hier waar die litosfeer op sy swakste is. ’n Sekere mate van vulkanisme kom egter ook weg van plaatgrense voor, om redes wat partykeer duidelik is en ander kere weer nie. Só is daar byvoorbeeld vulkane in die omgewing van die Oos-Afrikaanse Skeurvallei, veral die twee vulkaniese pieke van Afrika se hoogste berg Kilimandjaro. Vir kenners is dit verstaanbaar, omdat die Skeurvallei ’n streek is waar die vasteland uiteen begin skeur het.

SeebergDaarteenoor het die teenwoordigheid van tienduisend of meer ondersese vulkane in die Stille Oseaan lank onverklaar gebly. Hulle staan bekend as seeberge en baie, maar lank nie almal nie, is nou uitgedoof. Die geleerdes reken hulle weet nou waarom hulle weg van plaatgrense voorkom. Binne-in die aardmantel is daar naamlik dun, vertikale pluime van warm magma, wat waarskynlik van die kern af opstyg, wat in ’n vaste posisie bly terwyl die tektoniese plate daar bokant beweeg. Hierdie pluime veroorsaak “warm kolle” in die litosfeer bokant, waar vulkaniese aktiwiteit voorkom.

Nie alle vulkaniese warm kolle wat deur mantelpluime veroorsaak word, lê egter onder die see nie. Een voorbeeld van ’n vastelandse warm kol is die beroemde Yellowstone National Park in Amerika. Daar is vandag geen vulkaniese uitbarsting by Yellowstone nie, maar daar is oorvloedige hitte met die gevolg dat die onderaardse water skouspelagtig bokant die grond uitspuit (spuitbronne).

Ondersese vulkaan

Garnale wat by ondersese vulkaan lewe

LINKS BO: Borrel-borrel, seevulkaan gorrel... sowat sestig kilometer noordwes van die eiland Rota in die Noordelike Mariana-eilande is ’n seeberg wat, benewens ’n buitengewone hoeveelheid borrels van waarskynlik koolstofdioksied, ook fyn druppeltjies gesmelte swawel uitblaas. Die vulkaan is deel van die sogenaamde “Ondersese Kring van Vuur” wat die Stille Oseaan-kom omkring.

REGS BO: Verbasend genoeg lewe garnale op die seebodem naby warmbronne by dié ondersese vulkaan van Rota.

Foto’s: NOAA


Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser
 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad