|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
PLAATTEKTONIEK DIE
aarde bestaan uit drie lae. Van buite na binne kry ons:
As
jy met jou voet op die grond stamp, voel die aarde hard. Terra firma,
heet dit in Latyn—oorgesit die "vaste aarde". Miskien
dink jy dan ook aan ons planeet as iets soos ’n ontsaglike
harde bal, of miskien ’n kolossale albaster wat regdeur uit vaste
stowwe bestaan. Maar dit is nie werklik so nie. Trouens,
’n groot gedeelte van die aarde se kern is vloeibaar. Die
temperatuur daarbinne is naamlik so
hoog—meer as 5.000°C—dat alle vaste stowwe daar vanweë die hitte smelt of vervloei.
Tussen
die kern en die aardkors is die aardmantel, waarvan die gesteentes
weliswaar vas is, maar dit word ook taai-vloeibaar genoem omdat dit
in der waarheid soos teer of botter is. Slegs
heeltemal in die middel van die aardbol—in die sogenaamde binnenkern—is die druk so enorm dat die yster vanweë die geweldige
drukking weer tot 'n vaste vorm stol. Die
buitenste laag van die aarde heet die litosfeer en bestaan uit die aardkors
en die boonste stukkie, die harde bolaag, van die aardmantel.
Die litosfeer is geen groot, aaneenlopende dop of skil soos, sê
maar, die skil van ’n lemoen nie, maar bestaan uit massiewe brokstukke
wat plate genoem word. Hierdie plate dryf as’t ware op die
taai-vloeibare gesteentes van die aardmantel, net soos ys op water
dryf. Die plate is natuurlik oral oor die aardoppervlak versprei,
hetsy as dele van vastelande of onder die see. Die
studie van hierdie plate en hul verskuiwings word plaattektoniek genoem.
Omdat die plate op ’n laag van gedeeltelik gesmelte gesteentes dryf,
beweeg hulle inderdaad. Maar die harde "dop" kan selfs 75 km dik
wees en boonop is die verskuiwings so ontsettend stadig—sowat
5 cm per jaar—dat ons dit nie opmerk nie. |
|
|
||||